• No results found

Hoofstuk 3 Modaliteit

3.5 Dispute Oor Die Tipes Modaliteite

3.5.2 Epistemiese modaliteit

Epistemiese modaliteit onderlê die ‘geloof’ wat ʼn spreker het ten opsigte van die

‘waarheid’ van proposisie X – vandaar die benaming Proposisionele modaliteit soos wat Palmer (1986:14-15, 17; 2001:8) daarna verwys. Dit gaan eerstens daarom of die uiting reëel al dan nie is, terwyl die omstandighede van sekondêre belang is. Die graad of mate waartoe die spreker glo in die geloofwaardigheid (waarheid) van sy uitlating/proposisie is epistemies van aard (De Haan, 2006:6; Wärnsby, 2006:15), byvoorbeeld:

[3.47] John must have been at home.

John moes by die huis wees/gewees het. {epistemiese modaliteit/ druk spreker se graad van sekerheid uit}

[3.48] He must have been delayed. Hy moes vertraag gewees het. [3.49] He may have been delayed. Hy mag vertraag gewees het 8

Die woord epistemies is afgelei van die Griekse woord vir kennis: ἐπιστήμη – episteme. Hierdie tipe modaliteit betrek dus spreker se kennis oor die uitlating self of die konteks daarvan (Huddleston, 2002:178). Die ongemodaliseerde John is by die huis word aangebied as feitelike inligting en as iets wat die spreker weet terwyl John moes by

die huis wees, iets is wat die spreker afgelei het en dit word slegs uitgedruk as

moontlikheid. Epistemiese modaliteit druk die spreker se gevolgtrekkings en afleiding oor ʼn sekere saak uit. Die spreker se skatting oor moontlikheid dat ʼn sekere stand van sake plaasvind of sal plaasvind staan hier op die voorgrond (Traugott, 2011:384). Die betekenisparameters moontlikheid, waarskynlikheid en afgeleide sekerheid kom binne epistemiese modaliteit voor. Vergelyk die verskil tussen hierdie betekenisnuanses en die feitelike uitdrukking Jane reads; Jane lees. Die spreker is

135 heeltemal seker daarvan dat Jane lees. Enige uitdrukking gemerk as epistemies dui die spreker se twyfel oor die uitdrukking sowel as die gegewens aan.

Die spreker se toewyding aan of geloof in die feitelikheid van die proposisie as geheel wissel in grade van sekerheid tot onsekerheid (Wärnsby, 2006:16). Bybee en Fleischmann (1995:15) het voorgestel dat die spreker se sekerheid/onsekerheid oor ʼn proposisie op ʼn skaal uitgedruk moet word. Hierdie skaal vertoon die volgende dimensies:

1. Uitdrukkings van moontlikheid wat min toewyding/sekerheid van die

spreker ten opsigte van ʼn proposisie uitdruk.

2. Uitdrukkings van waarskynlikheid wat groter spreker-toewyding aandui.

3. Uitdrukkings van afgeleide sekerheid waarin die spreker met groot sekerheid sekere redes kan aanvoer hoekom die proposisie feitelik is, byvoorbeeld:

[3.50] Jane can be leaving.

Jane kan vertrek. {moontlikheid}

[3.51] Jane may be leaving. {waarskynlikheid}

Jane mag vertrek.

[3.52] Jane must be leaving. {afgeleide sekerheid} Jane moet vertrek.

Hierdie skaal stem grootliks ooreen met Givon (1982:42) en Huddleston & Pullum (2002:178) wat die volgende grade van epistemiese modaliteit onderskei het:

1. Min/lae sekerheid: twyfelagtige hipoteses wat nie bevraagteken kan word

nie.

2. Medium sekerheid: uitdrukking is oop vir uitdaging, en sekere

ondersteunende inligting is nodig.

3. Hoë sekerheid: uitdrukkings hoef nie bevraagteken te word nie, want genoeg

136 Wärnsby (2006:26) het hierdie skaal verfyn en vier parameters in Engels geïdentifiseer waarop die spreker se toewyding aan die feitelikheid van die proposisie gemeet word. Die grense tussen hierdie parameters is diffuus en vloeibaar; sy het geen vertikale lyne aangebring nie, om sodoende aan te dui dat die grense onvas is. In haar studie oor Engelse en Sweedse modale het sy die modale hulpwerkwoorde wat epistemiese kenmerke vertoon reeds hierby verreken en dit word hier gedemonstreer maar hierdie skaal is nog nie op Afrikaanse modale hulpwerkwoorde getoets nie en sal gevolglik nog nie hierby ingereken word nie. Dit is egter ʼn waardevolle manier om betekenisse te analiseer en sal in Afdeling B tydens die analisering van elke modale hulpwerkwoord ingespan word. Wat in hierdie hoofstuk van toepassing is, is die identifisering van verskillende grade van elke tipe modaal aangesien dit aansluit by die idee dat betekenisgrense van modale hulpwerkwoorde verskil en dubbelsinnig kan wees (Kyk ook Huddleston & Pullum, 2002:178,186,188).

