• No results found

Die interpretasie van Gutter se werke spreek van ʼn eiesoortige blik op die landskap: die landskap word ʼn plek waaraan spesifieke betekenisse toegeken word deur die kunstenaar se subjektiewe weergawe van haar visueel-waarneembare werklikheid. Hier is met ander woorde sprake van ʼn proses waartydens die elemente in die landskap geselekteer en opnuut saamgevoeg word om die betekenisse wat die kunstenaar daaraan heg, weer te gee. Daarom is die landskap in Gutter se oeuvre ʼn seleksie van die visuele en ook ʼn projeksie van haar lewens- en wêreldbeskouing, wat die geval is, myns insiens, met alle landskapskildering (Kyk Carruthers & Arnold, 1995).

Mens kan stel dat die wyse waarop Gutter die landskap benut, eerstens ʼn unieke benadering tot sublieme landskapskildering as estetiese modaliteit bied. Tweedens dien dit as voorbeeld van die wyse waarop die Suid-Afrikaanse en spesifiek Vrystaatse landskap – as opvallend anders as die Europese landskap – ook uitgebeeld kan word aan die hand van sublieme benaderings tot die landskap.

Die landskap in Gutter se werke is daarom gelade – en word ʼn ruimte waarbinne betekenis op besondere wyse tot stand kom. Uit die besinning oor geselekteerde werke uit Gutter se

140

uitstalling Opslag het dit duidelik geword dat die uitsigte oor die (meestal) bekende beelde van Suid-Afrikaanse (spesifieke Vrystaatse) plaaslewe nie ʼn eenvoudige nostalgiese blik op ʼn plattelandse bestaan nie, maar eerder ʼn besonder onseker bestaan uitbeeld. Die voorkoms van veral plaasaanvalle as komplekse en ook tragiese gebeurlikheid is deur die kunstenaar (Gutter, 2010) en in die katalogusessay deur Crampton (2008:1) verwoord as sentrale tema van die uitstalling. Die ervaring van ʼn noemenswaardige verandering in status wat op sy beurt aanleiding gee tot onstabiliteit vloei voort uit ʼn bestaan wat aan vrees vir so ʼn bedreiging geken word. Vlugtige verwysing is ook waar nodig gemaak na eietydse problematiek soos grondeise, as moontlik nodige, maar weliswaar ontwrigtende invloed op die boeregemeenskap.

Daar is bevind dat die respons op vrees en bedreiging wat daagliks inspeel op die doen en late van die boeregemeenskap manifesteer in die ervaring van byvoorbeeld ontheemding, afsondering, vrees en onsekerheid; en is hierdie sake geskakel met die liminale. Die liminale fase word byvoorbeeld deur Turner (1994:97) beskryf as ʼn bestaan geken aan twyfel, onvastheid en/of disoriëntering. Voortvloeiend hieruit stel Bhabha (1994a:4) dat die liminale ruimte ʼn plek is van ontuisheid of ontheemding, en dat dit daarom na ʼn onvaste bestaan verwys.

Vanuit hierdie vergelyking maak die verhandeling die gevolgtrekking dat die bestaan van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap, soos verteenwoordig deur die boeregemeenskap van die Vrystaat wat in Gutter se werk ver-beeld word, beskou kan word as ʼn gemeenskap wat hulself binne ʼn liminale fase bevind. Hierdie gevolgtrekking word onderstreep wanneer die boeregemeenskap se onsekerheid binne hul lewensomstandighede gestel word as tekenend van ʼn tyd en plek van verandering en aanpassing. Die boeregemeenskap beweeg dus (vrywillig of nie-vrywillig, bewustelik of onbewustelik) weg van hul vorige vorm van vaste bestaan, (hier kan hul statusverandering na 1994 sowel as die voorkoms van vrees vir aanval genoem word), na ʼn nuwe vorm van bestaan wat nog nie gedefinieerd is nie as gevolg van die onsekerheid wat steeds heers. Hierdie onsekerheid hou dus in dat hul ʼn tussen-inbestaan voer, oftewel beweeg deur ʼn spreekwoordelike "drumpel". Soos aangedui word die liminale deur Bhabha (1994a:4) en Viljoen & Van der Merwe (2007:1) as't ware beskryf as ʼn tussen-inruimte, -tyd en –bestaan. Omdat die einde van die liminale fase nie in die nabye toekoms in die vooruitsig gestel kan word nie, doen hierdie fase homself voor as ʼn verlammende invloed op hierdie gemeenskap. Die identiteit van hierdie groep is argumentshalwe daarom op redelik permantente basis liminaal, gesuspendeer – sodat vastigheid in hierdie verband bly ontwyk.

141

Turner (1969:81) se navorsing oor die liminale fase binne stamgebonde rituele asook Bhabha (1994a:142) se definiëring van die liminale toestand binne ʼn postkoloniale samelewing spreek beide van die onvastheid van die identiteit van die liminale persoon of gemeenskap – dus gekoppel aan die genoemde tussen-inruimte, -tyd en -bestaan. Hierdie onvaste identiteit gaan gepaard met vele ander elemente van die liminale fase, soos herevaluering van bestaanswyses binne die konteks van ʼn tydelike struktuurloosheid. Bhabha (1994b:37) se beskouing rakende die sogenaamde derde ruimte, of dan die third space of enuncation, spreek van ʼn ruimte waar identiteit- en kulturele identiteite ontwrig word, maar waar daar ook veranderinge kan plaasvind – met ander woorde tekenend van ʼn liminale ruimte. Binne hierdie konteks verwys Bhabha egter ook na die diasporiese persoonlikheid se toestand van aanpassing.

