• No results found

DIE VERHAAL OOR APARTHEID – VERLEDE TYD (ʼn Verhaal van ontwikkeling)

3. Die effek van apartheid

3.3 Inkommers in apartheid

3.3.4 Die uitwys van rassisme

Daar was tog gereeld stemme wat opgegaan om wit mense bewus te maak van wat rassisme besig was om aan swart mense te doen. Vanuit die NG Kerk was daar, om maar net een te noem, die sogenaamde Hervormingsdag-getuienis. Hierdie dokument is so genoem, omdat die getuienis van agt teoloë van die NG Kerk op 5 November 1980 – net na Hervormingsondag – in Die Kerkbode gepubliseer is (Die Kerkbode 1980:605). Die Getuienis het die NG Kerk aangespreek en onder andere “gepleit vir die uitskakeling van liefdelose en rassistiese gesindhede, vir solidariteit van Christelike liefde met almal wat deur sosiale praktyke, ekonomiese wanverhoudinge en politieke maatreëls in lyding gedompel is.” Die reaksie was hewig en uiteenlopend. Baie

predikante en lidmate het die agt teoloë gesteun, maar veral van die amptelike kerkstrukture was daar weerstand. Van der Merwe (2010:10) vat dit goed saam as hy sê: “Die koor van kritiek teen die getuienis het duidelik getoon dat die kerk nog nie bereid was om oor die sake wat in die Getuienis geopper is, in gesprek te tree nie.”

3.4 Paternalisme

ʼn Vierde gevolg van die sisteem van apartheid was paternalisme. Paternalisme is die gedrag van ʼn dominante klas teenoor die ondergeskiktes of gekoloniseerde mense, soortgelyk aan die van ’n pa teenoor sy kind, maar dan ʼn kind met beperkte of geen eie vryheid of regte nie. Alhoewel paternalisme ook ʼn belangrike rol gespeel het in die ontstaan van die beleid van apartheid, was dit – nes rassisme – vir diegene wat groot geword het onder apartheid een van die gevolge van die beleid.

Hierdie houding word duidelik geïllustreer deur die volgende narratief. Ben [1-157], die oudste van die mede-navorsers vertel van sy kinderjare: Ek is op ʼn plaas gebore. Destyds moes ek met baie eerbied met ouer swartes omgaan, mooi met hulle praat. Ek moes sê ‘outa Elias’. Nou dat hy oud is, is hierdie houding so deel van sy lewe dat hy dit uit gewoonte steeds doen:

Nou nog as ek gaan loop – dit is skemer as ek gaan – dan groet ek elke swartman. As jy net jou hand op steek – jy hoef nie ʼn woord te sê nie, dit is vir hulle genoeg. Dit is die belangrikste ding, dat jy jou hand opsteek. En nou die huurmotors, as hulle verbykom, as ek die huurmotor nie sien nie, dan "pohp-pohp" hy en waai hulle die hand. En al die swart mense, en ek wil nou traktaatjies kry en elke keer as ek by een van die mense verby gaan, ʼn traktaatjie vir hulle kan gee. Soos ek sê: vir my is dit nou nie so moeilik nie. Ek het saam met hulle grootgeword. Saam met hulle as kinders gespeel [Ben 1-178].

Elsa [4-033] vertel van ʼn voorval toe ʼn graad elf seun ʼn dief gevang het: Toe is sy ma so trots op hom dat hy nie die swartman verskriklik geslaan

het nie, om daardeur te wys hoe goed is hulle teenoor die swartes.

In die literatuur word soortgelyke boodskappe oorgedra. Rian Malan (1990:32) vertel van sy ma: "They'd still be in mud huts if it weren't for us," she'd snap. "What did they do to build this country? Just dug where we said dig." En terselfde tyd is dit die mense wat geleer is om respek te hê vir swart mense, om “asseblief” en “dankie” te sê, en om nie die woord “kaffir” te gebruik nie.

Frans [1-452] vertel van ʼn goedbedoelde handeling wat hierdie houding van wit mense teenoor swart mense weerspieël:

My pa het Sondagskool gehou. Ons was daar in die lokasies gewees, skoolvakansies het ons gaan help daar. Kersvakansies het ek my ma gehelp, ons het koekies gebak, kerspakkies opgemaak met ballonne en vir hierdie outjies en dit gaan uitdeel. So, ons het hulle jammer gekry.

