• No results found

DIE VERHAAL OOR APARTHEID – VERLEDE TYD (ʼn Verhaal van ontwikkeling)

3. Die effek van apartheid

3.5 Groot en klein apartheid

Die finale effek van apartheid was die skepping van ʼn beperkte en oppervlakkige siening van die beleid in die gedagtes van wit Afrikaners. Wanneer die groep apartheid bespreek het, was dit gewoonlik in terme van wat genoem word “klein apartheid.” Dit was sake soos aparte geriewe wat voorop in die gedagtes van die mede-navorsers was: dit is soos julle sál – julle mag daar sit en nie daar nie en julle moet hierdie toilette gebruik en nie daardie nie [Mike 2-265], hulle het hulle eie beker... in daai klein kamertjie [ge]bly [Frans 1-441] en Ons bediende het byvoorbeeld swart koffie gekry uit ʼn blikbeker uit, en my ma het nie botter op haar brood gesmeer nie, net konfyt [Elsa 1-425].

Van Wyk (1991:82) speur die oorsprong hiervan terug na die tyd ná 1959: It was in these years that we Nats started to differentiate between grand apartheid and petty apartheid. Grand apartheid which denied blacks any say in the affairs of the whites provided the broad structure for their ‘separate development’ in their own rural states-in-the-making, and urban group areas with their own schools, churches, universities, sporting facilities, political institutions, etc. Petty apartheid was the way the grand design found gratuitous expression daily in a variety of

measures which prescribed for black separate taxis, buses, trains, lifts, toilets, park benches, shop counters and entrances to public places, denying them admission to ‘white’ restaurants, hotels, cinemas, beaches, swimming pools, sporting clubs and other facilities.

Die wit perspektief begin altyd hier, en eindig gewoonlik ook net hier. Die beleid van apartheid word telkens geëvalueer in terme van alledaagse dinge wat wit mense gehad het of kon doen, maar wat swart mense nie gehad het of kon doen nie. Dit is asof die diskriminasie verwyder kon word deur bloot dieselfde toilette te gebruik!

Wanneer Frans [1-441] vertel van die werkers wat elkeen sy eie beker gehad het en in die klein kamer gebly het, gaan hy voort deur te sê dat sy pa die werker genooi het om in te sit by aandgodsdiens [Frans 1-443]. So asof dié uitnodiging alle diskriminasie ongedaan sou maak.

ʼn Soortgelyke sentiment word uitgespreek deur Malan (1990:132) wanneer hy sy pa aanhaal wat sê: “’By the time Nelson Mandela gets out of jail,’ said my father, ‘there will be nothing left for him to do.’” Hy brei uit: “It was a sweet sentiment, but rather naive. Like an American, my father thought that dismantling apartheid was mostly a question of allowing blacks to move to the front of the bus, use the drinking fountains, and sit alongside whites at lunch counters.”

Selfs wanneer Willem De Klerk (2000:39), politieke kommentator en oud-predikant, krities skryf oor die verkeerdhede van apartheid en hy sommige voorbeelde noem, fokus hy uitsluitlik op sogenaamde klein apartheid: “Gedwonge verskuiwings… kerkdeure gesluit… derdeklastreinwaens… ‘net blankes’-bordjies… aparte ingange… blankes-alleen sportspanne…”

In die groepsbesprekings was daar ʼn hewige debat oor hierdie twee aspekte, groot en klein apartheid. Tydens 'n poging om die gesprek te stuur na 'n kritiese kyk na apartheid se onderliggende uitgangspunte, bly Mike vasklou daaraan dat daar nie fout was met die sisteem nie, maar dat dit net die dade was wat verkeerd was: Ek dink om te sê dat jy die punt mis, en verby die dade moet kyk en net kyk na die stelsel, dán mis ’n ou die punt… [Mike 6-235]. Sy fokus bly dus op klein apartheid sonder om 'n oog te hê vir die impak van groot apartheid waar die onderliggende uitgangspunt duideliker gesien kan word. As Elsa [6-272] hom dan

vra: Is dit nou nie juis die beleid wat dan die sonde is nie? en voortgaan deur te sê dat dit wat swart mense die seerste gemaak het, is die feit dat ons gemaak het asof hulle minder mens is as ons [Elsa 6-275], is Mike [6-278] se reaksie: dan is jy weer by die dade. Na ʼn verdere rondte kommentaar volstaan Mike [6-283] met: Dis hoe ons opgetree het, dit is nie apartheid nie. So dit is nie die sisteem nie. Ten spyte van ʼn halfhartige erkenning dat die sisteem toe nie heeltemal sonder foute is nie, is hy ʼn paar oomblikke later weer by sy ou standpunt: Presies. Dit is hoe ons opgetree het, dis nie die beleid nie [Mike 6-306].

Die ware tragedie in hierdie verhaal, gedurende die tyd van apartheid en nou nog, is dat baie – indien nie die meeste nie – wit Afrikaners nie in staat blyk te wees om die beleid op prinsipiële gronde te evalueer nie. Soos Mike kyk hulle bloot in die dade vas en vind regverdiging vir hierdie dade sonder om ooit die onderliggende motiewe te beoordeel.

