• No results found

Huweliksopleiding en –verryking se noodsaak gedurende die verskillende stadia

4 Die uitdagings en strategieë ook binne die sosiale, pastorale en maatskaplike

4.4 Verskeie programme het vanuit die verskillende dissiplines ontwikkel met die oog

4.4.4 Huweliksopleiding en –verryking se noodsaak gedurende die verskillende stadia

Volgens Müller (2000b:146) is daar twee oriëntasiepunte wat terapeute kan gebruik om die gesin of gesinslede (in hierdie geval huwelikspaartjies) te lei om hulle kroniek weer te gee. Müller (2000b:146) verwys in daardie hoofstuk na die ―Changing Family Life Cycle” van Carter & McGoldrick (1989). Volgens hulle is elke gesin onderworpe aan normale lewensiklusoorgange wat uniek is, maar ook ‗n effek het op die funksionering van die gesin, Een van die mede-navorsers reageer as volg:

Anrie: Dit was vir ons om te leer waarvoor om uit te kyk sodat jy nie in slaggate trap nie, en dit te probeer voorkom as jy kan, dat dit nie ‗n ―issue‖ raak nie.

Om moontlike ―slaggate‖ te probeer voorkom, is daar in die plaaslike gemeente ook ‗n huweliksvoorbereidingskursus ontwerp om ook aan die hand van die ―ontdek jou huwelik vraelys‖ voornemende egpare te help om deur insig en gesprek tot beter verstaan van mekaar en die huwelik te kom. Die uitkomste van hierdie gespreksritueel in die lewens van enkele persone wat aan hierdie program deelgeneem het, is as volg:

Tiaan: Ek het myself beter leer ken en aan goed gedink waaraan ek nog nie het nie, of nie gereeld genoeg nie, en wat dit eintlik beteken en hoe belangrik dit in die huwelik is. Merie: Ek het ‗n behoefte gehad om meer te leer, omdat ek bang en onseker oor die

toekoms is. Ek het antwoorde en riglyne kom soek – hulp kom soek om ‗n sukses van ons huwelik te maak. Ek het sekerheid en rustigheid gekry dat ek my huwelik kan laat werk en dat alle huwelike nie in ‗n egskeiding sal eindig nie.

Stefan: Ek het die gevoel gehad dat ‗n mens ‗n huwelik in God se lig moet lei, maar net ‗n vae idee gehad hoe. Die inligting en gespreksgeleenthede in die kursus het meer lig daarop gewerp. Dit maak mens eintlik ―excited‖ oor hoeveel positiewe aspekte

174

daar in die huwelik is. Ons sal daarby hou en selfs met die verrykende kennis van rituele en lewensbeplanning ‗n hoofstuk of twee bysit.

Volgens DeMaria (2008) is daar verskillende stadia gedurende die huwelik en daarmee saam verskillende ―passies‖ wat tydens daardie tyd beleef word. Sy het gedurende die werkswinkel in San Francisco die volgende stadia uitgelig:

 Passie (Voor die huwelik tot by 2 jaar). Die romantiese wittebroodstyd waarin die enigste ding wat saak maak die huweliksmaat is.

 Verwerkliking (1 tot 3 jaar). Die passie verflou en egpare begin die ware self in mekaar ontdek.

 Rebellie (2 tot 5 jaar). Die mees wispelturige periode waartydens elkeen weer terughunkering na vryheid en die uitleef van eie belangstellings.

 Samewerking (3 tot 15 jaar). Die langste periode waartydens kinders en huishoudelike verantwoordelikhede verliefde pare verander in besigheidsvennote.

 Hereniging (12 tot 20 jaar). Die leë-nes-sindroom na die besige jare.

 Ontploffing (Enige tyd). Wanneer siekte werkloosheid en familiekrisisse gebeur en dit die huwelik vir selfs maande/jare kan beïnvloed.

 Afsluiting (25 jaar en meer). ‗n Volledige vreugdevolle toppunt van ‗n lewe saam.

