• No results found

6. Die (mede)-navorsers

6.1 Aanvanklike navorsing

Die mede-navorsers het elkeen 'n skuilnaam gekry om hulle identiteite te beskerm. Die skuilname is toegeken in die volgorde waarin hulle aan die woord gekom het. Aangesien ek eerste gepraat het, het ek vir myself 'n skuilnaam gegee wat met die letter “A” (Albert) begin het. Die persoon wat tweede gepraat het se skuilnaam begin met 'n “B” (Ben) en so verder aan met die alfabet. Ek het vir myself ook ʼn skuilnaam gegee al was dit streng gesproke nie nodig nie. Dit was ʼn doelbewuste keuse om my gelyk te stel met al die ander mede-navorsers. In die transkripsies wat aan die groep uitgedeel is na elke gesprek, is alle deelnemers gelyk – almal word net aan skuilname geken en geeneen het ʼn voorrang bo ʼn ander nie; enige vorm van magspel is daardeur geneutraliseer. Vir die mede-navorsers was ek dus ʼn gelyke vennoot en nie die dominee wat met ʼn groep lidmate ʼn proses deurloop nie. Die mede-navorsers kon in die transkripsies hulle vorige bydraes sien en daarop kommentaar lewer in die volgende gesprek. In die woorde van Conde-Frazier (2012:236) “People who were previously objects of study become active subjects and participants.”

Enkele kere word daar ook verwys na persone wat bloot met ʼn voorletter aangedui word. Omdat hulle rolle beperk is tot een of moontlik twee verbygaande verwysings, word hulle nie verder gedefinieer nie.

In die transkripsies van die gesprekke is enige identifiseerbare besonderhede soos werkgewers en werkplekke verwyder ter wille van die anonimiteit van die mede- navorsers. Volledigheidshalwe word die transkripsies van die gesprekke op die ingebinde CD beskikbaar gestel in elektroniese formaat as Bylaag 1 tot 8. Die nommer van die Bylaag stem dus ooreen met die nommer van die gesprek. Dit is ook waar van

die gesprekke van die opvolgnavorsing.

6.2 Opvolgnavorsing

Die opvolgnavorsing is by wyse van ʼn longitudinale studie gedoen. “The defining feature of longitudinal studies is that individuals are measured repeatedly through time” (Diggle, Heagerty, Liang & Zeger 2002:1). In hierdie navorsing beteken dit dat ʼn groep mede-navorsers oor ʼn tydperk van veertien jaar meer as een keer die geleentheid gekry het om hulle narratiewe te deel

...thereby allowing the direct study of change over time. The primary goal of a longitudinal study is to characterize the change in response over time and the factors that influence change. With repeated measures on individuals, one can capture within-individual change. Indeed, the assessment of within-subject changes in the response over time can only be achieved within a longitudinal study design (Fitzmaurice, Laird & Ware 2004:2).

Die aanvanklike navorsing is in groepverband gedoen. Ongelukkig was dit nie moontlik om die opvolgnavorsing ook in groepverband te doen nie. Fitzmaurice, Davidian, Verbeke en Molenberghs (2009:ix) skryf “longitudinal studies are... prone to problems of missing data and attrition.” Hierdie “attrition” word ook soms genoem “drop-out” (Hedeker & Gibbons 2006:2) en verwys na ʼn mede-navorser wat uit eie keuse of vanweë omstandighede onttrek voor die einde van die studie. Dit was ook die geval met hierdie navorsing. ʼn Beduidende aantal van die oorspronklike mede-navorsers het uit Welkom verhuis, die meerderheid na ander provinsies. Een persoon is sedertdien oorlede. Dit sou dus nie prakties moontlik gewees het om almal weer in 'n groep byeen te bring nie. Almal was egter steeds bereikbaar en ek het nog kontak met elkeen gehad.

