• No results found

Die verduisterde toekomsverhaal

4 Die uitdagings en strategieë ook binne die sosiale, pastorale en maatskaplike

4.2 Die verduisterde toekomsverhaal

‗n Verlede wat nie beskikbaar is nie, is die boustof wat ontbreek met die oog op die konstruksie van die toekomsverhaal. Müller (2000a:111) gaan voort deur te sê dat wanneer die verlede so pynlik ervaar word dat dit onmoontlik is om daaroor te praat, dit as die ontbrekende boustof vir die toekomsverhaal funksioneer. Die terapeutiese situasie behoort die sekuriteit te verskaf waarbinne iemand so ‗n verledestorie kan vertel. Wanhoop ontstaan wanneer mense een of ander versteuring met betrekking tot hulle toekomsperspektief beleef, wanneer hulle aan die einde van hulle pad gekom het en nie meer ‗n sinvolle toekomsperspektief het nie. Volgens Lester (1995:1) is mense baie meer bekommerd oor

148

hulle toekoms as hulle verlede, daarom die noodverhaal as daar nie ‗n duidelike toekoms is nie. Dit is egter nie altyd binne ‗n pastorale gespreksituasie so duidelik nie, omdat mense nie maklik oor hulle vasgeloopte of verduisterde toekomsverhale praat nie. Volgens Müller (2000a:94) is dit dikwels die mislukkings in mense se verlede wat hulle toekomsverhale verduister en met wanhoop vul. Mense in nood praat ook nie maklik oor hulle toekoms wat verduister is nie, omdat hulle lewensverhaal so deurdrenk is met die pyn en wanhoop van hulle vasgeloopte verhaal, en omdat hulle kwesbaar is. Hulle besef ook nie altyd dat hierdie verhaal van wanhoop direk verband hou met ‗n verduisterde toekomsperspektief nie.

Hierdie vasgeloopte verhaal gee volgens Müller (2000a:6) inhoud aan die noodverhaal, juis omdat nood ontstaan wanneer menslike ervarings ‗n vernietigende verhaal van wanhoop word wat nie sinvol na die toekoms wil deurvloei nie. Wanneer hierdie noodverhaal binne perspektief geplaas word, kan dit weer hoop vestig en die mens tot ‗n beter verstaan van sy eie lewensverhaal kom. Deur jou storie te vertel, struktureer jy volgens Müller (2000a:114) jou werklikheid en jou verledestorie word ook beïnvloed deur die antisipasie van die toekomsstorie. ‗n Mens se werklikheidservaring word gestruktureer deurdat die persepsies van die verlede en van die toekoms op ‗n besondere manier met mekaar in verband gebring word. Müller (2000a:114) haal H.R. Niebuhr (1963:92) aan wat dit duidelik stel:

―The past and the future are the no-longer and the not-yet; they are extensions of the present. They are the still-present and the already-present ...‖

Met hierdie studie is die proses van huweliksverryking gekies as die veilige ruimte waarbinne diskoerse ontmasker kan word, en rituele as die hulpmiddel tot die oorgang van toekomsloosheid tot hoop.

4.2.1 Die narratiewe metodologie se bydrae tot die beter verstaan van mense se stories

Baie strepe maak ‗n prentjie, maar net as dit noukeurig bymekaar gevoeg word – anders bly dit ‗n gekrap. Die buitelyne van ‗n prent gee ‗n idee van wat dit moet wees, maar laat ruimte vir baie detail om bygevoeg te word sodat ‗n baie duideliker beeld gevorm kan word. So beleef mense baie dinge wat die verhale (strepe) in hulle lewens word. Wanneer dit nie noukeurig bymekaar gevoeg word nie, is dit ‗n deurmekaarspul („n verduisterde verhaal) en maak niks sin nie. Hierdie verhale kan egter ‗n baie mooi prent word, as dit met geduld en noukeurigheid strepie vir strepie (verhaal vir verhaal) ontdek en in posisie geplaas („n verbeelde

toekomsverhaal) kan word.

