• No results found

Soos reeds genoem word liminaliteit binne verskillende dissiplines benut as teoretiese basis van die akademiese ondersoek. Ter illustrasie hiervan word vervolgens ʼn bondige opsomming gebied van voorbeelde van publikasies in die veld van visuele, literatuurstudies asook antropologiese ondersoeke, waarvan die eerste sal fokus op liminaliteit binne die konteks van kuns. Hier kan terloops genoem word dat liminaliteit blyk om veel deegliker deurtrap te wees in die veld van letterkundige interpretasie; bloedweinig publikasies binne die visuele kuns- omgewing is toegespits op liminaliteit. Dit is hier waar die huidige studie uiteraard ʼn bydrae tot die veld wil lewer – spesifiek ten opsigte van skilderkuns maar ook met betrekking tot aanverwante kunsvorme soos installasie (ʼn genre waarin Gutter ook soms werk). Verder is die gekose publikasies uit die pen van Suid-Afrikaanse outeurs, maar soortgelyke studies is veral in die letterkunde-veld internasionaal gepubliseer.

In die artikel, Liminality, absence and silence in the installation art of Jan van der Merwe (2011), sluit Kruger en Van der Merwe in hul ondersoek van die installasiekuns van die Suid-Afrikaanse kunstenaar Jan van der Merwe deur hul definiëring van liminaliteit aan by Turner en Van Gennep se definisies. Hul verwys na liminaliteit as ʼn tydelike wegbreek van normale sosiale lewe, soos beleef tydens ʼn rituele proses. In hierdie sin dien die liminale tyd en ruimte as platform vir die karakters binne die kunswerke (selfs wanneer hulle fisies afwesig is) asook die waarnemers van die kunswerke om weg te doen met gewone verwysings en wêreldbeskouing sodat transformasie aan hul sosiale status sowel as persoonlike identiteit bewerkstellig kan word. Die deelnemer beweeg dus ongedefinieerd binne ʼn ruimte van onvastheid en tydelikheid (Kruger & Van der Merwe, 2011:158; vgl. Bhabha, 1994b:69).

Kruger en Van der Merwe (2011:160) verwys ook in hul ondersoek na liminaliteit se teenwoordigheid binne toestande van transito en transformasie. Hierdie beweging, volgens die outeurs, kan gekoppel word aan die liniêre progressie van tyd, waar daar na ʼn spesifieke tydstip verwys kan word as "voor" of "na" ʼn ander. Na aanleiding van die spesifieke eienskappe van Van der Merwe se werk koppel hul egter liminaliteit aan die ruimtelike en tydelike verhouding wat dit het tot die daarstelling van niksheid. Hul stel dat toestande van liminaliteit waar niksheid die eindpunt is ʼn andersoortige tydsraamwerk impliseer as die liniêre, ʼn beskouing wat inwerk teen die normale liniêre verloop van die ritueel en liminale fase.

96

Die outeurs stel dat Van der Merwe ʼn ruimte skep waarbinne tyd as sodanig verwyderd is van die normale konsep van tyd as liniêr. Hierdie verwyderdheid koppel Kruger en Van der Merwe (2011:161) aan liminaliteit vanweë liminaliteit se eienskap as ʼn tyd of ruimte verwyderd of afgesonder van die normale (vgl. Viljoen & Van der Merwe, 2007:1).

Kruger en Van der Merwe se beskouing van liminaliteit en die liminale ruimte sluit dus aan by dié van Van Gennep en Turner deur dit te koppel aan ʼn bestaan wat verwyderd is van die normale verwysing ten opsigte van sosiale posisie. In teenstelling met Van Gennep en Turner se argument dat die liminale fase tydelik is, en vervolgens lei na ʼn volgende fase stel Kruger en Van der Merwe liminaliteit eerder as ʼn tydlose fase (dus ʼn ontwrigting van tydgebondenheid), wat uiteraard nie tot ʼn einde kan kom nie, en sodoende niksheid produseer eerder as verandering en aanpassing.

