• No results found

Hoofstuk 3 Modaliteit

3.4 Konseptuele Ruimte

3.4.1 Die filosofiese basis van die konsep Modaliteit

Die filosofie dien as vertrekpunt vir die bestaan van en onderskeid tussen die verskeie modaliteitsteorieë. Filosowe is al sedert Aristoteles se modale sillogismes, oor modaliteit begaan. Dit was egter eers in die vyftigerjare met filosowe soos Von Wright (1951, 1952), Prior (1957), Carnap (1957), Kanger (1957), Hintikka (1961), en veral Kripke (1963) dat ʼn formele modale teorie ontwikkel is deur te verwys na die bestaan

127 van Moontlike wêrelde. Hierdie teorie is verder uitgebrei deur Kratzer (1977, 1981, 1991).

Die idee van moontlike wêrelde is afkomstig van Leibniz vir wie die heelal (die regte reële wêreld) maar een wêreld is te midde van ʼn oneindige aantal moontlike wêrelde. Moontlike wêrelde kan gesien word as ‘moontlike maniere waarop die wêreld kan wees’ (Lewis, 1973). Hacquard (2009:6) verwys na verskeie opsies vir hoe die wêreld moontlik of selfs anders daarna kon uitsien. Sy gebruik die ‘lawwe’ voorbeeld van die Eiffeltoring wat in ʼn moontlike wêreld in Londen kon wees, of hoër of laer kon wees. Die punt wat sy wil maak is dat die wêreld op verskeie moontlike maniere kan bestaan en modaliteit druk hierdie moontlikhede in taal uit. Die ontologiese status van moontlike wêrelde is die onderwerp van ʼn hewige debat in filosofiese kringe. Hierteenoor is linguiste nie tot dieselfde mate oor hierdie metafisiese idees begaan nie, maar eerder oor die mens se vermoë om moontlike wêrelde te identifiseer en uit te druk in taal. Wanneer die idee oor moontlike wêrelde dus in die filosofie of linguistiek genoem word, is dit die mens se kapasiteit om oor moontlike wêrelde te dink en om dit op verskeie wyses in die vorm van modale proposisies uit te druk in taal (Hacquard, 2009:6). Die gedagte aan moontlike wêrelde was egter noodsaaklik vir die uitbreiding van ʼn teorie oor modale logika in die sin dat ʼn uitdrukking se waarde nie net as feitelik of as waar en dus absoluut gesien word nie, maar as relatief tot ʼn moontlike wêreld.

In 1951 het die filosoof Georg H. von Wright in “An essay on Modal logic” die idees agter moontlike wêrelde uitgebrei en ʼn onderskeid getref tussen waarheid-konsepte of waarheid-kategorieë en modale konsepte of modale kategorieë. Die logika agter waarheid-konsepte word waarheid-logika genoem en die logika van modale konsepte word modale logika genoem. Die basiese waarheidkategorieë is die twee sogenaamde waarheidswaardes naamlik waarheid teenoor valsheid. Nog voorbeelde van waarheid-kategorieë is die konsep van waarheid-funksies en die voorbeelde van sogenaamde funksies: negatief, voegwoorde, disjunksie, implisering, eweredigheid, toutologie en teenstrydigheid.

128 Logika is die studie van sisteme van beredenering en modale logika is die onderafdeling van logika wat spesifiek fokus op die beredenering van wat die konsepte van noodsaaklikheid en moontlikheid behels (Portner, 2009:10). Von Wright was die eerste filosoof wat onderskeid getref het tussen 4 verskillende tipes modaliteite. Die eerste tipe modaliteit is aletiese modaliteit (alethic modality) of modes van waarheid as die tradisionele tipe modaliteit waarmee modale logika oorspronklik mee gewerk het. Aletiese modaliteit kan in twee sub-tipes verdeel word. Die eerste tipe verwys na die mate waartoe ʼn proposisie as waar of onwaar beskou word. ʼn Proposisie word gesien as noodsaaklik, moontlik of voorwaardelik waar. Die tweede tipe aletiese modaliteit is die mate waartoe ʼn sekere eienskap teenwoordig of

afwesig is in ʼn proposisie. ʼn Eienskap word gesien as noodsaaklik, moontlik of

voorwaardelik teenwoordig in ʼn sekere ding. Hierdie tipe modaliteit is aanvanklik deur Aquinas benoem toe hy gesê het dat die modale bewerings de dicto (wat gesê word) of de re (oor ʼn ding) kan wees (losweg vertaal beteken dit om die lewendige betekenis in frases te verstaan).

