• No results found

Hoofstuk 3 Modaliteit

3.5 Dispute Oor Die Tipes Modaliteite

3.5.3 Deontiese modaliteit

Deontiese modaliteit verwys na die mate of graad waartoe ʼn krag op die onderwerp

van die sin toegepas word om ʼn sekere aksie uit te voer.

SUBJEK modaalepistemies PRED

SPREKERONSEKERHEID SUBJEK modaal moontlik PRED SUBJEK modaal voorwaardelik PRED SUBJEK modaal hipotese PRED as subjek x modaal doen, dan gebeur y SUBJEK modaal waarskynlikheid PRED subjek modaal so wees want… subjek modaal x wees subjek modaal waarskynlik x doen SUBJEK modaal bewyslik PRED subjek modaal moontlik doen

144 [3.61] John must go to school.

John moet skool toe gaan. {verpligting}

Die proposisie se krag word uitgedruk deur die spreker, maar dit kan ook van ʼn ongeïdentifiseerde derde bron af kom (byvoorbeeld wette of reëls) en hierdie persoon, instansie of outoriteit waarvandaan die opdrag kom, staan bekend as die deontiese bron (Huddleston, 2002:178). Nuyts (2016:36) plaas veral klem op die morele wenslikheid van ʼn proposisie (of status van omstandighede), tipies maar nie noodwendig nie, met betrekking tot die spreker. Die definisie van moraliteit moet hier breërlei verstaan word, aangesien dit sosiale norme kan insluit, sowel as persoonlike etiese kriteria van die persoon verantwoordelik vir die deontiese assessering (deelnemers se morele assessering van situasies kan verskil). Hierdie kategorie kan dus op ʼn meetskaal geplaas word van absolute morele noodsaaklikheid aan die een punt deur verskillende grade wenslike moraliteit tot morele onaanvaarbaarheid op die teenoorgestelde punt.

Deontiese modaliteit druk verpligting, morele verwagting en toestemming uit (Traugott, 2011:383; Palmer, 2001). Die woord deonties is afgelei van die Griekse woord vir

gebonde naamlik déon – δέον (gen: δέοντος), dit wat verplig word of dit wat bindend

is. Deontiese modaliteit is performatief van aard: die aangesprokene se gedrag word op een of ander manier beïnvloed, gewysig, aangespreek of bepaal deur die uitdrukking (Wärnsby, 2006:19). Die gebeurtenis word gemodifiseer/gewysig deur die modaal en is direk verwant aan die taalhandeling (verwys ook Palmer (2001) se kategorisering van deontiese modaliteit as gebeurtenismodaliteit). Deontiese modaliteit, net soos epistemiese modaliteit, is dus diskoers-georiënteerd. Die verskil tussen epistemiese en deontiese modaliteit is egter dat epistemiese modaliteit die spreker se toewyding/vertroue in die proposisie uitspreek, en in deontiese modaliteit gee of vra die spreker toestemming om die uitdrukking van die proposisie uit te voer.

[3.62] Jane can leave now.

Jane kan nou vertrek. {deonties}

[3.63] I permit Jane to leave now.

145 [3.64] Jane is allowed to leave now.

Jane word nou toegelaat om te vertrek. {parafrase}

In sin [3.62] gee die spreker toestemming en die onderwerp van die sin, Jane, moet die aksie uitgedruk deur die hoofpredikaat (hoofwerkwoord) uitvoer. Sinne [3.63] en [3.64] is parafraserings van sin [3.62] (Wärnsby, 2006:20).

Huddleston (2002: 178) noem dat uitdrukkings dikwels dubbelsinnig is, en as deontiese of epistemiese modaliteit kan kwalifiseer, byvoorbeeld:

[3.65] You must be very tactful.

Jy moet baie taktvol wees. {dubbelsinnig}

Daar word afgelei dat jy baie taktvol kan wees.(epistemies) Jy word verplig om baie taktvol te wees. (deonties)

[3.66] He may sleep downstairs.

Hy mag op die onderste verdieping slaap. {dubbelsinnig}

Dit kan wees dat hy op die onderste verdieping slaap. (epistemies) Hy het toestemming om op die onderste verdieping te slaap.

(deonties)

Deontiese modaliteit word gesien as die meer basiese tipe modaliteit, en epistemiese modaliteit is ʼn uitbreiding op die domein van beredenering van konsepte in die domein van menslike interaksie. Dit is dus meer serebraal van aard (Huddleston, 2002:178). Wärnsby (2006:20) en Eide (2002:20) het Calbert (1975:24) gevolg en ʼn toevoeging tot die betekenisaard van deontiese modaliteit gemaak deur onderskeid te tref tussen die bron en doelwit van die proposisie. Daar is modale gevalle waar die deontiese krag van die uitdrukking nie van die spreker afkomstig is nie, en ook nie gerig is tot die onderwerp van die proposisie nie, soos gesien in:

[3.67] If the ratepayers should be consulted, so too must the council tenants. As die belastingbetalers gekonsulteer moet word, moet dieselfde geld vir die raadshuurders.