Moontlike Beperkte Redelike Oortuigende gevolgtrekking afleiding afleiding afleiding

may might can

could should will must

Figuur 3.4 Engels se epistemiese grade (Wärnsby 2006)

Wärnsby (2006:30) het in haar vergelykende studie tussen Engelse en Sweedse modale gevind dat Sweedse modale meer epistemiese betekenisnuanses vertoon as Engels wat slegs vier vertoon. Sweedse epistemiese modaliteit het dermate gegrammatikaliseer dat dit evidensialiteit/bewyslikheid in die vorm van hoorsê en gedeelde geloof parameters uitdruk. Die aantal modale met verskillende interpretasies is anders in Engels as in Sweeds. In figuur 3.5 word die grade wat Wärnsby geïdentifiseer het vir die Sweedse epistemiese modale aangedui.

137

Gedeelde Hoorsê Moontlike Tentatiewe Redelike Oortuigende geloof gevolgtrekking Afleiding afleiding afleiding

Figuur 3.5 Sweeds se epistemiese grade

Hierdie metode om die betekenisnuanses van ʼn tipe modaliteit te verfyn deur dit in graadparameters te verdeel, kan meer insig rondom die kategorie en ook die modale hulpwerkwoord aan bod gee. Dit is ook ʼn manier waarop dubbelsinnigheid hanteer kan word. Die kruis-linguistiese verskille tussen tale kan ook op so ʼn manier verhaal word. Hierdie graadverskille in modale sal verder in Afdeling B belig word.

In epistemiese modaliteit is kontekste waar die spreker seker of onseker is van sy/haar uitlating belangrik. Soos verduidelik lê hierdie sekerheid op ʼn skaal van laag (sprekeronsekerheid) tot ʼn mediaan of gedeeltelike sekerheid, en uiteindelik het die spreker hoë sekerheid wat verband hou met bewysende modaliteit (soos hieronder beskryf). Sekere situasies dui pertinent op ʼn spreker se onsekerheid en hierdie studie klassifiseer hierdie tipe gebruike as epistemiese modaliteit. Op grond van die skaal onseker tot hoë sekerheid val die voorwaardelike en hipotetiese telkens binne die kader van epistemiese modaliteit. Aangesien al drie hierdie betekenisse ʼn sekere graad van sprekeronsekerheid aandui, word hierdie betekenisse as epistemies geklassifiseer. Sien hierdie voorbeelde wat ook in Afdeling B herhaal word, om te demonstreer hoekom hierdie twee betekenisse as epistemiese geklassifiseer word:

Hipoteses as epistemiese modaliteit

[3.53] Die aard van tuberkulose in pasiënte, en die soort sputummonster wat hulle uithoes, mag van kritieke belang wees, dit mag verklaar waarom ons VBA-studies, ten spyte van die relatief klein getalle pasiënte, tot op hede suksesvol was. [HK 431: 2003 Natuurwetenskappe ('n Oorsig van die bepaling van die vroeë bakterisidiese aktiwiteit…)]

138 In die kollokasie van die modale hulpwerkwoord mag met wees word daar ʼn hipotese uitgedruk. Hipoteses is tipies in akademiese taal (soos gesien in hierdie voorbeeld). Hipoteses is voorlopige standpunte wat ʼn spreker huldig, maar hierdie voorlopige standpunte is onseker en eers na empiriese bewyslewering kan die standpunt bevestig word. Hipoteses is dus in werklikheid epistemiese modaliteit vanweë sprekeronsekerheid.

Voorwaardelikheid as epistemiese modaliteit

Volgens De Villiers (1971:101) is voorwaardelike sinne onseker en het dit ʼn epistemiese betekenis, aangesien dit nie spesifiek feitelike nie maar slegs moontlike gebeure uitdruk. ʼn Moontlike situasie of gebeurtenis word weerspieël maar aangesien die werklike voltrekking of uitvoering hiervan onbeslis is, bly die hele sin of konstruksie in wese voorwaardelik en epistemies. In voorbeeldsin [3.54] is die spreker onseker oor wat werklik met inflasie bedoel word in die apodosis, maar die spreker maak ʼn afleiding en druk ʼn moontlikheid uit in die protasis. Sprekeronsekerheid en moontlikheid is betekenisskakerings wat binne epistemiese modaliteit gevind word.

