• No results found

Hoofstuk 4: Kritiese evaluering van bestaande programme en begronding van die saamgestelde

4.4 Aanbieding van die saamgestelde program

Grobler, Faber, Orr, Calitz en Van Staden (1998) stel die volgende riglyne voor vir voorskoolse programme om maksimum voordele en stimulasie aan voorskoolse kinders te verskaf:

o Stimuleer die kind in totaliteit - fokus dus op al die aspekte van ontwikkeling, insluitend taal, emosionele en sosiale aspekte.

o Sorg vir balans in die program. Wissel aktiewe spel af met rustiger aktiwiteite.

o Bou struktuur in die program in en sorg dat elke tema op dieselfde wyse verloop.

o Behou kontak met die ouers.

> o Sorg dat die aktiwiteite stimulerend en interessant bly.

Hierdie en *n paar ander beginsels (vergelyk 4.4.2) is in die saamstel van die program nagevolg. Hierdie beginsels is deels geleen uit vorige programme, en deels ontwikkel uit ervaring van werk met jonger kinders. Die beginsels is deurentyd toegepas in al die sessies van die program om kontinuiteit te verleen. Alvorens die beginsels bespreek word, word die konteks van aanbieding aangedui.

4.4.1 Konteks van aanbieding

Alvorens na die beginsels gekyk word, is dit belangrik om die konteks van die aanbieding te verken.

• Die program is binne skooltyd in 'n klaskamer by die skool aangebied. Al die leerders was dus meestal aanwesig en reeds van vroegoggend besig met 'n formele program. Die implikasie hiervan is dat die sessies van die program dus kort moes wees en die leerders binne die skoolopset op

emosionele en sosiale bevoegdheid moes fokus. Sessies moes die leerders dus boei en terselfdertyd genoeg verskil van die daaglikse skoolaktiwiteite sodat dit treffend kon wees.

• Die program is weekliks aangebied, wat die geleentheid vir leer en oefen van vaardighede geskep het. Dit was terselfdertyd 'n uitdaging om maniere te vind om die inligting vars in die leerders se gedagtes te hou en seker te maak dat daar oordrag plaasvind.

• Die ouderdom van die leerders was 'n verdere aspek wat in gedagte gehou moes word. Hoewel die leerders reeds deel was van die eerste fase van formele onderrig, was hulle steeds jonk en moes die tipe aktiwiteite wat gekies is, hulle lank genoeg boei sodat die boodskap oorgedra kon word.

• Die program is deur 'n sielkundige aangebied, maar dit hoef nie 'n vereiste te wees nie. Die aanbieder moet genoegsame kennis van die ouderdomsgroep he en vaardig wees daarin om met die ouderdomsgroep te werk ten einde dit 'n sukses te maak.

4.4.2 Basiese beginseis van die saamgestelde program

In die lig van die konteks van die program is die volgende basiese beginseis deurentyd toegepas.

• Voor elke sessie van die program is die uitkoms duidelik uiteengesit. Dit is baie belangrik om te verseker dat die aanbieder wel met die sessie bereik wat beoog word. Uitkomste help om gerig te bly werk, veral met 'n groep deelnemers wat maar alte maklik ontspoor word.

• Met die aanvang van elke sessie is 'n paar minute vir hersiening opsy gesit. Hierdie tydjie is nie net gebruik vir vrae oor waaroor die vorige sessie gegaan het nie, maar ook oor hoe leerders dit wat hulle in die ■ vorige sessie geleer het, toegepas het. Hier het-die weeklikse briefie vir

die ouers ook 'n rol gespeel in die oordra van inligting en voorstelie hoe ouers ook hulle kinders kan help in die week wat kom.

• Daar is gebruik gemaak van stories om die tema van die sessie in te lei. Hierdie stories was beide bekende en nuwe stories wat elke keer 'n spesifieke boodskap oorgedra het, Die uitkomste aan die begin van die sessie was hier ook 'n riglyn om die gesprek oor die storie te lei. Met die vertel van die storie is daar telkens van ander visuele stimuli gebruik gemaak om die leerders se aandag te hou. Handpoppe, sagte bere, beeldjies of die prente in diestorieboek is gebruik.

• Na afloop van die storie en bespreking is 'n fisiese aktiwiteit verrig. Jonger kinders verstaan konsepte beter as hulle dit ook fisies beleef en dit so kan deel maak van hulle wereld. Dit help ook om leerders weer aktief te kry na die storie sodat hulle weer aandag kan gee en dien gewoonlik as 'n beklemtoning van die tema van die sessie of die boodskap uit die storie.

• Hoewel die leerders nog jonk is, is kort besprekings van tyd tot tyd in elke sessie ingesluit. Dit gee die leerders geleentheid om by mekaar te leer en ook om hulle sosiale vaardighede ten opsigte van klaskameretiket te oefen in 'n veilige omgewing. In die besprekings is meer leerders die kans gegee om hulle mening te lug en so sosiale selfvertroue te kweek. Die aanbieder het hier ook die bespreking gelei om die uitkoms van die sessie te bereik.

• Elke sessie is saamgevat in 'n werkkaart wat iets konkreets is wat die leerders kon huis toe neem en wat hulle kon herinner aan die uitkoms van

die sessie. Meestal is die aktiwiteit ingebou in die ouerbriefie wat die ouers 'n idee gee van wat hulle kinders in die sessie gedoen het en watter uitkoms daar vir hulle gestel was. Die ouerbriefie het die ouers riglyne gegee oor die uitkomste wat in die betrokke dag gestel was op 'n

positiewe en motiverende manier, om ouers te help om ook by die huis deel te wees van die proses.

• Elke sessie is ongeveer 60 minute, maar aanpassings kan gemaak word om die sessie 15 minute langer of korter te maak.