• No results found

TIPERENDE GEDRAGSPATRONE

2.3.3 Mede-afhanklikheid en grense

Grense soos gedefinieer volgens Cloud en Townsend (2002:29-54) is waar die ek begin en eindig. So 'n grens dui aan waar die individu eindig en waar die ander persoon begin en dit gee daartoe aanleiding dat elke persoon (i) eienaarskap van homself kan aanvaar en (ii) verantwoordelikheid vir homself kan neem. Grense kan beskryf word in terme van die fisieke, psigiese, geestelike en emosionele aspekte van die mens. Verskeie aspekte soos byvoorbeeld verwonding uit die verlede, swak rolmodelle, en misplaaste onderrig veral in sy primere milieu veroorsaak dat daar swak of selfs geen grense by 'n persoon bestaan nie.

Volgens Lerner kan meer duidelikheid oor die gesinsdinamika verkry word deur die bestudering van die genogram en wel deur middel van die studie van grense (vgl.

Stoop & Masteller, 1996: 103). Laasgenoemde onderskei tussen drie tipes grense, naamlik:

• Individuele grense - dit definieer wie ek as persoon is in verhouding tot ander.

• Intergeneratiewe grense - hierdie grense help om die ouers en die kinders te definieer. Wanneer hierdie grense vervaag, neem die kinders dikwels die versorgende ouerrol oor.

• Gesinsgrense - dit definieer die gesin.

Ten opsigte van bogenoemde kan daar volgens Stoop en Masteller (1996:104) drie grenstoestande voorkom, naamlik:

• Rigiede grense - hierdie soort grense is te sterk en ondeurdringbaar en kan vergelyk word met 'n muur sonder deure.

• Vae grense - mense met vae grense wyk maklik van hul standpunte af.

• Buigsame grense - is gesonde grense en is buigsaam wanneer die omstandighede dit vereis, maar nooit voortspruitend uit skuldgevoelens of omdat dit forseer word nie. Buigsame grense laat ook die "nee" van die ander party toe.

Die funksionering van grense binne die gesin het baie te doen met die betrokkenes se verhouding tot die lewe. 'n Genogram is nuttig om die tipe grense wat in die gesin bestaan te identifiseer. Volgens Kaye (2008:1) het die praktyk geleer dat mede- afhanklike persone geneig is om grensprobleme te ondervind wanneer ander persone in emosionele pyn verkeer en beskryf dit soos volg:

Children do not have clear psychological boundaries from a parent, and the sense of responsibility becomes ingrained before the child establishes those boundaries.

In die latere volwasse lewe is dit heeltemal natuurlik vir die volwasse kind om te reageer op die impulse in homself teenoor ander se pyn en die aangeleerde gedrag, om verantwoordelikheid vir ander te neem, word in die huidige situasie te herhaal.

Elemente wat volgens Cloud & Townsend (2002a: video-aanbieding) 'n rol speel by die daarstelling van grense is die volgende:

• Vel - die velgrens hou die goeie in en die slegte buite. Dit beskerm die bloed en bene, hou die fisieke mens bymekaar en hou kieme uit en beskerm die mens sodoende teen infeksie. Slagoffers van fisieke en seksuele misbruik beleef dikwels grensverwarring omdat die fisieke grense oortree is.

• Woorde - goeie beskermende grense kan deur woorde opgerig word. Die mees basiese grensomskrywende woord is "nee". Met woorde kommunikeer en bepaal jy die grense van jou eie gebied.

• Geografiese afstand - Soms is dit vir 'n persoon nodig om fisiese afstand te skep om die self te beskerm. Wanneer daar mishandeling in 'n verhouding plaasvind is dit dikwels nodig om fisiese afstand te skep om duidelike grense te stel en sodoende verandering in die verhouding te bewerkstellig.

• Tyd - om tyd af te neem uit die mishandelde verhouding, dui op eienaarskap van die "self".

. Emosionele afstand - dit is belangrik om daarop te let dat, om emosionele

afstand te skep, slegs 'n tydelike maatreel is om die hart te ondersoek en balans te herwin in 'n destruktiewe verhouding. Dit is nooit 'n permanente uitweg nie.

• Ander mense - die mees basiese behoefte van die mens is om in verhouding met ander te tree. Ander mense kan ons help om grense te stel. Vrees vir eensaamheid verhoed egter dikwels dat mense uit 'n disfunksionele (abusive) verhouding ontsnap.

• Gevolge - wanneer ander se grense oortree word, hou dit sekere gevolge in. Die nadelige gevolge van grensoortreding dui op die ems van die respek wat 'n persoon vir homself het.

Persoonlike grense is daar om ons te beskerm en daar is veral drie skatte {treasures) in die mens wat bewaar moet word, naamlik:

• gevoelens

• houdings en geloofsisteme • gedrag

Emosies speel 'n belangrike rol om die mens te motiveer en daardeur word gedrag bepaal. Wanneer daar eienaarskap van eie emosies geneem word, help dit om verantwoordelik op te tree en is 'n persoon beter in staat om deur onverwerkte emosies te werk. Houdings het te doen met ons orientasie teenoor dinge en die standpunte wat ons inneem teenoor ander, die lewe en ons werk. Gedrag het

gevolge en negatiewe gedrag het negatiewe gevolge en ons verantwoordelikheid is om dit te erken, verantwoordelikheid daarvoor te neem en om verandering te bewerkstellig (Cloud & Townsend, 2002a: video-aanbiedinge).

Volgens Cloud en Townsend (1998:58) behoort mense die vryheid te he om veilige verhoudings te geniet en destruktiewe verhoudings te vermy. Mede-afhanklikes het nie hierdie vermoe om grense te stel nie. Hulle bevind hulself gedurig in destruktiewe verhoudings. Mense met grensprobleme word beheerders genoem. Hulle kan nie ander se perke eerbiedig nie en aanvaar nie verantwoordelikheid vir hul eie lewens nie, daarom moet hulle ander beheer. Beheerders is gewoonlik mense sonder dissipline met 'n onvermoe om hul begeertes of impulse te beheer (Cloud & Townsend, 2002:60b).

Volgens Carder speel emosionele verwarring en pyn met betrekking tot grense 'n groot rol by disfunksionele gesinne (vgl. Coetzer, 2007b:10). Hierdie verwarring kan van toepassing wees op die betrokkene se verhouding met God, met ander en met homself. 'n Eie mening is dat gebrekkige grense by die mede-afhanklike vrou een van die groot oorsaaklike faktore is wat aanleiding gee tot geestelike blokkasie en stremmend inwerk op spirituele groei.