• No results found

DIE OORSPRONG VAN DIE APARTHEIDSVERHAAL (ʼn Verhaal ter agtergrond)

4. Die posisie van die NG Kerk voor

In hierdie afdeling word die NG Kerk beskryf soos aan die mede-navorsers bekend ten tye van die aanvanklike navorsing. Die fokus is veral op die NG Kerk se geskiedenis ten opsigte van apartheid en die rassekwessie in Suid-Afrika.

4.1 “Die NP in gebed”

Dit is nie sonder rede dat na die NG Kerk verwys is as “die Nasionale Party in gebed” (Giliomee 1979:240; Serfontein 1979:163) nie. Serfontein (1982:1) voer vier redes aan vir die hegte verband wat onstaan het tussen die NG Kerk en die politieke party: Eerstens is die NG Kerk die grootste kerk onder die lede van die wit heersersklas, tweedens speel die NG Kerk ʼn spesiale rol in die politieke, sosiale en kulturele lewe van wit Afrikaanse Christene, derdens is godsdiens baie belangrik vir die Afrikaners en dit is ingeweef in hulle alledaagse lewe en laastens was Suid-Afrika volgens die grondwet van die apartheidsera ʼn Christelike staat. Die NG Kerk erken self die baie hegte verhouding met die regering van die dag: “Die Kerk is intiem betrokke by die staatkundige ontwikkelinge van ons land” (Ned Geref Kerk 1975:3). Op ʼn stadium het die NG Kerk selfs geheime fondse van die regering aanvaar, al is dit afgemaak as “niks onreëlmatigs” (Geldenhuys 1982:74) nie. Loader (1985:276) sê die NG Kerk is “reputed to be the most influential church in South Africa...”. Rose [7-555], een van die swart deelnemers aan die aanvanklike gesprekke, voer aan dat die rede waarom die NG Kerk-familie so sukkel om te verenig is omdat die NG Kerk spesifiek, al die jare die backbone was van apartheid.

Kruger en Hofmeyr (2009a:138) beskryf die ontstaan van die NG Kerk as volkskerk van die Afrikaners met spesifieke verwysing na die rol van die NG Kerk na die Tweede Vryheidsoorlog en die Afrikaners se verarmde situasie in die dekades daarna. Dit was logies dat “die kerk in sy sorg aan die verarmde Afrikaners ʼn kerk-vir-die-volk” sou word. Hulle verwys vervolgens na die Calvinistiese gedagte van “kollektiewe individualisme” wat beteken dat “ʼn individu tegelyk vrywillig behoort en onderdanig is aan ʼn Christelike gemeenskap en aan ʼn aardse outoriteit (wat aan God onderdanig is).” Hulle totale lewensbestel was dus “in wese godsdienstig” met staat en kerk as organe waardeur God regeer. Dan voeg hulle by: “Die gemiddelde Afrikaner het hierdie verstaan van die werklikheid as ʼn gegewe aanvaar (Kruger & Hofmeyr 2009a:139).

Die hegte verhouding tussen die NG Kerk en die staat het dus ʼn natuurlike ontwikkeling gehad. Die staatkundige ontwikkeling van die verskillende volke in die land het parallelle aandag geniet in staat en Kerk. Dit was die Afrikaner se verstaan van hierdie “burgerlike godsdiens” (Kruger & Hofmeyr 2009a:139) wat die teologiese denke oor rasseverhoudinge bepaal het. Dit het in 1974 uitgeloop op die dokument Ras, volk en

nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif (Ned Geref Kerk 1975). Hierin word

uitgegaan van ʼn “Godgegewe verskeidenheid” (Kinghorn 1986b:132) in die veelheid van volke. Hierdeur het wit mense se selfafsondering ʼn godsdienstige basis gekry “wat haas onuitroeibaar was” (Durand 2002:29).

Tientalle boeke is al geskryf oor die ontstaan en geskiedenis van die apartheidsteologie. Vir die doel van hierdie studie is dit nie nodig om in detail hierop in te gaan nie. Enkele relevante gebeure sal wel uitgelig word. In terme van wat geskryf is, kan verwys word na byvoorbeeld Van Jaarsveld (1979) se Die evolusie van

apartheid, Kinghorn (1986a) se Die NG Kerk en apartheid en Gaum (1997a) se Die verhaal van die Ned Geref Kerk se reis met apartheid. Daar was oor die jare ook

verskeie boeke wat baie meer krities gekyk het na apartheid en iets verwoord het van die debat wat in en rondom die Kerk gewoed het. So was daar Smith, Geldenhuys en Meiring (1981) se Storm-kompas wat kort daarna opgevolg is deur Geldenhuys (1982) se outobiografiese In die stroom-versnelling en ʼn paar jaar later Loubser (1987) se The

apartheid Bible: A critical review of racial theology in South Africa.