Binne-in elke verhaal is daar ‗n spanning tussen dít wat in die hede ervaar word enersyds en die verlede en die toekoms andersyds. Volgens Freedman & Combs (1996:43) is mense en

149

stories sinoniem. Vanaf geboorte is elkeen deel van ‗n storie en die historiese of sosiale konteks waarin elkeen staan, bring gebeure in herinnering of laat iemand sekere dinge verswyg. Sosiale konstruksionisme ontbloot die verhalende aard van die menslike lewe. Die sosiale proses waarvolgens kennis ontwikkel, word hier beklemtoon. Indiwiduele stories is gedurig ingebed in die stories van die gemeenskap en die betekenis daarvan word deur taal toegeken. Elke storie word verstaan binne die groter storie van jou lewe. Deur middel van sosiale konstruksionisme soek ons as narratiewe navorsers (ook as pastors in ‗n terapeutiese situasie) na die persepsies, denkraamwerke en verwysingsraamwerke waaruit mense se lewens opgebou word om hulle te help om hulle lewensverhaal of krisisverhaal beter te verstaan.

Die narratiewe metafoor help ons om mense se lewens as stories of verhale te beleef en saam met hulle daardeur te werk, sodat hulle lewens deur hierdie herleefde stories weer betekenis en ‗n gevoel van tevredenheid kan kry. Larner (1998:551) sê mense word vasgevang in patrone van herhaling en verbeel hulle dat hulle die keuses en standpunte van die verlede moet herhaal en kry dit nie reg om anders te kies en so ‗n nuwe storie te skep nie. As terapeute bly dit belangrik om mense te help om hulle eie toekoms / bestemming te kan beheer en hulle te help om te onderskei tussen noodlot en die vryheid om ander keuses te maak. Deur dekonstruksie moet die ou waardesisteem (verduisterde toekomsverhaal) ―herskryf‖ word en die gespreksgenoot gehelp word om ‗n nuwe waardesisteem (verbeelde toekomsverhaal) te konstrueer. Larner (1998:554) haal Tinder (1981:124) aan wat sê: ‖One lives out of the past and into the future,‖ en wys juis op die noodsaaklikheid van herinterpretasie om die siklus van mislukking en hopeloosheid te breek en nuwe toekomsperspektiewe oop te maak.

4.2.2 Die narratiewe metodologie help diskoerse ontmasker en help mense om hulleself en hulle verhoudings te oriënteer en te evalueer. Verduisterde verhale blyk uit verskeie onderhoude

Mense is gedurig besig om hulleself binne ‗n samelewing te posisioneer en in die proses realiteite (negatief of positief) vir hulleself te skep. So het gemeenskappe gesamentlike beelde, perspektiewe, taal, idees, reëls, godsdiens, wette, kultuur, gewoontes en gebruike geskep wat hulle help om in harmonie met mekaar te leef. Hierdie begrippe is met verloop van tyd gevorm en het stelselmatig deel van hulle leefwêreld geword. Elke verhaal wat vertel word, verteenwoordig ‗n worsteling hiermee in denke, dade en besluite. Daar moet gefokus word op die invloed van hierdie prosesse op die mense se lewens. ‗n Samelewing ontwikkel gou ‗n stel reëls, opvattings, stories, verwysingsraamwerke en standpunte wat hulle lewensinstelling bepaal. Hierdie sosiale diskoerse vorm die raamwerk waarmee mense hulle

150

wêreld interpreteer en betekenis gee aan dit wat met hulle gebeur. Mense se lewens word meestal deur hierdie diskoerse beheer of gereguleer en so word daar gereeld nuwe, verhelderende of verduisterde stories bygevoeg.

Volgens Larner (1998:563) vertel mense altyd hulle stories binne die konteks van ander mense se stories en ontwikkel in die proses ‗n selfbewussyn en selfrefleksie. Hierdie sien van jouself vorm die raamwerk waarmee mense hulle wêreld interpreteer en betekenis gee aan dit wat met hulle gebeur. Hierdie diskoerse (verwysingsraamwerke) het gewoonlik ‗n positiewe of negatiewe effek op mense se lewens en so word daar gereeld nuwe stories bygevoeg. Die raamwerk waarvandaan mense leef, word duidelik uit die volgende onderhoud wat na afloop van ‗n huweliksverrykingsprogram met die mede-navorsers gevoer is. Die mede-navorsers se name is deurgaans fiktief ter wille van hulle beskerming en anonimiteit (vgl. 4.6 vir ‗n verduideliking van die manier waarop die plaaslike inrigting van ‗n huweliksverrykingsprogram by hierdie studie betrek is).