Eerder as om 'n nuwe navorsingsgroep te begin, is besluit om eerder die oorspronklike mede-navorsers individueel te kontak vir die opvolgnavorsing. Ek het elkeen persoonlik gekontak en het deur middel van 'n persoonlike gesprek weer die temas van die oorspronklike navorsing aan die orde gestel. Ten einde hierdie gesprekke te voer het ek etlike duisende kilometers gery na uiteenlopende plekke soos Prieska in die Noord- Kaap en Malmesbury in Wes-Kaap. Die transkripsies van hierdie gesprekke is ook op

die ingebinde CD in elektroniese formaat aangeheg as Bylaag 9 tot 15. Soos in die transkripsies van die oorspronklike gesprekke is inligting wat die mede-navorsers sou kon identifiseer eers verwyder. Die transkripsies van beide die aanvanklike navorsing en die opvolgnavorsing – op die CD sowel as in aanhalings in hierdie verslag – is nie taalkundig versorg nie, maar word weergegee soos wat die persone gepraat het.

Van drie mede-navorsers het ek ook skriftelike korrespondensie ontvang. Hierdie korrespondensie is saam met die transkripsies in elektroniese formaat op die CD aangeheg. Soos met die transkripsies is hierdie skriftelike bydraes ook nie taalkundig versorg nie, maar onveranderd geplaas. Hierdie bydraes is genommer Bylaag 16 tot 18.

6.3 Transkripsies

Alle gesprekke is met die toestemming van die mede-navorsers opgeneem en later getranskribeer. Die transkripsies is nie taalkundig versorg nie. Soms lees dit ongemaklik, omdat mense hulleself onderbreek en sommige gedagtes nie volledig uitgespreek word nie. Hierin sluit ek aan by die internasionale gebruike rakende transkripsies. Die voorwoord in die transkripsies van die Universiteit van Kentucky se Mondelinge Geskiedenis-program is ook hier van toepassing: “The reader... should bear in mind that he (sic) is reading a text of the spoken word rather than the written word” (aangehaal in Allen 1982:36). In die lig van die narratiewe aard van hierdie navorsing, is dit belangrik dat die mede-navorsers se menings verbatim weergegee word al voldoen dit nie altyd aan die aanvaarde taalreëls nie.

Soms word woorde gebruik wat tans nie as geskik geag word nie. Waar hierdie woorde voorkom in aanhalings, word dit net so weergegee. “Oral history is what comes out of people’s mouths, and it has to be captured accurately on paper; or else you violate the integrity of the interviewee... and you violate the integrity of the medium” (Allen 1982:35). Die feit dat sulke woorde aangehaal word, moet nie gesien word as goedkeuring deur die navorser of ander mede-navorsers nie. Dieselfde geld ook vir die gebruik van politieke rasonderskeidende terme soos swart, wit, blank en kleurling. Vir die doel van hierdie navorsing is dit belangrik om wel daardie woorde te gebruik om 'n getroue weergawe te kry van wat die mede-navorsers bedoel het. Die gebruik van hierdie woorde impliseer nie 'n waarde-oordeel nie.

Die volledige transkripsies van alle gesprekke word aangeheg sodat enige navorser kan kontroleer dat die mede-navorsers reg en binne konteks aangehaal word. Diegene wat meer wil lees oor die mede-navorsers se menings, sal dit ook geredelik kan doen.

Pope, Ziebland en Mays (2000:114) is reg oor die hoeveelheid data wat kwalitatiewe navorsing genereer:

Contrary to popular perception, qualitative research can produce vast amounts of data. These may include... transcribed recordings of interviews... These data are not necessarily small scale: transcribing a typical single interview takes several hours and can generate 20-40 pages of single spaced text. Transcripts and notes are the raw data of the research. They provide a descriptive record of the research...

Die transkripsies van die navorsingsgesprekke beslaan etlike honderde bladsye. Om ʼn spesifieke aanhaling in so ʼn omvangryke stel data te soek, kan ʼn uitdagende taak wees. Die bestaande riglyne bied nie spesifieke voorskrifte wat vir hierdie navorsing bruikbaar is nie en daarom het ek ʼn eie unieke sisteem ontwikkel. In aansluiting by Bournemouth Universiteit (Bowden 2012:3) se voorskrifte vir verwysings van regsdokumente waar soms na bepaalde paragrawe verwys word, en as gevolg van die omvang van die Bylae, het ek besluit om ʼn meer omvattende verwysingsisteem te ontwikkel. Nou is dit nie nodig dat hele bladsye gelees moet word om ʼn bepaalde verwysing op te spoor nie. Eerder as om soos die regsgeleerdes net na ʼn paragraaf te verwys, het ek gekies om na ʼn individuele reël te verwys om dit vir die leser makliker te maak om aanhalings op te spoor en te kontroleer. Die [a-bcd] patroon van verwysing maak dit nou moontlik dat enige aanhaling met groot akkuraatheid maklik opgespoor kan word.

