• No results found

Navorsingsontwerp en metodologie

4.3.2 Die gevallestudie

Meer spesifiek word daar van ‘n instrumentele gevallestudie as navorsingsontwerp gebruik gemaak omdat die doel van hierdie studie verduidelikend is van ‘n probleem wat die navorser interesseer. “Deur die probleem te ondersoek, kies die navorser ‘n geval of

gevalle en word teorie geskep of getoets in die werklike situasies van die geval” (De

Vos, Strydom, Fouchè & Delport, aangehaal deur Joubert, 2016:141). Omdat hierdie studie by uitstek poog om die beleid ten opsigte van assessering vir die identifisering van leerhindernisse binne die inklusiewe skoolsisteem na te speur deur kennis te genereer vanuit ‘n induktiewe beredeneringsraamwerk, is ‘n instrumentele gevallestudie gepas. Lombard (2016:9) bevestig dat as die interpretasie van werklikheidsgebeure voorop staan, ‘n kwalitatiewe benadering tot navorsing gebruik moet word waar die klem

dan val op ‘n induktiewe werkswyse met die oog daarop om die ontluikende eienskappe van ‘n bepaalde verskynsel te identifiseer en beter te begryp. Spesifieke gevalle word dus bestudeer om moontlike patrone te identifiseer wat van toepassing gemaak kan word op ‘n groter eenheid.

Volgens Joubert (2016:131) is ‘n gevallestudie ‘n geskikte navorsingsontwerp om die “hoe” en “hoekom” tipe vrae van dit wat nagevors word te beantwoord. ‘n Gevallestudie is as navorsingsontwerp gekies omdat dit soos beskryf deur Joubert (2016:133) - makliker “beheerbaar” is. Beheerbaarheid verwys na die hoeveelheid data wat ingesamel moet word om die studie geldig en betroubaar te maak. Met ‘n gevallestudie hoef daar nie soveel data ingesamel te word soos met kwantitatiewe ontwerpe nie, maar dit is steeds uitdagend en kompleks. Omdat konstruktivisme die paradigmatiese begronding van die gevallestudie is, word die realiteit of waarheid as relatief beskou (Joubert, 2016:134). Die persepsies van die navorser is dus subjektief sonder om objektiwiteit te verwerp en die realiteit of waarheid word gekonstrueer in verhouding met die deelnemers. Die navorser se persepsies asook die deelnemers se persepsies sal interpretivisties benader word om sodoende tot ‘n gevolgtrekking te kom binne die geslote sisteem van die primêre skoolkonteks waarin die navorsing gedoen word.

Die studie behels ‘n geslote sisteem van een primêre skool in Limpopo asook ‘n klein aantal gevalle, naamlik 15 leerders en 7 onderwysers; derhalwe is ‘n gevallestudie waarskynlik die beste ontwerp om te kies. Joubert (2016:134) stem hiermee saam deur Cohen, Manion en Morrison aan te haal: “’n Gevallestudie is ‘n enkele moment in aksie,

binne ‘n geslote sisteem”. Mouton (aangehaal deur Joubert, 2016:134) skryf ook - “...gevallestudie (is) as ‘n studie wat kwalitatief van aard is met die doel om ‘n in-diepte beskrywing van ‘n klein hoeveelheid (minder as 50) gevalle te gee”. Verder beskryf

Merriam (aangehaal deur Joubert, 2016:134) ‘n gevallestudie as ‘n eenheid, ‘n proses, ‘n produk en ‘n genre. Met eenheid word bedoel die geïdentifiseerde geval wat in hierdie studie verwys na 15 leerders en 7 onderwysers in ‘n primêre skool in Limpopo. Die proses verwys na die manier of stappe wat gevolg is om die geval te bestudeer. In hierdie studie was die stappe soos volg:

v Literatuurstudie

v Gevolgtrekkings vanuit literatuur

v Leerders met hindernisse tot leer is by die navorser aangemeld en ingeligte toestemming vir die empiriese deel van die navorsing is verkry

v Standaard toetse is uitgevoer in terme van SA

v Leerders voltooi vraelyste met betrekking tot die standaard toetse v Intervensie en heronderrig begin

v Dinamiese assessering is uitgevoer

v Leerders voltooi vraelyste met betrekking tot DA v Onderhoude word gevoer met leerders

v Onderwysers analiseer die standaard toetse en die dinamiese assesserings en vul ‘n vraelys daaroor in

v Onderhoude word met onderwysers gevoer v Data word geanaliseer, en

v Induktiewe gevolgtrekkings word vanuit die data gemaak.

