• No results found

5.4. Into the landscape I – die ver-beeld-ing van onsigbare bedreiging

5.4.1. Liminale afsondering in Into the landscape I

Die bees in Into the landscape I is in die voorgrond van die werk, op ʼn wyse wat sterk herinner aan die plasing van die twee boere in Uit die blou van onse hemel. Die werk word in ʼn mate ʼn "portret" van die bees, en is daarom meer as ʼn blik op ʼn landskap waarin ʼn bees sigbaar is. Soos in die voorafgaande afdeling genoem word, staan die landskap amper in die rol van definiëring van die bees, eerder as wat die bees deel vorm van die definiëring van die landskap. In Uit die blou van onse hemel is die landskap aangewend om die twee mans te kontekstualiseer. In daardie geval het die landskap wat ʼn landery uitbeeld die mans geidentifiseer as boere. Die landskap in Into the landscape I definieer die bees op ʼn soortgelyke wyse – deur dit in hierdie landskap te plaas, wat unieke karakterseienskappe het, verander die wyse waarop die bees waargeneem word.

Die nostalgiese roering wat moontlik opgeroep kan word deur die aanskoue van die bekende gesig van ʼn bees in ʼn oop veld word by nadere ondersoek geknel, juis omdat hierdie werk uiteindelik blyk om nie bloot ʼn uitsig oor ʼn oop veld te wees waarin ʼn bees teenwoordig is nie. In die konteks van die uitstalling moet die aanskouer die bees beskou as teken van iets anders, veral dan met verwysing na die bestaan van bedreiging van die boeregemeenskap.

Soos in die lees van die voorafgaande kunswerk word die ondersoek na die ver-beeld-ing van elemente van die liminale gekoppel aan die gebruik van sublieme landskapskildering. Hiervoor word weer van die ses temas wat deur Burke geïdentifiseer is as sentraal tot die skepping van uitbeeldings van die sublieme gefokus. Hierdie temas is; probleme, die skielike en onverwagse, donkerte (wat verwys na onsekerheid), gevaar, vreesaanjaendheid, en leegheid (wat verwys na afsondering) (Chu, 2003:72) – sien afdeling 3.4.

Wat die uitbeelding van die sublieme betref is dit interessant om te merk dat Burke ([1757] deel IV) in sy Enquiry (1757) juis daarop gewys het dat ʼn dier wat deur die mens beheer word (soos ʼn bees) nie die vrees en verskrikking kan aanwakker wat sal lei tot ʼn sublieme waarneming nie. Hierdie ondersoek sal egter toon dat die bees hier nie aangewend word as sublieme element

124

nie, maar eerder die landskap waarin die bees verkeer benader volgens die sublieme, en uiteindelik word liminale ver-beeld-ing só bewerkstellig.

Die komposisionele uitleg van hierdie werk bepaal, myns insiens, dat leegheid as die prominentste aspek van die sublieme daar voorkom. ʼn Leë uitspansel blou lug rus bo-op ʼn uitgestrekte landskap wat amper onveranderd voortvloei in abstrakte grofheid. Om die grense van die werk word geen teken gegee dat hierdie eentonige, plat, leë terrein besig is om te verander nie. Buiten vir die ongedefinieerde donker massa op die verre horison is die enkele bees in die voorgrond geheel en al alleen binne hierdie leë ruimte.

Opslag se tema van vrees en bedreiging in die konteks van die Suid-Afrikaanse plaaslewe, in samehang met die ontleding van Uit die blou van onse hemel, suggereer die moontlikheid dat die bees, soos die twee boere in Uit die blou van onse hemel, as teken staan vir die Suid- Afrikaanse boeregemeenskap. Verder plaas die grootse leegheid die bees in ʼn posisie van afsondering. Dit is duidelik afgesonder van baie dinge, insluitend ander beeste, in die leë oopte waar dit staan. Met ander woorde: die mens is afgesonder.

Die Vrystaatse landskap, wyd en leeg, lê uitgestrek agter die figuur van die bees. Die afwesigheid van noemenswaardige topografiese diversiteit skep die indruk van niksheid. Coetzee (1988:37) verwys juis na hierdie uitgestrektheid as aspek van ʼn sublieme landskap. Gutter benut, myns insiens, hierdie kenmerkende eienskap van die voorkoms van die streek waar sy grootgeword het om die idee van afsondering te beklemtoom.

Beide Van Gennep en Turner (vgl. Turner, 1994:47) stel afsondering as nie slegs sentraal tot liminaliteit nie, maar as die eerste belangrike stap wat geneem word met die aanvang van die liminale fase. Binne die deurgangsrite moet die inisiante afgesonder word van hul gemeenskap voordat die volgende stappe binne die rituele proses kan plaasvind (vgl. Turner, 1994:96). Hierdie afsondering sal uiteindelik die hoeksteen wees waarop vele ander nie-normatiewe aspekte wat verbonde is aan die rituele proses gebou word. Binne die nie-stamgebonde liminale ervaring speel afsondering steeds dieselfde vormende rol, naamlik dat dit een van die eerste en belangrikste aspekte van die liminalie ervaring is (Thomassen, 2006:322).

Die bees wat in afsondering binne die uitgestrekte leë landskap beskou word roep twee ander temas van die sublieme op, naamlik; probleme en vreesaanjaendheid. Weer eens toon Gutter se benutting van sublieme aspekte van landskapskildering dat die landskap self nie die emosies van pyn en vrees versinnebeeld nie, maar die landskap hou eerder hierdie temas in wanneer dit

125

in konteks gesien word saam met die ander elemente binne die skildery – die bees in hierdie geval. Die afsondering wat die bees ervaar word verbeeld deur die grootse landskap, maar hierdie afsondering staan ook as ʼn teken van ʼn probleem. Om alleen te wees spreek van onveiligheid, omdat geen ondersteuning van iemand/iets anders af verwag kan word nie. Die alleenheid van die bees laat dit ook kwesbaar (vir roofdiere byvoorbeeld), wat verder koppel aan die sublieme ervaring van gevaar. Hierdie ervaring van afsondering kan ook vreesaanjaendheid aanwakker, juis vanweë hierdie genoemde gevaar wat daarmee gepaardgaan.

Die afsondering van die bees word dus beklemtoon deur die voorkoms van die landskap. Die landskap toon ook verskeie verwysings na temas van sublieme landskapskildering, hoewel meestal eiesoortig van aard. Die landskap as aanduiding van liminale afsondering spreek egter slegs een van die elemente van die liminale wat binne hierdie werk waargeneem word aan. Die bees se interaksie met die landskap spreek van verdere elemente van die liminale. Hier verwys ek nie slegs na die bees se teenwoordigheid binne die gedeelte van die landskap wat op die doek uitgebeeld word nie, maar ook na die bees se skynbare fokus op dit wat buite die raam van die skildery gebeur. Die feit dat die bees blyk om na iets buite die prentoppervlak te kyk sal in die volgende gedeelte getoon word om verder te getuig van die ver-beeld-ing van die liminale.