• No results found

DIE OORSPRONG VAN DIE APARTHEIDSVERHAAL (ʼn Verhaal ter agtergrond)

2. Die agtergrond en oorsprong van die beleid van apartheid

2.3 Die ander kant van die munt

Hoe goed die bedoelings ook al was – daar was ook ʼn ander kant van die munt. Agter die skerms was daar ook ander faktore wat die rassebeleid help vorm het in die jare voor 1948. Soos gewoonlik het ook hierdie saak twee kante.

Wit mense in die algemeen vertel dat hulle ouers hulle geleer het om respek te hê vir ander mense, insluitende swart mense. Ben vertel: Destyds moes ek met baie eerbied met ouer swartes omgaan, mooi met hulle praat. Ek moes sê ‘outa Elias’ [Ben 1-157]. Iets was vir my baie belangrik is, is respek vir mekaar, maak nie saak van watter velkleur of watter etniese groep jy is, of selfs geslag nie [Danie 1-671]. Ben [1-165] sê ook hy het besef dat hy swart mense nie as kaffers nie maar as verantwoordelike mense moet beskou, hulle het ook gevoel dat ek glo hulle is nie nikswerd goed nie [Ben 1-175].

Malan (1990:31) vertel hoe sy pa – ʼn stoere ondersteuner van groot apartheid – "forbade the use of the word 'kaffir' in our house, and instructed my brother and I always to say 'please' when issuing orders to the servants." Eugene de Kock (De Kock & Gordin 1998:49) beskryf sy familie as ʼn tipiese wit Afrikaner familie: "My father had a moderate attitude towards black people. He told us that, although there existed a cultural difference between the white and black races, the black man was also a human

being and, as with white people, there were good and bad ones. He repeatedly told us to apply the principle of right and wrong, not white or black or right of left." Dit is ook vanuit so ʼn huishouding dat Frans opmerk: my pa (het) in die aande die swarte wat in daai klein kamertjie bly wat Ben van gepraat het, ingenooi as hulle daar was om saam met ons huisgodsdiens te hou [Frans 1-442].

Maar dit was in hierdie selfde huishoudings waar

most whites were so afraid of Africans that they never went anywhere near the townships ... They crossed the road when they saw Africans coming, or locked the doors of their cars. They were so scared that they wouldn't even attend professional soccer matches in the secure heart of white Johannesburg because they knew blacks would be present in large numbers (Malan 1990:144).

Elsa sluit aan by hierdie stereotipiese siening van swart mense. Sy sê:

die geskiedenis wat ons in die skool geleer het, het ons geleer swartmense is barbare. Die Zoeloes het die babatjies se koppies teen die wawiele stukkend geslaan. We were brainwashed. Baie van die witmense vandag nog, is bang vir swartmense want dit is hoe ons grootgeword het. Ons het van kleins af gedink swartmense is barbare. Daar bestaan nog steeds 'n soort van 'n vrees by baie witmense [Elsa 7-330].

Terselfdertyd, en desondanks die respek wat wit mense beweer hulle vir swart mense gehad het, blyk dit in orde te wees om swart mense as minderwaardig te behandel, omdat hulle dikwels so gesien is. Swanepoel (1997:26) vertel van ʼn KwaZulu-Natalse boer se raad: "I must give knives to the black people so that they can kill each other. Kaffirs are not people, they are animals." Selfs kerkleiers was baie negatief in hulle assessering van swart mense in Suid-Afrika. Die Afrikaanse digter en kerkman Totius (Du Toit 1955:11) praat oor Suid-Afrika as “...ons swart wêreld-deel waar die mees algemene barbaarsheid sy hoogste triomfe gevier het.”

Elsa herinner dieselfde houding uit haar vroeë kinderjare: want dit is so in ons ingeteel, in ons kele afgedruk van kleins af dat swart mense

sleg is [Elsa 1-394]. Sy het op ’n stadium vir haar ma daarna gevra sonder om ’n bevredigende antwoord te kry: hulle het op daardie stadium gesê die swartes is slegter. En ek het met daardie idee grootgeword [Elsa 1-428].

Dit was ook hierdie siening wat Verwoerd beweeg het om in 1954 te verklaar dat dit absurd is om wiskunde aan swart kinders te leer en dat daar geen plek vir ʼn swart mens bo ʼn bepaalde vlak van arbeid nie (Giliomee 1998:16). Hierdie verklaring was die inleiding tot "een van die geskiedenis se gemeenste intellektuele onderdrukkings van ander mense” (Swanepoel 1997:89).