4. “Die belediging van apartheid”23

In die bespreking en evaluering van die groep se sienings van die beleid van apartheid is verskillende aspekte ondersoek en gedissekteer. Die een aspek wat in afwesigheid geskitter het, is wat apartheid gedoen het aan die menswaardigheid van die swart inwoners van Suid-Afrika.

Soos iemand aan die ontvangkant van apartheid dit stel: “...daar is 'n ander apartheid as dié van twee deure en twee treine en al daardie dinge. Dit is die apartheid in die gesindheid van mense. Baie mense behandel blankes op een manier en nie-blankes op 'n totaal ander manier. Hulle het apartheid in hulle harte" (Buys, in Meiring 1975:32).

Baie wit Afrikaners het ʼn baie oppervlakkige siening van apartheid. Soos Mike [2-658] sê: Ek voel nie skuldig as ʼn rassis nie, want ek het hulle nooit gehaat of benadeel nie. Johan verwys na mense wat aanvoer dat hulle nie skuldig is nie omdat hulle nie bewus was van die moorde en menseregte

skendings en dat hulle afsonderlike ontwikkeling ondersteun het, en nie moord nie [Johan 6-208]. Hulle argument is dat as jy nie persoonlik swart mense sleg behandel het nie, jy niks het om oor skuldig te voel nie.

Dit lyk of daar van die mede-navorsers is wat oortuig is dat apartheid nie so sleg was nie. Johan [4-500] verwys na die voormalige eerste minister, dr. H.F. Verwoerd en sê: Daai man het nie sleg bedoel met apartheid nie, nêrens is daar gesê hulle is so sleg of so nie. Mike [6-057] maak ʼn soortgelyke opmerking: die slegte gedeelte van apartheid, ...dit is wel sonde. Dan gaan hy voort om te sê: Ek dink nie in die begin was die idee heeltemal om mense totaal af te breek en te vernietig nie. Ek dink nie ons voorouers was almal sulke wrede mense nie, ek dink apartheid het ontstaan uit ʼn idee vir aparte ontwikkeling, en dis toe misbruik deur politici en allerhande mense [Mike 6-083]. Heelwat later in die gesprek sê hy dan: ek voel nie sleg omdat ek daai swarte so behandel het nie [Mike 6-262].

Ten spyte van hierdie menings uitgespreek deur twee lede van die groep, het die meeste hulleself gesien as in opposisie teen apartheid en amper elkeen het ’n regverdiging gehad vir sy of haar aksies tydens die apartheidsera. Of dit eerlik was of dalk ’n poging is om hulleself te bluf, sou net hulle kon sê. Danie was in sy studentedae baie aktief in die NP. Hy sê dat hy gekies het om in die party te bly sodat ek kon gebruik maak van die NP om hierdie hele proses te probeer omdraai [Danie 2-421]. As hy hom dan vergelyk met ʼn familielid wat saam met dr. Beyers Naudé gewerk het, dan eindig hy deur te beweer: aan die einde van die dag... het ons tog in ʼn rigting saamgewerk [Danie 2-428].

Dit was Elsa en Hanlie wat weer ’n bepaalde nugterheid in die gesprek gebring het: Was ons mense dalk te bang om regtig standpunt in te neem? [Elsa 2-440] en Dit was te maklik en gerieflik om te bly waar jy is [Hanlie 2-442]. En tog, ten spyte hiervan, is kritiek beantwoord met opmerkings soos: Maar hoekom is daar dan verskillende mense gemaak? Hoekom is daar verskillende rasse? Hoekom is daar verskillende tale? [Johan 4-356] en Was die Moabiete nie ook ʼn donker vel nie? [Danie 4-373]. In reaksie op kritiek teen hierdie manier van redeneer was die antwoord: Dit moet tog ʼn rol speel ook, dat ons kan apart wees in ʼn sin [Johan 4-361]. Vir sommige

van die mede-navorsers was die uiterlike verskille genoeg rede om ʼn beleid van rassediskriminasie te regverdig, alhoewel hulle by ander geleenthede opposisie teen hierdie praktyk uitgespreek het.

Chikane (1989:15) skryf krities oor die enkele wit mense wat hulleself teen apartheid uitgespreek het: "...even these good isolated voices were concerned with excesses and the crude manifestations of evils of the system rather than the fundamental injustices of that system."

Net wanneer jy dink dat die lig deurgebreek het in die groep, val selfs iemand soos Elsa [2-238] wat gewoonlik baie krities en onbevooroordeeld is met haar voorbeelde weer in die slaggat van klein apartheid: 'n Mens sou net dink, dat soos die mens meer beskaaf of slimmer raak, dat 'n mens sou agterkom – jy kan nie 'n ander mens so behandel nie. Apart sit, en hy mag nie dit en dat nie. Dit blyk oneindig moeilik te wees om verby klein apartheid te kyk en die onderliggende uitgangspunte van die beleid raak te sien.