Die tweede tipe modaliteit is epistemiese modaliteit of modes van kennis/wete. Die basiese epistemiese modaliteite is geverifieerd (weet dit is waar); vervals (getoets en weet dit is vals) en onbeslis (weet nie of dit waar of vals is nie). Epistemiese

modaliteite kan ook de dicto of de re gesien word. Hierdie konsep is al tevore deur

logici behandel.

Die derde tipe modaliteit is deontiese modaliteit of modes van verpligting. Hierdie tipe modaliteit is weinig deur logici bestudeer. Die basiese deontiese modaliteite is

verpligting (ought to; moet); toelating (may; mag) en verbod (must not, mag nie/moet

nie).

Vierdens is daar eksistensiële modaliteit van bestaan. Die bestudering van hierdie tipe modaliteit word somtyds die kwantifiseringsteorie genoem en word meestal nie gesien as ʼn onderafdeling van modale logika nie. Of universaliteit, bestaan, en leegheid as modale eienskappe gesien word, is ʼn kwessie van terminologiese gemak.

129 Von Wright (1951) merk egter op dat daar ʼn verskil is tussen aletiese, deontiese en

epistemiese modaliteit aan die een kant en die kwantifiseerders aan die ander kant.

aleties epistemies deonties eksistensieel

noodsaaklik geverifieerd verpligtend universeel

moontlik toegelaat bestaande

voorwaardelik onbeslis ongeërg/indifferent

onmoontlik vals verbode leeg

Figuur 3.3: Von Wright se modaliteitskategorieë

Von Wright (1951) erken dat daar ander groepe of konsepte is wat ook as modaal gesien kan word, maar hy het sy lys van modaliteite hier afgesluit. Mens kan spekuleer dat dit moontlik ʼn verklaring bied hoekom daar daarna soveel verskeie ander moontlikhede voorgekom het.

Alhoewel modale konsepte en waarheid-konsepte verskil, is hierdie twee uiterstes nie logies onverwant aan mekaar nie. As ʼn proposisie waar is, is dit moontlik. Hierdie moontlikheid kan egter nie omgekeer word nie: nie alle moontlike proposisies is noodwendig waar nie. Net so ook is ʼn geverifieerde proposisie waar, maar die omgekeerde kan ook nie volledig plaasvind nie: nie alle waar proposisies is geverifieerd nie. As ʼn eienskap van ʼn ding waar is, dan bestaan daardie eienskap. Deontiese kategorieë staan egter heeltemal los van waarheid-kategorieë.

Volgens Von Wright (1951) is daar belangrike ooreenkomste maar ook verskille tussen die verskillende modaliteite. Sommige van hierdie verskille bestaan opgrond van verskillende wyses waartoe die verskeie modaliteite verband hou met die waarheid- konsepte. Dit is ook belangrik om te onthou dat niks terselfdertyd noodsaaklik en

130 onmoontlik, geverifieerd en vervals (falsified), noodsaaklik en verbode kan wees nie. ʼn Eienskap kan egter universeel en leeg wees.

Interessant genoeg is daar baie gemengde modale kategorieë. Een is ʼn kombinasie epistemiese en eksistensiële modaliteite. Die wete dat iets ʼn sekere eienskap het, of nie, is universeel; dit behoort aan alle dinge en is bestaande; dit behoort aan sekere dinge en is leeg aan ander; en dit behoort aan niks nie. Nog ʼn gemengde modaliteit is die kombinasie aletiese en epistemiese modaliteit. Dit is dalk moontlik vir ʼn sekere proposisie om geverifieer te word, of dit kan ook moontlik wees vir ʼn sekere proposisie om vals bewys te word. Die proposisie aan bod kan dus vervals word. Met ander woorde ʼn proposisie is verifieerbaar as dit moontlik is om te weet of dit waar is en dit is falsifieerbaar as dit moontlik is om te weet of dit vals is.

Aletiese modaliteite is de dicto wanneer dit gaan oor die modus of manier waarop ʼn proposisie waar is of nie. Modaliteit kom voor in frases soos byvoorbeeld ‘dit is

noodsaaklik dat’ of ‘dit is onmoontlik dat’. Aletiese modaliteit is de re wanneer daar

gepraat word oor die mode of manier waarop ʼn individuele ding ʼn sekere eienskap het of nie. Modaliteite is de re in frases soos ‘Jones is moontlik (of nie moontlik nie maar wel, of noodsaaklik) dood’.

Epistemiese modaliteit word gesien as de dicto wanneer dit oor die mode of manier gaan waarop ʼn proposisie geken word as waar of nie. Epistemiese modaliteite word

de dicto in frases gebruik soos ‘ons weet dat’ of ‘ons weet nie’ of ‘ons weet dat dit nie’.

