• No results found

9. Paradigma, epistemologie en metodologie

9.3.4 Die ABDCE-formule

Lamott (1995) stel aanvanklik die ABDCE-formule voor as 'n riglyn vir die skryf van fiksie. Müller, Van Deventer en Human (2001) verwerk dit in 'n formule vir die doen van narratiewe navorsing. In 'n latere werk beskryf Müller en Gouws (2003:118) dit so:

By using a developed ABDCE-formula, a space is created in which narrative-based research can be done. It develops through action stories… It provides background perspectives on aspects like language games, deconstruction, postmodernism, social constructionism and narrative therapy. As part of the climax of the research, certain conclusions are drawn…

Die ABDCE-model is in die onlangse verlede verder in ’n navorsingsagenda vir ’n

postfoundational praktiese teologie ontwikkel (Müller 2005, 2009; Van der Westhuizen

2010). Die motivering vir die gebruik van die oorspronklike model vir hierdie navorsingsverslag word egter gevind in die narratiewe karakter van die verhaal wat gedokumenteer word.

Die onderliggende idee is dat navorsing nie net vanuit 'n probleemstelling benader moet word nie, maar dat navorsing ook vanuit 'n bepaalde aksieveld ontwikkel (Fourie 2008:55). ABDCE is 'n akroniem vir die Engelse terme Action, Background,

Development, Climax en Ending. Dit is dan die formule waarvolgens die verhaal van

die navorsing geskryf word. In aansluiting by die oorspronklike gebruik in “fiction writing” (Müller 2000b:elektroniese bron) gaan dit in hierdie formule oor die vertel van stories of narratiewe. Stories word ontdek en ontwikkel. Die doel van navorsing is nie in die eerste plek verandering nie, maar om die stories te hoor en ingetrek te word in die stories (Müller, Van Deventer en Human 2001:77). Van Niekerk (2003:109) beskryf die proses so:

A definite goal is to conduct the research in such a way as to maintain subjective integrity and credibility: trying to listen to all the stories with subjective, not objective integrity, asking open, non-judgmental questions. This can be done by using other people to participate in the social-construction process when interpreting stories. Doing story development also entails being sensitive to new, unexpected stories.

In die volgende onderafdeling word elke aspek van die ABDCE-formule in meer besonderhede verduidelik ten einde die navorsingsverslag wat in die volgorde van ABDCE aangebied word, beter te kan verstaan.

9.3.4.1 Aksie (action)

Die aksie waarvan Lamott (1995:62) praat is aksie “compelling enough to draw us in.” Dit gaan nie soseer oor die aksie self nie, maar oor die storie wat saam met die aksie loop. Hierdie benadering help ons om die fokus te verskuif van die probleem, na die verhaal van die aksie (Müller, Van Deventer & Human 2001:79). “The action part includes the problem …”, maar ook “… to have a good empirical look at people and the action in which they are involved” (Müller 2003:10).

Die navorser fokus op wat op 'n spesifieke oomblik aan die gebeur is. Dit bepaal die vertrekpunt van die navorsing. “The action phase of this approach is about the “now of the story” (Human 2003:43). Maar daar is ook 'n tweede aksie ter sprake, naamlik die “interaksie” tussen die navorser en die aksie wat ondersoek word (Müller, Van Deventer & Human 2001:81). Om egter te weet wat “nou” aan die gebeur is, is dit noodsaaklik om te weet wat vooraf gebeur het. Dit bring ons by background.

9.3.4.2 Agtergrond (background)

Wat het met die karakters van die verhaal gebeur voordat die aksie begin het? Dis die vraag waarmee background gemoeid is. Nou word die agtergrond van die karakters verduidelik en vertel hoe hulle bymekaar gekom het. Wat is dit wat hulle aan mekaar bind? “The background will further be augmented by the interactive construction of historical and systematic insights between all the research partners” (Müller 2003:13). Die wederkerige gesprek tussen die mede-navorsers is 'n voortgaande spiraal (Fourie 2008:57) wat ontvou en nie 'n liniêre proses nie.

