• No results found

Hoofstuk 2 Van Grammatikalisering tot Konstruksiegrammatika en

2.3 Radikale Konstruksiegrammatika

2.3.3 Konstruksienetwerke

In konstruksiegrammatika is die primitiewe eenheid van grammatikale analise 'n konstruksie wat bestaan uit 'n vorm-betekenis skakeling (Croft, 2001). 'n Konstruksiebenadering jeens grammatikalisering behels dat die wesenlike eienskappe van grammatika anders beskou word as ander benaderings wat uitdrukkings nie as konstruksies benader nie. In 2.3.1 is die agtergrond tot RKG bespreek. Samevattend kan Konstruksiegrammatika beskou word as 'n sambreelterm of superordinaatetiket vir kognitiewe benaderings tot grammatika wat behels dat leksikale kennis gesien word as 'n netwerk gekonvensionaliseerde en ingebedde (entrenched) simboliese vorm-betekenis-skakelings (Trousdale & Norde, 2013:35). Konstruksies is gekonvensionaliseerd in die sin dat 'n hele spraakgemeenskap dieselfde konstruksie deel (Traugott & Trousdale, 2013:1). Konstruksies is simbolies aangesien dit bestaan uit taaltekens wat op arbitrêre wyse in terme van vorm en funksie geassosieer word. Hulle word gesien as eenhede in die sin dat die tekens so algemeen en so idiosinkraties voorkom dat die tekens ingebed word as vorm- betekenis groeperings/skakelings in die denke van die taalgebruikers in 'n taalgemeenskap (Traugott & Trousdale, 2013:1). Alle grammatikale kennis word universeel en op dieselfde wyse benader en dit word in geheel as konstruksies beskou. Soos Croft (2007: 471) dit uiteensit:

The constructional tail has come to wag the syntactic dog. Everything from words to the most general syntactic and general rules can be respresented as constructions.

Grammatikale kennis word volgens 'n taksonomiese hiërargie uiteengesit en konstruksies word op verskillende vlakke van skematisiteit aan mekaar geskakel. Konstruksies word verbind aan meer as een 'ouer-skema' en alle konstruksies is deel

66 van meer skemas – dit word gesien as Meervoudige Oordraging. Meer spesifieke konstruksies verkry eienskappe van meer algemene konstruksies.

Die volgende aspekte van konstruksiegrammatika is belangrik in 'n konstruksiebenadering tot grammatikalisering:

• Die basiese eenheid van grammatika is die konstruksie wat 'n konvensionele vorm-betekenis skakeling/paring is. (Traugott & Trousdale, 2013:3)

• Konstruksiegrammatika volg 'n gebruiksgebaseerde model (usage-based model) (Goldberg, 1995:5)

• Alle linguistiese kennis het die vorm van konstruksies wat vorm-betekenis- skakelings op verskillende vlakke is. Daar is geen verskil tussen die leksikon en sintaksis nie, want dit word saam volgens 'n konstruksie-netwerk georden. Die semantiese struktuur word direk op die sintaktiese struktuur gekarteer (Langacker, 1987:57-63; Traugott & Trousdale, 2013:3).

• 'n Konstruksie is 'n roetine of 'n eenheid wat in die konvensionele spraakgemeenskap gebruik word en dit behels 'n vorm-betekenis-skakeling (Croft, 2006:274).

• Die vorm van die konstruksie sluit inligting oor die fonologiese, morfologiese en sintaktiese eienskappe in terwyl die betekenis van 'n konstruksie verwys na die semantiese, pragmatiese en diskoerseienskappe. Geeneen van hierdie aspekte word gesien as die kerndeel van grammatika wat outonoom funksioneer nie, inteendeel – 'n holistiese wisselwerking tussen hierdie grammatikale vlakke vind as geheel plaas (Traugott & Trousdale, 2013:3). • 'n Nie-reduksionistiese benadering tot linguistiese vorms word gevolg, dit

behels dat die interaksie tussen die verskillende dele slegs verklaar kan word deur die geheel (Goldberg, 2006:222).