Die produk verwys na die interpretasie van die data wat vanuit ‘n interpretivistiese hoek beskryf sal word. Die genre word deur Merriam beskou as die tipe teks wat aangebied word met eiesoortige karaktereienskappe en ‘n spesifieke doel. Die doel van hierdie studie is beskrywend en die taalgebruik sal dus beskrywend aangebied word wat inpas by ‘n verhandeling wat deur akademici gelees word.

Die keuse van ‘n gevallestudie as navorsingsontwerp is gedoen met die gedagte van ‘n in-diepte ondersoek enersyds na die huidige inklusiewe sisteem vanuit ‘n postmoder- nistiese perspektief - en andersyds om DA as alternatief te ondersoek vir die identifisering en assessering vir leerders met leerhindernisse om leemtes in die huidige inklusiewe onderwyssisteem aan te spreek. Joubert (2016:135) gee riglyne vir die oorweging van ‘n gevallestudie. Die onderstaande het die oorweging van ‘n geval- lestudie as navorsingsontwerp gelei:

v ‘n Omvattende beskrywing en verduideliking van die fenomeen wat ondersoek word is noodsaaklik asook die verhoudinge en konteks wat deur sosiale en politieke faktore beïnvloed is en steeds word.

v ‘n Algemene probleem binne die beperking van die gevalle word ondersoek. v ‘n Teorie of teorieë wat reeds uit die literatuur afgelei is en relevant tot die studie

is - kan getoets word.

Joubert (2016:136) verduidelik ook dat ‘n gevallestudie voordele sowel as beperkinge inhou wat die navorser in gedagte moet hou by die keuse van hierdie navorsing- sontwerp. Voordele van ‘n gevallestudie en hoe dit verband hou met hierdie spesifieke studie word hieronder uiteengesit.

v Veelsydigheid. “‘n Gevallestudie-ontwerp is veelsydig wat die keuse van die

geval, die geval se omvang en die metodologie betref” (Joubert, 2016:136). In

hierdie studie was veelsydigheid baie belangrik omdat daar nie presies bepaal kon word hoeveel deelnemers bereid sou wees om deel te neem aan die studie nie. Die metodologie moes ook aangepas kon word juis omdat DA ‘n dinamiese proses is en nie presies dieselfde uitgevoer kan word by elke deelnemer nie.

v In-diepteondersoek. “Die in-diepte-ondersoek van die geval sal die navorser die

geleentheid bied om die uniekheid en kompleksiteit van die geval te ondersoek met die oog op die verstaan van die geval in totaliteit en die verhoudinge wat betrekking op die geval mag hê” (Joubert, 2016:136). ‘n In-diepte-ondersoek was

uiters belangrik vir hierdie studie juis omdat hindernisse tot leer nie slegs intrinsiek is nie, maar deur sosiale en omgewingsfaktore beïnvloed word. Hierdie standpunt hou ten nouste verband met beide die sosiaal-kulturele asook die bio-ekologiese sisteemteorie en is een van die belangrikste faktore wat in ag geneem is by die keuse van die gevallestudie-ontwerp. Vanuit hierdie in-diepte ondersoek kan intervensie-optrede of -aksies voorgestel word en sluit aan by die doel van ‘n empiriese studie soos deur Mouton gestel (aangehaal deur Lombard, 2016:26).

v Bestuurbaarheid. “Die enkele fokus van ‘n gevallestudie is grotendeels makliker

om te bestuur as byvoorbeeld ‘n grootskaalse ondersoek” (Joubert, 2016:136).

Omdat die navorser ‘n beginnernavorser is, is dit waarskynlik nie wys om te begin met ‘n grootskaalse ondersoek nie en het die hoeveelheid data wat nodig is vir ‘n gevallestudie dit makliker gemaak. Bestuurbaarheid as voordeel het dus die oorweging van ‘n gevallestudie as ontwerp beïnvloed.

Beperkings van ‘n gevallestudie en hoe daar gekompenseer is daarvoor in hierdie studie, word hieronder uiteengesit.

v Gehalteversekering. Volgens Nieuwenhuis (aangehaal deur Joubert, 2016:137) is die vooroordeel van die navorser ‘n belangrike aspek wat die gehalte van die studie kan benadeel. Tydens hierdie studie het die navorser veral daarop gelet om geloofwaardig te wees. Die persepsies van die navorser is dienooreenkomstig getoets aan die persepsies van die deelnemers asook bewyse vanuit die literatuur. Omdat hierdie studie oorwegend vanuit ‘n postmoderne perspektief geskryf is beteken die volgende aanhaling baie om die betroubaarheid van hierdie studie te bevestig. “Geloofwaardigheid neem in ag

dat daar nie ‘n enkele of finale waarheid is nie, omdat navorsers verskillend na die wêreld, die realiteit en kennis kyk” (Seale, aangehaal deur Joubert,

