• No results found

Hoofstuk 2: Emosionele en sosiale ontwikkeling van gr, O-leerders

2.3.4 Leerteoretiese benadering

Anders as by psigoanalise berus die leerteoretiese of behavioristiese benadering op die aanname dat gedrag aangeleer word, Behaviorisme is 'n denkskool in die psigologie wat gevolgtrekkings oor menslike ontwikkeling maak op grond van gekontroleerde observasies van openlike gedrag, eerder as spekulasie oor onbewuste motiewe en ander nie-waarneembare verskynsels (Shaffer & Kipp, 2007). Daar is veral drie wyses van leer, naamlik klassieke kondisionering, instrumentele kondisionering en waamemingsleer.

• Klassieke kondisionering

Om klassieke kondisionering te verduidelik, word na die klassieke geval van Pavlov se hond verwys. Hy net 'n klokkie herhaaldelik gelui as hy 'n hond kos gegee het en die gevolg was dat die hond speeksel begin afskei het sodra hy kos gesien het. Die hond het die klokkie met die kos geassosieer en later speeksel afgeskei as hy die klokkie hoor, selfs al was daar nie kos nie (Berger, 2001).

Klassieke kondisionering vind dus plaas wanneer'n respons wat eers aan een stimulus gekoppel was, met 'n nuwe stimulus geassosieer word. In die voorbeeld van die hond is die ongekondisioneerde stimulus (voedsel) dus met die gekondisioneerde stimulus (klokkie) vervang om 'n gekondisioneerde respons te gee (Corey, 2005).

Daar is verskeie voorbeelde van klassieke kondisionering om ons. Kinders leer byvoorbeeld die name van voorwerpe deurdat 'n voorwerp met 'n spesifieke woord geassosieer word. So leer kinders ook op emosionele en

sosiale vlak deur middel van klassieke kondisionering. 'n Kind kan sekere emosies met voorwerpe assosieer, bv. vrees met water, opgewondenheid met kos of ongemak met 'n karstoeltjie.

• Instrumentele kondisionering

In instrumentele kondisionering speel die organisms 'n aktiewe rol teenoor die passiewe rol in klassieke kondisionering waarin assosiasies gemaak is. Die klassieke voorbeeld hiervan is wanneer 'n rot in 'n hok geplaas word wat so ontwerp is dat die druk van 'n hefboom veroorsaak dat voedsel in die hok val. Wanneer die rot toevallig aan die hefboom raak, sal voedsel in die hok val.

Die rot sal hierdie instrumentele handeling mettertyd meer dikwels uitvoer. Hierdie tipe kondisionering behels dus die aanleer van nuwe response, of die opskuif van bestaande response op die responshierargie (Corey, 2005).

Daar is baie voorbeelde waar die tipiese gr. 0-leerder op emosionele en sosiale vlak op die manier ontwikkel. Dink byvoorbeeld aan die kind wat sien hoe haar boetie raas kry omdat hy nie sy klere in die badkamer optel nie. Sy sal die raas wil vermy en dus haar klere optel. Ook sal die seun wat sien dat almal bly is as hy 'n nuwe woord kan lees, hard probeer om selfs nog meer woorde te kan lees. Die kind wat effens hartseer voel oor iets by die skool, sal gou van haar ouers se gedrag aflei of sy positiewe of negatiewe aandag kry deur daaroor te hull en sodoende haar gedrag aanpas in 'n volgende situasie.

• Waarnemingsleer

Waarnemingsleer of modellering behels die aanleer van gedrag deur waar te neem wat 'n ander persoon in 'n sekere situasie doen. Die effek van die model se gedrag (of dit positief of negatief beloon word) het verder ook 'n invloed op die waamemer se modellering van die gedrag (Berger, 2001).

Bandura se sosiale kognitiewe teorie (voorheen die sosialeleerteorie) is veral van toepassing op die huidige studie. Hierdie teorie is afgelei uit klassieke en instrumentele kondisionering, maar is meer kompleks omdat Bandura besef het dat mense oor die gevolge van gedrag nadink en dat hulle hulself straf en versterk (Sigelman & Rider, 2009). Hy het dus klem gele op die motiverende en self-regulerende rol van kognisie in gedrag.

In 'n eksperiment wat Bandura by 'n kleuterskool gedoen het, het hy die kinders laat kyk na video's waar 'n volwassene 'n opblaaspop met 'n stok slaan en met balle gooi. In sommige van die video's is die volwassene geprys vir sy gedrag, in ander is hy gestraf en in die laaste video het sy gedrag geen gevolge gehad nie. Nadat die kinders die video's gekyk het, het hulle in die speelkamer ooreenstemmende gedrag teenoor 'n soortgelyke pop getoon, as die video waarna hujle gekyk het. Leer deur waarneming het dus plaas,gevind (Sigelman & Rider, 2009).

Weer eens kan beide emosionele en sosiale ontwikkeling in die studiepopulasie so plaasvind. So sal die kind wat sien hoe haar ouers negatief optree teenoor mense van 'n ander kultuur, later by die skool soortgelyke gedrag toon. Die huidige ondersoeker sien oormatige blootstelling van kinders aan seksuele tonele en aggressie, onder andere op TV, as een van die grootste uitdagings van die tyd. Hierdie gedrag word so gemodelleer en later herhaal.

Hoewel Skinner niks oor die onderwerp skryf nie, kan mens aflei dat optimale ontwikkeling daarin gelee is dat die betrokke persoon gedragswyses aanleer wat horn of haar in staat stel om positiewe primere en sekondere versterkers te verkry en om aversiewe versterkers te vermy (Meyer et al., 2003).

Die belangrikheid van die leerteoretiese benadering vir die huidige studie is gesetel in waarnemingsleer. Dit is 'n baie belangrike manier om kinders se gedrag te rig en dit vind baie spontaan plaas. Miskien is dit juis die grootste

probleem met waarnemingsleer, naamlik dat daar nie baie beheer daaroor is nie en dat kinders net so maklik verkeerde gedragspatrone kan aanleer.

Die leerteoretiese benadering bied 'n bale praktiese model om die aanleer van gedrag te verstaan, maar die onderbou daarvan word nie in detail bespreek nie. Dit is dus 'n goeie teorie om in gedagte te hou in die aanbieding van die program, omdat dit praktykgerig is, maar dit gee nie dieper insig in die meganismes van hoe gedrag geevalueer word en emosies ervaar word nie.