• No results found

Die gebruik van die term liminaliteit in hierdie verhandeling

Ter afsluiting van die bespreking van liminaliteit volg ʼn bondige sintese van die hoofmomente van die liminale wat van toepassing is vir die huidige studie. Liminaliteit verwys na ʼn ruimte, tyd of bestaan waarbinne persoonlike of kulturele verandering plaasvind, wat vergelykbaar is met deurgangsrites. Persone (hetsy in groeps- of individuele verband) wat hulle binne ʼn liminale ervaring bevind, staan op die drumpel tussen ʼn vorige gevestigde wyse waarop hul identiteit, tyd of gemeenskap gestruktureer was, teenoor ʼn nuwe, ongedefinieerde wyse van bestaan, soos inisiante wat deel het aan ʼn ritueel of deurgangsrite (vgl. Turner, 1969:112, Bigger, 2009:209).

Die liminale fase, wat dien as ruimte van oorbrugging tussen twee verskillende stadia van persoonlike of gemeenskaplike identiteit en kulturele definiëring, word geken aan gevoelens van twyfelagtigheid, onvastheid en disoriëntering (vgl. Bhabha, 1994a:158, Viljoen & Van der Merwe, 2007:1, Thomassen, 2009:51). Hierdie gevoelens doen afbreek aan liminale persone se gevestigde opvattinge oor hul identiteit en wêreldbeskouing, wat tot ʼn mate die vernietiging van bestaande (aksiomatiese) opvattinge teweegbring. Dié vernietiging laat wel ook toe dat noemenswaardige veranderinge aan die identiteit van die persoon gemaak kan word (vgl. Szakolczai, 2009:148, Bal, 2011:14). As gevolg van die gedwonge bevraagtekening van bestaande idees rakende identiteit word inisiante gelei tot ʼn ondersoek van persoonlike en gemeenskaplike identiteit. Na aanleiding hiervan vind beweging tussen onderskeie toestande van ʼn wese plaas, in ʼn poging om ʼn voormalige bestaan te vereenselwig met veranderde toestande, ten opsigte van plek en/of tyd. Hierdie beweging tussen identiteite is nooit ʼn blote verskuiwing van een identiteit na ʼn ander nie, maar is eerder ʼn konstante proses van betrokkenheid, onderhandeling en vereenselwiging (vgl. Ashcroft et al., 1998:117; Bhabha, 1985:152).

Liminaliteit word gekenmerk aan, en ontstaan as gevolg van, ʼn tydelike (gedwonge of ongedwonge) ontwrigting van ʼn sogenaamd normale sosiale lewe. Binne sodanige liminale periodes kan sosiale hiërargieë omgekeer of ontbind word, die kontinuïteit van gevestigde tradisie kan ontwrig word, en die verwagte toekoms wat eens vanselfsprekend was, word betwyfel (vgl. Horvath et al., 2009; Werbner, 2001:136). Hiermee saam kan ʼn sosiale struktuur van communitas tydelik ontstaan wat gebaseer is op gemeenskaplike menslikheid en gelykheid

99

eerder as ʼn erkenning van hiërargie tussen deelnemers aan die rituele proses/liminale fase (vgl. Turner, 1969:97).

Inisiante binne die liminale fase ervaar dikwels ʼn gevoel van magteloosheid en marginalisering wat geken word aan die ervaring van weerloosheid (vgl. ook Simich et al., 2009:258). Diegene wat hulself in ʼn liminale toestand bevind, word tydelik anoniem totdat die einde van die liminale fase bereik is. Die uiteindelike oogmerk van die liminale fase is om verandering tot so ʼn mate te bewerkstellig dat die individu of groep wat binne die liminale ruimte verkeer kan aan beweeg na ʼn fase van integrasie, waar hul nie meer buite die heersende sosiale struktuur staan nie, maar deel daarvan kan vorm (vgl. Simich et al., 2009:258; Turner 1994:47, Bhabha, 1994a:4).

