• No results found

5.5. Landskap naby Zastron – die ver-beeld-ing van die vervlietendheid van plek

5.5.3. Liminale afsondering in Landskap naby Zastron

Met die lees van die voorafgaande twee werke is die belangrikheid van afsondering as element van die liminale uitgelig as sentraal tot die liminale ervaring. Die Vrystaatse landskap is ook getoon om sprekend te wees van ʼn grootsheid wat spreek tot sublieme waarneming, hoewel anders as die horisontale grootsheid van Romantiese sublieme landskapskildering.

In Landskap naby Zastron dra die uitgestrektheid van die relatiewe plat landskap weereens by tot ʼn gevoel van afsondering. Ander elemente binne die werk dra egter ook by hiertoe. Die ongedefinieerdheid van die elemente vervat binne die landskap kan gesien word as sprekend van ʼn ongedefinieerdheid van plek, of dalk as ʼn plek sonder definisie, wat dus afgesonderd is omdat dit verwyderd is van vaste beskrywing.

Die titel van hierdie werk speel verder in op hierdie tekort aan spesifieke definisie. Die dorp Zastron word as plek van vaste definisie genoem, maar die landskap wat waargeneem word is ongedefinieerd teenoor hierdie vaste plek. Die landskap word nie getipeer as enige iets anders as ʼn landskap nie – dit word nie benoem as ʼn plaas of spesifieke plek van belang nie. Die nabyheid van hierdie ongedefinieerde gedeelte landskap aan Zastron is ook relatief. "Naby" as konsep sal verskil na gelang van die vervoermiddel en/of tyd verbonde aan die reis tussen hierdie plek en Zastron self. Hierdie plek wat waargeneem word word dus in inhoud en titel afgesonder. Zastron self is ʼn klein dorpie in die Vrystaat. Soos Gutter se geboortedorp Brandfort is dit ook ekonomies gesentreerd rondom die landbousektor. Hoewel die dorp sekere aantreklikhede mag bied aan toeriste is dit eintlik ʼn onnoemenswaardige plekkie. Dit word omring deur ander klein dorpe wat in aard en identiteit soortgelyk is aan Zastron self – sodat die dorp en omgewing se anonimiteit emblematies instaan vir die identiteitsloosheid van die liminale toestand.

5.6. Slotopmerkings

Die lees van die drie geselekteerde werke in hierdie hoofstuk was daarop toegespits om te toon hoe Gutter se landskapwerke gebruik maak van tegnieke van sublieme landskapskildering wat aangewend word om die liminale ervaring te verbeeld. Elke werk is vanuit hierdie

136

veronderstelling ondersoek na gelang van die waarneembare temas van sublieme landskapskildering daarin. Vervolgens is getoon hoe Uit die blou van onse hemel, Into the landscape I, en Landskap naby Zastron elk om die beurt die sublieme temas van probleme, die skielike en onverwagse, donkerte (wat verwys na onsekerheid), gevaar, vreesaanjaendheid, en leegheid (wat verwys na afsondering) bevat. Die uitgangspunt is dat ʼn landskap telkens ʼn projeksie word van ʼn subjektiewe bewussyn se respons op ʼn gedeelte van die visueel- waarneembare werklikheid. Sodoende kan emosionele response soos onsekerheid en dies meer beskou word as tasbare, of dan waarneembare aspekte in die werke. Op hierdie wyse word die landskap ʼn vergestalting van tematiese aangeleenthede wat – soos beredeneer is – rondom die sublieme gesentreer is.

Hierde sublieme temas wat na die landskap geprojekteer word, soms in samehang met ander elemente binne die betrokke werke, is getoon om die ver-beeld-ing van die liminale te onderskryf. Sewe elemente van die liminale is geïdentifiseer vir die lees van die gekose kunswerke. Hierdie elemente is magteloosheid en weerloosheid, onvastheid, verandering van status, disoriëntering, afsondering, marginalisering, en die twyfelagtige. Hoewel hierdie elemente elk moontlik uitgelig kan word in die ver-beeld-ing van al drie die werke is die fokus telkens geplaas op die prominentste liminale elemente wat in elke werk geïdentifiseer is.

Hiervolgens is uiteindelik getoon hoe sublieme landskapskildering binne Uit die blou van onse hemel die liminale elemente van afsondering, onvastheid, en verandering van status verbeeld. Into the landscape I is getoon om deur middel van sublieme landskapskildering die liminale elemente van afsondering, disoriëntering, en marginalisering te verbeeld, en Landskap naby Zastron dié van onvastheid, twyfelagtigheid, en afsondering.

Ter afsluiting sal die volgende hoofstuk die gevolgtrekkings en slotbeskouinge rakende hierdie ondersoek voorhou. Voorstelle vir verdere navorsing sal ook aan die hand gedoen word.

137

HOOFSTUK SES

Gevolgtrekkings en slot

6.1. Opsommend: Hoofmomente van die verhandeling

In hierdie verhandeling is ʼn ondersoek onderneem na geselekteerde werke van Pauline Gutter uit haar uitstalling Opslag (2008); spesifiek dan Uit die blou van onse hemel (2004), Into the Landscape I (2007), en Landskap Naby Zastron (2006).

Die lees van die werke is gerig deur ʼn identifisering van elemente van die liminale, met die oog daarop om die kunstenaar se ver-beeld-ing van die liminale ervaring van haar gemeenskap te interpreteer soos wat dit in haar landskapwerke vergestalt word. Hiermee saam is die gebruik van tegnieke van sublieme landskapskildering in die onderskeie werke ondersoek. Die wyse waarop temas van sublieme landskapskildering verband hou met elemente van die liminale is uitgelig om uiteindelik die ver-beeld-ing van die liminale binne die gekose werke te toon.