Navorser: Watter huweliksbeeld kry julle uit die wêreld?

Koos: As ‗n mens kyk hoeveel egskeidings daar in die wêreld is en hoeveel ongehude kinders gebore word, lyk dit asof net 20% van alle huwelike suksesvol is. Kyk mens na die wêreld, is daar dus ‗n groot probleem met die huwelik.

Aletta: Ja, jy hoor ook elke dag by die kinders hierdie een se ma is geskei en hierdie een se pa is..

Koos: Dit is vandag net te maklik om te skei. Mense het nie die deursettingsvermoë om dit te maak werk nie. Dit is net te maklik om dit te laat gebeur. Elke man en vrou kan deesdae onafhanklik ‗n beroep bedryf en is nie van mekaar afhanklik nie. Aletta: Ja, in die ou tyd toe ‗n vrou van haar man afhanklik was, was dit moeiliker om te

skei – daar was nie soveel opsies nie. Navorser: Waar het julle ‗n beeld van ‗n huwelik gekry?

Aletta: Koos het gelukkig ‗n goeie voorbeeld gehad, maar ek het net geweet myne moet anders wees.

Koos: ‗n Mens gaan half onkundig daarin. Ek dink mens moet hierdie verrykingskursus doen voor jy in die huwelik tree.

Aletta: Jy moet hierdie huwelikskursus eers slaag voordat jy mag trou.

Koos: Die mense gaan met ‗n verwronge idee van die huwelik in die huwelik in met ‗n valse hoop of voorwendsel en weet nie eintlik waaroor dit gaan nie. Wanneer dinge skeefloop is dit so maklik, kom ons skei dan maar, dan is alles weer normaal.

Aletta: Toe ons hier in Middelburg gekom het, en ons hoor van ‗n huweliksverrykingskamp, het my familie gedink dit is ‗n skande – amper soos wat

151

jy ‗n sielkundige gaan sien – daar‘s fout. Dit is net die wat regtig desperaat is, hulle woon sulke kampe by. Dit is die idee wat hier rondgaan.

Müller (2000a:10) vertel dat mense nie net vir interessantheid of vermaaklikheid stories vertel nie, maar dat die grein van die lewe deur verhale blootgelê word. In ons verhale ontdek ons nie alleen ons identiteit nie, maar bou steeds aan ons identiteit. Daar bestaan nie meer net een manier hoe ‗n huwelik moet funksioneer nie en mense het nie meer vandag ‗n idee hoe huwelike moet lyk of werk nie en goeie rolmodelle of verwysingsraamwerke bestaan nie meer nie.

Navorser: Lize, jy sê jy het baie storieboeke gelees … waar het julle idee van ‗n huwelik vandaan gekom?

Lize: My ma en my pa. Hulle is baie gelukkig getroud en ek het altyd gedink dit is ―nice‖. Hulle het nooit voor ons baklei nie – ek is seker hulle het hulle verskille gehad, maar hulle was vir my ‗n voorbeeld.

Manus: My ma-hulle is geskei toe ek nege jaar oud was en as ek sê ek het my pa een keer gesien stryk of skottelgoed was, dan moet ek jok. Miskien sal dit goed wees as hy nou begin. Elkeen het maar sy eie rol gehad. Wat liefde en God betref het ek maar later bygeleer, want ons het nie regtig kerk toe gegaan nie.

Lize: Ons het eintlik uiteenlopende sienings van die huwelik gehad en nooit regtig daaroor gepraat voordat ons getroud is nie.

Soveel verwarring en misverstande, verwagtinge waaraan nie voldoen word nie, en teleurstellende verhale bestaan oor die huwelik, dat daar ingrypend na die funksionering daarvan binne die hedendaagse samelewing gekyk moet word. Huweliksopleiding (omdat gesonde huweliksvoorbeelde ontbreek) word deur die navorser as die beste instrument beskou om hierdie problematiek te hanteer, en daarom word daar in hierdie hoofstuk gefokus op die waarde en rol van huweliksverryking as ruimte waarin die verduisterde verledeverhaal nie net van huwelikslewe nie, maar ook van gesinslewe reggestel kan word.

4.3 Perspektiewe uit die aangrensende wetenskappe vir die hantering van die