• No results found

Die rol van die NG Kerk in die tyd van apartheid

DIE VERHAAL OOR APARTHEID – VERLEDE TYD (ʼn Verhaal van ontwikkeling)

7. Die rol van die NG Kerk in die tyd van apartheid

In die tyd van die ontstaan van die Algemene Sinode van die NG Kerk vyftig jaar gelede in 1962, het die beleid van apartheid die steun van die NG Kerk geniet. Van daardie tyd tot in 1994 het die posisie van die NG Kerk dramaties verander. In die volgende afdeling word aan hierdie verskuiwing aandag gegee.

7.1 “Die backbone van apartheid”

ʼn Kritiese buitestaander kan verstaan dat lidmate groot probleme met die NG Kerk het [vergelyk Hanlie 1-557]. Die NG Kerk het tydens apartheid ʼn posisie ingeneem waarin die belange van die lidmate bo dié van die Koninkryk van God gestel is. Volgens die kritiek van die Sendingkerk was apartheid se uitgangspunt die onversoenbaarheid van mense en daarom moes hulle apart gehou word – ook in die kerk: “Die politieke en kerklike bestel van Suid-Afrika is ’n bestel waarin onversoenbaarheid tot ’n samelewingsbeginsel verhef word” (NG Sendingkerk 1982:elektroniese bron).

Ook uit eie geledere het die NG Kerk oor jare die boodskap teen die teologiese begronding van rasseskeiding gehoor. Verskillende mense het oor die jare hieroor uitsprake gemaak, onder ander Marais (1952) en Naudé (1995:79; 86). In 1986 skryf Borchardt (1986:85): "Dit is jammer dat die NGK nie bly weerstand bied het teen die groeiende neiging tot geskeidenheid tussen wit en swart in die kerk nie. Die kerk is

immers 'n unieke gemeenskap, te wete die kerk van God [sy beklemtoning]”.

In die eerste gesprek verwoord Frans [1-444] sy probleem met die NG Kerk so: My groot dilemma vandag, dink ek, is die... rol wat die kerk gespeel het in hierdie hele apartheid- psigose. Want ons het so grootgeword... maar wat van 1948 gebeur het, waar die regering ons geïndoktrineer het, waar in ek groot geword het en wat die kerk, veral die drie susterkerke 'n groot leidende rol in gespeel het, kerkleiers wat op die ou end in die politiek beland het. En dit voel vir my, en ek sê dit tussen aanhalingstekens, asof ons amper 'n geestelike rat voor die oë gedraai is, want dit [apartheid] is wat reg is, dit is soos dit moet wees.

Frans en van die ander mede-navorsers sou kon identifiseer met die standpunt van Meyer en Naudé (1994:169) wanneer hulle die NG Kerk beskuldig van ʼn dualistiese Christenskap: “The white DRC maintained a dualistic Christianity which place the Kingdom of God outside history. It stressed personal salvation to the exclusion of social justice and saw its task as extending charity at the expense of justice, equality and unity.” Die fokus was amper eensydig op die gelowige se verhouding met God en die implikasies wat dit het vir die leefwêreld van die gelowiges is, nie verreken nie. Later sou die NG Kerk erken dit was té lank té teoreties besig met die apartheidskwessie.

Die volgende dien as goeie voorbeeld van so ʼn teoretiese besigwees: In 1988 skryf Potgieter en Smit ʼn boekie getiteld Vernuwing of Konfrontasie waarin hulle die teologie van bevryding bespreek. Na ʼn bespreking van die Marxistiese en neo-Marxistiese milieu en die teologiese onderbou en ander sake, wy hulle ʼn hoofstuk aan die situasie in Suid-Afrika. Hierin word die teologie van Boesak en Tutu uitvoerig bespreek. Wanneer hulle egter in ʼn volgende hoofstuk praat oor die kerk in die samelewing, word uitvoerig aandag gegee aan die wese van die kerk aan die hand van die Bybelse beeld van die kerk as ʼn liggaam (Potgieter & Smit 1988:65). Die hartseer is dat saam met al die waar en mooi dinge wat gesê word, daar niks konkreets gesê word oor die liggaam van Christus in Suid-Afrika waarvan een deel seerkry nie. Die konsep van As een lid ly,

en nie-konkrete studie. Lidmate kan met reg vra oor die leiding wat aan die kerk gegee is.