2016:138). Die navorser het dus gelet op die divergensie van realiteit omdat daar ‘n verhouding tussen die navorser en die deelnemers is en hulle mekaar kan beïnvloed. Verder sal geloofwaardigheid versterk word deur die volledige beskrywing van kriteria wat gebruik is by die kies van die deelnemers asook die bewyse van die in-diepte bestudering van die gevalle. Die data sal so eerlik en logies as moontlik geïnterpreteer en weergegee word. Oordraagbaarheid verwys na die veralgemening van bevindinge. Hierdie kriterium is egter moeilik in gevallestudies omdat bevindinge in narratiewe beskryf word en die leser self die oordraagbaarheid moet bepaal. Omdat daar in ‘n kwalitatiewe benadering nie ‘n absolute waarheid bestaan soos in kwantitatiewe studies nie, is die resultate nie veralgemeenbaar nie en is die doel van die studie eerder om ideologiese kennis te ontwikkel. Bevestigbaarheid is volgens Joubert (2016:137) die volgende aspek

van kwaliteitversekering en sluit aan by oordraagbaarheid. Die navorser het konstant self-refleksie gedoen ten opsigte van persepsies asook die navorsingsmetodologie. Die betroubaarheid van die studie is aan die hand van die volgende aanbevelings van Joubert (2016:139) uitgevoer:

• Rou data word vir die leser aangebied.

• Rou data is korrek getranskribeer en daar word verbatim aanhalings van die deelnemers gegee.

• Gedetailleerde bekrywings van die geval, konteks en die navorsingsproses word gegee.

• Etiese dilemmas en oorwegings word beskryf, en

• Die beperkinge van die gevallestudie word gegee en bespreek.

Wallendorf en Belk (1989) het vyf vrae voorgestel wat ‘n navorser kan vra om die betroubaarheid van die studie te verseker, ongeag van die paradigma waarbinne die navorsing uitgevoer word. Volgens bogenoemde outeurs bepaal die navorser self die kriteria vir die beantwoording van hierdie vrae. Onder volg ‘n uitleg van die kriteria wat gebruik is om betroubaarheid van die studie te verseker:

Vraag 1

Hoe kan die navorser vertroue in sy/haar bevindinge hê? Of hoe weet alle betrokkenes die bevindinge is waar (“Truth value concern”)?

Kriteria vir betroubaarheid: verlengde tyd in die studieveld, verskillende databronne en bevindinge is vir onderwysers as deelnemers aangebied om deur te lees en seker te maak hulle bedoeling is reg verstaan en weergegee, gedurige refleksie deur die navorser, terugkeer na die data, kodering en herkodering van die data.

Vraag 2

Hoe kan die bevindinge van toepassing maak op ander kontekste of ander deelnemers (“Applicability concern”)?

Kriteria vir betroubaarheid: Hoofstuk 4 wat die navorsingontwerp en metodologie beskryf moet so volledig en duidelik as moontlik gedoen word sodat die studie herhaal kan word; triangulering met literatuur en teoretiese raamwerk.

Vraag 3

Sal die bevindinge dieselfde wees indien die navorsing weer met dieselfde deelnemers in dieselfde konteks uitgevoer word (“Consistency concern”)?

Deelnemers gaan resultate en bevindings na om seker te maak dat hulle weer dieselfde antwoorde op dieselfde vrae sal gee as hulle moet. Indien deelnemers se antwoorde verskil of daar byvoegings is, word dit so weergegee in die bevindinge. Leerders skryf na verloop van tyd weer toetse en die resultate word vergelyk met die eerste toetse.

Vraag 4

Hoe kan daar verseker word dat die resultate en bevindinge kom slegs van die deelnemers af en dat daar geen beïnvloeding of voorkeure van die navorser was nie (“Neutrality concern”)?

Kriteria vir betroubaarheid: deelnemers is gekies omdat hulle sleutelposisies in die konteks beklee, deelnemers het geleentheid om eie response deur te gaan asook bevindinge om dit te vergelyk, deelnemers het geleentheid om veranderinge aan te bring, navorser is konstant bewus om nie vooroordeel te skep nie.

Vraag 5

Hoe kon verseker word dat daar nie vals inligting deur die deelnemers verskaf is nie (“Integrity concern”)?

Kriteria vir betroubaarheid: onderhoudstegnieke, die navorser se posisie binne die konteks, deelnemers respekteer die navorser en daardeur is die navorser ‘n figuur met outoriteit binne die konteks.