• No results found

9. Paradigma, epistemologie en metodologie

9.3.2 Aanvanklike navorsing in

In die eerste fase van die navorsing is 'n reeks van agt semi-gestruktureerde ontmoetings gehou met die sentrale tema van hoe wit Afrikaners leef na apartheid, gegewe hulle verlede. Die fokus van hierdie gesprekke was hoofsaaklik om te verstaan hoe die mede-navorsers oor apartheid dink en gedink het. Synde self 'n wit Afrikaanse Christen te wees, het ek as navorser as 'n gelyke vennoot deelgeneem aan die gesprekke. Hierin was ek meer as net 'n deelnemende waarnemer. Ek het doelbewus probeer om myself in die mede-navorsers se skoene te plaas ten einde hulle “actions, decision, behavior, practices, rituals” te verstaan (Payze 2001:271). Ek was deel van elke gesprek, want "only through 'entering into' the lifeworld of the researched as an insider, could the researcher hope to gain understanding of meaning" (Dreyer 1998:5).

Ek kon met die groep identifiseer en daarom was daar nie die dikwels-teenwoordige gevaar van "tourist therapy" waar die navorser navorsing doen sonder "a qualitative appreciation and informed knowledge" (Waldegrave 1990:15) van die groep met wie gewerk word nie. Hierdie posisie het dit ook vir my makliker gemaak om die groep uit te daag om wyer te dink en uiteindelik alternatiewe stories of "re-storying" (White 1990:14) te skep.

Lede van die groep het mekaar dikwels uitgedaag oor stellings wat gemaak is. Vergelyk byvoorbeeld die skerp debat tussen Elsa en Mike oor die kern van die probleem met apartheid by [6-280]. Ook op ander plekke in die gesprekke sien ons dieselfde patroon, soos byvoorbeeld [Hanlie 2-108] en [Johan 3-633]. Robuuste debat het soms gevolg. Dit was ook van die begin af die ooreenkoms dat ek die inhoud van

die gesprekke sou deel met ander persone. Vergelyk [Albert 1-054] in hierdie verband. Hierdie debatte word nie nou in meer detail bespreek nie, maar dit kom wel in hoofstuk drie aan die orde.

Elke mede-navorser is ook uitgedaag om te lees wat ander persone oor die onderwerp onder bespreking sê [Albert 1-093]. Ook gesprekke met ander mense van buite die groep is aangemoedig [Albert 3-048] en [Mike 3-066]. Die resultate van hierdie informele gesprekke het neerslag gevind in die groep se gesprekke en later ook in die navorsingsverslag.

Tydens die sewende groepsbyeenkoms is drie nie-wit persone uitgenooi om hulle ervarings met ons te kom deel: ʼn bruin onderwyseres, ʼn swart besigheidsman en 'n swart leraar. Die interaksie tussen die groep en die besoekers het bygedra daartoe dat die mede-navorsers hulleself tydelik in die skoene van swart mense kon bevind.

Die gesprekke is met almal se toestemming op band opgeneem en later getranskribeer. Hierdie transkripsies is aan die mede-navorsers gegee om enige korreksies of wysigings aan te bring soos hulle sou wou. Die transkripsies is as bylae aangeheg as uitgebreide kwalitatiewe data, dit is “descriptive data, people's own written or spoken words and observable behaviour – which are analysed for underlying patterns or themes" (Taylor 1988:75). Hierdie bylae is bedoel om as basis gebruik te word in gesprek met ander rolspelers soos swart mense en kollegas (tydens die navorsingsproses) en akademiese literatuur (voor en tydens die skryf van die navorsingsverslag). Die doel was om saam met die mede-navorsers te reflekteer oor hulle (ons?) standpunte en hulle (ons?) as gids (Gerkin 1997:114) te begelei tot groter begrip aangaande apartheid. Dit sou hulle kon help om betekenis te gee aan die nuwe post-apartheid situasie.

Hierdie tipe navorsing sou as deelnemende aksie-navorsing beskou kan word in die sin wat Stringer (1999:9) die term gebruik. Aksie-navorsing het in onguns verval by baie akademici, omdat dit dikwels in verband gebring is met radikale politieke aktivisme. Dit is ook die rede waarom baie van hulle aksie-navorsing beskryf as 'n metode wat politieke en sosiaal-maatskaplike doelwitte in die oog het (Mouton 2001:58). Stringer (1999:9) wil die aanvanklike konsep van aksie-navorsing verder ontwikkel en praat van “community based action research” wat lede van die gemeenskap betrek as gelyke en volle vennote in die navorsing. 'n Fundamentele uitgangspunt van hierdie

gemeenskapsgebaseerde aksie-navorsing is

that it commences with an interest in the problem of a group, a community, or an organisation. Its purpose is to assist people in extending their understanding of their situation and thus in resolving problems that confront them (Stringer 1999:10).

Die navorsing kan ook in Osmer (2008:49) se terme genoem word “applied research” wat ten doel het “to illuminate a societal concern.” In sy terme sou die navorsingsopset as 'n “formal” een beskou kan word wat ten doel het “investigating particular episodes, situations, and contexts through empirical research” (Osmer 2008:38).

9.3.3 Opvolgnavorsing in 2012

Die tweede fase van die navorsing was 'n longitudinale opvolg of “re-study” (Foster, Scudder, Colson & Kemper 1979:9) wat hulle beskryf as “a major initial study followed after an interval of some years by a (usually) much briefer visit.” Met die aanvanklike navorsingsdata as riglyn is opvolggesprekke gevoer met byna al die lede van die oorspronklike groep. Een lid van die aanvanklike groep is intussen oorlede en 'n beduidende aantal van hulle het verhuis wat ʼn latere en verdere groepsgesprek onmoontlik gemaak het. Ek kon al die ander mede-navorsers opspoor en daarom was dit nie nodig om nuwe persone by die navorsing te betrek nie.

Volgens Foster en andere (1979:9) is die primêre doel van so ʼn opvolg normaalweg om verandering te meet ten einde te sien of vorige voorspellings waar geword het. In hierdie navorsing fokus die opvolg op die toets van houdings in vergelyking met dit wat aanvanklik waargeneem is. Die areas waarna die navorsing kyk, is sake soos rassisme, skuld, die rol van die kerk en versoening. Hierdie sake is met die mede- navorsers getoets en daar is veral gevra na wat in die afgelope jare gebeur het wat hulle houdings kon verander het, indien dit wel verander het.

Ten einde struktuur te gee aan die navorsingsverslag is gekies om die ABDCE-model van Lamott (1995) te gebruik. Die model met sy vyf onderafdelings word vervolgens een-een bespreek.