Die terrein van die godsdiens is waar paternalisme veral baie sigbaar was. Frans [1-440] onthou:

Ek het nie rassisties grootgeword nie, maar daar was tog ook die situasie gewees van hulle het hulle eie beker en hulle het hulle eie koppie en so aan. Maar tog het my pa in die aande die swarte wat in daai klein kamertjie bly wat Ben van gepraat het, ingenooi as hulle daar was om saam met ons huisgodsdiens te hou. Ek onthou dit asof dit gister was.

De Klerk (2000:17) lewer kommentaar op hierdie gebruik wat redelik algemeen was: “Ja, in sommige gevalle is die plaasvolk ingeroep om tydens huisgodsdiens ’n sitplekkie op die vloer in te neem. Miskien is dit ook ’n onderdeel van die paternalistiese eis dat baas van sy klaas verwag om te glo soos baas glo.”

ʼn Soortgelyke probleem is deur swart mense in georganiseerde godsdiens ervaar. Dominee Sam Buti (in Meiring 1975:4), eertyds skriba

van die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Afrika stel dit so: “Baie van die wit sendelinge het nie daarvan gehou dat die swart manne al hoe meer hulle eie gedagtes begin koester oor dinge nie; hulle wou nog graag vir die swart mense voorskryf hoe dinge in die kerk gedoen behoort te word.” Hy gaan voort om te sê “dat tot nog sewe jaar gelede die Kerkorde van die Vrystaatse sinode van ons kerk bepaal het dat die voorsitter en die skriba van ’n ring noodwendig ’n wit sendeling moet wees!” (Meiring 1975:5).

Een van Meiring (1975:105): se ander gespreksgenote stel dit so: "Die ergste van alles is dat ons so min te sê het oor ons eie lot. Ander mense besluit vir ons oor ons lot en ons toekoms. Daarteen kom waarskynlik die meeste swart mense in opstand. Ons wil sélf besluit."

Die manier waarop wit mense na swart mense verwys is nog ʼn duidelike bewys van hierdie (soms subtiele) paternalisme. Die meeste swart mense het benewens hulle regte naam ook nog ’n sogenaamde wit of Europese naam.

Gedurende die tyd van ons groepsbesprekings het ek ook gesprekke gevoer met swart mense. Tydens so ’n bespreking met ’n kerkgroep het die volgende na vore gekom. Ek deel dit met die mede-navorsers tydens die derde gespreksessie: Die eerste ou met wie ek gesels... ek vra hom wat is sy naam. Hy sê Michael. En onmiddellik gaan hy aan en praat met my oor wat sy naam beteken. Sy naam is eintlik Mokake. Dis sy naam. Maar kleintyd het hulle hom gedoop Michael, want die wit mense kon nie sy swart naam sê nie. Vat sy ma hom dokter toe, want hy is siek, dan vra die dokter wat is sy naam? Mokake. Nee heng ek kan nie daai naam sê nie. Jy is Michael. En wat dit aan daai jong man doen. Dit is ʼn outjie so ʼn paar jaar jonger as ek. Hy het seker ʼn goeie twee, drie, vier minute gepraat oor sy naam. Hy wil nie Michael wees nie, want hy is nie Michael nie. Hy is Mokake [Albert 3-853]. Hy is gewoond dat almal hom Michael noem, en tog is sy lang gesprek oor die betekenis van sy eintlike naam ʼn aanduiding van die belang daarvan vir hom.

Hierdie name word gewoonlik deur wit mense gekies en gegee. Hierdie “wit” naam word nie normaalweg saam met die persoon se van gebruik nie, ten spyte van die geweldige waarde wat swart mense heg aan hulle vanne. Soos Du Preez (1997:67) sê: “Addressing a person by his name is a form of acknowledgement and African people in particular are proud of their surnames.”

Op ʼn dieper vlak is daar ook die kwessie van verwysing na swart mense as ʼn kollektiewe geheel. Vir wit mense was dit algemene praktyk om met die term nie-

blankes te verwys na alle ander groepe mense wat nie wit mense was nie. Hierdie

gebruik neem wit-wees as die norm en alle sogenaamde ander mense word dus geklassifiseer as sou hulle nie behoort tot of, per implikasie, voldoen aan die vereistes van hierdie norm nie.

Toe hy gevra word hoe Afrikaners na sy mense moet verwys, antwoord, Tsebe (in Meiring 1975:76) so: “Sê maar swartmense. Veral nooit nie-

blankes nie! Dit is ʼn negatiewe begrip. Dit sê wat ons nie is nie. Ons wil

wees wat ons is.”