Uit die navorsing wat in hierdie verhandeling aangebied word, word verstaan dat die liminale subjek vir ʼn tydperk, soms van onbekende duur, in afsondering leef; waar bestaande identiteit vergelyk word met nuwe en soms kontrasterende invloede. Sogenaamde verandering kan teweeggebring word deur ʼn verandering in posisie, hetsy van geografiese of sosio-politiese aard. Sodanige bestaan van afsondering word deur Cohen (1997:ix) getipeer as die ruimte waarbinne ʼn diasporiese identiteit gevorm word. Hierdie diasporiese identiteit vind sy beslag in groepe mense wat ʼn gemeenskaplike herinnering en hunkering deel na hul land van herkoms, verwyderd deur tyd en plek. Diaspora en liminaliteit kom hieruit voor om wedersyds op mekaar in te speel.

Die Boer (in hierdie verhandeling spesifiek die Afrikanerboer) se gedeelde herinnering aan ʼn leefwyse en posisie binne Suid-Afrika kan as voorbeeld hiervan gesien word. ʼn Groep mense wat as gevolg van ekonomiese of politiese redes hul bestaan in ʼn ander land moet voortsit (of, belangrik: juis binne ʼn veranderende milieu in dieselfde land soos wat die geval van die Suid- Afrikaanse boeregemeenskap kan wees) deel vervolgens ʼn gemeenskaplike verwysing na hul “land van herkoms” (McLeod, 2000:212). Hoewel hul woonplek in sy nuwe gewaad in alle waarskynlikheid hul permanente woning sal bly, heg hul steeds sekere idees en herhinneringe aan hul oorspronklike plek van herkoms. Nostalgiese verlange na die platteland, soos wat dit gestalte vind onder sommige Suid-Afrikaners, spreek ook hiervan. Hierdie plek van nostalgie (die plaas of platteland) is verwyderd van diegene wat daarna verlang as gevolg van geografiese ligging – die nostalgies-verlangendes woon tipies in ʼn stedelike omgewing, maar diegene wat ʼn veiliger en meer geborge plaasbestaan onthou as reële werklikheid, is

142

plaasmense. Die plaas of plattelandse bestaan is in beide die stedeling se nostalgiese verlange en die meer “egte” terugverlang na ʼn plaasbestaan wat self ervaar is, ook verwyder in tyd. Dit is omdat die plek en tyd van herinnering terugverwys na die soms vermeende ervaring daarvan op ʼn spesifieke tydsgleuf – ʼn tyd wat nou reeds verby is, en dus onderhewig is aan die veranderinge wat gepaardgaan met die verloop van tyd (vgl. Brah, 1997:184; Rushdie, 1991:12).

Ghandi (1998:131) stel dat die term diaspora spesifiek die traumatiese ervaring van menslike ontheemding oproep en verder dat dit binne die postkolonialisme gemoeid is met die idee van kulturele ontheemding. Diasporiese verskuiwing en bestaan is uiteraard nie beperk tot die koloniale tydperk – waar grootskaalse verskuiwing van bevolkingsgroepe plaasgevind het (vrywillig asook onder dwang) nie, maar is steeds in ʼn postkoloniale samelewing ʼn bestaande werklikheid. Verskuiwing hier kan fisies maar ook emosioneel en geestelik van aard wees. Buiten vir die diasporiese oorblyfsels van koloniale ontheemding veroorsaak postkoloniale sosiale en ekonomiese toestande ook situasies waar nuwe diasporas ontstaan (McLeod, 2000:213). Die veranderende omstandighede in die eietydse Suid-Afrika (polities, sosiaal en dies meer) is enersyds ʼn beweging weg van die onaanvaarbaarheid van die apartheidsverlede, maar bring nuwe problematiek, swaarkry en onsekerheid na vore wat uiteindelik inspeel op die bestaan van alle groepe in die land.

Vanuit hierdie ooreenkomste tussen liminaliteit en diaspora, asook verdere vergelykings tussen die diasporiese bestaan soos geteoretiseer deur die bogenoemde outeurs, en dan ook in die lig van toestande binne eietydse Suid-Afrika, kan gestel word dat die boeregemeenskap benewens hulle liminale status ook as sprekend van ʼn ervaring van diaspora gesien kan word.

Uiteindelik, in die lig van die gevolgtrekking wat vroeër in hierdie hoofstuk gemaak word rakende die verband tussen die liminale ervaring van die boeregemeenskap en die ervaring van diaspora, kan gestel word dat Gutter se werke in Opslag besin oor, en komplekse vrae stel oor die twyfelagtige toekoms van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap. Dit stel ook diepgaande vrae oor menslikheid, meelewing en die meer universele lot van randfigure. Dit maak mens ook bewus van die komplekse aard van die onreg wat mense histories, maar vandag nog, teenoor mekaar pleeg. Ten laaste slaag die kunstenaar in hierdie monumentale taak (ook ʼn selfopgelegde taak van bewusmaking) veral omdat haar werke so aangrypend is ook vir die oog: dit is vir die liefhebber van skilder ʼn ervaring van asemrowende skoonheid.

143