Prinsloo (2001:99) sluit hierby aan deur die verskeie fases van ‗n huwelik uit te lig waartydens huweliksverryking nodig is en het ook die nodige aanpassings aangedui soos wat elke fase vereis. Die fases wat veral aandag en ondersteuning verg is: (1) pasgetroudes, (2) egpare met jong kinders, (3) egpare in hulle middeljare en (4) egpare by aftrede. Gedurende hierdie fases kan egpare sukkel om van een fase los te kom en ‗n volgende in te gaan – juis vanweë die onbekendheid van die toekomstige en die veiligheid van die huidige. Waar rituele die mensdom in die verlede gehelp het om verby vasgevalde situasies te beweeg en dikwels onbekende situasies in te waag, is die fases van verhoudings nog ‗n terrein waar dit ‗n helpende rol kan speel.

Die rituele wat dikwels met egpare wat binne-in hierdie verskillende fases is, hanteer word, en ook tydens die plaaslike programme gebruik word, is (1) kom ons praat openlik oor ons huwelik, (2) die hervertel van die ontmoetingsverhaal, (3) die saamstel van ‗n verhoudingslogo wat elkeen se toekomsdroom binne een raamwerk sigbaar maak, (4) die geleentheid om belydenis en vergifnis tussen huweliksmaats te stimuleer en veral (5) geleenthede tot nuwe toewyding te skep. Ongeag die huweliksfase en –ouderdom is dit van onskatbare waarde soos dit deur etlike medenavorsers wat aan die plaaslike huweliksverrykingsprogram deelgeneem het, beleef is en in hoofstuk 6 verder uitgewerk word. Prinsloo (2001:99 e.v.) beskryf die fases as volg:

175

 Die taak om „n “nuwe” egpaar te word, is die mees komplekse en moeilikste oorgang in die lewensiklus van die gesin, en vaardighede om hierdie oorgang te kan hanteer, moet aangeleer word. Verskeie programme is daarvoor ontwikkel en onderwerpe soos die gesin van herkoms, kommunikasie, konflikhantering, seksualiteit/intimiteit, finansiële bestuur en die ontwikkeling van ‗n groeiplan vir die huwelik moet aandag kry. Die mening word gehuldig dat ‗n egpaar nooit te vroeg in hulle huwelik nuwe vaardighede kan aanleer nie.

Volgens Sollee (2000) glo jonggetroudes omdat hulle so lief vir mekaar is, alles net goed sal wees. Wanneer daar verskille in hulle lewens kom, dink hulle, hulle het heel waarskynlik die verkeerde persoon getrou. Met huweliksopvoeding moet hulle gehelp word om te verstaan dat dit normaal is om verskille te hê. Volgens navorsing is gevind dat elke gelukkig getroude egpaar ongeveer 10 onversoenlike verskille het, en die meeste daarvan het na die huwelik eers na vore gekom. Huweliksvoorbereiding sal voornemende pare help om nie ―in skok‖ te gaan met die eerste konflik of huweliksverskil nie.

 Om die huwelik in te gaan, sonder om konflik te verwag, en sonder om die vaardighede om dit te verwerk te hê, is soos om die hoogste berg te gaan klim en net te hoop jy het die nodige toerusting daarvoor.

 Richard Needham (2004:148) het eendag opgemerk dat wanneer jy trou, jy met drie persone trou, naamlik (1) die persoon wat jy dink hy/sy is, (2) die persoon soos hy/sy is, en (3) die persoon soos hy/sy geword het deur met jou getroud te wees.

Volgens Patton & Childs (1988:73) het voorhuwelikse pastorale sorg eerder ontwikkel uit die kerk se angs oor die onstabiliteit van die huwelik as instansie, as wat dit gegaan het oor die besorgdheid van die indiwidu. Voorhuwelikse sorg begin al meer te fokus op die aard van huweliksverhoudings as wat dit net inligting vir ‗n suksesvolle huwelik wil deurgee. Die doel van ‗n pastor se ontmoeting met ‗n voornemende paartjie, was om hulle gereed te maak en voor te berei op die huwelik en al die eise wat daarmee saamgaan.