Na binne het die NG Kerk ook oor die jare haar eie worsteling met verskillende insidente gehad. Dit sou onbillik wees om te beweer dat die NG Kerk oor al die jare met een stem gepraat het oor apartheid. By verskeie geleenthede was daar stemme van weerstand teen besluite van die NG Kerk en daar was van die vroegste tyd af stemme roepende in die woestyn, profetiese stemme wat die NG Kerk opgeroep het om vinniger weg te beweeg van steun aan die diskriminerende beleid van apartheid. Soos die geskiedenis egter aandui, is daar nie graag na hierdie stemme geluister nie.

Nog voor die ontstaan van die Algemene Sinode in 1962 was daar in 1960 die veelbesproke Cottesloe-kerkeberaad wat gevolg het op die ongelukkige Sharpeville voorval waarin die polisie nege-en-sestig swart mense doodgeskiet het (Lückhoff 1978). Op die voorblad van Lückhoff se boek word die beraad beskryf as ʼn “dinamiese poging van wit Christene om oor taal- en rassegrense heen ʼn uitweg uit die impasse in rasseverhoudings in Suid-Afrika se bewerkstellig.” Na hierdie beskrywing gaan die teks

op die voorblad voort met hierdie betekenisvolle opmerking: “Die oorgrote meerderheid Afrikaanse predikante en lidmate was egter nie ryp vir die ingrypende veranderinge wat die aanvaarding van die bevindinge sou meebring nie.” Hoe waar hierdie stelling is, sou later deur die geskiedenis bevestig word toe die NG Kerk self besluite geneem het wat aansluit by die Cottesloe-besluite, soos byvoorbeeld dat daar geen Skriftuurlike gronde is vir die verbod op gemengde huwelike nie.

Uit die reaksies van die Sinodes van Kaapland en Transvaal blyk dit dat die NG Kerk op daardie stadium oortuig was “die beleid van differensiasie Skriftuurlik gegrond is, die enigste realistiese oplossing vir die probleme van rasseverhoudinge in die land aanbied en daarom die belange van alle bevolkingsgroepe die beste dien” (aangehaal in Gaum 1997a:16). Of die NG Kerk hierdie besluite uit eie oortuiging geneem het en of die Afrikaner-Broederbond sy “aansienlike invloed laat geld” (Naudé 1995:56) het deur “sy omsendbriewe aan die afdelings” (Geldenhuys 1982:58), sal niemand seker weet nie.

Die NG Kerk het ook verder gegaan en die Cottesloe-verklaring verwerp omdat “dit die beleid van afsonderlike ontwikkeling aantas en ondermyn” (Gaum 1997a:16). Die NG Kerk se motivering was dus baie duidelik primêr ʼn politieke en nie ʼn teologiese een nie. In die memorandum van die Kaaplandse NG Kerk word duidelik gestel dat die NG Kerk by ʼn “kruispad” gekom het “ten opsigte waarvan hy sonder versuim ʼn besliste keuse moet maak” (aangehaal in Lückhoff 1978:60). Die keuse wat die NG Kerk gemaak het, was vir afsonderlikheid.

Die nadraai van Cottesloe was dat die Kaapse en Transvaalse NG Kerke uit die Wêreldraad van Kerke bedank het en ook nie deel geword het van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke nie. Hiermee het die NG Kerk hom op ʼn “pad van byna volkome kerklike en ekumeniese isolasie, binne en ook buite Suid-Afrika geplaas” (Naudé 1995:59). Daar het inderdaad ʼn “diep kloof” (Gaum 1997a:19) tussen die NG Kerk en ander, ook Protestantse, kerke gekom. Die woorde van prof. Ben Engelbrecht bly ʼn ontstellende profetiese vermaning: “Dit sal altyd ʼn verbysterende raaisel bly dat politieke magte daarin kon slaag om ná Cottesloe die wig so diep tussen kerke en Christene in ons land in te drywe” (Engelbrecht 1982:25).