Lamott gebruik die beeld van 'n stelbouer vir 'n drama of 'n fliek wat elke kamer in detail beplan en beskryf. “Every room is about memory” (Lamott 1995:74). Deelnemers word genooi om te vertel van die nou, maar ook om die kamers en plekke van hul verlede te besoek. Die aksie speel nou teen 'n bepaalde agtergrond af wat ʼn lewe van assosiasie

en konnotasies uit die verlede word (Müller, Van Deventer & Human 2001:83).

Die nou van die aksie, en die agtergrond kom hier bymekaar en vul mekaar aan: “During this phase of the research process the ‘now’ of the story is set against the current socio-political and economic background in which the researchers and co- researchers are busy writing their own stories” (Müller, Van Deventer & Human 2001:81).

9.3.4.3 Ontwikkeling (development)

In 'n narratiewe benadering word nie gewerk met vooraf opgestelde oplossings nie, maar met mense se verhale. Die fokus bly op die mense en nie die aksies nie. Die persone betrokke word nie navorsingsvoorwerpe nie, maar mede-navorsers. Hulle word betrek op gelyke voet met die navorser. Die navorser het 'n “not-knowing”- benadering (Anderson & Goolishian 1992) ten opsigte van die lewe van die mede- navorsers. Dit beteken nie dat sy of hy onkundig is nie. Die navorser bly die kenner van die proses, maar die mede-navorser bly die kenner van sy of haar eie lewe.

Die mede-navorsers is deel van die evolusionêre spiraal wat aan die ontvou is. “Die navorsingsproses is nie ʼn proses wat bloot in ʼn sirkel beweeg nie, maar het definitiewe oogmerke wat doelgerig die stories van die medereisigers rekonstrueer” (Fourie 2008:59). In die ontwikkelingsfase soek die navorser en die mede-navorsers na “unique outcomes” (White & Epston 1990) in die verhale van die betrokkenes. “The approach… is a social-constructionist approach, which involves both the researcher and the ‘characters’ in active process of story development” (Müller, Van Deventer & Human 2001:85). Hierdie proses loop uit op die klimaks.

9.3.4.4 Hoogtepunt (climax)

Niemand weet wat of waar die hoogtepunt sal wees nie. Al wat seker is, is dat niks daarna ooit weer dieselfde sal wees nie (Lamott 1995:62). Al die lyne van die verhale kom saam in een knooppunt. Die hoogtepunt of klimaks is daar waar konsensus oor die uitkoms van die alternatiewe verhaal bereik word. Die klimaks is die eerlike resultaat, wat onafhanklik ontwikkel het, sonder inmenging of manipulasie van

enigiemand om ʼn vooropgestelde uitslag te verkry (Fourie 2008:59). Müller (2003:14) trek die lyne deur na die pastorale praktyk as hy die hoogtepunt só verwoord: “Research is seeing people suffer and finding meaning therein. To be a researcher, one has to learn to be reverent. Research is more than mere technique; it is about reverence and awe.”

9.3.4.5 Einde (ending)

Aan die einde van die proses is daar 'n nuwe “nou” waar die navorser of pastor vra: “what is our sense of who these people are now, what they are left with, what happened, and what did it mean?” (Lamott 1995:62). Die einde is nie 'n beëindiging nie. Dit is op die meeste die afsluiting van 'n fase wat onmiddellik weer die begin van 'n nuwe fase inlei. Die einde bring ʼn ander perspektief, ʼn perspektief wat nie noodwendig bevredigend is nie en selfs teleurstellend kan wees (Fourie 2008:60). En tog is dit volgens Müller (2003:15) ’n nuwe skrywe en nie maar ʼn blote refleksie op die proses nie:

The research process involves many of the stories of those involved: the clients; the families; the therapists; the patients; the church members. But the research process is not only a mere reflection on those stories; it is always a new writing. Research creates its own story with new possibilities. Therefore, narrative research doesn’t end with a conclusion, but with an open ending, which hopefully will stimulate a new story and new research.

Die einde gee geboorte aan 'n nuwe begin, maar dan 'n ander begin, anders as waar hierdie proses begin het. Iewers is gegroei, nuwe insigte gekry en beter stories vertel.

Elke navorsing het bepaalde tekorte en beperkings. In daardie opsig is hierdie navorsing geen uitsondering nie. Dit is inherent deel van ʼn sosiaal konstruksie diskoers dat verslae soos hierdie nie aangebied word as die enigste waarheid nie. Beide navorser en leser moet hierdie feit verreken en daarom word in die volgende afdeling gekyk na die beperkings op hierdie navorsing.