Vir swart mense is dit anders. Mense aan die ontvangkant weet baie beter wat apartheid aan hulle gedoen het. Toe Meiring (1975:76) vir Tsebe vra hoe wit mense teenoor hulle swart huiswerkers moet optree, spreek sy antwoord nie aparte geriewe of ander klein apartheid sake aan nie. Hy sê: “Die heel eerste ding wat ek vir die dames sal vra, is om julle bediendes as mense te aanvaar. Nie as masjiene nie.”

ʼn Swart joernalis by die WVK sê dat versoening net sal plaasvind wanneer swart mense se menswaardigheid herstel is (Krog 1998a:45). Klaaste (1995:16) beskryf die effek van apartheid as die verswakking van swart mense ten opsigte van hulle families, finansies, taal, opvoeding en gesondheid.

By sommige wit mense hoor ons dieselfde kritiek. Van Wyk (1991:85) beskryf apartheid as die “denial of basic human dignity” en Meiring (1996:10) praat van die vernedering wat swart mense gely het. As König (1996:9) praat oor die NG Kerk en die WVK dan sê hy dat die wit mense, swart mense verneder het, en nie net een of twee nie, maar hele gemeenskappe, en nie net vir ’n jaar of twee nie, maar vir dekades. En die priester Michael Lapsley (aangehaal in Worsnip 1996:15) wat van sy ledemate verloor het in ʼn

briefbom-ontploffing, sê die “struggle” was vir die “dignity of people.”

Om te erken dat die beleid van apartheid enigsins verkeerd was, bly vir wit mense baie moeilik. Die menings wat hieroor uitgespreek is in die groep varieer van Mike [6-265] wat sê: Ou Dingaan het daar in sy kraal gebly, hy het geen blankes gehad wat in sy kraal gebly het nie, so hy het apartheid gehad tot Isak [2-470] wat sê dat dit nie vir die mense maklik gemaak [is] om ʼn ander stem te wees nie. Die onderliggende motief vir hierdie soort reaksie blyk self-regverdiging te wees. Dit is soortgelyk aan die houding van ʼn groep wit polisiemanne waarvan Malan (1990:58) vertel: "Next to rugby and rain, the subject they most loved to discuss was the unfair and hypocritical way in which the rest of the world was ganging up on us over apartheid." ʼn Brief in ʼn soortgelyke trant verskyn in Time: “Australia's beleaguered and oppressed Aboriginal minority has always been a forgotten people, victimized by the same smug white Aussies who pointed fingers at those who offended their sense of ‘racial equity’, including South Africa” (Theron 1996:8). Almal en alles word blameer en die vinger word na ander gewys – solank wit Afrikaners nie (alleen) in die beskuldigde bank hoef te staan nie.

Soos wat maar dikwels in groepe gebeur, was dit nie lank voordat iemand gepoog het om die wit gemeenskap te verskoon nie. Danie [1-405] voer aan: rassisme bestaan wêreldwyd. Dit was altyd daar, dit is daar en dit sal altyd daar wees en voeg dan by in ander lande... in Amerika... steek (hulle) dit mooi onder die kombers weg [Danie 1-414].

Ongeag die argumente wat aangevoer word, blyk dit duidelik dat by baie van die groepslede daar weinig begrip is vir wat apartheid aan swart mense gedoen het en dat hulle ’n keuse gehad het in die saak. Mike [3-682] se argument oor of ’n swart vrou uit die kerk gegooi is omdat sy stink of omdat dit die wet van die kerk was wat haar verbied het om daar te wees, wys ’n geslotenheid van denke ten opsigte van persoonlike keuses. Later sou hy [Mike 6-269] ’n soortgelyke argument aanvoer.

Die poging tot verontskuldiging is natuurlik nie geldig nie. Ons het meer as genoeg voorbeelde van wit mense wat ʼn keuse gemaak het teenoor die gangbare standpunte. Mona (1998:21) is reg as hy sê: “Dis naïef om te dink dat ʼn mens slegs optree volgens die manier waarop hy of sy gesosialiseer is, met geen onafhanklike denke of gewete nie.” John

Matshikiza (2000:187) skryf: “It is probably true to say that a white person can never truly understand the effect that apartheid… has had on the minds of and bodies of black people… You have to be inside the experience to really feel it.”

Ek dink Matshikiza is reg en dit is onrealisties om te verwag dat die wit gemeenskap apartheid moet kan beoordeel in terme van wat dit aan swart mense gedoen het om die eenvoudige rede dat ons nie regtig geweet [het] wat doen hierdie apartheid aan mense nie [Elsa 2-475]. Soos Malan (1990:185) dit stel: “Our eyes are sealed by cataracts against which our white brain project their chosen preconceptions of Africa and Africans. Some whites see danger, some see savagery, some see victims, and some see revolutionary heroes. Very few of us see clearly." Die onthullings voor die WVK sou egter baie wit mense se oë oopmaak.