Frans [1-456] sê elders tog het ek grootgeword dat iewers moet hulle eenkant wees en ek is eenkant. Die kerk het so gesê en die regering het so gesê. In die woorde van Joubert (1991:47): "'n Mens wonder vandag hoedat 'n mens, 'n volk homself so lank oor so iets kon laat mislei.” Gegewe die Afrikaners [se] 'n onwrikbare geloof in ons kerkleiers [Isak 1-613] is dit egter te verstane dat Afrikaners nie sommer die beleid van die tyd bevraagteken het nie.

Hierdie rol wat die NG Kerk in die verlede gespeel het, affekteer ook die rol wat die NG Kerk in die toekoms sou kon speel. Eers het die NG Kerk die beleid van apartheid goedgekeur, dit sterk Skriftuurlik gefundeer [George 1-519] en nou voel dit vir my die kerk het 'n 180 grade draai gemaak. En alles gefundeer uit die Woord van God uit. En dit is my dilemma ek kan eenvoudig nie die kloutjie by die oor kry nie [Frans 1-459].

In haar gesprek met die mede-navorsers stel Rose [7-555], ʼn bruin vrou wat as besoeker deelgeneem het aan een van die groepsgesprekke, dit onomwonde: Waarom dit seker moeilik is om in die kerk 'n eenheid te vorm, is dat die NG Kerk spesifiek, al die jare die backbone was van apartheid. Die NG Kerk het apartheid op Bybelse gronde geskoei, m.a.w. hy het teksies uit die Bybel uitgevat, en apartheid is daarmee geregverdig... Ek het 'n persoonlike vriend wat gevra het, as God 'n God is van regverdigheid en geregtigheid, waar is hy as hy apartheid toelaat?.

In een van die gesprekke vertel ek van ʼn argument wat ek met ʼn ouer kollega gehad het. Sy standpunt was eenvoudig dat die NG Kerk nog nooit apartheid gesteun het nie. In reaksie hierop is Elsa [6-354] gou om te sê: Nee, ek kan nie met hom saamstem nie. Die onthullende is egter die reaksie van Mike [6-356] as hy daarop reageer met: Ek dink tog in 'n mate is dit baie wyd om te sê die NG Kerk... Nou, dit is baie gevaarlik om te sê die NG Kerk het dit nie gedoen nie. Ons moet liewers sê sommige dominees en sommige

gemeentelede van die NG Kerk het dit of dat gedoen. Dis asof hy in die sesde gesprek steeds nie verstaan wat apartheid se eintlike probleem was nie. Sy fokus is steeds op wie wat gedoen het. Oor die onderliggende sisteem en uitgangspunte is hy geensins besorgd nie.

7.2 “Te lank stilgebly”

As soveel mense dan oor so ʼn lang tyd hulle stemme teen rasseskeiding laat hoor het, waarom het die NG Kerk dan so lank geneem om te reageer? Danie [4-466] antwoord hierdie vraag deur reguit te sê dat die NG Kerk aan die slaap is, nie net oor die dinge van die verlede nie, maar ook oor die dinge van die hede. Die kerk is vir my op baie, baie terreine vas aan die slaap en dan noem hy sake soos aborsie en pornografie as voorbeelde. Die kerk skrik telkens te laat wakker [Danie 4-470].

Volgens Loader (1985:294) het die Nederduitsch Hervormde Kerk in 1973 apartheid beskryf as "a permanent, unchanging ruling which is scripturally founded." Meer mense het waarskynlik so daaroor gedink. Loader gaan verder en maak die stelling “teen 1985 het niks van die kontroversiële goed in die kerk nog verander nie.”

