• No results found

5.4. Into the landscape I – die ver-beeld-ing van onsigbare bedreiging

5.4.2. Liminale disoriëntering in Into the landscape I

Gegewe die bees se alleenheid binne die landskap wat as teken staan van liminale afsondering, word temas van sublieme landskapskildering soos leegheid, probleme, vreesaanjaendheid, en gevaar ingespan om tot hierdie ver-beeld-ing by te dra.

ʼn Mens sou kon bespiegel oor die narratiewe verloop in die werk – oor waarom hierdie bees juis geloop het tot hier, en toe tot stilstand gekom het in ʼn plek wat alleen en verwyderd is van enige iets of iemand anders, binne die verlate landskap. Hierdie vraag veronderstel dat die bees wel eens deel van ʼn trop moes wees, en van êrens minder verlate afkomstig is. Twee aspekte kom hier na vore: dat daar sprake was van ʼn groep (trop, of in menseterme, ʼn gemeenskap). Verder is daar sprake van ʼn plek waar hierdie groep ditself tuisvind as ʼn bymekaarweesplek. Om afstand te doen van die groep en die plek beteken om weerloos te wees, maar dit kan ook ʼn proses van verandering inlui wat nie noodwendig selfwillig plaasvind nie. Liminaliteit binne ʼn

126

postkoloniale konteks is reeds gedefinieer as ʼn ruimte waarbinne kulturele verandering kan plaasvind (vgl. Ashcroft et al., 1998:117). Hierdie kulturele verandering gaan dikwels gepaard met ʼn verandering van plek. Die tyd van aanpassing binne die nuwe plek is dan die liminale fase. Turner (1969:80) stel dat hierdie tydperk/plek van verandering disoriëntering inhou.

Hierom kan, myns insiens, gestel word dat die bees se huidige plek, wat spreek van ʼn verandering van ʼn vorige plek van bestaan (wat nie afgesonderd is nie) spreek van ʼn ver-beeld- ing van liminaliteit. Liminale disoriëntering kom hier aan die orde, vanweë die omstandighede waarbinne die bees is (hier kan ook verwys word na die onsekere houding van die bees wat as gedisoriënteerd gelees kan word).

Waarom die bees tot hier gekom het en besluit het om tot stilstand te kom is onduidelik, maar dit wil voorkom asof daar buite die raam van die werk (met ander woorde, op ʼn deel van die werklikheid wat die werk nie verbeeld nie) iets is waarop die bees se aandag gefokus is. Dit kan wees dat die bees kyk na, of in die rigting van, dit wat dit gedryf het tot waar dit nou in afsondering staan. Indien hierdie aanname gemaak word is ʼn belangrike rolspeler in die gebeure/uitbeelding van die werk buite die raam gelaat. Hier is daarom sprake van ʼn drama wat homself afspeel en waarvan ons slegs een deel sien – die res van die gebeure en rolspelers word aan die aanskouer se verbeelding oorgelaat.

In die artikel The presence of absence: Catalytic and omnipresent offstage characters in modern American drama verduidelik Mahfouz (2012:392) dat sekere toneelstukke dikwels verwys na ʼn afwesige karakter. Hoewel hierdie karakter/s nie sigbaar is nie, speel hul bestaan buite dit wat op die verhoog gesien kan word daadwerklik in op die handeling van die karakters wat wel sigbaar is. Mahfouz argumenteer dat die afwesigheid van hierdie karakter/s aan hul ʼn eienskap van maghebbendheid verleen – soveel so dat hulle die sigbare handelings dryf (2012:293).

Die bees in hierdie werk se uitdrukking is moontlik te wyte aan ʼn bron van verskrikking, wat dit laat wegvlug het van waar dit was. ʼn Onsigbare karakter se invloed kan volgens Mahfouz (2012:394) waargeneem word in die verlamming, magteloosheid, passiwiteit, en bewegingloosheid wat die karakters op die verhoog (diegene wat sigbaar is) beleef na aanleiding van verwysings na die afwesige karakter. ʼn Tipe strak bewegingloosheid kan trouens in die voorkoms van die stilstaande bees bespeur word.

