• No results found

DIE OORSPRONG VAN DIE APARTHEIDSVERHAAL (ʼn Verhaal ter agtergrond)

7. Die proses van verandering

Ten spyte van hierdie betrokkenheid by en goeie gesindheid teenoor swart mense, het ek jare lank nooit die sosiaal-politieke sisteem bevraagteken nie (Müller 2000a:23).

Die nuwe Suid-Afrika is 'n veranderde situasie. Die ou bekende wêreld van apartheid- Suid-Afrika is vir altyd verby. Dis asof die hele wêreld verander het en die uitdaging is vir almal in die land om hierby aan te pas. Die verandering is 'n gegewe waarby wit Afrikaanse Christene sal moet aanpas. Die wyse waarop hulle dit doen, is deel van die

fokus van hierdie navorsing. In hierdie onderafdeling beskryf ek ʼn moontlike bril waardeur na verandering, en aanpassing by hierdie verandering, gekyk kan word. Ek staan hoofsaaklik stil by Bridges en Mitchell (2000) se verduidelikings van verandering en by Rendle (1998 en 2007) se “roller coaster of change.”

Bridges en Mitchell (2000:elektroniese bron) skryf oor leierskap en die proses van verandering. In hulle beskrywing tref hulle 'n belangrike onderskeid tussen verandering en aanpassing: “The change is external... while transition is internal (a psychological reorientation that people have to go through before the change can work).” In terme van hierdie navorsing is hierdie onderskeid belangrik, omdat die ondersoek juis handel oor mense se reaksie op die verandering en nie oor die aard van verandering as sodanig nie. Die verandering in politieke beleid en alles wat daarmee saamgaan, het plaasgevind en teen wil en dank moes almal bepaalde aanpassings maak om hierdie veranderings te akkommodeer, ook diegene wat sê: as ons nie gedwing word om te verander nie, sal ons nie verander nie [Elsa 5-612].

Volgens Bridges en Mitchell (2000) vind hierdie aanpassing in drie fases plaas. In hulle onderskeidende beskrywing van verandering en aanpassing maak hulle die punt dat leiers soms aanvaar dat omdat daar verandering in die sisteem was, die mense daarby betrokke ook noodwendig sou aanpas by die verandering. Hierdie aanname is nie noodwendig waar nie. Soos Hanlie [2-578] dit stel: Vir party mense is dit makliker om vinniger te verander, ander gaan 'n langer tyd nodig hê. Aanpassing vind dikwels heelwat stadiger plaas as die verandering, omdat mense deur drie afsonderlike prosesse moet gaan voordat aanpassing kan plaasvind.

Die eerste proses is afskeid neem, of soos hulle dit stel saying goodbye. Hierdie eerste vereiste is dat mense “have to let go of the way things – and, worse, the way that they themselves – used to be” (Bridges & Mitchell 2000). Mense moet afskeid neem van hulle bestaande posisies voordat hulle daaraan kan dink om aan te beweeg. Volgens Bridges en Mitchell (2000) is dit vir sommige mense so moeilik om afskeid te neem omdat hulle “have spent their whole lives standing on first base.” Die rede waarom dit vir mense so moeilik is om afskeid te neem, is omdat dit van hulle vra “to let go of what feels to them like their whole world of experience, their sense of identity, even ‘reality’ itself.” Soos dit in die gesprekke verwoord is: Later van tyd het ons gedink dat as ons sou ingee of verander, dan verloor ons dit wat ons het [Albert 4-493].

Nadat afskeid geneem is, maar voordat aanbeweeg kan word na die derde proses, bevind mense hulle in die sogenaamde neutral zone. Hierdie is 'n tussen-in posisie vol onsekerheid en verwarring. Bridges (1991:18) noem dit ook 'n fase van “lostness”. Bloot om hier te oorleef neem dikwels al mense se energie op. Hierdie posisie is so ongemaklik dat “people are driven to get out.” Mike [8-571] praat oor die dreigende regstellende aksie as hy sê: As ek 'n ambisieuse mens is, en jy hou my terug, gaan ek die land verlaat. Ek gaan definitief nie hier bly nie, ek wil groei, en as ek nie in die land kan groei nie, gaan groei ek op ’n ander plek.