Egpare met jong kinders suig op die oomblik aan die agterspeen. Prinsloo (2001:100)

meld dat daar geen inligting beskikbaar is ten opsigte van verrykingsprogramme vir hierdie fase nie. Bestaande programme het gelukkig ook waarde vir egpare in hierdie fase. Egpare moet gehelp word om hulle verhouding uit te brei sodat daar ruimte vir die kinders geskep word, sonder om hulle eie verhouding te verwaarloos. ‗n Gelukkige ervaring van hierdie tydperk laat ook ‗n diep indruk op die kinders en gee vir hulle ‗n verwysingsraamwerk van verhoudings. Hoe gelukkiger die huwelik gedurende hierdie tydperk is, hoe beter aangepas is die kinders en is die kanse dat hulle die patroon wil

176

herhaal net groter. Die teendeel is egter ook van toepassing waar kinders binne ‗n ongelukkige huweliksverhouding grootword, hierdie patroon of herhaal word of totaal anders toegepas word.

 Sollee (2000) berig dat die meeste kundiges weet wat gereeld in huwelike gebeur, en kan egpare daarvoor gereed maak. Wanneer egpare nie toegerus die verskillende stadia van hulle verhouding ingaan nie, kan hulle so maklik vasval en verkeerdelik mekaar, die skoonouers, die huwelik, ens. blameer en ‗n anders perfekte huwelik vir al die verkeerde redes verlaat.

In my ervaring met paartjies wat wil trou, wou net een uit elke tien persone hulle ouers se huweliksvoorbeeld navolg. Indien daar nie tydens hierdie fase aan die intieme verhouding tussen huweliksmaats aandag gegee word terwyl die kinders nog jonk is nie, gaan die invloed daarvan wel ervaar word wanneer die eise van ouerskap afneem en die huweliksmaats weer na jare slegs mekaar as geselskap het.

Dit gebeur dikwels dat egpare in hulle kinders belê en mekaar verwaarloos. Huwelike ly nie noodwendig daardeur skade nie, maar daar was geen verdere groei nie. Prinsloo (2001:101) voer aan dat huweliksverryking tydens hierdie lewensfase noodsaaklik is, omdat mense vandag ‗n hoër lewensverwagting het en dus langer getroud kan wees. Hierdie verlengde huwelik kan in ‗n nagmerrie ontaard indien dit nie gedurende die onderskeie lewensfases verryk is nie. Tradisionele rolverdeling het verander en verryking se taak is juis om egpare te help om in mekaar se verwagtings te voldoen, en hulle te lei tot vervullende rolverdelings. Indiwiduele en gesamentlike groei kan deur positiewe benutting van die veranderinge verkry word.

 Huweliksverryking kan die geleentheid skep om die veranderinge te omskep in ‗n wins en tot voordeel van die huweliksverhouding. ‗n Gelukkige en bevredigende huwelik is ‗n teenvoeter vir eensaamheid. Prinsloo (2001:102) haal Lauer & Lauer (1986:383) aan wat drie faktore uitlig wat huwelikspare tydens hulle middeljare se huwelike kan laat slaag. Volgens hulle is (1) toewyding aan mekaar, (2) kameraadskap en (3) kwaliteit- omgee vir mekaar ‗n vereiste.

Wanneer egpare se kinders die huis verlaat, trou, en op hulle beurt weer kinders kry, moet daar nuwe verhoudings ontwikkel. Huweliksverhoudings moet her geëvalueer word en die verhouding met die volwasse kinders moet aangepas word. Skielik kom skoonfamilie in die prentjie en die alleenbeheer oor die kinders val weg. Siekte en dood van familielede word al meer ‗n realiteit. Kry egpare dit nie reg om tydens al hierdie aanpassings nog steeds op mekaar te fokus en saam daarby aan te pas nie, lei dit dikwels tot verwydering en later egskeiding. ‗n Derde party kan in hierdie fase ‗n groot rol by huweliksverbrokkeling speel.

177

Om voornemende en reeds in die eg verbinde huweliksmaats te help om so gemaklik moontlik deur die fases van die huwelik te gaan, is daar tydens die program pare van verskillende huweliksouderdomme gebruik en is hulle aan dieselfde materiaal, geleenthede en rituele blootgestel. Vir almal was dit ‗n verrykende ervaring en ‗n moet vir egpare, want elke nuwe huweliksfase vereis nuwe aanpassings. Volgens Müller (2000b:149) behels die meeste veranderings ‗n mengsel van avontuur en verlies. Dit gaan gepaard met ambivalensie en paradoksale ervaringe. ‗n Medenavorser wat aan die plaaslike inrigting van ‗n huweliksverrykingsprogram deelgeneem het, beskryf ‗n gevoel van verlies wat met die tyd saam gekom het.