[3.54] As egter met inflasie bedoel word dat daar te veel geld beskikbaar is in vergelyking met goedere en dienste wat gekoop word, dan mag dit die geval wees. [HK 79: 1941 Verslaggewing (uit Die Staatsamptenaar)]

Palmer (2001) se kategorisering van epistemiese modaliteit as Proposisionele Modaliteit het ook voorsiening gemaak vir bewysende modaliteit (evidentials). Die verskil tussen hierdie twee modaliteite is dat epistemiese modaliteit die spreker se opinie of beoordeling is van die feitelike status van die proposisie, terwyl bewysende modaliteit die bewys lewer van die feitelike status. Baie teoretici, byvoorbeeld De Haan (2001), het aangevoer dat bewysende modaliteit nie in alle tale voorkom nie en nie werklik in Germaanse tale buiten Duits, Sweeds en Noors voorkom nie. Daarom sal hierdie tipe modaliteit nie in diepte behandel word nie, maar Palmer (2001) beskou dit tog as ʼn faset van Proposisionele Modaliteit en vandaar die insluiting in hierdie

139 kategorie. Palmer (2001) verwys na sensoriese en berigte modaliteite as afdelings van bewysende modaliteit, byvoorbeeld:

[3.55] One can see that you were sick.

Mens kan sien dat jy siek was. {sensoriese modaliteit} Berigte modaliteit is in Duits te bespeur.

[3.56] Er will eine Mosquito abgeschossen haben.

Daar word gesê dat hy ʼn Mosquito (tipe vliegtuig) afgeskiet het.

Wärnsby (2006:30) se onderverdelings hoorsê en gedeelde geloof vertoon tekens van Bewysende modaliteit. Of Afrikaans enigsins bewysende modaliteit onderskei, is nog nie ondersoek nie, en eers na analisering van elke modale hulpwerkwoord in Afdeling B sal die nut van hierdie tipe modaliteit vir hierdie studie beoordeel kan word.

Epistemiese modaliteit (Palmer, 2001:25) word onderverdeel in drie tipologiese

kategorieë:

(i) Spekulatiewe epistemiese modaliteit – ʼn moontlike gevolgtrekking.

(ii) Afleibaarheid – die enigste moontlike gevolgtrekking.

(iii) Veronderstelling – ʼn billike gevolgtrekking.

Verskillende grade van epistemiese modaliteit is weereens hier te sprake en die verskillende modale hulpwerkwoorde druk hierdie grade van sekerheid versus onsekerheid uit, byvoorbeeld:

[3.57] John may be in his office.

John mag in sy kantoor wees. (John kan in sy kantoor wees.)

Hierdie uitdrukking is spekulatief en die modale hulpwerkwoord may in Engels druk veral spekulasie uit. In Afrikaans word die modale hulpwerkwoord mag dikwels met

kan vervang in epistemiese gevalle, maar hierdie moontlikheid word eers ondersoek

140 [3.58] John must be in his office.

John moet in sy kantoor wees.

Die spreker is in hierdie geval sekerder van sy oortuiging en die modale hulpwerkwoord must in Engels en moet in Afrikaans druk hierdie hoë graad van sekerheid uit. Die stelling

[3.59] John will be in his office. John sal in sy kantoor wees.

is ʼn voorbeeld van ʼn billike afleiding en die modale hulpwerkwoord will in Engels en

sal in Afrikaans druk hierdie tipe epistemiese betekenis uit.

Die dimensies van objektiwiteit en subjektiwiteit binne epistemiese

en bewysende modaliteit

Nuyts (2001a:383) verwys na Lyons (1977) wat oorspronklik die dimensies van objektiwiteit en subjektiwiteit betrek het binne epistemiese en bewysende modaliteit (Proposisionele Modaliteit) parameters. Die vraag is hoe hierdie dimensies linguisties uitgedruk word. Die spreker se opinie of beoordeling van ʼn proposisie hoef nie noodwendig gesien te word as subjektief nie. Die vraagstuk hier op hande is ʼn kwessie van performatiwiteit versus deskriptiwiteit. Die performatiewe dimensies binne epistemiese modaliteit is hier op die voorgrond.

In Lyons (1997) se definisie van die dimensies van subjektiwiteit behels die spreker se subjektiewe spekulasie dat gegewens binne die proposisie waar is teenoor objektiwiteit wat ʼn objektiewe meetbare kans uitdruk dat gegewens waar is, byvoorbeeld:

[3.60] Alfred may be unmarried.