In die tyd na Cottesloe was daar ʼn aantal lidmate wat die gees van Cottesloe probeer lewend hou het met die maandblad Pro Veritate met Beyers Naudé as eindredakteur. Verskeie prominente leraars was medewerkers van die blad. Toe die Vrystaatse

Sinode hom egter in 1964 sterk uitspreek teen die blad en “ampsdraers en lidmate vra om hulle van die blad te distansieer” (Gaum 1997a:21) was dit die begin van die einde. Die Christelike Instituut – ʼn “poging om Christene saam te laat besin, spreek en bid en om hulle eenheid te demonstreer” (Gaum 1997a:21) – is in 1963 gestig, maar die Algemene Sinode van 1966 het dit as dwaalleer verdoem en daarmee ook sy invloed in die NG Kerk beëindig. Dit was duidelik dat die NG Kerk vir apartheid gekies het en nie enigiets anders wou hoor nie.

Of daar werklik veel besinning oor rassesake in die NG Kerk in die tyd na Cottesloe tot en met die verskyning van Ras, volk en nasie in 1974 was, is te betwyfel. Bloot die feit dat Gaum (1997a) slegs twaalf reëls wy aan meer as ʼn dekade van die NG Kerk se reis met apartheid, is genoeg aanduiding daarvan. Wat in daardie tyd gebeur het, was waarskynlik maar net ʼn voortsetting van die gevestigde praktyk. Die NG Kerk was op daardie stadium klaarblyklik heel tevrede met sy standpunt oor rassekwessies ten spyte van vele stemme wat opgegaan het vir ʼn verandering.

In 1979 en veral in die jare tagtig was daar uit verskeie oorde druk op die NG Kerk om sy steun vir apartheid te heroorweeg. Soos jare later weer die geval sou wees, die keer met die Belydenis van Belhar, is dit die Sinode van Wes-Kaapland wat die eerste is om die manmoedige tree te gee en te besluit “dat alle rassediskriminasie... strydig met die Bybelboodskap is” (aangehaal in Gaum 1997a:28). ʼn Jaar later skryf die NG Sendingkerk in sy amptelike lyfblad, Die Ligdraer, dat al dink die NG Kerk dat apartheid die enigste oplossing vir die land is, dit deur swart en bruin lidmate “by al die voordele wat dit gebring het, as uiters verdrukkend ervaar word” (aangehaal in Gaum 1997a:29).

Later in 1980 publiseer agt prominente teoloë hulle Hervormingsdag-getuienis (Die

Kerkbode 1980:605) wat “solidariteit met almal wat deur onregverdige sosiale praktyke,

ekonomiese wanverhoudinge en die lyding as gevolg van politieke maatreëls geraak is, bepleit” (Kruger & Hofmeyr 2009a:139). Hierdie getuienis word ʼn paar maande later opgevolg deur Storm-kompas (Smith, Geldenhuys & Meiring 1981) “wat die NG Kerk se onverskilligheid teenoor duisende swart mense se ellende uitgewys het” (Kruger & Hofmeyr 2009a:139). Van die uitsprake in die boek, soos “Die handelinge van die Suid- Afrikaanse regering met betrekking tot bevolkings-verhoudinge gedurende die afgelope twee en dertig jaar moet in groot mate op die rekening van die Afrikaner en sy kerk [hulle kursivering] geplaas word” (Smith, Geldenhuys & Meiring 1981:139), het bygedra tot die storm wat die boek ontketen het.

Die jaar 1982 was “in bepaalde opsigte ʼn beslissende jaar” (Gaum 1997a:33). Eers is dit die Ope brief aan die NG Kerk wat deur 123 persone onderteken is en in Die

Kerkbode verskyn het. Later dieselfde jaar is dit die Sinode van die NG Sendingkerk

wat sy besluit van 1978 herbevestig dat apartheid sonde en die volgehoue ongehoorsaamheid aan die Woord van God ʼn teologiese kettery is. Die NG Sendingkerk het op grond van hierdie besluit, asook die NG Kerk se voortgesette steun aan apartheid, verklaar dat ʼn punt van status confessionis15 bereik is. Volgens die NG Sendingkerk plaas die NG Kerk se steun aan apartheid die Christelike evangelie op die spel (Cloete & Smit 1984:22). Hierdie selfde sinode aanvaar ook ʼn konsepbelydenis wat vier jaar later as die Belydenis van Belhar aanvaar sou word.