In ʼn hoofartikel in Die Kerkbode van 15 Mei 1985 antwoord Gaum (1985:4) sy eie vraag: Doen die NG Kerk niks? Hy sê die NG Kerk word beskuldig “dat die Kerk niks doen nie en rustig slaap” te midde van die “vlaag van onrus en terreur in swart woonbuurtes”. Hy gaan dan voort om hierdie aantygings te probeer weerlê. Die ironie is dat die antwoorde wat hy gee nie die kern van die probleem aanspraak nie. Hy praat van oproepe tot gebed, gesprekke met die regering oor “loonstrukture en werkreservering”, “toelaes vir swart bejaardes en ongeskiktheidstoelaes” en die “posisie van die stedelike swarte.” Oor die dieperliggende oorsake vir die onrus rep hy nie ʼn woord nie al het Geldenhuys (1982:141) al jare vroeër geskryf:

My probleem as Christen lê by die feit dat een groep (die blanke – en in besonder: die blanke Afrikaner, of meer nog: die blanke Afrikanerlidmate van die NG Kerk en ander oorwegend Afrikaanse kerke) vir hulleself die reg opgeëis het om te beslis waar en hoe die verskillende groepe hulle bestaan en identiteit as groep sal beoefen.

Ook swart Christene vra die NG Kerk "must not only declare racism a sin but must reject Apartheid... They must then commit themselves to dismantle this system." (Chikane 1989:17). Hy praat ook oor die enkele stemme wat opgaan teen die beleid van apartheid as hy sê "even these good isolated voices were concerned with excesses and the crude manifestations of evils of the system rather than the fundamental injustices of that system."

Hierdie toedrag van onveranderlikheid word ook weerspieël in Hanlie se frustrasie met die NG Kerk. Sy het alle bande met die NG Kerk verbreek, ek het totale kontak met my kerk verloor [Hanlie 6-407]. Sy vertel dat sy een aand ʼn persoon gaan besoek het wat ook lidmaat van die NG Kerk is. Daar gekom maak sy ʼn opmerking dat sy sien hulle het ook M-Net26, waarop die lidmaat haar antwoord:

‘ja want ek kan die bleddie kafferprogramme nie kyk nie’, dis 'n persoon wat gereeld by ons in die kerk sit. Albert weet van baie dinge, ek kan al jare nie meer daar kom sit en hoor hoe pragtig sing die mense en hoor hoe wonderlik doen mense baie dinge vir barmhartigheid wat ek nie eers doen nie, en ek weet dieselfde mense kyk met 'n ander oog na hulle bediendes [Hanlie 6-413].

Later vertel sy verder:

Ek wil net graag sê, lank terug het ek baie gesprekke gehad oor moet ek nie weg uit hierdie kerk van Welkom-Suid nie, en toe het ek gesê nee ek wil 'n verskil maak. Ek het met geweldig baie mense gepraat en baie dinge gedoen maar jy kan net, ek kan tog nie in die middel van die kerk opstaan en 'n

speech afsteek nie, asseblief nie. Nou as ek met die

dominees praat en hulle sê vir my die tyd is nog nie reg nie, briewe rig aan die kerkraad en geen antwoord daarop kry nie. Watter tree moet ek tree? Toe gee ek my tree terug [Hanlie 6-444].

Die beskuldigings word waarskynlik met reg gemaak teen die Kerk. So sê Joubert (1991:48) byvoorbeeld: "Ek neem die kerk kwalik dat hy ons nie op ons dwalinge gewys het nie. Die kerk het ons in ons half-wees Christenskap versterk." Verwoerd (1996:33), kleinseun van die argitek van apartheid, haal aan uit sy dagboek waarin hy in 1986 reeds skryf: “En hoekom het die NGK nie vroeër geluister na die kritiek op Apartheid nie?" Selfs Johan Heyns se mening is: "Die kerk behoort eintlik lankal verder te wees as wat hy vandag is" (aangehaal in Meiring 1985:144). Uiteindelik skryf Raubenheimer (1998:6) in alle eerlikheid: “Ons moet erken dat ons as kerk in die verlede nie altyd sensitief genoeg was vir die getuienis van ander gelowiges in ons land en ook in die buiteland, toe hulle met ons oor hierdie dinge wou praat nie.”