146 Palmer (1990:113) het die gebruik van moet in die tweede deel van die sin by dinamiese modaliteit ingesluit en daarna verwys as dinamiese noodsaaklikheid. Dinamiese noodsaaklikheid word dikwels uitgedruk wanneer daar geen aanduiding is dat ʼn spreker betrokke is in ʼn proposisie nie. Hierdie uitdrukking stem egter meer ooreen met die betekenisskakering van deontiese modaliteit (aangesien die betekenisnuanse noodsaaklikheid hier ter sprake kom) as met dinamiese modaliteit wat vermoë uitdruk.

Uitdrukkings soos gesien in sin [3.67] sluit eerder aan by ‘ought to be’/ ‘dit is

noodsaaklik dat’ of ‘behoort te’ uitdrukkings as dinamiese modaliteit soos beskryf

deur Feldman (1986:179):

Sometimes, instead of saying that a certain person ought to do a certain thing, we may say that a certain state of affairs ought to be, or ought to occur […]. The ought-to-do involves a relation between an agent and a state of affairs. The ought-to-be involves a property of a state of affairs.

In die ‘dit is noodsaaklik’ of ‘behoort te’ uitdrukkings word die fokus verskuif vanaf die Agent wat die proposisie uitspreek tot die algemene bron waarop dit gerig word (wat nie noodwendig die spreker is nie). Calbert (1975:24) het dit soos volg gesien:

[…] each modality can be expressed from the point of view of the Source [X in [(i)]] or from the point of the Goal [Y in [(ii)]]. These alternatives may be called Source-oriented and Goal-oriented modalities respectively […]:

(i) X wants Y to…

(ii) Y has to…

Eide (2002:20) en Wärnsby (2006:20) het voorgestel dat daar dus onderskeid getref word tussen bepaalde en onbepaalde deontiese modaliteit. Algemene deontiese modaliteit word gesien as bepaald maar die gevalle waar die opdrag nie gerig word aan ʼn spesifieke onderwerp deur ʼn spesifieke agent nie, is onbepaalde modaliteit. Met

147 algemene deontiese modaliteit moet die opdrag of uitdrukking gerig word aan ʼn spesifieke onderwerp-referent. Wärnsby (2006:20) het egter hierdie teorie van Eide (2002) verder geneem en daarop gewys dat haar onderskeid tussen bepaalde en nie- gerigte of onbepaalde modaliteit tweërlei van aard is. Die onderwerp is nie ’n spesifieke agent-referent nie, en die deontiese krag spruit nie direk van die spreker nie maar uit omstandighede. Hierdie teorie sluit aan by Verstraete (2001:1525) wat aandag geskenk het aan die subjektiewe en- objektiewe funksies van deontiese modaliteit. Die subjektiewe gebruik van deontiese modaliteit verwys na die enkodering van die spreker se toewyding aan die noodsaaklikheid/verpligting-parameter, terwyl objektiewe deontiese modaliteit verwys na omstandighede (some necessity…) wat noodsaaklike/verpligte aksie vereis.

Wärnsby (2006:33) het soortgelyk aan die epistemiese modaliteitskaal ook ʼn deontiese graadparameterskaal voorgestel. Hierdie skaal organiseer deontiese modale op ʼn skaal volgens die mate waartoe die spreker outoriteit oor die aangesprokene het.

Verpligting Aanbeveling

Toestemming must should can could

may might

Figuur 3.8 Engels se grade van spreker-outoriteit

Van links na regs verminder die spreker se outoriteit. Die gebrek aan vertikale lyne dui weereens na die diffuse grense tussen die modale hulpwerkwoorde wat dubbelsinnige betekenisse vertoon en dit is ook moeilik om onderskeid te tref tussen die verskillende interpretasies. Wärnsby (2006:35) kategoriseer die spreker se wil of begeerte ook onder deontiese modaliteit. Hierdie verdeling, in stede daarvan om dit as dinamiese modaliteit te klassifiseer, word deur my verwerp. Die tradisionele indeling is om enige volisiebetekenisse as dinamies te kategoriseer. Dinamiese modaliteit is die derde tipe

148 modaliteit en dit is ʼn kategorie wat naas epistemiese en deontiese modaliteite ook algemeen gebruik word wanneer na tipes modaliteit verwys word (Palmer, 2001:8- 17). Dinamiese modaliteit verwys na dié groep betekenisskakerings wat vermoë en begeerte/wens uitdruk.

Deontiese en dinamiese modaliteit (Palmer, 2001:8) kan binne ʼn taksonomiese onderverdeling gesien word as Gebeurtenismodaliteit aangesien die gebeurtenisse nog nie gerealiseer het nie; dit het nog nie plaasgevind nie en is bloot potensiële gebeure.

Die verskil tussen deontiese en dinamiese modaliteit lê tussen eksterne faktore (ekstrinsiek) wat in deontiese modaliteit betrekking het op die relevante individu en interne faktore (intrinsiek) by dinamiese modaliteit (Palmer, 2001:9). Hierdie eksterne faktore of outoriteit wat ʼn bepaalde krag uitoefen op die aangesprokene kan wetmatig wees of spruit van die spreker van die uitdrukking.