10. Navorsingsbeperkings

Geen enkele studie kan alle antwoorde vir alle mense in alle situasies voorsien nie. Alreeds in die keuse van die navorsingsontwerp is die beperkinge reeds opgesluit. Hierdie navorsing maak geensins daarop aanspraak dat die groep mede-navorsers verteenwoordigend van al wit Afrikaanse Christene is nie. Die groep is uniek en hulle narratiewe is presies dit: hulle narratiewe. Die navorser is bewus dat daar ook ander verhale is wat deel van hierdie navorsing kon vorm. Hierdie ander stemme kon ʼn ander karakter aan die inhoud gegee het. Die mede-navorsers verteenwoordig dus net hulleself

Die keuse vir 'n fokus op wit Afrikaanse Christene is doelbewus en berekend gemaak. Soos vroeër aangetoon is daar oor talle aspekte van die lewe in die nuwe Suid-Afrika geskryf, maar min navorsing is nog gedoen oor wit Afrikaanse Christene soos hulle in hierdie studie aan die orde kom. Sommige mense sal hierdie keuse as beperkend beskou, en ek gee toe dat dit 'n geldige siening sou kon wees. Terselfdertyd is daar genoegsame redes aangevoer waarom hierdie keuse gemaak is. Ander navorsers sou goedskiks ander groepe kon ondersoek.

Die omgewing waaruit die mede-navorsers kom, kan ook as te beperkend beskou word. Alhoewel Welkom 'n stad is, is dit nader aan 'n plattelandse gemeenskap en as sodanig waarskynlik meer konserwatief as 'n tradisionele stadsgemeenskap. Dit sou sekerlik 'n invloed op die navorsing hê, maar dan moet daar ook erken word dat dié gemeenskap nie die enigste plattelandse wit Afrikaanse Christene in die land is nie. Wat van hierdie gemeenskap waar is, sal waarskynlik ook waar wees van baie ander, al is dit dan nie van alle wit Afrikaners waar nie, en al is dit nie die bedoeling van hierdie navorsing om algemeen-geldende gevolgtrekking voor te lê nie.

Die groep kon sekerlik meer heterogeen gewees het. Veral ten opsigte van hulle ouderdom was die groep nie baie divers nie. Een lid was reeds 85 jaar oud, maar die ander was almal tussen 37 en 54. Daar was dus nie jongmense in die groep nie. Aan die ander kant is dit dalk juis hierdie ouderdomsgroep wat die meeste kon baat by hierdie navorsing. Hulle was al oud genoeg om genoeg ervaring van 'n lewe onder apartheid te gehad het, en hulle is nog jonk genoeg dat hulle vir baie jare sal moet saamleef met hulle apartheidsagtergrond. In terme van geslag was daar 'n byna gelykop verdeling met vyf vrouens en sewe mans.

Die meerderheid van die mede-navorsers kom uit 'n bogemiddelde sosiaal- maatskaplike groep. Die meeste van hulle is professionele beroepsmense. Dalk sou 'n ander groep mense se verhale dramaties anders gewees het, maar daaroor kan ek my nie uitspreek nie. Dit sou die onderwerp van 'n ander navorsingsprojek kon wees. Ook wat die aantal deelnemers aanbetref sou verdere navorsing die verhale van ʼn groter of selfs kleiner groep mede-navorsers kon versamel. ʼn Kleiner of groter groep se interaksie sou dalk ander verhale na vore laat kom het. Of die verhale in wese veel anders sou wees, kan ek nie op hierdie stadium sê nie.

Die navorsing is in terme van die beskikbare tyd beperk tot sekere kwessies. Dit beteken noodwendig dat ander uitgelaat moes word. 'n Ander navorser sou deur te fokus op ander kwessies 'n verdere bydrae tot die korpus van kennis kon maak.

Laastens moet ook gemeld word dat die navorser se eie tekorte ook kon bygedra het tot die beperkte waarde van die studie. Met meer ervaring sal beter gesprekke gevoer kan word wat dalk beter resultate sou kon lewer.