Terwyl sommige mense so gou moontlik uit die neutrale sone wil wegkom, hanteer ander dit weer deur 'n hunkering na die verlede: hulle hou ten alle koste vas en hulle leef ten alle koste asof ons nog in die ou SA leef met alles soos wat dit tien jaar terug was. Asof niks nog verander het nie [Albert 7-347]. 'n Suksesvolle oorgang vra egter dat mense genoeg tyd in die neutrale sone spandeer. Die tyd wat hier spandeer word “is not wasted, for that is where the creativity and energy of transition are found and the real transformation takes place” (Bridges & Mitchell 2000).

Die laaste fase van die drie oorgangsprosesse is moving forward. Volgens Bridges en Mitchell (2000:elektroniese bron) misluk mense dikwels in hulle oorgang, omdat hulle nie die ou patrone kan laat staan en 'n einde daaraan kan maak nie. Ander misluk omdat hulle “frightened and confused” raak en nie die ongemak van die neutrale sone lank genoeg kan hanteer sodat dit 'n verandering in hulle kan bewerk nie. Sommige mense kom wel deur die eerste twee prosesse, maar val dan vas wanneer hulle 'n nuwe begin moet maak. Die probleem is dat aanbeweeg nuwe gedrag vra en dat hierdie risiko vir sommige net te groot is. Soos Mike [2-118] sê om nou 'n leefwyse te verander, is nie maklik nie.

In 'n gids aan werknemers sluit die Universiteit van Salford aan by die gedagte dat persone in 'n oorgangsituasie mag vasval. Hulle neem die bekende “grief cycle” van Kübler-Ross as vertrekpunt en pas dit dan aan vir die proses waardeur mense tydens verandering gaan. Die eerste twee fases noem hulle “denial” en “defence” en maak dan hierdie opmerking: “Many people facing radical change... can get locked in a cyclical process going through the first two stages” (University of Salford 2010:9).

'n Handige lens waardeur gekyk kan word na die proses van verandering en oorgang is Rendle (2007) se “roller coaster of change”. Elders (Rendle 1998:105) noem hy dit “the emotional cycle of congregations in change.” Hierdie model kyk nie net na die verandering self nie, maar veral na die emosionele reaksie van die mense wat deur die verandering geraak word. 'n Aangepaste en vertaalde weergawe van sy skematiese voorstelling verskyn hieronder.

Rendle (2007) bied sy “roller coaster” aan as 'n model “that identifies a natural sequence of feelings and relationships that are part of change.” Sy vertrekpunt is dat alle verandering soortgelyke reaksies tot gevolg het. Hy verduidelik dit aan die hand van 'n enkele golf van 'n tipiese sinuskurwe. Soos hy dit voorstel (soos in die skets hieronder) het hierdie golf aanvanklik 'n kort opwaartse kurwe wat dan deur 'n langer afwaartse kurwe gevolg word. Ná 'n onderste draaipunt is die beweging weer opwaarts tot 'n nuwe hoogtepunt weer bereik word. Hy is die eerste om te erken dat die model nie allesomvattend is nie en nie alles sê wat moontlik oor die onderwerp gesê kan word nie. Tog bied dit 'n werkbare hulpmiddel vir hierdie navorsing.

Die aanvanklike aankondiging van verandering veroorsaak 'n toename in energie en positiewe gevoelens. Anders as sommige sisteme wat eers slegter moet word voordat dit beter kan word, is die effek van verandering eers 'n positiewe opwelling en daarna 'n negatiewe tydperk voordat dit (hopelik) weer positief draai (Rendle 1998:111). 'n Relevante voorbeeld van hierdie aanvanklike positiewe opwelling sou in die konteks van hierdie navorsing kon wees die euforie oor die vrylating van Nelson Mandela en die onverwagse goeie gesindheid tydens die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika in 1994. Die Springbok rugbyspan se verowering van die Rugby Wêreldbeker in 1995 dra verder by tot hierdie euforie. Weldra maak hierdie aanvanklike euforie plek vir ander, ook meer negatiewe, gevoelens.