7.3 “Hulle begin darem seker nou Christene raak”

In Kerk en Samelewing 1990 (Ned Geref Kerk 1990:39) erken die NG Kerk onder andere dat hy te lank die beleid van apartheid “te abstrak en teoreties, en daarom ook te onkrities beoordeel het.” Die NG Kerk erken verder “die reg en vryheid tot eie kulturele erfenis” is “tot ʼn politieke ideologie van apartheid uitgebou as ʼn sisteem vir die beskerming van die eie belange van die blanke minderheid ten koste van dié van andere.” Die NG Kerk het nog nooit vantevore so ver gegaan in die beoordeling van apartheid nie. Hieroor skryf Gaum (1997b:6): “Die NG Kerk het in 1990 op die duidelikste manier nóg afskeid geneem van apartheid en by implikasie vir 'n nuwe bedeling gekies... Oor apartheid en die ongeregtighede wat uit dié stelsel voortgevloei het, het die NG Kerk te lank stilgebly.”

Die NG Kerk het wel skuld bely, maar lidmate identifiseer nie noodwendig daarmee nie. Steeds is dit nog nie almal in die NG Kerk... [wat] voel... soos wat hier staan nie [Elsa 6-533]. Skielik is daar blykbaar niemand wat ooit vir die NP gestem het nie. "Suddenly, there are no racists left in South Africa, only ‘proud ethnic nations and patriots’" (Horn 1994:28).

Tydens een van die gesprekke vertel ek van ʼn gebeurtenis wat in daardie tyd in ons gemeente afgespeel het, wat duidelik wys dat nie alle lidmate dieselfde voel oor die NG Kerk se skuldbelydenis nie. Ons het selde bruin mense gehad wat die eredienste bygewoon het. Een oggend het Rose, ʼn bruin onderwyseres, en haar man die erediens bygewoon. Ek het hulle pas die vorige week as nuwe intrekkers tydens huisbesoek

ontmoet. Ek stap na die diens na hulle om hulle te verwelkom en om haar te vra oor haar deelname aan die navorsingsprojek. Dit was egter nie die einde van die saak nie:

later deur die week het 'n kerkraadslid my kom sien, en hy was onder andere baie ongelukkig daaroor gewees, hy en 'n klompie van die ander kerkraads- lede, dat ek afgegaan het en hulle met die hand gaan groet het en verwelkom het in die kerk [Albert 6-628].

In reaksie op die verhaal sê Ben [6-671] dit reguit: Hier is nog baie mense in ons gemeente wat nie gelukkig is om te sê dit was verkeerd nie, hulle het allerhande redenasies en die Bybel, hulle praat nou meer van die Ou Testament. Aan die einde van die aanvanklike navorsing, in die laaste gesprek, vra ek steeds die vraag: Ek wonder hoeveel van ons lidmate gaan hulle daarmee identifiseer [Albert 8-485].

Horn (1994:28) kan nou wel sê dat daar niemand is wat steun aan apartheid sal erken nie, maar hy hou duidelik nie rekening met mense soos Gertenbach nie. Jare vroeër reeds het Gertenbach (1985:5) ontken dat daar enigsins ʼn probleem is waaroor skuld bely moet word nie. Jare later sou hy wel effens toegee dat daar wel moontlik “individuele lidmate” kon wees wat tereggewys moet word, “wat gefouteer het, al was dit in goeie trou... Maar vir gemeentes, ringe en sinodes om kollektief op te tree en namens onskuldiges belydenis te doen? Nooit!” (Gertenbach 1998:5). In hierdie standpunt sluit Gertenbach aan by Pieter Potgieter (1995:6) wat beklemtoon dat die kerk “nie namens ander skuld bely nie,” elkeen moet maar vir homself skuld bely.

Sodra skuldbelydenis gepaardgaan met ʼn verduideliking, kom die belydenis self in gedrang. Elsa [6-489] sê: As mens nou hierdie stukkie lees oor die kerk, dan kry ek die idee, hulle sê nou hier hulle is jammer oor goeters, maar daar kom elke keer die "maar" by. Hierdie selfde gedagte vorm ook die basis vir Retief (1998:15) se artikel met die beskrywende titel: As mens sê hy's jammer, dan is daar geen 'ja, máár...' nie.

Rose [7-583] se reaksie op die NG Kerk se skuldbelydenis is eenvoudig: dis nou hoog tyd. Ek gaan nou baie eerlik wees: Dit is hoog tyd, hulle begin darem seker nou Christene raak.