Vanweë Gutter (2008) se verwysing na haar werke as ʼn vorm van dokumentêre psige is die milieu waarbinne die kunstenaar leef en ook haar kuns beoefen in ag geneem. Die studie het met ander woorde vanuit die veronderstelling gegaan dat die kunstenaarsbiografie en kennis aangaande haar beweegredes bruikbare insigte kan bied met betrekking tot die ontsluiting van haar werke (kyk ook Perry, 2004:239 in hierdie verband). Hieruit is sekere belangrike aspekte wat inspeel op die lewens van lede van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap geïdentifiseer. Die leefwêreld van die boeregemeenskap wat gekenmerk word aan ʼn ervaring van bedreiging, vrees, magteloosheid en afsondering is veral van belang. Hierdie ervaring staan in ironiese kontras met ʼn dikwels nostalgiese verlange na die plattelandse lewe wat geblyk het om onder sommige lede van die Suid-Afrikaanse gemeenskap (spesifieke Afrikaners) teenwoordig te wees (kyk Van Zyl, 2008).

Die invloed van sosiale en politiese veranderinge in Suid-Afrika (hier kan mens byvoorbeeld dink aan grondeise en die verlies van statuur van veral wit boere wat met die oorgang na demokrasie plaasgevind het – hoewel dit ook in die lig van die positiewe rigting op weg na gelykheid van alle mense gesien moet word) in samehang met bedreiging van plaasaanvalle is

138

getoon om ingrypende uitwerkings te hê op die boeregemeenskap se lewens- en wêreldsbeskouing. Hierdie ervaring is getoon om verband te hou met idees van liminaliteit, en wel met verwysing na veral die liminale ervaring van ʼn tussen-in- en ʼn onsekere bestaan.

Dié belewing van liminaliteit, wat sy oorsprong het in veral vrees en onsekerheid, is as ondersoekfokus geneem. Binne die verskeidenheid genres binne Opslag is landskapskildering geïdentifiseer as temakeuse van ondersoek vir hierdie verhandeling. Die aard van landskapskildering in elk van die drie gekose werke is getoon om die samebindende element ten opsigte van Gutter se eiesoortige ver-beeld-ing van die liminale te wees.

Omdat landskapskildering sentraal tot die studie staan, is ʼn bondige bespreking oor die ontwikkeling van landskapskildering binne die Westerse skildertradisie voorgehou, ook met die oog daarop om die betekenspotensiale van hierdie onderwerp en die subjektiewe afdruk van die kunstenaar op die uitbeelding en ver-beeld-ing van die landskap te ondersoek. Die ontwikkeling van landskapskildering in Suid-Afrika is hiermee saam kortliks uiteengesit.

Binne die bespreking van die ontwikkeling van landskapskildering is die modaliteit van sublieme landskapskildering spesifiek belig as middel tot die ver-beeld-ing van die liminale. Die wyse waarop die sublieme vergestalt is in veral Romantiese landskapskildering van Europa is gestel as ʼn ryk benaderingswyse tot die landskap in kuns. Die hoogtepunt van hierdie sublieme benadering is argumentshalwe die werk van Turner, wat gelees kan word in die lig van die filosofiese gedagtes rondom sublieme soos verwoord deur Edmund Burke (kyk veral Chu, 2003:184). Coetzee (1988:38) se voorstel dat die Suid-Afrikaanse landskap ook binne die uitgangspunte van die sublieme verbeeld kan word is hier as verdere vertrekpunt gestel. ʼn Begrip van die sublieme binne die unieke landskap van Suid-Afrika sal wel andersoortig aandoen (vgl. Coetzee, 1988:49). Vanuit teorieë rakende die sublieme ervaring en die neerslag daarvan in die Suid-Afrikaanse landskap is sekere temas uitgelig as sentraal tot die lees van Gutter se werke en die waarneming van die liminale daarin.

Die vergelykende bespreking van die liminale fase as deel van ʼn tipe rituele proses het hierop gevolg. Hieruit is verskillende toepassings van die liminale binne ʼn aantal velde aangedui; die liminale word byvoorbeeld aangewend as benadering binne nie net antropologiese studies nie, maar ook binne letterkundige interpretasie en die lees van kunswerke. Vir die kunshistoriese toepassing van die liminale in hierdie verhandeling is spesifieke elemente wat tiperend is van ʼn liminale ervaring uitgelig as synde ook sentraal tot die geselekteerde werke wat in die verhandeling in oënskou geneem is.

139

Die lees en interpretasie van die kunswerke het gevolg op die teoretiese besinning van liminaliteit en die verband daarvan met die sublieme, en is telkens belig deur die voorafgaande konteksskepping en teoretiese begronding. Daar is getoon hoe die werke Uit die blou van onse hemel, Into the Landscape I, en Landskap Naby Zastron op uiteenlopende maar ook ooreenstemmende wyse verskillende elemente van die liminale aan die hand doen. Hierdie elemente van die liminale was onderskeidelik magteloosheid (ook met verwysing na weerloosheid), onvastheid, die verandering van status, disoriëntering, afsondering, marginalisering, en die twyfelagtige – en is getoon om op uiteenlopende wyses, en in verskillende samestellings, binne elke werk ver-beeld te word. Hierdie ver-beeld-ing is gekoppel aan ses temas vanuit benaderings tot sublieme landskapskildering, naamlik die uitbeelding van probleme, die skielike en onverwagse, donkerte (wat verwys na onsekerheid), gevaar, vreesaanjaendheid, en leegheid (wat verwys na afsondering) – wat om die beurt binne elke werk uitgelig is.