• No results found

Meganismes van verandering: Hoe verander konstruksies?

Hoofstuk 2 Van Grammatikalisering tot Konstruksiegrammatika en

2.4 Konstruksionalisering en Grammatikalisering: Die Konstruksionalisering Van

2.4.4 Meganismes van verandering: Hoe verander konstruksies?

Vervolgens word twee meganismes bespreek waarvolgens konstruksionalisering kan plaasvind. (Traugott & Trousdale, 2013:35-38) Hierdie meganismes is bekende meganismes binne grammatikaliseringsteorieë maar dit kan ook ten opsigte van konstruksies toegepas word.

Neoanalise/heranalise

Tradisioneel is daar in grammatikaliseringsteorieë verwys na heranalise en analogie as meganismes van verandering. Met heranalise word die fokus geplaas op die verskil van die bron woord/konsep/konstruksie terwyl analogie die korrelasie is tussen die bron en 'n ooreenstemmende bestaande konstruksie wat voorgehou word as 'n voorbeeld.

Trousdale en Traugott (2013:36) verkies om eerder die term neoanalise as heranalise te gebruik. Eerstens kan 'n taalgebruiker nie 'n onbekende konstruksie heranaliseer nie – slegs 'n taalgebruiker wat bekend was met die vorige konstruksie kan dit heranaliseer. Die konstruksie word dus anders benader as die spreker wat bekend is daarmee. Mens kan nie 'n konstruksie her-analiseer as dit nie bekend aan jou was nie.

93 'n Tweede probleem wat hulle het met die term heranalise is vanweë die voorafgaande gebruik van hierdie term deur ander teoretici. Lightfoot (1999:87-91) het spesifiek na heranalise verwys as iets wat grootskaalse verandering behels terwyl Traugott en Trousdale (2013) juis fokus op mikroveranderinge wat stap vir stap binne konstruksies plaasvind. Neoanalise word gesien as 'n mikrostap in konstruksionele verandering.

Traugott en Trousdale (2013:37) gebruik die verandering van die kwantifiseerder/ hoeveelheidsbepaler a lot of as voorbeeld. Volgens hulle het daar 'n mikrostap neoanalise plaasgevind vanaf die betekenis daarvan as pragmatiese kenmerk van die hoeveelheidsbepaler ' 'n gedeelte' of ' 'n deel’ totdat dit 'n semantiese kenmerk geword het van die hoeveelheidsbepaler wat beteken ‘ 'n groot hoeveelheid’. Konstruksionele semantiese verandering het dus plaasgevind tot 'n binominale stukdeel/(partitive) en binominale kwantifiseerder/kwantordetermineerders albei met a lot in die NP1 Naamwoordstuk 1 posisie.

In Oudengels het die woord hlot of lot verwys na 'n voorwerp – dikwels 'n stuk hout waardeur mense verkies is of geselekteer is byvoorbeeld tot 'n sekere titel of amptelike posisie dikwels deur God se hulp in te roep (draw lots; lottery; lot fate) en deur middel van metonimie het dit gedui op 'n gedeelte of eenheid wat verkry is deur middel van verkryging van hierdie posisie of seleksie (lot of land) of dan ook die keersy daarvan naamlik dat mens vanweë seleksie of keuring uitgesluit is van sekere voorregte (one's

lot in life)

In Middelengels het hierdie gebruik van die deelpartikel/deelstuk lot ook saam met of verskyn:

[2.6] He ne wass nohh wurrþenn mann…. Forr to forrwerrpenn he NEG was nothing become man . . . for to overthrow aniʒ lott Off Moysæsess lare.

any part of Moses’ teaching

‘He (Jesus) did not become incarnate . . . to overthrow any part of Moses’ teaching’. (c.1200 Ormulum, 15186; [MED lot n1, 2c])

94 'n Gedeelte impliseer hoeveelheid en in dieselfde Ormulum Middelengelse teks word die woord lot gebruik as verwysend na 'n groep wat weer dui op 'n groot hoeveelheid.

[2.7] Aʒʒ wass i þiss middellærd Summ lott off gode sawless. always was in this middle-earth certain group of good souls

‘There was always in this world a group of good souls’. (c.1200 Ormulum, 19150 [MED lot n1, 2e])

So ontstaan konstruksies deur neoanalisering.

Analogisering

Uitbreiding van ʼn konstruksie na aanleiding van analogie is patroonherkenning en gevolglike kategorisering en dit behels twee prosesse (Fischer 2011). Hierdie twee prosesse is (a) analogiese denke of gewoon analogie, en (b) analogisering wat ʼn meganisme of proses is en nie net blote gedagtes oor die oordrag van sekere kenmerke van een konstruksie op ʼn ander, nuwe konstruksie nie (Anttila 2003; Fischer 2007). Beide analogie en analogisering behels sintagmatiese kombinasies en kontekstuele verhoudings sowel as paradigmatiese aanpassings. Antilla (2003) verduidelik analogie deur dit van toepassing te maak op die Engelse metafoor ‘warp and woof’ (‘skering en inslag’ in Afrikaans). Hierdie metafoor word gebruik om te verwys na grondbeginsels van ʼn sekere instelling byvoorbeeld: “The Constitution and the Declaration of Independance are the warp and woof of the American nation.” (The new dictionary of cultural literacy, 2005). Hierdie uitdrukking word sedert 1500 gebruik en sluit aan by die weefproses waartydens drade vertikaal (warp/skering)) en horisontaal (woof/inslag) inmekaargeweef word. Volgens Antilla (2003) neem analogie die sintagmatiese kontekstuele (warp/skering) en paradigmatiese verhoudings (woof/inslag) in ag sowel as die hele figuurlike konstruksie self. Antilla (2003) verwys na ʼn analogie-rooster wat paradigmatiese (ikoniese) en sintagmatiese (ikale) dimensies betrek. Volgens Traugott en Trousdale (2013:37) is albei prosesse in grammatikale konstruksionalisering belangrik – eerstens ontstaan daar denke rondom sekere nuwe konstruksies wat analogies aansluit by bestaande konstruksies, maar dit dui nie op verandering nie: dit is eers tydens die proses van analogisering waartydens