Vanuit hierdie navorsing word sewe elemente geïdentifiseer as definiërend van liminaliteit. Die doel met die keuse van spesifieke elemente vloei vanuit die behoefte om die liminale binne Gutter se werke te identifiseer. Die elemente wat hiervoor geselekteer is, is magteloosheid en weerloosheid, onvastheid, die verandering van status, disoriëntering, afsondering, marginalisering en die twyfelagtige. Hierdie elemente word vervolgens opgeroep met die lees van die gekose werke uit Opslag. Verder word die liminale as tekenend van onsekerheid en dies meer telkens in verband gebring met hoe die sublieme benadering tot die landskap hierdie onsekerheid na vore bring deur die andersoortige toepassing van sublieme landskap in die Suid-Afrikaanse konteks.

100

HOOFSTUK VYF

Lees van die geselekteerde kunswerke

5.1. Inleiding

In die eerste hoofstuk van hierdie verhandeling is gestel dat die werke in Gutter se uitstalling Opslag spreek van ʼn sekere ver-beeld-ing van vrees en onsekerheid. Ten einde hierdie stellings, en aanverwante sake wat hierna aan die orde gebring is te ondersoek, sal hierdie hoofstuk drie werke uit Opslag bespreek. Die prominensie van landskapskildering in Gutter se oeuvre is reeds uitgelig. So ook is die vermoë van die landskap om sekere ontasbare idees uit te beeld, in voorafgaande afdelings belig. Na aanleiding van hierdie navorsing word die werke Uit die blou van onse hemel (2004), Into the landscape I (2007), en Landskap naby Zastron (2006) onderskeidelik ondersoek om die rol wat die landskap in elk speel, uit te lig (die motivering vir die keuse van kunswerke volg hier onder). In die bespreking sal getoon word dat die landskap as teken staan van Gutter se blik op die toestand van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap. Daar sal verder getoon word hoe sy deur die landskap metafories verwys na die bedreiginge wat met die plaaslewe in Suid-Afrika gepaardgaan. Die aanskouer se waarneming van hierdie metaforiese verwysing na die vrees en bedreiging waarbinne die boeregemeenskap van Suid-Afrika woon en leef sal geïdentifiseer word in die konteks van strategieë van sublieme landskapskildering. Ek voer met ander woorde aan dat die voorkoms van sublieme strategieë in die landskapwerke die liminale ervarings van vrees en bedreiging fasiliteer. Hierdie strategië se trefkrag word verder versterk deur die kontrasterende nostalgiese idees wat aan ʼn plattelandse lewe gekoppel word, soos, onder andere gestel deur Daniëlle van Zyl (2008) in haar artikel "O, Boereplaas, geboortegrond!" Afrikaner nostalgia and the romanticisation of the platteland in post-1994 South Africa. Uiteindelik sal die aanskouer se waarneming van sublieme benaderings tot die beeldgebruik en metafore in die landskap geïdentifiseer word as sprekend van ʼn ver-beeld-ing van die liminale wat eiesoortig is aan Gutter se werke, en aan die Vrystaatse plaaslandskap.

Vanweë Gutter se veelsydige toepassing van die landskap is die drie werke gekies vir hul uiteenlopende benaderings tot landskapskildering. Hierdie uiteenlopende ver-beeld-ing word

101

egter saamgebind deur die elemente binne elkeen van hierdie werke wat verwys na die liminale. Binne die laaste afdeling van Hoostuk Vier is sewe elemente van liminaliteit gespesifiseer met die oog op die lees van Gutter se kunswerke in hierdie verhandeling. Hierdie sewe elemente is magteloosheid en weerloosheid, onvastheid, die verandering van status, disoriëntering, afsondering, marginalisering en die twyfelagtige. Hierdie elemente gee aanleiding tot die metode van ondersoek.