• Taal is 'n netwerk knooppunte en skakelings tussen hierdie knooppunte; assosiasies tussen hierdie knooppunte is in die vorm van oordragtelike

67 hiërargieë. Hiërargieë is taksonomiese verhoudings tussen die verskillende vlakke konstruksies (Traugott & Trousdale, 2013: 3).

Die funksie van 'n konstruksie sowel as die verhouding met ander konstruksies staan voorop (Trousdale, 2012:170). Konstruksies wat baie algemeen voorkom, meer produktief is en minder komposisioneel van aard is, het 'n prosedurele funksie. Konstruksiegrammatika veronderstel nie 'n sterk sintaksis/leksikon-onderskeid nie, maar verskillende konstruksies onderskei verskillende gebruike. Noël (2007) beklemtoon dat as dit 'n konstruksie is, is dit deel van grammatika en Goldberg (2006:18) sê: " it’s constructions all the way down." Daar is egter konstruksies wat nie algemeen voorkom nie en ook minder produktief is.

Konstruksies verdeel skematies in drie vlakke. (1) Die makrovlak as die superordinaatkonstruksie wat op die algemene of oorhoofse vlak lê. In terme van modale hulpwerkwoorde is dit telkens die tipe modaliteit wat hier geïdentifiseer is as die makrovlak in ʼn konstruksie. Wanneer mag se konstruksienetwerke byvoorbeeld bespreek word, word die tipes gekategoriseer as deonties, dinamies of epistemies en elkeen van hierdie tipes se konstruksienetwerke word afsonderlik bespreek. (2) Voorspelbare, algemene, frekwente en skematiese konstruksies lê op die mesovlak van die hiërargie. In terme van byvoorbeeld deontiese mag sal die twee betekenisskakerings wat mag hier onderskei op die mesovlak lê. Mag word as direktief gebruik, maar dit is ook die burokratiese regulering van gedrag soos uitgedruk in geskrewe tekste. (3) Die baie spesifieke idiomatiese en idiosinkratiese konstruksies (hetsy algemeen of skaars in gebruik) sowel as onvoorspelbare konstruksies lê op die mikrovlak van die taksonomiese hiërargie. In terme van mag is dit die talle vaste uitdrukkings sowel as byvoorbeeld die kollokasie van hipotetiese mag + wees, wat op hierdie vlak uitgedruk word in die konstruksienetwerk (Goldberg, 1995:4, 2006:5).

Langacker (2005) het drie algemene kenmerke van konstruksies geïdentifiseer wat betrekking het tot die struktuur maar veral ook die manier waarop die konstruksie kan verander:

68 (a) Algemeenheid (generality) – Dit hou verband met die skematisiteit van die

konstruksie en ook tot die graad waartoe die konstruksie gespesifiseer word.

(b) Produktiwiteit – Dit hou verband met die vermoë van 'n konstruksie om minder

skematiese konstruksies te sanksioneer.

(c) Komposisie – Dit hou verband met die mate waartoe die betekenis van 'n

konstruksie afgelei kan word van die betekenis van sy onderliggende dele/elemente.

Algemeenheid

Trousdale en Norde (2013:37) verduidelik dat die algemeenheid van 'n konstruksie verband hou met die konstruksionele strekking – dit is die mate waartoe die semantiese en formele eienskappe van 'n konstruksie skematies is. Skemas is

taksonomiese veralgemenings van kategorieë (Traugott & Trousdale 2013:13).