Koos: Ons beland maar in ‗n groef, gaan elke dag werk toe, maak kinders groot, op die ou end beweeg mens eintlik weg van mekaar af en ken mekaar op die ou end nie meer nie. Na tien jaar is alles weg, die kinders uit die huis uit en het jy niks meer vir mekaar te sê nie, of om voor te lewe nie. Hierdie kursus laat jou net weer na die fondament terugkeer en sê: ―Kom ons begin weer van vooraf.‖

―Koos‖ se ervaring verwoord die algemene tendens binne verhoudings wat met soveel drome begin het, maar deur die alledaagse sleur van die lewe ingesluk is. So dikwels land verhoudings in ‗n roetine sonder vreugde en in gewoontes sonder emosionele bevrediging. Wanneer die gedagte van doelwitgerigte huwelike na vore kom, is dit juis om saai, verbeeldinglose verhoudings deur beplande gebeurtenisse lewenskragtig te maak. Dit is hier waar rituele ‗n verkwikkende rol kan speel. In hoofstuk 5 word meer aandag daaraan geskenk.

Veranderinge in ‗n gesin kan sowel welkom as onwelkom wees, komies en tragies. Indiwidue bly nie staties nie en daarom kan die huweliksverhouding ook nie staties bly nie. Daar is geen manier om die veranderinge van die lewe te vermy nie. Wat die verskil maak, is ons reaksie daarop. Huweliksverryking hoef nie eenmalig in ‗n egpaar se getroude lewe voor te kom nie, maar moet verkieslik herhaal word vir die gewenste effek soos ‗n mede-navorser tydens die plaaslike inrigting van ‗n huweliksverrykingsprogram opgemerk het:

San: As jy vyf jaar getroud is, is jy nog nie bekommerd oor die gesin nie, maar as jy tien jaar getroud is, is daar ‗n gesin – kinders – en jy bekommer jou oor wat die invloed van die kinders op die huwelik is. Dit is vir my moeilik om te sê wat kort, want dit hang af in watter vlak van huwelik jy is. By ons was die vraag, hoe hanteer jy konflik, dissipline in die huis. Soos ek teenoor die kinders opgetree het en soos hy teenoor die kinders opgetree het, het ons met mekaar laat bots en dit het op die huwelik ingewerk.

178

―San‖ verwoord die onmagtigheid van ‗n huweliksmaat wat reeds konflik beleef het rondom die grootmaak van kinders. Wanneer hoofstuk 5 oor die sewe gewoontes vir gesonde gesinne berig, word gepoog om hierdie vrese en angs met vernuwende rituele en simbole te verryk.

Volgens Lamanna & Riedmann (1991:41) het mense, anders as in die verlede, al minder voorspelbaar begin word. ‗n Familie ontwikkel in die rigting van die keuses wat die egpaar binne die gesin maak. Elke besluit wat die een huweliksmaat maak, het ‗n invloed op die funksionering van die ander een. As die basis en waardesisteem van hierdie twee indiwidue dieselfde is, sal die effek kleiner wees as wanneer die basis en waardesisteem grootliks verskil. Mede-navorsers het die volgende opgemerk na afloop van ‗n toerustingsgeleentheid in die plaaslike verrykingsprogram:

Hanno: Al is ek nog steeds dieselfde mens, nie dramaties anders as voorheen nie, het daar tog baie by my verander. As groot krisisse sou kom, sal ek dit nou makliker kan hanteer as voorheen. Ek verstaan die anderkant van ‗n saak makliker as voorheen en is meer inskiklik.

Friena: Die program het ons geleer om dinge uit te sorteer en uit te praat. Daar is baie goed wat ons nou anders begin doen en dit werk. Ons sou swakker gewees het sonder die kursus.

Hanno: Ek erken dat ek nie so maklik Friena se siening van ‗n saak sou insien nie, wat sou beteken dat ons oor netelige sake baie sou vassit. Ek besef nou gouer Friena se behoeftes, waaraan ek aandag kan gee – vroeër sou ek nie so daarop gesteld gewees het nie.