127

Gebeure op die verhoog (of in hierdie geval – die doek) word dus soms aangehits deur onsigbare karakters, ten spyte van hul ooglopende afwesigheid (Mahfouz, 2012:395). Mahfouz (2012:395) stel verder dat deur hierdie invloedryke karakter onsigbaar te hou die karakter ʼn eienskap van alomteenwoordigheid verkry. Hiermee saam argumenteer hy dat indien so ʼn alomteenwoordige, onsigbare karakter wel tot die verhoog sou toetree, die impak en spanning wat aan die karakter se invloed gekoppel is tot niet gemaak sal word (Mahfouz, 2012:395). Die moontlikhede wat hierdie onsigbare karakter tot Gutter se werk aanroer, is legio. Sou daar ʼn onsigbare karakter wees, in die vorm van ʼn metaforiese of regte bedreiding, word die aanskouer se verbeelding aangewakker en word aktiewe deelname in die bespiegeling geverg. Eerstens is daar ʼn metaforiese ervaring van die sublieme landskap in die gedaante van donkerte (metafories, omdat dit wat ons nie ken nie "duister" is – sodat die donkerte ook verband hou met onsekerheid). Deur iets te plaas waar dit nie gesien kan word nie hou uiteraard ook verband met hierdie onsigbaarheid wat algehele donkerte sou veroorsaak. Iets staan buite die raam van die werk, onsigbaar vir die aanskouer van die werk, maar sigbaar vir die bees. Hierdie iets bepaal die bees se gedrag, en speel dus ʼn ingrypende rol op dit wat die aanskouer wel kan sien. Mahfouz (2012:397) is van mening dat dramaturge (en hier by implikasie ook kunstenaars) afwesige karakters in hul werke inskryf om te verwys na die onsigbare kragte wat die mens se lot bepaal, vind hier toepassing. Gegewe dat die bees vermenslik word en dat die aanskouer met hom identifiseer, neem hierdie waarneming van onsigbaarheid ʼn meer dringende menslike dimensie aan.

Die afwesige karakters of agente wat in ʼn verhoogstuk geïmpliseer word, verkeer self ook in ʼn liminale ruimte, omdat hul nie teenwoordig is op die verhoog nie, maar konstant by wyse van verwysing deel gemaak word van die gebeure op die verhoog. ʼn Tussen-inbestaan (as definiërend van liminaliteit) tipeer dus die ruimte van die afwesige karakter. Die afwesige karakter word uiteindelik die fokus van die kyker se aandag, omdat afwesigheid nie niksheid inhou nie, maar ʼn aktiewe proses is (Mahfouz, 2012:399). Afwesige karakters wat inspeel op die verloop van die toneel hang soos ʼn spookagtige skynsel oor die karakter op die verhoog (Mahfouz, 2012:404). Binne sommige toneelstukke veroorsaak die onsigbare karakter die primêre spanning van die verhaal, en vorm deel van die sentrale onderwerp. In hierdie gevalle spreek hul invloed van mag, geheimsinnigheid en alom teenwoordigheid (Mahfouz, 2012:406). In hierdie werk gebeur dieselfde: die skildery veroorsaak ʼn dramatiese gevoel van onrustigheid van die aanskouer en ek argumenteer dat dit juis vanweë die spookagtige liminale krag is wat vanuit buite die raam inwerk op die gebeure in die raam self. Die aanskouer van hierdie werk se

128

fokus verskuif dus mettertyd vanaf die bees na die denkbeeldige bedreiging buite die raam wat lei tot die bees se disoriëntering.

Die bees se toestand van afsondering, en die disoriëntering wat dit blyk om te beleef binne hierdie toestand het ʼn interafhanklike band met die laaste van die prominente elemente van liminaliteit wat binne hierdie kunswerk ondersoek word – die element van liminale marginalisering.