Rendle (1998:114) kombineer sy sinusgolfmodel met Bridges (1991) se drie-fase proses van verandering. Wanneer 'n vertikale lyn deur die onderste draaipunt van die golf getrek word, word twee onderskeibare helftes sigbaar. Links van die lyn is die afskeidneem-fase met al die negatiewe emosies wat gewoonlik daarmee saam gaan. Dit sluit onder andere emosies in soos skok, rou, disoriëntasie, verlange na die “ou dae”, skuld, aggressie en woede. Dit kan ook lei tot onttrekking aan ander mense en afsydigheid ten opsigte van die proses van verandering.

Regs van die vertikale lyn lê die emosies van hoop. Hier is reeds 'n besluit geneem om deel te neem aan die verandering. Nou kom kreatiewe probleem-oplossende gedrag na vore. Die emosies is ook meer positief en hoopvol.

Onder, op die draaipunt van die kurwe, lê 'n kritiese area. Iewers in die proses van verandering moet elkeen daarby betrokke, 'n doelbewuste keuse maak om óf deel te wees van die verandering, óf om te onttrek uit die proses. In Frans [1-471] se woorde: Dit voel net vir my dat ons by 'n punt moet kom… dat ons hierdie goed moet afsluit en moet aangaan in die nuwe SA. Die keuse om eerder te onttrek aan die verandering loop daarop uit dat 'n persoon byvoorbeeld sy werk bedank as gevolg van die verandering in sy werksomstandighede. Isak [8-128] vertel van mense met dekades se diens wat 'n skeidingspakket aanvaar, want hulle kon net nie die druk en verandering aanvaar nie. Ander kies eerder om die land te verlaat en hulle heil elders – gewoonlik in 'n sogenaamde ontwikkelde land – te gaan soek. Nie almal se onttrekking is egter so dramaties soos om te bedank of te emigreer nie. Sommige mense emigreer intern. Hulle maak hulleself los van die buitewêreld en leef hoofsaaklik na binne. Dit is veral in hoofstuk vier waar hierdie

temas weer aan die orde sal kom.

8. Samevatting

In hierdie hoofstuk is daar gekyk na die agtergrond waarteen die navorsing afspeel. In terme van die ABDCE-model is hierdie hoofstuk ʼn verhaal ter agtergrond, oftewel die

background. Eers is daar gekyk na die apartheidswêreld waarin die mede-navorsers

geleef en grootgeword het.

Die agtergrond en oorsprong van die politieke beleid van apartheid is ondersoek. Daar is gekyk na die voorlopers van die beleid wat herlei kan word na die tyd van slawerny en kolonialisme. Die rasse-meerderwaardigheid van die Britte is uitgewys asook die wette wat reeds sedert die tyd van die Britse oorheersing aan die orde van die dag was.

Die goeie bedoelings met die beleid van apartheid en die aanvanklike oogmerke daarmee is in die woorde van die mede-navorsers weergegee. Ongelukkig het die beste bedoeling ook onvoorsiene gevolge en die tyd het die beleid ingehaal totdat dit nie meer houdbaar was nie.

Die ontwikkeling in post-apartheid Suid-Afrika, in die samelewing en die Kerk, is ondersoek om te verstaan teen watter agtergrond die opvolgnavorsing gedoen is. ʼn Aantal relevante aspekte van die verandering sedert 1994 word beskryf onder die opskrifte van onsekerheid, ontnugter, opgewonde en oneerlik.

Ten slotte is Weingarten se tipologie van getuienislewering verduidelik en is daar aandag gegee aan die proses van verandering soos beskryf deur Bridges en Mitchell se drie fase-model en Rendle se roller coaster of change-model.

In hoofstuk drie kom die mede-navorsers self aan die woord. Dié hoofstuk is ʼn verhaal van ontwikkeling en word gewy aan die aanvanklike navorsing wat in 1998 gedoen is. Hier word die stemme van die mede-navorsers self gehoor soos hulle hul eie narratiewe oor die tydperk van apartheid vertel.

HOOFSTUK 3

DIE VERHAAL OOR APARTHEID – VERLEDE TYD