Die groot ideaal was ʼn Suid-Afrika sonder enige swart burgers (Giliomee 1998:12). “In the 1948 election, and for years thereafter, apartheid involved a crude exploitation of racial prejudice and white fear of black majority rule” (Serfontein 1982:7). Tydens een van die gesprekke sluit Johan hierby aan as hy sê:

Die hele rede waarom apartheid op die wetboeke gekom het, was bedreiging: die witman het bedreig gevoel dat hy nie meer geleenthede in hierdie stuk grondgebied gaan hê nie. Dit het 'n lang aanloop gehad, maar ons was bedreig en daarom het hulle gesê liewers ons op ons eie [Johan 4-286].

Hierdie vrees vir swart mense, saam met die geleentheid om te regeer, was ʼn groot faktor in die vorming van die beleid van apartheid deur die wit Afrikaners. Nou was dit moontlik om wetlik ʼn beleid daar te stel wat die wit Afrikaner kon beskerm. Swart mense is gesien as goedkoop arbeid [Albert 4-489] en as ʼn arbeids- instrument [Albert 3-181] en hulle is ontmoedig om te hoog te mik in die lewe.

Selfs in die NG Kerk is soortgelyke klanke gehoor. Terwyl Blignaut (1929:14) sê die “Naturel is die Inboorling van die land en die teenwoordige geslag van blanke Afrikaners is eweëens (sic) hier gebore” sê die voorsitter van die Manne Sending Bond, J.P. van der Spuy (1929:8) “die naturelle, die heidene, is hier in ons land...”. Suid-Afrika is duidelik beskou as behorende aan die wit mense. Volgens Johan het Albert Lethuli destyds vir dr. D.F. Malan versoek om die land op te deel, maar sy antwoord was: hierdie land is die blankes s’n [Johan 4-517]. Die vrees was altyd daar dat ons Westerse beskawing in SA oorspoel sou word deur

swart mense [Albert 4-491].

Vanuit 'n nie-wit oogpunt is apartheid duidelik raakgesien as wit bevoorregting. Carolus (aangehaal in Villa-Vicencio 1993:49) sê apartheid “was specifically designed to improve the lot of the whites…” Selfs die gerespekteerde, maar dikwels uitgerangeerde teoloog Willie Jonker (1998:42) stem saam; die groot idee van apartheid was “slegs om blankes se bevoorregte posisie te behou.” Hulle sienings word gedeel deur Alden (1996:12) wanneer hy sê dat die instelling van apartheid net was vir “further entrenching white power and privilege – particularly Afrikaner power and privilege…”.

ʼn Baie goeie voorbeeld van hoe die beleid van apartheid misbruik is vir persoonlike belang, is die Wet op die Verbod op gemengde huwelike. Hierdie wet het huwelike en seksuele verkeer tussen verskillende rasse verbied, maar net in gevalle waar die een party wit was (Serfontein 1982:144). Vir Groenewald (1986:27) is dit ʼn duidelike aanduiding van die ware betekenis en doel van die apartheidswette, naamlik die beskerming van die persoonlike belang van wit mense.

Dit was die wittes se bevoorregte posisie wat apartheid aan die lewe gehou het. In Elsa [4-481] se woorde:

Jy wil weet wat daar agter sit, Albert, en dat ons elkeen ook ons eie denke gehad het. Maar ek dink dit is maar ons mense se inherente gierigheid, of boosheid of wat ook al. Ek meen as jy in 'n bevoorregte posisie is staan jy dit nie sommer so maklik af vir iemand anders nie. Ons het in ons agterkoppe geweet dit is verkeerd, maar ons het die bevoorregte posisie gehad. Ons het lekker gelewe, en dié mense het vir ons al die werk gedoen, en al die voorregte wat daarmee gepaard gaan, hoekom sal ons dit nou wil afstel dan? Hoekom sal ons dan wil prysgee wat ons het?

Wit mense het dit, in verhouding tot swart mense, maklik gehad onder apartheid. Voeg daarby die paternalistiese houding van sorg vir die swart mense en die tafel was gedek vir die volheid van die beleid van apartheid. Wat vir sommige begin het as ʼn poging tot ʼn billike bestel vir almal, het al te gou skeefgeloop: “Gaandeweg het ons onsself egter

as 'n heersersvolk gesien. Die Israel-beeld het rassetrekke begin kry. Die algemene onreg teenoor miljoene en die growwe skendings van menslikheid wat nou stuk vir stuk uitkom, is teen dié agtergrond vergoelik” (Loader 1997:14).

In die voorafgaande paragrawe is aandag gegee aan die ontstaan van apartheid, aan die positiewe en die negatiewe kant daarvan. Dit is die leefwêreld wat deur hierdie beleid geskep is, en die eerste paar jaar van die nuwe bedeling, wat in die aanvanklike navorsing aan die orde kom.