In my persoonlike gesprek met ʼn ouderling van die NGKA, gebruik hy dieselfde woorde. Hy sê apartheid het twee groepe mense geskep, mense en minder mense, mense en nie-mense [Albert 6-074].

ʼn Soortgelyke posisie word ingeneem deur Buthelezi (in Meiring 1975:148): “Die feit dat ‘Africans’, Indiërs, Kleurlinge, almal gesamentlik as “nie-blankes” geklassifiseer word, bewys dat aan hulle die identiteit van "nie-mense" – mense wat eintlik maar net in die skaduwee van die wit mense mag leef – toegeken word.”

Buthelezi gaan dan voort: “Teologies gesien beteken dit dat hulle eintlik nie na die beeld van God geskape is nie, maar na die beeld van die wit man.” Meiring antwoord dan daarop: “Ek dink nie mense wat van nie- blankes gepraat het, het ooit daaraan gedink nie! Hulle het dit nie so bedoel nie...”. Waarop Buthelezi dan hierdie belangrike antwoord gee: "Dit kan wees. Maar op my mense het dit 'n geweldige invloed gehad.

...Ons moet vir die swart man leer dat hy wel 'n mens is, dat hy ook na die beeld van God geskape is."

Wanneer Stavrianos (1982:478) praat oor die opkoms van ʼn swart bewussyn, sê hy “One manifestation is their rejection of the term ‘nonwhite’ hitherto applied to them. In its place they substitute the term ‘black’ as a positive assertion of worth.” Steve Biko (1987:49), die groot voorstaander van swart bewussyn praat ook van die wit norm en ander se definiëring in terme van hierdie norm: “Briefly defined therefore, Black Consciousness is in essence the realisation by the black man of the need to rally together with his brothers around the cause of their operation – the blackness of their skin – and to operate as a group in order to rid themselves of the shackles that bind them to perpetual servitude. It seeks to demonstrate the lie that black is an aberration from the ‘normal’ which is white.”

Die gebruik van die term anderskleurige is soortgelyk aan die gebruik van die term nie-

blanke. Albei terme neem 'n bepaalde basis as vertrekpunt en vergelyk alles daarmee.

Hierdie basis word nou die norm met die implikasie dat die norm positief of reg is. Dit word die voorkeurterm. In die geval van hierdie twee terme is die basis die politieke klassifikasie wit. Alle mense wat nie aan hierdie klassifikasie voldoen nie, word nou beskryf as nie of anders. Dit impliseer dat sodanige mense nie voldoen aan die vereiste wat vir die basisterm gestel word nie en per implikasie dan minder is as die vereiste vir die norm. Hulle is dus minder mens as diegene wat wel aan die norm voldoen.

Teenoor bogenoemde gebruik van anderskleurige, staan die gebruik van die term

anderkleurige. Hierdie term is neutraal wat gelykheid veronderstel tussen hulle wat

vergelyk word. Hier is nie sprake van 'n onderliggende positief-gewaardeerde norm waaraan gemeet word nie. Hier is die groepe bloot anders, verskillend, sonder om 'n voorrang te impliseer.

Dat dit ’n probleem kan wees, is blykbaar moeilik vir sommige wit mense om te verstaan. Toe die kwessie in die groep ter sprake gekom het, was die baie naïewe reaksie tekenend daarvan dat van die mede-navorsers glad nie die probleem kon insien nie. So antwoord Mike [6-116] byvoorbeeld:

anderkleuriges is wie dit gebruik. As ek praat van anderskleuriges of anderkleuriges het ek nie eintlik gepraat vanuit ʼn blanke oogpunt, want jy praat van al die ander wat nie dieselfde kleur as jy is nie. Maar ek dink as ek swart was, het ek ook van die anderskleuriges gepraat, met ander woorde almal wat nie swart is nie, ek dink dit is semantics.

Ek wonder of wit mense genoeg begryp wat die impak was wat apartheid op die waardigheid van swart mense gehad het. Vir baie was dit blykbaar bloot ʼn kwessie dat alle “nie-blankes” anders behandel is, omdat hulle anders is. Dat hierdie anderste behandeling minderwaardig was omdat dié mense as minderwaardig beskou is, was nie ʼn gedagte waarmee te veel wit mense hulle besig gehou het nie.