• No results found

Fisiese grond is nie opsigself ʼn landskap nie; dit is eerder bloot natuurlike terrein met fisiese elemente. ʼn Landskap, daarenteen, kan beskou word as ʼn waarneming van die fisiese terrein op ʼn spesifieke wyse, wat ook in piktorale terme vasgevang kan word. Die landskap is daarom ʼn intellektuele produk van skepping, en is verder ʼn kulturele konsep wat voortvloei uit die bestudering van die natuur (Harmsen, 1988:11). Wanneer die kyker ʼn landskapskildery waarneem, word die vraag byna outomaties intern gestel of die uitbeelding ʼn juiste weergawe

43

van die werklike uiterlike voorkoms is9. Hierin speel die kunstenaar se strategieë ʼn rol, maar die kyker se oortuigings word ook betrek (Arnold, 1996:40; Appleton, 1975:1810; Harris, 2006:175). Binne die postmoderne diskursiewe omgewing word allerweë aanvaar dat die landskap nie bloot ʼn natuurlike fenomeen kan wees nie, maar dat dit ook ʼn teks, ʼn intellektuele ruimte is, wat beteken dat dit ʼn plek vir diskoers word. Hierdie landskap as diskoers is saamgestel uit ʼn reeks tekens, wat op hul beurt gelaai is met ideologiese en psigologiese betekenis. Betekenis is gevolglik ook nie vas nie, maar is onderhewig aan die aanskouer se interpretasie – wat op sy beurt onderhewig is aan die konteks van ontvangs (Kleiner, 2011:1074). Dus is beelde wat geskep word vir openbare verbruik ontwerp om sekere interpretasies van ʼn omgewing of konteks te bied; soms ook om verwagtinge ten opsigte van die gehoor se opvattinge oor kuns te betrek, en soms met die oogmerk om in te lig en ʼn morele blik op sake te werp. Die visuele taal wat deur die kunstenaar benut word, is daarom deurspek met spesifieke persoonlike gesindhede, bevooroordeling en opinies, en ook met ander sake soos klas, ras en geslag (Arnold, 1996:40).

Chu (2003:183) definieer in haar boek Nineteenth-century European art die term landskapskildering as ʼn beskrywing van ʼn wye verskeidenheid kunsuitings met een gemeenskaplike eienskap, naamlik die uitbeelding van buitelugtonele. Hierdie buitelugtonele kan berge, woude, velde, seë, riviere, of stede uitbeeld, met of sonder die teenwoordigheid van mense en diere, en kan vanuit enige tyd, huidig of verbeelde verlede (myns insiens, of selfs die toekoms) wees. Sewe tipes landskappe word deur Chu geïdentifiseer in kunskonteks, naamlik historiese landskappe, bergagtige landskappe, seeskappe, panoramiese landskappe, woudagtige landskappe, pastorale of idilliese plattelandse landskappe en stadskappe (townscapes). Sy (Chu, 2003:183) gee toe dat ʼn landskap ʼn skynbaar akkurate weergawe van die werklikheid mag probeer voorhou, maar verruim hierdie beskouing wel deur aan te dui dat dit ooglopend ʼn produk van die kunstenaar se verbeelding kan wees. Die kunstenaar kan ook verskeie motiverings hê met die skep van die landskapkunswerk. Dit kan byvoorbeeld bedoel wees om die kyker te bekoor, te verwonder, te roer, in te lig, of te laat verlustig in dit wat aanskou word.

9 Hierdie byna outomatiese reaksie kan verbind word met die algemene benadering dat mimesis, of minstens „n tipe

realisme, dikwels verwag word in die konteks van skilderkuns, maar veral van landskapskilder.

10 Vanweë die beperkte aantal bronne wat „n chronologiese benadering tot landskapskildering bied, sluit hierdie

studie sommige werke in wat etlike jare terug gepubliseer is. Hierdie bronne word steeds krities benader ten einde veranderinge in opvattinge waar te neem en uit te lig.