Linguistiese skemas is abstrak en semanties veralgemeende groepe prosedurele of inhoudryke konstruksies. Skemas wissel van die algemene tot die spesifieke namate dele van die konstruksies meer besonderhede bevat. Linguistiese skemas word verteenwoordig deur subskemas en op die laer vlakke deur mikrokonstruksies. Die modale hulpwerkwoord mag is byvoorbeeld deel van die mikrokonstruksie van die subskema modaal en modaal is 'n subskema van die skema hulpwerkwoord. Subskemas ontwikkel oor tyd, maar kan ook verdwyn. Ontwikkeling of verlies van skemas behels konstruksionele verandering wat voor en na konstruksionalisering plaasvind (kyk onder 2.4) (Traugott & Trousdale, 2013: 14).

Skematisiteit is op twee maniere gradient. Eerstens is grammatikaal welgevormde, aanvaarde konstruksies ʼn kwessie van konvensie en sekere konstruksies is soms net gedeeltelik gesanksioneerd en nie volledig gekonvensionaliseerd (gesanksioneerd) nie. Hierdie nie-gesanksioneerde konstruksie kan mettertyd al hoe meer gebruik word en dus volledig sanksioneer. Croft (2001:28) verwys na volledig gesanksioneerde konstruksies as ingebedde (entrenched) konstruksies wat beteken die konstruksies word dikwels gebruik en is ingebed in die taalgemeenskap. Langacker (1987:69)

69 bevestig dat nie-konvensionaliteit 'n belangrike komponent van taalgebruik is want dit gee aanleiding tot taalverandering. Die feit dat nie-konvensionaliteit soms verdra word, is belangrik in gevalle waar gedeeltelik gesanksioneerde uitbreidings van bestaande gekonvensionaliseerde skemas mettertyd volledig gesanksioneerde uitdrukkings van meer algemene skematiese konstruksies word en sodoende deel word van 'n spreker se taalervaring. Tweedens is skematisiteit gradeerbaar in terme van die hiërargiese onderskeid tussen onderafdelings. Sprekers is bewus van meer algemene inligtings- patrone teenoor spesifieke inligting, en dit dui aan dat daar meer as een vlak of subtipe konstruksie of selfs kluster-tipes bestaan. Meer skematiese en algemene skemas lê op die mesovlak of hoër en die meer spesifieke skemas op die mikrovlak.

Konstruksies is gebruiksgebaseerde uitdrukkings in 'n spesifieke situasie, geuiter deur 'n spesifieke spreker (of skrywer) met 'n spesifieke kommunikatiewe doelwit. Konstrukte dra pragmatiese betekenis binne 'n spesifieke konteks en daarbuite mag dit dalk geen betekenis dra nie. Binne die gebruikersmodel is konstrukte dit wat sprekers/skrywers voortbring (produseer) en dit wat luisteraars/lesers prosesseer (Traugott & Trousdale, 2013:16). Konstruksionele verandering vind plaas wanneer daar nuwe assosiasies tussen konstrukte ontstaan. Die hoogste vlak is altyd die skema of gedeeltelike skema. Skemas is fonologies ongespesifiseerd. Mikrokonstruksies is daarteenoor fonologies gespesifiseerd of substantief. Figuur 2 demonstreer die verskillende vlakke deur gebruik te maak van die 'Hoeveelheid"- konstruksie. Die voorbeeld wat deur Traugott (2008:31) gebruik word, is: 'a bit of bread', 'kind of funny' en 'I liked it a lot’. Hierdie voorbeelde val binne die oorhoofse konstruksie van graadbepalers. Elkeen is onderliggend 'n mikrokonstruksie want hulle val in verskillende grade maar so ook vertoon hulle ooreenstemming met ander graadbepalers soos byvoorbeeld 'a bit of ' en 'a tad ‘ of hierdie twee konstruksies val weer saam op die mesovlak vanweë die ooreenstemmende funksies.

70

Figuur 2.4 Gradiënt van hiërargiese verhoudings tussen konstruksies.

Die hoogste vlak, die skemavlak of makrovlak, sluit al die verskeie sub-skemas in. Die subvlak of mesovlak tref onderskeid tussen groot, klein en medium vlakke. Op die laagste vlak is verskeie mikrokonstruksietipes (Traugott & Trousdale, 2013: 17).