Om te help om 'n spesifieke aanhaling te vind, het ek die gesprekke genommer van 1 tot 15 en die drie skriftelike bydraes as 16 tot 18. Ek het elke transkripsie en skriftelike bydrae van reëlsnommers voorsien. Wanneer ek hieruit aanhaal, gebruik ek telkens 'n verwysing in die formaat [a-bcd] waar “a” verwys na die nommer van die gesprek of bydrae en die “bcd” verwys na die betrokke reël in daardie gesprek of bydrae wat aangehaal word. Saam met elke sodanige verwysing word die naam van die mede- navorser ook genoem. As die naam nie in die teks self genoem word nie, verskyn dit – in ooreenstemming met die beginsels van die Harvard metode van verwysing – in die vierkantige hakkies saam met die nommers. Hierdie metode van verwysing sluit aan by

beginsels wat elders toegepas word, maar die spesifieke manier van verwysing is egter nuut.

Alle aanhalings van mede-navorsers word in 'n ander lettertipe aangebied en wel in die woorde soos die mede-navorsers dit gebruik het. Alternatiewe wyses van aanbieding is oorweeg, soos byvoorbeeld die gebruik van ʼn ander kleur. Die nadeel van so ʼn stelsel sou egter wees dat wanneer die dokument dan met ʼn gewone drukker se swart ink gedruk word, die effek daarvan verlore sou gaan. Dieselfde sou ook gebeur as die gekleurde teks gefotostateer sou word. ʼn Alternatiewe lettertipe blyk die eenvoudigste metode te wees om bepaalde dele van die teks te laat uitstaan.

In lyn met die riglyne van die Anglia Ruskin Universiteit (2012:32) en die Universiteit van Bournemouth (Holland 2006:elektroniese bron) is elke transkripsie voorsien van ʼn datum en soveel as moontlik inligting oor elke mede-navorsers word in Bylaag 21 verskaf, maar sonder dat hulle persoonlik geïdentifiseer kan word.

7. Intensie

Die onthullings by die WVK was vir die meeste wit Afrikaners, én vir die mede- navorsers, ʼn ontnugtering. Nie alleen was daar die onthullings oor sekere ongerymdhede wat plaasgevind het nie, maar sommige van hulle is vir die eerste keer direk gekonfronteer met die uitgangspunte van die beleid wat hulle lewe die voorafgaande dekades gevorm het. Nou hoor hulle, en dan nog in geen onduidelike taal nie, van die ervarings van diegene wat aan die skerp kant van apartheid gestaan het.

Die oorkoepelende doel van hierdie navorsing is om ondersoek in te stel na 'n groep wit Afrikaanse Christene wat in post-apartheid Suid-Afrika leef. Die bedoeling is “not only [to] collect data but also [to] encounter human beings ‘at faith’” (Moschella 2012:225). Die navorsing kyk na hulle sienings oor temas soos apartheid en rassisme, (moontlike) skuld aan die beleid van apartheid, hulle siening van die rol van die kerk hierin en hoe hulle dink oor versoening tussen wit en swart in Suid-Afrika in die lig van die onthullings by die WVK. Hierdie sienings word na verloop van 'n tydperk van ongeveer veertien jaar weer getoets en vergelyk met die eerste bevindings.

8. Verwagtinge

Met die afhandeling van hierdie navorsing beoog ek om op verskeie vlakke ’n bydrae te lewer. Ten eerste glo ek dat my werk sal bydra om die korpus van prakties teologiese navorsing in Suid-Afrika uit te brei. In die steeds-veranderende nuwe Suid-Afrika word ons gekonfronteer met nuwe uitdagings wat voortdurend nuwe antwoorde soek. Die praktiese teologie moet daarom altyddeur vernuwend kyk na die werklikheid. Ek sluit graag aan by Osmer (2008:16) se uitdrukking “web of life” om aan te dui dat dit in hierdie navorsing nie net gaan oor mense as sodanig nie, maar mense wat ingebed is 'n veranderende lewende sisteme. Apartheid en post-apartheid is sulke sisteme.

