• No results found

Liminale verandering van status in Uit die blou van onse hemel

5.3. Uit die blou van onse hemel – die ver-beeld-ing van weerloosheid

5.3.3. Liminale verandering van status in Uit die blou van onse hemel

Wat die verandering van status binne die deurgangsrite betref herhaal ek Van Gennep (Turner, 1994:94) se beskrywing, wat soos volg lui: "Rites which accompany every change of place, state, social position and age". Hieruit kan die gevolgtrekking gemaak word dat die liminale fase in ʼn minder of meerdere mate teenwoordig is by meeste veranderinge waardeur ʼn individu of groep gaan (vgl. Thomassen, 2009:51; Turner, 1994:47; Kruger & Van der Merwe, 2011:158).

115

Hierdie veranderinge van plek, toestand, sosiale posisie en ouderdom hou in dat die persoon wat hierdie verandering ondergaan ook daarmee saam ʼn verandering van status ondergaan. Verandering van status staan sentraal in hierdie verband – nie net tot die liminale fase self nie, maar ook tot die bestaanservaring wat op die liminale fase volg. Wanneer ʼn inisiant tot die ritueel toetree verander sy/haar status onmiddellik, juis omdat hy/sy deel word van ʼn ritueel. Die doel van ʼn ritueel het egter gewoonlik ook te doen met ʼn verandering van status wat die inisiant toegeken word na afloop van ʼn ritueel (vgl. Turner, 1994:94). Wanneer ʼn individu byvoorbeeld lidmaatskap verkry van ʼn eksklusiewe klub, mag daar dalk van hierdie individu verwag word om aan ʼn ritueel of reeks rituele deel te neem voordat sy of haar toetrede as volwaardige lid aanvaar word. Hierdie individu tree vervolgens eerstens die ritueel binne, waar ʼn reeks elemente sal geld wat die liminale periode kenmerk. Toetrede tot die ritueel of reeks rituele, met die hoop om uiteindelik toegelaat te word tot so ʼn klub, verander dus die individu se status na dié van ʼn inisiant. Wanneer die ritueel uiteindelik voltooi word, en die inisiant toelating tot die groep as volwaardige lid ontvang, verander die individu se status weer na dié van ʼn lid. In wese is daar sprake van drie statuselemente: voor die ritueel, ten tyde van die ritueel (die liminale ervaring) en na afloop van die ritueel. Status hou ook verband met ʼn titel of benaming, wat op sy beurt uitdrukking gee aan die status van die individu (of groep).

Sublieme landskapskildering kan weereens bespeur word in die wyse waarop hierdie liminale element aan die orde kom in die kunswerk. Die verandering wat byvoorbeeld aan die landery aangebring word deur dit te bewerk sinspeel op die ervaring van onvastigheid van die boeregemeenskap, soos hierbo bespreek, maar kan ook gesien word as sprekend van die verandering van status. ʼn Landery se verandering van status word uitgedruk deur die wyse waarop na die toestand van die land verwys word. Hiervolgens kan ʼn landery se status dus wees: geploeg, gesaai, gestroop, ensomeer. Voordat die land verbou is deur die boere wat daarop staan was dit eens ook ongetem en natuurlik. Die boere se teenwoordigheid daarop wys op hul besit daarvan en ook op hul temming van die wilde natuur (albei veranderinge van die landskap se status), en speel verder in op ʼn historiese uitkyk op die landskap en dit waarvoor dit staan. Die landery (as landskap) in Uit die blou van onse hemel wat as teken staan van die toestand waarbinne die boeregemeenskap hulself bevind verleen dus die tydelike status daarvan (deur in ʼn proses van bewerking te wees) aan die toestand van die boeregemeenskap wat dit verbeeld.

116

Die boeregemeenskap wat homself binne ʼn toestand bevind wat etlike elemente van ʼn liminale fase vertoon, beskik ook oor ʼn status wat verband hou met die konstante ervaring van vrees en bedreiging. Die eerste status-titel hiervan is dié van ʼn "teiken", veral in die konteks van die bedreiging van plaasaanvalle (en roep weer die sinspeling van ʼn vuurpeleton op soos hierbo genoem). Die mans in die werk is boere, en is daarom deel van die groep wat geteiken word (as mens veral na plaasaanvalle verwys) en wat daarom daagliks vrees en bedreiging ervaar. Hul semi-naakte liggame verstrerk verder hierdie idee dat hul kwesbare teikens is. "Slagoffer" is ook ʼn titel van status wat toegeken kan word aan lede van die boeregemeenskap.

Hoewel die boeregemeenskap nie soos in die geval van ʼn spesifieke stamgebonde ritueel doelbewustelik toegetree het tot ʼn liminale fase nie, staan hul tog vasgevang binne ʼn toestand van verandering van status – waarteen hul magteloos is. Die verandering van status wat hul toegeken is binne ʼn post-1994 Suid-Afrika hou ʼn aantal onverwagse veranderings aan hul lewensomstandighede in. Hierdie veranderings mag sonder hul konsensus inspeel op hul lewens – maar ongeag hiervan is daar steeds sprake van ʼn belewing van ʼn liminale fase, omdat dit aanduidend van ʼn tyd en plek van oorgang is van ʼn vorige gedefinieerde identiteit na ʼn nuwe, onbekende identiteit (vgl. Turner, 1969:112).