Binne die verrykingsprogram het hulle die geleentheid gekry om vir mekaar weer ‗n liefdesbrief te skryf, ‗n verhoudingslogo uit te werk en het mekaar deur die knieskyfsessies beter leer ken. Hulle het die geleentheid tot vergifnis gebruik om die seer van hulle verhouding en lewe af te handel. Gedurige ontwikkeling en verandering in die twee indiwidue se lewens veroorsaak dat die huweliksverhouding nie sorgvry kan wees nie, maar van tyd tot tyd vernuwend by mekaar moet aanpas.

By redelik gesonde huweliksverhoudings kan programme basiese potensiaal en sterk punte ontwikkel. Hierdie groei-basis het weer tot gevolg dat enige huweliksverbrokkeling gekeer word. Die klem van verryking bly val op die verhoging van emosionele en interpersoonlike bevrediging en om sterker huweliksbande en ‗n gesonde gesinslewe te bewerk. Hierdie verryking kan volgens Lamanna & Riedmann (1991:41) op drie vlakke plaasvind, naamlik:

179

 Primêre voorkoming – waar doodgewone gesonde huwelike versterk word en vaardighede aangeleer word vir ‗n bevredigende huwelik. Huweliksverryking is vir hierdie vlak ontwerp.

 Sekondêre voorkoming – waar die huwelik alreeds seergekry het en enige verdere agteruitgang gekeer word. Huweliksberading kan hier ‗n rol speel.

 Tersiêre voorkoming – waar die dele van die verhouding reeds onherstelbaar seergekry het en daar gepoog word om die effek van die seerkry op ander terreine van die verhouding te beperk. Egskeidingsberading is hier noodsaaklik, ook om toekomende herhaalde verhoudingsmislukkings te voorkom.

Huweliksverryking, verandering of aanpassings gaan hand aan hand. Daar vind deur verrykingsprogramme ook verskillende ordeveranderinge plaas. Volgens Hunt et al. (1998:13) vorm die herformulering van ‗n voorheen negatiewe gesprek die eerste-orde- verandering. Hier speel die raadgewer ‗n groot rol. Die tweede-orde-verandering vind plaas wanneer die paartjies glo verandering is moontlik en ook weet wat dit van hulle gaan vra. Die begeerte tot verandering speel hier die groter rol en eie vaardighede word gemobiliseer. Die terapeute se rol verklein. Derde-orde-verandering vind plaas wanneer egpare toelaat dat die verrykingsprogram hulle help om hulle verledeverhaal deur te werk en mekaar in ‗n nuwe lig te laat sien, die verlede se seer af te handel en nuut saam ‗n toekomspad te begin stap met een begeerte: om elke oomblik geluk in die verhouding te genereer.

Werklike verandering (tweede- en derde-orde-kubernetika) vind nie oornag plaas nie, maar bly ‗n proses. Volgens Müller (2000a:103) is dit terapeute/leiers se taak om ‗n situasie te fasiliteer waarin daar ‗n dinamiese beweging is na die ―better things which are ahead‖, om ‗n situasie te skep waarin daar gedink, gepraat en verbeel kan word. Om te droom is egter nie genoeg nie, daar moet ook werkbare strategieë wees en die volgende drie reëls is belangrik:  Aanmoedig (Hang on!)

 Versterking (You‘re doing fine!)

 Herinterpretasie van die storie (… ahead of your time!). (Müller, 2000b:136)

Volgens Müller (2000a:98) moet daar ook ‗n gehoor ontdek of geskep word wat ―applous‖ kan gee vir die nuwe identiteit en die nuwe storie wat besig is om te ontwikkel. Sake moet so gereël word dat die sosiale omgewing op ‗n manier ter ondersteuning ingespan word. Lester (1995:15) verwys na Ernst Bloch wat sê dat hoop wat in die huidige ontwikkel word, ons met ons verlede verbind en ons dwing na die nog nie gerealiseerde horisonne van die toekoms. Lester beskryf dit as volg:

―We will find that hope, although rooted in the past and acted out in the present, receives its energy from the future.‖ (Lester, 1995:15)

180