Ek wil graag vir die NG Kerk van waarde wees deur akademies-gefundeerd te verwoord hoe ’n bepaalde groep wit Afrikaanse Christene voel en dink oor hulle posisie in die sogenaamde nuwe Suid-Afrika en ook binne ʼn bepaalde kerkverband in hierdie nuwe Suid-Afrika. Vanuit my posisie as leraar in die NG Kerk, is my fokus juis op lidmate van hierdie denominasie. Elkeen van die mede-navorsers het bande met die NG Kerk. Ten tye van die aanvanklike navorsing was almal, behalwe een, lidmate van die NG Kerk. Hierdie mede-navorser is ʼn voormalige lidmaat van Welkom-Suid gemeente wat juis die bande verbreek het as gevolg van botsings oor die NG Kerk se standpunt oor apartheid. Teen die tyd wat die opvolgnavorsing gedoen is, was verskeie vervreemd van die NG Kerk. Enkeles het ook van gemeente verander en skakel by ander NG gemeentes in. Die verdeling in die NG Kerk familie op rassegrondslag is vir sommige onaanvaarbaar en die voortslepende debat oor hereniging bly vir hulle problematies. Ek poog om in hierdie navorsing die leiding (of gebrek daaraan) van die NG Kerk in die transformasie-proses te verwoord ten einde rigtinggewend te kan wees.

Die indruk word soms gelaat dat dit net wit Afrikaners en veral die sogenaamde susterskerke is wat betrokke was by apartheid en dat hulle alleen die volle skuld moet dra. Só 'n siening is eensydig en gee nie die volle werklikheid weer nie. Die Engels- sprekende deel van die wit gemeenskap staan ewe-eens in die beskuldigdebank. Stavrianos (1982:478) skryf “...many English-speaking whites support apartheid for economic reasons.” In die verslag van die WVK (TRC 1998b:39) oor die voorleggings van die geloofsgemeenskappe word in soortgelyke trant gesê “even though the majority of its constituents were black, the leadership of the English-speaking churches failed to express adequately their aspirations. Indeed, arguably the English-speaking churches ‘spoke for’ capital...”. Die kommissie verwys ook spesifiek na die band wat die

Engelse kerke gehad het met die welvarende deel van die gemeenskap: “In so far as apartheid was as much about protecting the material interests of whites, this ‘bias’ toward the wealthy is also a kind of legitimisation” (TRC 1998b:25). Hierdie legitimering van apartheid het gebeur omdat "the English-speaking churches have... refused to contradict the dominant social order or reject the legitimacy of the state; thus they find themselves trapped in apartheid" Villa-Vicencio (1988:6).

Met die longitudinale aard van die navorsing wil ek aantoon in watter opsigte en in watter mate die houdings van lidmate rakende ’n aantal kern-kwessies moontlik verskuif het oor die afgelope veertien jaar. Dit kan dalk ’n aanduiding gee van moontlike tendense in die toekoms. Ek wil ook aantoon watter faktore ’n rol gespeel het in die moontlike verskuiwing van posisies. Ek meen dat die dokumentering van hierdie navorsing bepaalde betekenisvolle pastoraal terapeutiese aksente na vore sal bring wat ook ’n bydrae sal lewer vir bepaalde bedieninge in die NG Kerk.

Dit was van die begin af my uitgangspunt dat die navorsingsproses nie maar bloot die dokumentering van bepaalde mense se narratiewe moes wees nie, maar dat hulle inderdaad ook uitgedaag moes word om hierdie narratiewe te ondersoek en te orden en dat die proses sou bydra om dit verder te ontwikkel.

Ten einde die leser te help om die navorsing ten beste te verstaan, word daar in die volgende afdeling aandag gegee aan die paradigma waarteen die navorsing afspeel. Daar word ook gekyk na die epistemologie en metodologie van die navorsing.