Die titel van hierdie werk verwys baie spesifiek na ʼn post-1994 verandering van status wat inspeel op die lewens van die boeregemeenskap. "Uit die blou van onse hemel" is die openingsreël van Die Stem van Suid-Afrika, die voormalige landslied (ook bekend, en belangrik in hierdie konteks, as die volkslied). Hoewel hierdie aanvangsgedeelte van die lied steeds deel vorm van die huidige landslied moet die verwysing na die lied ook gelees word as (moontlik nostalgiese, maar ook onheilspellende) verwysing na ʼn tydperk wat die boeregemeenskap (vanweë die noue verbondenheid aan Afrikanervolkskap) ʼn ander, meer maghebbende status binne die land beklee het. Wanneer die eerste strofe van hierdie lied beskou word kan verskeie elemente uitgelig word wat spreek van die verandering van status wat die boeregemeenskap tans ondergaan:

117

Uit die blou van onse hemel, Uit die diepte van ons see,

Oor ons ewige gebergtes Waar die kranse antwoord gee

Deur ons vêr verlate vlaktes Met die kreun van ossewa Ruis die stem van ons geliefde,

Van ons land Suid-Afrika. Ons sal antwoord op jou roepstem,

Ons sal offer wat jy vra: Ons sal lewe, ons sal sterwe,

Ons vir jou, Suid-Afrika!

Teks: C.J. Langenhoven in die FAK-sangbundel

Die feit dat hierdie lied aangeneem is as landslied tydens ʼn era van Afrikaner-Nasionalistiese regering (in die jaar 1957) gee ʼn aantal leidrade ten opsigte van die situering daarvan. Die herhaalde gebruik van die woord "ons" kan krities beskou word om slegs op ʼn sekere gedeelte van die bevolking gerig te wees, veral wanneer die apartheidswetgewing van die middel van die twintigste eeu in gedagte gehou word. Die verwysing na ʼn ossewa wat histories sterk gekoppel word aan die Groot Trek (1835 - ) betrek ook slegs diegene wat by hierdie geleentheid betrokke was – en sinspeel op die "ontdekking" van Suid-Afrika deur die Trekkers. Die Groot Trek is deur baie beskou as ʼn proses waardeur die Afrikaner (as Europese afstammeling) die "onbeskaafde en ongetemde" landskap van Suid-Afrika stelselmatig onder hande geneem het om dit te bewoon en te bewerk binne ʼn Westese beskouing van grondbesit en eienaarskap (vgl. Giliomee, 2003:19).

Met die oorgang na ʼn demokrasie na 1994 verander vele van hierdie opvattinge. Die "ons" binne die lied verwys nou na meer as net die wit minderheidsgroep wat eens aan bewind was. Hul status kan gestel word as veranderend: van alleeneienaars na „n tipe gesamentlike eienaarskap. Grondeise in post-apartheid Suid-Afrika spreek duidelik van die verandering van hierdie konsepte van eienaarskap – en van die kompleksiteite van die historiese realiteite van grondbesit

Die bewoording spreek verder van ʼn sekere versugting na die natuur – wat hier as ʼn wye, ongerepte uitspansel geteken word (behalwe vir die ossewa, wat die mens simboliseer). Die hemel, see, gebergtes, kranse, en vlaktes word almal na verwys as deel van eienaarskap, maar

118

ʼn besondere lojaliteit word ook daaroor uitgespreek deur die afsluitingswoorde wat stel dat "ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika". Die diepe verbondenheid aan die natuur speel natuurlik in op die leidende denke rakende die nostalgiese idees oor plattelandse en plaaslewe. Gutter se werk spreek, deur die sublieme verwysing daarin na gevaar, vrees, en onsekerheid, na die feit dat die Boere (as lede van die boeregemeenskap) inderwaarheid wel dalk mag sterf as gevolg van hul verbondenheid aan hierdie natuurskoon wat aangeroep word. Dié soort afsterwe – as gevolg van onder andere persepsies van polities-historiese faktore – is nie noodwendig geantisipeer in die "ons sal lewe, ons sal sterwe" nie.

Boerdery se afhanklikheid van die siklusse van die natuur word moontlik ook deur die titel aangespreek. Die blou hemel is die plek waar noodsaaklike, of verwoestende, reën en sonskyn vandaan moet kom. Die werk beeld ook ʼn duidelike uitspansel blou hemel uit. Net soos boere magteloos staan om te bepaal wat die blou hemel sal oplewer, so kan die uitbeelding van hierdie werk stel dat die boeregemeenskap se liminale fase hul magteloos laat teenoor, en as gevolg van, die onvastheid van hul bestaan en die verandering van hul status.

Soos die status van die volkslied verander, verander die boer se status – en die "ons" in die lied en in die titel van die kunswerk. Hierdie verwysing na ʼn groep wat hulself identifiseer deur die woord "ons" spreek, binne die konteks van die liminale wat hier ondersoek word, ook van Turner (1969) se teoretisering van die verskynsel van communitas.

Turner (1969:96) se verduideliking van communitas as ʼn sosiale gelykwording tussen inisiante kan hier gesien word in hoe die mans se persoonlike identiteit weerhou word om hul sodoende as teken te stel van ʼn breër boeregemeenskap as kollektief.

119

5.4. Into the landscape I – die ver-beeld-ing van onsigbare