Trousdale en Traugott (2013:16) identifiseer hierdie verskillende vlakke as skemas, subskemas en mikrokonstruksies sowel as gedeeltelike konstruksies wat nog verandering ondergaan. Voorheen het Traugott (2007, 2008) verwys na mikro-, meso- en makrovlakke waar makrovlakke die skemas is. Hierdie studie volstaan by die gebruik van makro-, meso- en mikrovlak as terminologie om na die verskillende vlakke te verwys.

Mikrokonstruksies is konstruksietipes maar nie 'instances of use'/gebruiksvoorbeelde nie. Trousdale en Norde (2013:36) gebruik die toekomendekonstruksies will, be going

to, be fixing to, en be about to as voorbeeldmateriaal

[2.5] I’m working on a book that maybe will come out this year or next year [2010, Fox News, Beck, March 12 2010]

71 [2.6] We have a lot of good artists fixing to come out [2009, ABC Primetime,

Life After Michael: Inside Jackson Compound]

[2.7] In the end we’re going to come out stronger and better [2009, NBC Meet the Press]

[2.8] Colin Powell’s book is about to come out [1995, NPR The Week in Review]

Elkeen van hierdie uitdrukkings behels 'n kollokasie wat na sekere gebeure in die toekoms verwys gekombineer met die predikaat – come out. Die spesifieke gebruiksvoorbeelde is konstrukte, hoewel will, be going to, be fixing to, en be about nie gebruiksvoorbeelde is nie, maar die basisvorms van die uitdrukkings en nie konstrukte nie.

Be fixing to en be going to is op formele vlak nader aan mekaar as will en be about

en daarom kan mens hulle saam groepeer en hulle vorm dan 'n mesokonstruksie op grond van gemeenskaplike vorm. So sal will byvoorbeeld saamgroepeer met die modale hulpwerkwoord shall. Die konstruksie wat al vier bogenoemde voorbeelde saamgroepeer is die makrokonstruksie en in hierdie geval is die mees algemene konstruksie die Engelse Toekomendekonstruksie. Die mees abstrakte konstrukte wat verband hou met 'n spesifieke verandering is dus die makrokonstruksie en dit word bepaal deur die konstruksie se funksie (Traugott, 2008:31). Hierdie superordinaatkategorie verdeel in onderliggende mesokategorieë wat ooreenstemmende funksies, vorm of albei het. Individuele konstruksietipes is op die mikrovlak.

Produktiwiteit

Produktiwiteit hou verband met die konstruksionele lewenskrag/lewensvatbaarheid

en dit verwys na die mate waartoe 'n spesifieke skema met innoverende konstrukte verband hou. Trousdale en Traugott (2013:17) sien die produktiwiteit van 'n skema of gedeeltelike skema as gradeerbaar in die mate waartoe hulle ander minder skematiese konstruksies sanksioneer (extensibility/omvang) sowel as die mate

72 waartoe hulle ingeperk word. 'n Voorbeeld ten opsigte van infleksiemorfologie in Engels is byvoorbeeld wanneer werkwoorde in die verlede tyd voorkom sal hulle ‘tradisioneel ' [-ed] as agtervoegsels kry (play -played); in minder algemene gevalle sal die werkwoordstam verander soos byvoorbeeld sing-sang. Wanneer nuwe werkwoorde in die taal ingesluit word, sal die meer produktiewe of algemene metode van infleksie gevolg word, byvoorbeeld die verlede tyd van skype is nie skope nie maar