44

In samehang met hierdie motivering kan landskapskildering gekategoriseer word volgens die spesifieke estetiese modaliteit waarbinne dit kan tuishoort, wat ook betrekking het op die spesifieke effek wat die werk op die aanskouer moet hê. Onder estetiese modaliteite stel Chu (2003:183) die volgende kategorieë: die skone of ideale, die sublieme, die pittoreske, die naturalistiese, en die topografiese. Aangesien hierdie verhandeling nie poog om ʼn breedvoerige ondersoek van landskapskildering van stapel te stuur nie, sal hierdie kategorieë van estetiese modaliteit waar nodig kortliks aangeraak word, maar primêre fokus sal later op die sublieme binne Chu en andere se beskouing van landskapskildering geplaas word vanweë die belangrikheid daarvan binne die betrokke studie – hierdie saak word later verder beredeneer. Sekere onderwerpe leen hulself volgens Chu (2003:183) goed tot spesifieke kategorieë van die estetiese modaliteit. Hier stel sy (Chu, 2003:183) dat historiese landskappe byvoorbeeld dikwels geïdealiseerd geskilder word; dat bergagtige landskappe en (stormagtige) seeskappe dikwels die sublieme uitbeeld; dat pastorale en idilliese plattelandse tonele meestal naturalisties van aard is, en stadskappe dikwels neig om eerder topografies te wees.

Die wese van landskapskildering is eiesoortig. Die landskap is, in teenstelling met objekte wat in ander skildergenres uitgebeeld word, ʼn voortvloeiende geheelentiteit (vergelyk byvoorbeeld die losstaande objekte in ʼn stillewe of die liggaam en gelaat in ʼn portret). ʼn Gedeelte van ʼn rivier of ʼn berg kan nie vasgevang word sonder om die omgewing waarin dit bestaan uit te beeld nie – landskapelemente en agtergrond is daarom verenig. ʼn Waterval kan nie bestaan sonder die watermassa waaruit dit voortvloei, of die hoogte waarvan af dit na onder moet val nie. Die kunstenaar beeld dus dele van die landskap uit in konteks van die groter geheel waarbinne die dele bestaan. Die uitbeelding, ongeag hoe realisties en naturalisties, kan egter nie die geheel van die landskap vasvang soos wat dit in werklikheid bestaan nie, en daarom word die objekte in verhouding tot mekaar verbeeld binne die konteks van ʼn "omraamde" deel van die groter geheel (kyk ook Clark, 1953:26; Mongan, 1963:587). Ingold (1993:153;154) beskryf die landskap as kunsvorm insgelyks as deel van ʼn groter geheel, wat nie ʼn geheel opsigself kan wees nie. Daarom verwys die tyd en oomblik wat uitgebeeld word na iets breër, wat geleentheid bied vir die verbeelding om te dwaal buite die raamwerk van die werk.

Harris (2006:175) stel verder dat visie, die waarneming van die landskap, binne landskapskildering noodwendig subjektief van aard is. ʼn Landskapskildery is ʼn skepping deur die kunstenaar en gaan gepaard met ʼn seleksie en herrangskikking van die visuele gegewe. Deur waar te neem verbeel die waarnemer-skilder wat hy of sy selfversekerd verwag om te sien. Die kunstenaar kies wat gesien sal word, en dit wat die kunstenaar kies om te sien sluit

45

aan by dit wat hy of sy wil sien en daarom ook projekteer na die landskap (vgl. Appleton, 1975:18). Daniels en Cosgrove (1988:1) sluit hierby aan deur uit te lig dat die landskap bestaan as teken van ʼn kulturele uitbeelding, en is daarom ʼn simboliese uitbeelding van ʼn fisiese sowel as ʼn psigiese omgewing en ruimte. Hierdie opmerkings toon dat alle uitbeeldings lewensbeskoulik gerig word, wat ook gesien moet word in die konteks van die heersende lewens- en wêreldbeskouing van ʼn gegewe tyd en plek. Sodoende kan alle landskapuitbeeldings ook gesien word as interpretasies van spesifieke waarnemings van, en response op ʼn gekose omgewing.

Die invloed wat lewens- en wêreldbeskouing van ʼn gegewe tyd en plek op landskapskildering het, sal uiteraard bepaal dat die uitbeelding van die landskap binne verskillende tydperke en plekke ook ooglopende verskille sal toon. Die verskille van hierdie ver-beeld-ing van die natuur spruit, in samehang met die spesifieke lewens- en wêreldbeskouing, vanuit die agting van die natuur binne ʼn spesifieke era. Hier kan mens dink aan natuurbeskouings waar die natuur enersyds as agtergrond vir menslike en goddelike handelinge gesien is (soos blyk uit middeleeuse afbeeldings) teenoor byvoorbeeld sommige Romantiese beskouings waar ʼn versugting na eenword met die natuur sekere kunstenaars se landskapskilderye sou rig (mens kan hier dink aan Constable). Hoewel aspekte van representasie van die natuur dus deur eeue heen in kunsskepping waargeneem kan word, verander die outonomiteit (al dan nie) van die landskap na gelang van die samelewing se ingesteldheid teenoor die natuur self. Hierdie stelselmatige skuiwe in ver-beeld-ing van die natuur deur landskapskildering word vervolgens kortliks bespreek.