• No results found

Liminale onvastheid in Uit die blou van onse hemel

5.3. Uit die blou van onse hemel – die ver-beeld-ing van weerloosheid

5.3.2. Liminale onvastheid in Uit die blou van onse hemel

Thomassen (2009:51) voer aan dat die liminale fase, wat dien as ruimte van oorbrugging tussen twee verskillende stadia van persoonlike of gemeenskaplike identiteit en kulturele definiëring, geken word aan gevoelens van twyfelagtigheid, disoriëntering en onvastheid.

Wanneer Turner (1994:93) poog om die situasie van die inisiant27 binne die liminale ruimte te verduidelik, doen hy dit aan die hand van die mees ooglopende verskil tussen die liminale inisiant en die persoon wat buite die liminale ervaring staan, naamlik deur te verwys na onvastheid van die inisiant teenoor ʼn vaste bestaan. Turner gebruik die woord toestand (in Engels, state) om te verwys na ʼn relatiewe vaste en stabiele bestaanswyse. Soos reeds gestel kan die woord toestand ook gebruik word ter beskrywing van die fisiese, geestelike of emosionele kondisie waarin ʼn persoon of groep bevind word binne ʼn spesifieke tyd. ʼn Persoon kan vervolgens in ʼn toestand van goeie of slegte gesondheid wees, of ʼn gemeenskap kan in ʼn toestand van hongersnood of oorvloed verkeer. Toestand kan hiervolgens verwys na enige tipe stabiele of herhalende kultureel erkende kondisie (Turner, 1994:94). Verder is gestel dat teenoor die vastigheid van ʼn toestand Turner deurgangsrites ʼn transformasie of ʼn oorgang

27

113

noem – dit is vergelykbaar met water wat verhit word tot kookpunt, of met die toestand van ʼn papie wat in die fase is tussen larwe en mot. Van groot belang is dat die oorgang oor ander kulturele eienskappe beskik as die toestand. Binne die liminale fase beweeg die deelnemer dus met ʼn gevoel van ongedefinieerdheid binne ʼn ruimte van onvastheid en tydelikheid (vgl. Kruger & Van der Merwe, 2011,158), oftewel, ʼn onvaste toestand.

Verwysings na onvastheid in Uit die blou van onse hemel word op verskeie vlakke vasgevang in die ver-beeld-ing van die landskap. Strategieë van sublieme landskapskildering kom hier weereens op ʼn eiesoortige wyse na vore en werk mee om gestalte te gee aan die ervaring van onvastheid. Die prominente element van die sublieme wat hier aanduidend van liminale onvastheid staan is dié van onsekerheid.

Hier sien mens nie die Romantiese voorstelling van sublieme onsekerheid van die landskap deur ʼn landskap uit te beeld as onbekende terrein wat onsekerheid oproep (in die sin van verbeeldingryke opwinding of avontuur) nie. Daar is eerder sprake van ʼn oorbekende landskap- tipe, naamlik ʼn landery, wat getoon word in ʼn proses wat die aanskouer onseker laat ten opsigte van waaraan die landskap inderwaarheid onderwerp word. Gutter se kenmerkende skildertegniek bemoeilik die aanskouer se identifikasie van die detail van die toestand van die landery. Dit is die eerste vlak van onsekerheid: wat presies is besig om op die landery te gebeur? Dit is nie duidelik of daar geploeg, geplant of gestroop word nie. Tog is die aanskouer bewus van die feit dat die landery wel deur die boere bewerk word, en dus in ʼn toestand van verandering is.

Landerye sal per definisie gedurig in fases van verandering verkeer, vanweë die verandering van seisoene en die verbouingsprosesse van verskillende gewasse. Die verandering van toestand kan in die skildery se geval gelees word as ver-beeld-ing van die liminale element van onvastheid. Soos wat die twee boere in die voorgrond gestel kan word as voorstellings van die gemeenskap waaraan hul behoort, kan die landskap waarbinne hul staan gesien word as tiperend van die omstandighede waarbinne hierdie gemeenskap verkeer. Die landery wat dus binne ʼn onvaste proses van verandering is, verwys dan na die omstandighede van die boeregemeenskap wat onvas en twyfelagtig is.

Onsekerheid oor die bestaanswêreld en toestand van die boeregemeenskap word verder gevoer deur die voorkoms van die twee mans. Die argument kan gemaak word dat die verskil in ouderdom tussen die twee mans as teken staan van die feit dat die omstandighede van die boeregemeenskap ʼn ingrypende invloed op alle generasies het. Hierdie beskouing kan verder

114

gevoer word deur te stel dat die onsekere tydperk wat vrees en bedreiging nog ʼn kommerwekkende invloed op die boeregemeenskap sal hê van so ʼn aard is dat dit generasies sal oorkoepel. Hiermee word bedoel dat die ou man as teken staan van die jong man wat sy hele lewe in onsekerheid gaan moet leef as gevolg van dreigende omstandighede van gevaar en twyfelagtigheid (Simich et al., 2009:258). Die onsekerheid word die erfenis, net soos die grond ʼn erfenis is – weliswaar ʼn onseker een.

Die mans se halfnaakte liggame veroorsaak ook verdere gevoelens van onsekerheid, veral omdat die aanskouer nie weet hoekom die mans hul hemde uitgetrek het, en daardeur hul sagte wit vel aan die elemente blootstel nie. Die vel wat normaalweg beskerm word deur bedek te wees deur klere, en nou blootgestel is, kan verder spreek van onvastheid, omdat die toestand waarin die liggaam normaalweg bedek is nou skielik verander het. Weereens verwys hierdie ver-beeld-ing terug na ʼn liminale ervaring van onvastheid van die boeregemeenskap vir wie die twee mans "instaan". Verder is die gedagte van uittrek ʼn openbaarmaking van die self, asof die bedreigde liggaam tentoongestel word met al sy identiteitsmerkers van witheid en manlikheid. Die ervaring van ʼn liminale toestand van onvastheid binne die boeregemeenskap van Suid- Afrika kan gekoppel word aan ʼn verskeidenheid faktore wat daagliks op hul lewens inspeel, waarvan sommige reeds voorgestel is. Wat hierdie faktore ook al mag wees toon hierdie kunswerk dat die boeregemeenskap magteloos staan binne hierdie onvaste toestand, iets wat onmiskenbaar tiperend is van ʼn liminale fase. Hierdie onvaste bestaan hou wel in dat verandering deel uitmaak van die verwysing van diegene wat binne die liminale fase verkeer. Verandering van status sal met hierdie veranderinge binne die liminale fase gepaardgaan, en word vervolgens ondersoek in die werk.

5.3.3. Liminale verandering van status in Uit die blou van