Liminaliteit word ook binne die letterkunde aangewend as teoretiese raamwerk. As voorbeeld kan Wenzel (2006) se ondersoek in haar artikel, Liminal spaces and imaginary places in The bone people by Keri Hulme and The folly by Ivan Vladislavic na die rol wat verbeelding binne literatuur speel om gemeenskappe te begelei in die proses van konfrontasie ten opsigte van spesifieke sosiale en politieke realiteite in ʼn multi-kulturele globale gemeenskap voorgehou word (Wenzel, 2006:79).

Die spesifieke rol wat tyd en ruimte speel in hierdie medium motiveer Wenzel se gebruik van liminaliteit as vertrekpunt. Sy begin deur liminaliteit te definieer as deel van die verskillende stappe van afsondering, oorgang en herintegrasie in die gemeenskap. Sy stel hiermee saam dat liminaliteit binne ʼn postkoloniale omgewing en diskoers (hier spesifiek postkoloniale romans) dien as die ruimte waar individue en gemeenskappe ʼn deurgangsrite beleef ten einde die traumatiese verandering in hul lewens en kulture te verwerk (Wenzel, 2006:79).

Sy voer aan dat talle individue en gemeenskappe toestande van beweging tussen kontinente, kulturele gemeenskappe asook binne persoonlike verhoudings ervaar. Dit is die gevolg van die skeurende effek van aspekte soos ontheemding en diaspora, sowel as die nadraai van kolonialisme en die meer onlangse invloed van globalisering. Hierdie toestande van beweging skep ʼn behoefte om êrens aanknoping te vind, tot iets of iemand, ten einde as deel geag te word (Wenzel, 2006:80).

Die idee van plek kan veelvoudig aangewend en ontleed word ten opsigte van die liminale eienskappe wat daaraan verbonde is. Wenzel lees onderskeidelik spesifieke plekke as ʼn plek

97

van afsondering (vergelykbaar met die eerste stap van Van Gennep en Turner se rituele proses) asook ʼn plek van ontmoeting. Die plek van ontmoeting spreek van kontak en persoonlike verhoudings (vergelykbaar met die tweede fase van die rituele proses soos deur Van Gennep uiteengesit, maar ook verder in verband met Turner se idee van communitas, omdat verskillende karakters uit verskillende agtergronde hulself gelyk stel aan mekaar vanweë hul huidig (liminale) ervaring) (Wenzel, 2006:82).

Du Plooy (2007) sluit by Wenzel (2006) aan ten opsigte van die gebruik van plek as liminale ruimte in haar artikel Interface and liminal spaces: survival and regeneration in Ingrid Winterbach's Niggie (Cousin) (2006:30), wat ook ʼn ondersoek na liminale aspekte in die roman is.

Die karakters binne die spesifieke roman bevind hulself in ʼn tyd van oorlog, ʼn tydperk wat uiteraard beskou kan word as liminaal vanweë die verval van rigtinggewende orde en normale bestaanswyses, en die gevolglike ervaring van onsekerheid (vgl. Horvath et al., 2009). Buiten vir die deurlopende toestand van liminaliteit (as gevolg van oorlog) waarbinne die verhaal afspeel onttrek individuele karakters van tyd tot tyd na hul eie liminale ruimte, ʼn ruimte waar oordenking plaasvind. Du Plooy identifiseer hierdie oordenking as tye van meditasie en geestelike herstel (Du Plooy, 2007:31). Dit kan ook gekoppel word aan die individu se ondersoek van eie sosiale posisie, as deel van die liminale fase van ʼn rituele proses, waar die sosiale status waarin die individu/karakter eens geleef het nie meer bestaan nie, maar die nuwe sosiale status wat hul sal beklee na die liminale fase (oorlog) nog nie bekend is nie.

In haar ondersoek vestig Du Plooy (in interessante verband met my huidige studie) aandag op die gebruik van die Suid-Afrikaanse landskap as die beklemtoning van die isolasie van die karakters, wat in hierdie geval spesifiek Boere is. Sy merk dat Suid-Afrikaanse literatuur so te sê sonder uitsondering gebruik maak van die landskap, met verwysing na Suid-Afrikaners se verhouding daarmee, wat gegrond is in Suid-Afrikaners se historiese gebondenheid aan en afhanklikheid van die land/-skap (Du Plooy, 2007:31). Hier stel sy egter dat die landskap meer wetenskaplik as emosioneel toegepas word deur die karakters self (Du Plooy, 2007:32).

98