Alfred kan (mag) ongetroud wees. (In Afrikaans sal kan eerder as mag gebruik word)

Volgens Lyons (1997) kan hierdie stelling tweërlei geïnterpreteer word. Eerstens kan die spreker raai, en is hy onseker (dit is hipoteties) of Alfred moontlik ongetroud kan wees. Hierdie interpretasie is subjektief van aard. Tweedens is daar ʼn wiskundige

141 moontlikheid dat Alfred getroud kan wees indien die spreker bewus is daarvan Alfred se omstandighede dit toelaat. Alfred is moontlik deel van ʼn gemeenskap van 90 mense waarvan 30 ongetroud is, dus is daar ʼn kans van een uit drie dat hy ongetroud is – dit is objektiewe epistemiese modaliteit. Baie linguiste soos Lyons (1977) en Hengeveld (1988) onderskei gevolglik tussen twee tipes epistemiese modaliteit. Vir ʼn akkurate analise tussen hierdie twee ‘tipes’ epistemiese modaliteit sal die linguis dus meer inligting van die konteks moet hê. Mens kan redeneer dat wanneer daar meer inligting oor die konteks is, dan is dit wiskundig meer bewyslik en eerder objektief van aard en as daar minder konkrete bewyse is, dan is die uitlating meer subjektief van aard. Hierdie interpretasie is egter onvas en gevolglik het Nuyts (2001) ʼn alternatiewe metode van onderskeid gaan tref, deur eerder die dimensies as subjektiewe versus intersubjektiewe modaliteit te etiketteer. Die dimensie van intersubjektiwiteit verduidelik die taamlike sekerheid, afgelei van bepaalde gegewens en inligting beter as die objektiewe term. Intersubjektiwiteit sluit in dat die spreker meer wetenskaplik gebaseerde inligting het waarop die afleiding gebaseer is, maar dit sluit ook algemeen aanvaarde opinies in (dit is gedeelde kennis). Nuyts (2001:393-394) definieer subjektiwiteit as die spreker se formulering van ʼn hipotese oor sekere gegewens, sonder om vooraf te dink wat gesê word. Daarom is die uitlating subjektief. Die subjektiewe uitlating is nuut en betreklik verrassend vir die spreker. Intersubjektiwiteit is daarteenoor uitlatings wat gebaseer is op inligting waarvan die spreker kennis dra, dit is nie nuut of verrassend vir die spreker of aangesprokene nie. Nuyts (2001:396) dui aan dat subjektiewe uitlatings meer in gesproke taal voorkom en intersubjektiewe uitlatings eerder in geskrewe tekste voorkom. Die grense van epistemiese en bewysende modaliteit is baie vloeibaar. Nuyts (2001) beklemtoon egter dat intersubjektiewe modaliteit veral as bewysende modaliteit figureer, aangesien die spreker meer inligting en bewyse het waarop die uitlating gebaseer is. Subjektiewe en intersubjektiewe epistemiese modaliteit is dimensies waarop epistemiese en bewysende modaliteit fyner gekategoriseer kan word en dit sal vervolgens as dimensies op die semantiese kaart uitgedruk word.

142 Kortom druk epistemiese modaliteit wisselende grade sprekeronsekerheid uit. Hierdie studie gaan van die standpunt uit dat daar 5 tipes epistemiese modaliteit is wat wissel van lae sprekersekerheid aan die een pool tot hoë sprekersekerheid aan die ander pool. Die skaal wat hier gebruik word, het voorwaardelikheid as lae sekerheid aan die een kant, want die basis van voorwaardelike konstruksies is die verskeie moontlikhede en sekere voorwaardelike gegewens wat eers moet realiseer alvorens die situasie ‘werklik’ kan wees. Hipotese is al mediaan sekerheid, aangesien die omstandighede meestal binne bewese akademiese omstandighede gesitueer is en redelike hipoteses word gemaak. Bewyslike modaliteit maak gebruik van bewyse uit die samelewing, en die spreker is baie seker oor die uitspraak.

Lae sekerheid Moontlikheid Hipotese Waarskynlikheid Hoë sekerheid

Voorwaardelikheid Bewyslikheid

Figuur 3.6 Epistemiese grade (Wärnsby 2006)

Aangesien hierdie studie RKG as teoretiese raamwerk volg, sal ʼn tipiese epistemiese konstruksie soos volg daar uitsien:

143

Figuur 3.7 Epistemiese modale konstruksienetwerk (eie skema)

Hier word gesien dat die vyf basiese epistemiese modaliteitbetekenisse op die mesovlak van ʼn konstruksie lê, met talle algemene skematiese uitdrukkings wat hieraan voldoen. Die meeste, maar nie al die modale hulpwerkwoorde nie, vertoon al vyf van hierdie betekenisse. Op die mikrovlak lê elke afsonderlike modaal se spesifieke konstruksies. In Afdeling B is daar ʼn volledige bespreking oor elke modale hulpwerkwoord se konstruksienetwerke. Vervolgens ʼn bespreking oor deontiese modaliteit.