skyped. Produktiwiteit en frekwensie hou nou verband met mekaar. Wanneer nuwe

konstruksies tot stand kom dan word die gebruik daarvan versprei deur verhoging in frekwensie/gebruik. Verhoogde gebruiksfrekwensie beteken dan ook dat die konstruksie se frekwensie vermeerder en die konstruksie word meer ingebed binne die taalgemeenskap (Traugott & Trousdale, 2013:18). ʼn Voorbeeld van ʼn konstruksie wat oor die laaste 100 jaar tot stand gekom en ontwikkel het, is konstruksies met die modale hulpwerkwoord moenie (sien Hoofstuk 5). Die kontraksie van moet en nie tot

moenie was nie algemeen in gebruik ʼn honderd jaar terug nie, maar vanaf die

sewentigerjare van die vorige eeu het konstruksies met hierdie kontraksievorm die prototipiese manier geword waarop sprekers genegativeerde verpligting uitdruk. Die produktiwiteit van hierdie konstruksie het toegeneem en ingebed geraak in die Afrikaanse taal. Mog (sien Hoofstuk 6) en durf is twee modale wat oor die laaste 100 jaar uitgesterf het en die produktiwiteit van konstruksies waarbinne hierdie twee modale gebruik word, is laag tot geen. Hierdie tipe konstruksies is dus onproduktief.

Komposisionaliteit

Komposisionaliteit hou verband met komposisionele belyning, dit is die mate waartoe konstruksies intern konsekwent is. Komposisionaliteit het te make met die ekstent waartoe die verband tussen vorm en betekenis voor die hand liggend en sigbaar is. Volgens Partee (1984:281) is komposisionaliteit:

“the meaning of an expression is a function of the meanings of its parts and the way they are syntactically combined.”

73 Komposisionaliteit kan gesien word as die mate waartoe die vorm en betekenis binne 'n spesifieke konstruksie ooreenstem, met ander woorde of die kombinasies vorm (sintaksis) en betekenis (semantiek) by mekaar pas. As die komposisionaliteit tussen vorm en betekenis nie pas nie, dan sal die onderskeie elemente se betekenis verskil van dié geheel:

"language meaning is not entirely compositional, but language has compositionality in the sense that the compositional structure of a sentence will often provide cues to the meaning of the whole." (Arbib, 2012:475)

Modale konstruksies het sekere volgorde-eienskappe en leksikale en grammatikale items het vaste posisies. Gevolglik is hierdie konstruksies deursigtig en konsekwent.

Wanneer 'n konstruksie verander, sal mens die veranderinge in die konstruksie se algemeenheid, produktiwiteit en komposisie volg en analiseer. Tydens hierdie analise is die hiërargiese vlak van verandering belangrik. Trousdale en Norde (2013: 35) beveel aan dat wanneer mens rekenskap wil gee van alle verskillende tipes konstruksionele kennis, moet mens dink aan die verskillende grade van spesifiekheid van konstruksionele vlakke. Konstruksies moet verbind word aan die spesifieke voorbeelde waar taal gebruik word. Geskrewe teks is ook noodsaaklik in hierdie konstruksies. Die term 'konstruk' word gebruik vir spesifieke taalgebruiksvoorbeelde.

Netwerke en Konstruksiegrammatika

Die netwerk van konstruksies as metafoor staan sentraal binne konstruksiegrammatika. Goldberg (2003:19) voer aan dat alles wat ons weet van taal bestaan binne 'n netwerk van konstruksies. Croft (2007:463) vertoon twee basiese beginsels in terme van konstruksiegrammatika:

(a) Die paring/skakeling van komplekse strukture en betekenis;

(b) Die assosiasie van hierdie skakelings binne 'n netwerk.

74 • Knooppunte en die skakelings tussen knooppunte.

• Die afstand tussen lede van 'n familie,

• Groepering of klusters van groepering van eienskappe, • Grade van begrensing/ingrawing, en

• Toeganklikheid van 'n konstruksie.

Hierdie konsepte is ontwikkel deur Hudson in sy Woord-Grammatika (2007). Woord- Grammatika is 'n gebaseer op 'n Netwerkpostulaat wat vanuit die staanspoor taal as 'n konseptuele netwerk sien. Dit is konseptueel aangesien dit kognitief van aard is, en dit is 'n netwerk aangesien die konstruksies deel vorm van 'n sisteem wat almal onderling verbind is aan mekaar.