Om skuld te bely is een ding, maar dan moet jy glo dat daar iets is om te bely. Van sommige lidmate van die NG Kerk is dit waar, maar beslis nie van almal nie. Daar is diegene wat steeds volhard dat daar geen fout was met apartheid nie.

8. ’n Herhaling van die patroon?

Ten spyte van hulle mede-Afrikaners wat erken dat apartheid verkeerd was en baie skade aan swart mense gedoen het, is daar steeds diegene wat glo daar was niks verkeerd met die vorige bedeling nie. Al verbloem hulle hul uitsprake op allerlei maniere, sê hulle eintlik maar nog steeds net die slegte gedeelte van apartheid... dit is wel sonde [Mike 6-057].

Selfs al sê hulle dit nie in soveel woorde nie, tree hulle op soos in die ou bedeling… [Mike 2-520]. Mike [2-524] sê hy sien dit daagliks in die manier waarop wit ouers hulle kinders leer om met swart mense te praat. Hanlie herroep twee voorvalle van blatante rassisme uit die voorafgaande week. Dan sê sy: Dis wat ek bedoel as ek sê apartheid is still alive and well in South-Africa [Hanlie 2-530]. In beide gevalle het wit mense steeds na swart mense verwys as “kaffirs”.

By sommige van die mede-navorsers was die idee van identifisering met 'n groep baie sterk. So kla Johan [3-627] die groep daarvan aan dat hulle ontken dat afsonderlike groepe bestaan, elkeen met sy eie kultuur, taal en gebruike. Hy kry steun van Mike [3-664] as dié sê selfgekose apartheid, is my eie keuse. As ek wil nie saam met jou kuier nie, is dit my keuse. Alhoewel Mike [3-665] verder gaan en sê: dit gaan nie oor of jy swart of wit is nie, is dit tog ʼn vraag of dit nie presies is wat hy bedoel nie.

Tydens die sesde gesprek vra Hanlie [6-154] ʼn vraag oor die implementering van aparte ontwikkeling met naasteliefde en regverdigheid soos sommige aanvoer. Sy meen dat baie wit Afrikaners so ʼn bedeling sou steun in die nuwe Suid- Afrika. Johan [6-187] erken dat hy een van daardie groep wit Afrikaners is:

Ek praat nie van verpligte segregasie nie, waar die een minder geleenthede het as die ander een nie, ek praat van, gun my die geleentheid om in Afrikaans skool te gaan, gun my die geleentheid om in

Afrikaans kerk toe te gaan, dit is my taal, dit gaan nie oor swart en wit nie... Dit gaan oor die kultuur. Ek is nie ʼn Zoeloe nie, wat wil ek met Zoeloe kultuur maak? Gun my om ʼn Westerse opera in die Staatsteater te gaan kyk, moet dit nie wil wegvat net omdat ek die minderheid in SA is nie.

Terwyl die behoefte aan kulturele ruimte waardeer kan word, maak dit tog weer die deur oop vir ’n vorm van neo-apartheid waar taal en kultuur ge(mis)bruik word vir voorkeurbehandeling en bevordering, weereens tot die nadeel van hulle wat nie deel uitmaak van die aangewese groep nie. Die groot vraag in post-apartheid Suid-Afrika is “whether we are able to accept those who are different from us in community with us" (Villa-Vicencio & Niehaus 1995:154).

9. Samevatting

Hierdie hoofstuk verwoord die ontwikkeling (development) aspek van Müller, Van Deventer en Human (2001) se ABDCE-model, naamlik die verhaal van ontwikkeling. Aandag is dus gegee aan die stemme van die mede-navorsers in die aanvanklike navorsing in 1998. Hulle menings is ondersteun of bevraagteken deur allerlei ander bronne wat deurlopend in aparte raampies aangebied is.

Daar is begin met ʼn oorsig oor apartheid en die vyfvoudige effek wat dit op wit Afrikaners gehad het. Hierdie vyf is die twee leefwêrelde in een land, die verlies van swart mense se menswaardigheid, rassisme, paternalisme en die vraag of wit mense verby klein apartheid kan kyk om die werklike probleem raak te sien.

Die “belediging van apartheid”, naamlik dat apartheid ten diepste gegaan het oor swart