95 die verandering plaasvind aangesien die nuwe konstruksie nou bestaan en toenemend meer gebruik word. Analogie as fase een is nadenke oor ʼn moontlike nuwe konstruksie na aanleiding van analogie (die motiveringsfase) en fase twee is die meganisme van verandering (analogisering) waartydens ʼn nuwe konstruksie op die patroon van ʼn ander konstruksie tot stand kom. Analogie kan kortliks gesien word as patroonpassings – met ander woorde na aanleiding van die patroon (sintagmatiese en paradigmatiese eienskappe) van een konstruksie sal ʼn ander nuwe konstruksie gevorm word en dieselfde patroon volg. Fischer (2011) gebruik die voorbeelde van ʼn spreker wat (a) eerder brung as bring se verledetydsvorm gebruik en nie brought nie en (b) wat shaked eerder as shook gebruik. Die spreker gebruik eerder voorbeelde (a) en (b) aangesien dit ooreenstem met ʼn ander verledetyd-patroon naamlik rung, stung. Sy bevestig dat analogiese uitbreiding proporsioneel plaasvind. Sy reken dat hierdie proses nie die uitbreiding is van kontekste waarbinne ʼn konstruksie kan plaasvind nie, dit volg slegs die gedrag en patrone van lede van ander konstruksies en ʼn nuwe konstruksie kom derhalwe tot stand.

Grammatikale konstruksionalisering

Die voorstel wat deesdae binne konstruksiegrammatikakringe gemaak word, is om vas te stel of konstruksionalisering nie 'n nuwe bydrae kan lewer tot die studie van die verandering van die grammatika (grammatikalisering) nie, aangesien die nuwe tendens is om taalverandering as geïsoleerde entiteit te verwerp (sintaktiese, semantiese, pragmatiese, morfologiese verandering vind nie in isolasie plaas nie). Hierdie afdeling poog om 'n brug te slaan tussen die hedendaagse invalshoek om taalverandering van konstruksies uit te druk as konstruksionalisering en die tradisionele sieninge wat leksikalisering (verandering van grammatikale dele tot selfstandige lekseme) en grammatikalisering (verandering van lekseme tot grammatikale elemente) as afsonderlike entiteite beskou het.

96 What both Grammaticalization Theory and diachronic Construction

Grammar have so far failed to do, however, is draw an explicit distinction between the initial formation of a construction, i.e. a

primary association of meaning with a particular morphosyntactic

configuration, and the possible subsequent change of a construction into a more grammatical one.

Noël (2007:177-178) het in sy artikel: “Diachronic construction grammar and grammaticalization theory" die vraag gevra of diachroniese konstruksionalisering en grammatikalisering oorvleuelende dissiplines is en of mens hulle as afsonderlike entiteite moet beskou. Hy verwys na Bybee (2003) wat grammatikalisering beskou as die ontstaan van nuwe konstruksies en die kernvraag binne grammatikalisering is "Hoe verkry 'n taal sy grammatika". As vertrekpunt in sy studie het hy ondersoek ingestel na die rol van konstruksies in grammatikalisering.

Wat vir Noël (2007:191) uitstaan is dat alhoewel alle vorms van die grammatika konstruksies is, is dit belangrik om te onthou dat nie alle konstruksies grammatikaliseer nie. Elke ontstaan van 'n nuwe konstruksie (die bronkonstruksie) kan nie gesien word as deel van die proses grammatikalisering nie. Noël (2007:192) dui daarop dat grammatikalisering eerder die verandering is waarby 'n gedeeltelik substantiewe konstruksie 'n nuwe grammatikale betekenis verkry. Noël dui daarop dat daar 'n verskil is tussen skematisering en grammatikalisering. Konstruksionalisering vind in albei prosesse plaas maar dit is twee verskillende tipes verandering.

Leksikalisering hou eerder verband met skematisering wat deur Noël (2007:192) beskryf word as die ontwikkeling waardeur sekere strukturele patrone hulle eie betekenis verkry en op so ʼn wyse bydrae lewer tot die leksikale items daarbinne – hierdie ontwikkeling lei tot gedeeltelike of volledige skematiese konstruksies. Daarteenoor is grammatikalisering semantiese verandering wat meer tot die grammatikale betekeniskontinuum neig.

Albei prosesse lei tot die ontstaan en ontwikkeling van nuwe konstruksies, maar slegs die semantiese verandering in grammatikale betekeniskonstruksies het 'n ware

97 grammatikale betekenis. Leksikalisering kan dus ook gesien word as 'n diachroniese konstruksionalisering, maar dit hou nie verband met grammatikalisering nie. Hierdie twee verskillende tipe prosesse moet dus nie gesien word as dieselfde proses of vorms van konstruksionalisering nie.

Diachroniese Konstruksiegrammatika het dus 'n breër omvang as grammatikalisering en grammatikalisering is maar net een been van konstruksionalisering. Alle vorms van grammatikalisering het dus met konstruksies, hetsy atomies of kompleks, te make. Daarteenoor is alle vorms van konstruksionalisering nie noodwendig gemoeid met grammatikalisering nie