In figuur 2.5 is 'n grafiese voorstelling van 'n eenvoudige konseptuele netwerk. Hierdie figuur vertoon die assosiasie tussen die basiese-vlak konsepte of subkategorie met

asbakkie as voorbeeld en die meer skematiese konsepte wat oor al die onderafdelings

staan, naamlik meubels en dan is die derde vlak die superkategorie. Die lyne verteenwoordig die assosiasies tussen die konsepte; 'n ononderbroke lyn verteenwoordig 'n sterk assosiasie tussen 'n geval en 'n meer algemene kategorie, terwyl die stippellyn 'n swakker assosiasie verteenwoordig. Asbak se stippellyn impliseer dat hierdie meubelstuk nie 'n tipiese meubelstuk is nie maar daar is tog ooreenkomste met ander meubels wat dit in hierdie kategorie insluit. So is van die konsepte deel van meervoudige kategorieë aangesien dit gedeelde eienskappe met meer as een kategorie het, soos byvoorbeeld klavier, maar die stippellyn dui aan dat die verband met die kategorie meubels swakker is as die verband met die kategorie

75

Figuur 2.5 Eenvoudige konseptuele netwerk van meubels

Die derde beginsel in RKG wat aandag verg is dié van konseptuele ruimtes. ʼn Spreker se kennis van konstruksies word georganiseer deur die verhoudings tussen die betekenisse van konstruksies. Die semantiese verhoudings tussen konstruksionele betekenis word in terme van ʼn gestruktureerde konseptuele ruimte verteenwoordig (Croft, 2001: 28).

Croft se universele tipologiese Woordsoortteorie maak voorsiening vir ʼn stel universele wat varieer in die struktuur en verspreiding van konstruksies wat die proposisionele handelings van verwysing, wysiging en predikate insluit. Hierdie handelings of eienskappe vooronderstel ʼn konseptuele ruimte (Croft, 2001: 84). Elke spreker van ʼn spesifieke taal integreer hierdie taalspesifieke verspreidingspatrone en universele gedeeltes van spraak en dit vorm die algemene model van ʼn spreker se

76 kennis van sy/haar taal. Hierdie algemene model is die spreker se semantiese kaart,

mentale kaart of kognitiewe kaart. Die konseptuele ruimte en die kartering daarvan

tot ʼn spreker se eie semantiese kaart staan sentraal binne tipologiese teorie en die RKG. Dit wat universeel is in taal soos gevind in kruislinguistiese navorsing, word in die struktuur van ʼn konseptuele ruimte vasgevang.

ʼn Konseptuele ruimte is ʼn strukturele representasie van funksionele strukture en hulle verhoudings met mekaar. Hierdie ruimte is nie net suiwer semanties nie, maar dit maak ook voorsiening vir die pragmatiese sowel as diskoers-funksionele en sosiale dimensies, vandaar die keuse om te praat van ʼn konseptuele ruimte en nie net soseer ʼn semantiese ruimte nie. ʼn Konseptuele ruimte verteenwoordig die tipologiese universele gedeeltes van spraak terwyl die semantiese kaart taalspesifiek is.

ʼn Konseptuele ruimte laat ons toe om funksionele kategorieë identifiseerbaar oor tale heen, proposionele handelingsfunksies en semantiese klasse met hulle sintaktiese uitdrukkings in spesifieke tale – met mekaar in verband te bring. ʼn Konseptuele

ruimte verteenwoordig tipologiese taaluniversele; ’n universele konseptuele

struktuur en universele sintaksiskategorieë wat gekarteer word op konseptuele kategorieë wat gekonnekteerde afdelings in ʼn konseptuele ruimte vorm (Croft, 2009: 98).