Die skriftelike antwoord van die Breë Moderatuur in Maart 1984 verdedig die NG Kerk se posisie dat hy “alle rassisme as sonde verwerp”, dat afsonderlike ontwikkeling, toegepas volgens die beginsels van naasteliefde en sosiale geregtigheid “volgens ons nie in botsing met die eise van die Skrif” is nie. Die Breë Moderatuur meen verder dat “daar nie net negatief” geoordeel moet word nie en dat daar “ook goeie en positiewe dinge” in Suid-Afrika tot stand gekom het (Gaum 1997a:35). Hierdie totale gebrek aan insig oor wat die beleid van apartheid aan swart en bruin mense gedoen het, sou jare later steeds aan die orde wees. In die slotwoorde van die Breë Moderatuur se antwoord dat hulle “met nadruk verklaar dat u indringend moet besin of u met hierdie nuwe belydenis wil voortgaan”, klink iets van vorige dekades se voogdyskap weer helder, so asof die Sendingkerk nie sonder die goedkeuring van die moederkerk so ʼn stap mag neem nie. Hierdie antwoord was die begin van ʼn lang en onverkwiklike, sommige sal selfs sê onproduktiewe, debat tussen die twee kerke.

Ten spyte van ʼn onbevredigende antwoord, was daar tog dinge aan die gebeur in die NG Kerk. By die Algemene Sinode van 1986 is die beleidstuk Ras, volk en nasie wat reeds deur die tyd agterhaal is, grondig hersien en vervang met ʼn nuwe dokument Kerk

en Samelewing: ʼn Getuienis van die Ned Geref Kerk. Hierin erken die NG Kerk dat

apartheid nie as ʼn “voorskrif uit die Bybel” afgelees kan word nie, dat die Kerk nie geroep is om ʼn politieke beleid aan die owerheid voor te skryf nie, en dat enige politieke model aan “die eise van liefde, geregtigheid en menswaardigheid” getoets moet word (Ned Geref Kerk 1986:52).

15

ʼn Status confessionis, of te wel ʼn staat van belydenis beteken “niks anders nie as dat Christene of ʼn kerk oordeel dat ‘ʼn oomblik van waarheid’ aangebreek het, dat ʼn situasie ontstaan het waarin die evangelie op die spel staan” (Cloete & Smit 1984:6).

Die paragraaf wat na my mening die mees ingrypende was, was paragraaf 306 (Ned Geref Kerk 1986:52):

Die Ned Geref Kerk is oortuig dat die hantering van apartheid as politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo ʼn ander bevoordeel, nie op Christelik-etiese gronde aanvaar kan word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en onafwendbaar die menswaardigheid van almal wat daarby betrokke is, aantas.

Dit blyk egter dat dit veral paragraaf 270 en 273 was wat die grootste reaksie ontlok het. In hierdie twee paragrawe word gesê dat “lidmaatskap van die Ned Geref Kerk oop” is en dat eredienste en ander byeenkomste vir “alle besoekers” toeganklik is (Ned Geref Kerk 1986:46). Dit is duidelik dat baie lidmate steeds die NG Kerk as volkskerk vir wit Afrikaners beskou het. Hierdie lidmate se besware het uiteindelik in 1987 sigbare gestalte aangeneem in die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK). Sowat ʼn honderd predikante en ongeveer 40 000 lidmate het die NG Kerk en ander kerke verlaat (Gaum 1997a:45). Strauss (2011:511) dui egter die aantal lidmate van die NG Kerk wat na die APK oorgegaan, as slegs 7 751 aan.

4.2 “Te abstrak en teoreties en daarom ook te onkrities”

Ten spyte van die hartseer van kerkskeuring het die NG Kerk voortgegaan met sy besinning oor die Kerk se rol in die samelewing. By die Algemene Sinode van 1990 is ʼn gewysigde beleidstuk Kerk en Samelewing 1990 aanvaar. Hierin erken die NG Kerk onder andere – in paragraaf 282 – “dat hy te lank die beleid van apartheid... te abstrak en teoreties en daarom ook te onkrities, beoordeel het” (Ned Geref Kerk 1990:39). In paragraaf 284 erken die NG Kerk verder:

Eers gaandeweg het dit vir die Ned Geref Kerk duidelik geword dat die beleid van apartheid as politieke sisteem in die praktyk veel verder gaan as die erkenning van die reg en vryheid van alle mense en kulturele groepe om aan hulle eie waardes getrou te mag bly. Apartheid het op so ʼn wyse begin funksioneer dat die grootste deel van die landsbevolking dit ervaar het as ʼn onderdrukkende sisteem wat deur gedwonge skeiding tussen mense in werklikheid een groep onregmatig bo die ander bevoordeel het. So het dit die mens-

waardigheid van die medemens aangetas en in stryd gekom met die beginsels van liefde en geregtigheid.