In ongedefinieerde epistemiese modaliteit vind ons die konsep ‘weet dit is waar dat’ of ‘dit kan geverifieer word dat’. Epistemiese modaliteite word de re uitgedruk wanneer dit gaan oor die manier of modus waarop ʼn individuele ding geken word aan sy besit of gebrek aan ʼn sekere eienskap. Dit word de re in frases uitgedruk soos volg: ‘Ons

weet dat Jones nie dood is nie’.

Deontiese modaliteit gaan oor die modus of manier waarin ons toegelaat word of nie om ʼn sekere daad uit te voer. Dit word soos volg in frases uitgedruk: ‘Dit is noodsaaklik

131 Die waarde van Von Wright (1951) se navorsing oor modaliteit in die modale logika is die ontwikkeling en benaming van sekere tipes modaliteit en hierdie tipes het beslag gevind in die linguistiek en is verder bestudeer vanuit linguistiese perspektiewe.

Modale logika verskaf belangrike insigte ten opsigte van die betekenis van modale uitdrukkings, maar die doel van modale logika is egter nie om ʼn semantiese analise van natuurlike taal te gee nie (Portner, 2009:29). Die primêre doel vir linguiste en veral semantici is volgens Portner (2009) om ʼn volledige teorie oor die betekenis van modale uitdrukkings oor tale heen te ontwikkel en hierdie teorie moet ʼn akkurate beskrywing wees van dit wat ons weet oor modaliteit – die feite sowel as die verduidelikings van sekere belangrike veralgemenings.

Die doel van die logikus is om sekere belangrike eienskappe of die beredenering agter die konsepte noodsaaklikheid, verpligting en dies meer te sistematiseer en te verstaan (deur byvoorbeeld die gebruik van wiskundige/algebraïese formules).

Modale logika vermy doelbewus sekere belangrike eienskappe van die betekenis van modale uitdrukkings wat belangrik is vir linguiste. Dit ignoreer byvoorbeeld die feit dat in sekere tale epistemiese modale in verskillende posisies as deontiese modale voorkom (Portner, 2009:29). Modale logika het ook nie die idee van die verskillende betekenisse van modale uitdrukkings in ʼn algemene teorie oor natuurlike taal uitgedruk nie.

Alhoewel modale logika en semantici nie dieselfde doelwitte het nie, stel Portner (2009) voor dat semantici moontlik modale logika kan aanpas by die semantiek (en dus ook linguistiek in die breë) se doelwitte. Modale logika beoog om die konsepte van noodsaaklikheid, verpligting, implisering en dies meer in terme van patrone van beredenering beter te verstaan (Portner, 2009:10). Dit gaan dus nie om die betekenis van natuurlike taaluitdrukkings soos moet of moontlik nie. Binne die terrein van logika gaan dit nie om die betekenis van woorde nie; die betekenis van woorde staan sekondêr tot die sisteem van beredenering. In die modale logika het die twee keersye van modale konsepte ook simboliese vorms aangeneem met uitdrukking wat noodsaaklikheid behels, soos byvoorbeeld moet wat die simbool □ neem, en enige

132 uitdrukkings wat moontlikheid bevat, soos byvoorbeeld mag en moontlik, neem die simbool ◊. Modale logici het dus alle moontlike en onmoontlike voorkomste van hierdie kombinasies getoets en ondersoek, maar die doel was nie om enigiets meer oor die semantiek van menslike taal te leer nie.

Die nut daarvan om modale logika se teoretiese idees oor modale konsepte in die linguistiek te gebruik is om ʼn dieper en meer geïntegreerde begrip van die konsepte en betekenisskakerings implikasie, noodsaaklikheid, verpligting, moontlikheid en dies meer weer te gee. Hierdie betekenisskakerings word geklassifiseer as onderskeie tipes of parameters. Hierdie tipes of parameters is egter nie vas nie en daar is groot omstredenheid hieroor wat in ʼn verskeidenheid teorieë uitgedruk word. Hierdie teorieë se grondslag lê binne die filosofie soos kortliks in 3.4 bespreek. Vervolgens word terme soos epistemiese en deontiese modaliteit bespreek met toevoegings van ander betekenisskakerings, soos nodig. Na die bespreking van die wye verskeidenheid teorieë oor die tipes modaliteite sal ʼn werksmodel in die vorm van ʼn semantiese kaart saamgestel word wat verantwoording sal doen van al die moontlike betekenisparameters van die konsep modaliteit.