Die besluite van die Algemene Sinode het blykbaar stil-stil by mense verbygegaan – óf hulle het nie kennis geneem van die besluite nie, óf hulle het nie besef wat die NG Kerk besluit het nie. ʼn Maand later, in November 1990, vind die Konferensie van Kerke op Rustenburg plaas. Verteenwoordigers van tagtig kerke het die geleentheid bygewoon (Gaum 1997a:54). Aan die einde van sy toespraak het Willie Jonker van die Kweekskool op Stellenbosch die volgende “totaal onverwagte verklaring” (Gaum 2006:elektroniese bron) in Engels gemaak:

Ek bely voor u en voor God nie net my eie sonde en skuld nie, en my persoonlike verantwoordelikheid vir die politieke, sosiale, ekonomiese en strukturele onregte waaronder u en ons hele land nog ly nie, maar plaasvervangend waag ek dit om dit ook namens die Ned Geref Kerk te doen, waarvan ek 'n lidmaat is, en vir die Afrikaners. Ek het die vryheid om dit te doen, want die Ned Geref Kerk het apartheid op sy afgelope Algemene Sinode tot sonde verklaar en sy eie skuld van nalatigheid beken dat hy nie lank gelede daarteen gewaarsku en homself daarvan gedistansieer het nie.

In reaksie op hierdie belydenis het Desmond Tutu, wat op daardie stadium die aartsbiskop van Kaapstad was, opgestaan “na die kateder stap en [ge]sê dat hy die skuldbelydenis aanvaar en nie aan die opregtheid daarvan twyfel nie” (Gaum 2006:elektroniese bron). In die vergadersaal was daar aanvanklik ʼn doodse stilte; jy kon ʼn speld hoor val, en toe was daar ʼn toejuiging. “Almal het geweet: Dit is ’n groot oomblik, dis geskiedenis wat gemaak is” (Gaum 2006:elektroniese bron). Dit is daarom heel te verstane dat wanneer hy skryf oor die eenhonderd bakens in die geskiedenis van die NG Kerk, Gaum (2002:218) na hierdie gebeure verwys as ʼn “merkwaardige oomblik van belydenis, vergifnis en versoening”.

Geskiedenis word egter nooit sonder teenstand gemaak nie. Van verskillende kante is daar beswaar gemaak teen Jonker se skuldbelydenis. Dikwels is hierdie kritiek verpak in die verskoning dat hy nie ʼn amptelik opdrag daartoe gehad het om skuld namens die NG Kerk te bely nie. Die feit dat hy bloot herhaal het wat die Algemene Sinode skaars ʼn maand vroeër gesê het, en dat die amptelike afvaardiging hom ondersteun het, was vir die beswaarmakers irrelevant. Die trant van baie van die reaksies skep die indruk

dat dit nie gaan oor wie, of waar, of hoe dit bely is nie, maar dat iemand dit enigsins waag om te sê dat daar fout is met apartheid. Hierdie selfde kritiek sou ook by die kerkraad van Welkom-Suid Gemeente ter sprake kom soos reeds in hoofstuk een aangedui is (Ned. Geref. Gemeente Welkom-Suid 1991).

Aangesien Jonker se belydenis nie vooraf uitgeklaar is met die amptelike afgevaardigdes van die NG Kerk nie, het hulle koppe bymekaar gesit en toe ʼn verklaring voorberei wat aan die begin van die volgende dag se sessie voorgelees is (Gaum 2006:elektroniese bron). Dit het so gelui:

Die amptelike afvaardiging van die NG Kerk wil dit onomwonde stel dat ons ons volledig vereenselwig met die verklaring van prof. Jonker oor die posisie van hierdie kerk. Hy het op stuk van sake die besluite van ons algemene sinode weergegee. Ons wil graag die besluite van die sinode as die basis van versoening met alle mense en alle kerke beskou.

Oor hierdie verklaring is daar net soveel stof opgeskop. Ontstoke lidmate en leraars wat niks gesê het oor die besluite van die Algemene Sinode nie, het nou hewige kritiek geuiter. Selfs oud-president PW Botha het Pieter Potgieter twee keer vanaf sy strandhuis in die Wildernis gebel om hom te roskam oor die verklaring (Gaum 2006:elektroniese bron). Die NG Kerk se eie Algemene Sinodale Kommissie het ʼn middernagtelike vergadering gehou en probeer koue water gooi op die Rustenburgse gebeure (Gaum 2006:elektroniese bron).

Ook Tutu moes kritiek verduur omdat hy die NG Kerk se skuldbelydenis aanvaar het. Sy verweer was eenvoudig: As skuld bely word, vergewe die Here – en so moet Christene mekaar ook vergewe. Tot sewentig maal sewe keer, het die Here Jesus gesê (Gaum 2006:elektroniese bron).

Vanuit die geledere van die NGKA en die Sendingkerk was daar ook besware teen die