• No results found

Liminaliteit en die belangrikheid van plek en afsondering

In hierdie afdeling word die belangrikheid van plek en afsondering binne die konteks van liminaliteit kortliks aan die orde gestel. Die rol wat ʼn spesifieke plek speel beide in die konteks van die individu en die groep ten opsigte van hul liminale ervaring is ʼn onteenseglikheid. Die sogenaamde liminale plek hou dikwels verband met afsondering, hetsy fisiese afsondering (om verwyderd te lewe van die mense of plek wat jou eens omring het) of sosiale afsondering (om op die marge geplaas te word deur die samelewing waarbinne jy jouself bevind). Afsondering, ook as eerste stap van die rituele proses, vind dus plaas in samehang met die ervaring van plek as deel van die liminale (Turner, 1994:47).

Afsondering word deur Turner aangespreek deur sy stelling dat ʼn ritueel, spesifiek ʼn deurgangsrite, ʼn verandering aan die deelnemers behels – veral ten opsigte van sosiale status (Turner, 1994:47; kyk ook Bal, 2011:14). Hierdie losmaking van die individu van ʼn vasgestelde sosiale posisie verander daardie individu se status tydelik na liminaal (Turner 1969:80). Hier kan iemand (ʼn individu of groep) wat na ʼn ander land emigreer as voorbeeld gestel word. Wanneer hierdie persoon/e na die ander land gaan verwyder hul hulself van hul vorige sosiale posisie en gevestigde plek in ʼn kultuur. Aanpassing binne die nuwe land se sosiale en kulturele strukture kan nie onmiddellik plaasvind nie, omdat die persoon/e eers daaraan blootgestel moet word en daarvolgens persoonlike verandering ondergaan. Hierdie invididue of groep leef dus tydelik binne ʼn liminale toestand vanweë hul nuwe plek asook hul posisie van afsondering. In die geval van migrasie en ontheemding in postkoloniale en post-oorlogkontekste, byvoorbeeld, hou die afsondering gelyktydig verband met die groep of individu se afsondering van hul "ou" land as gevolg van hul skuif, maar ook met hul afsondering binne die "nuwe" land, omdat hul as vreemdeling binne daardie land se sosiale struktuur (en moontlik etnisiteit, taal en ander sogenaamde identiteitsmerkers) staan22.

22 „n Groot aantal besonder aangrypende en min of meer outobiografiese tekste bestaan wat hierdie

ontheemdingsproses aanspreek. Twee voorbeelde hiervan kan genoem word. Modris Eksteins se boek Walking

Since Daybreak. A Story of Eastern Europe, World War II and the Heart of the Twentieth Century (1999) is begaan

87

Binne ʼn liminale fase lewe die inisiante tydelik buite hul normale omgewing (fisies of emosioneel), hetsy hierdie toestand afgedwing of vrywillig tot stand kom. Vrywillige toetrede tot die liminale ervaring kan gepaard gaan met iemand wat byvoorbeeld besluit om te emigreer, of kies om deel te hê aan ʼn ritueel. Gedwonge liminaliteit, daarenteen, kan die gevolg wees van oorlog, koloniale prosesse of van ʼn natuurramp wat die plek en lewenswyse van mense verwoes en hulle verplaas. Daarom ervaar persone binne enige van die gevalle ʼn gevoel van liminaliteit vanweë die verandering wat aan hul lewens toegedien word, en ʼn skuif vind plaas, hetsy van plek, of tyd, of albei. Dit lei tot hul bevraagtekening van identiteit en die bestaande sosiale orde, deur ʼn reeks rituele wat dikwels pyn behels (Thomassen, 2006:322, Bhabha, 1994a:4).

Die fase van afsondering word gekenmerk aan simboliese gedrag wat as teken staan van die individu of groep se losmaking van ʼn vroeër vaste punt binne ʼn sosiale struktuur of ʼn stel kulturele toestande (Turner, 1994:94). Die liminale ruimte moet egter nie gesien word as iets wat teenstrydig is met struktuur nie, maar moet eerder in die lig beskou word van die spesifieke en komplekse aard van die gedagte van struktuurloosheid. Stuktuurloosheid erken inherent dat ʼn struktuur wel sou moes bestaan, en poog nie om die bestaan van ʼn struktuur af te breek nie, maar is eerder ʼn toestand van verhoogde bewussyn van ʼn gebrek aan struktuur; ʼn bestaan sonder struktuur.

ʼn Verdere interessante aspek van die liminale ervaring is die tydelik onsigbare status van die inisiant. Hoewel inisiante fisies sigbaar is word hul op metaforiese vlak "onsigbaar" gemaak deur hul afsondering van die (sigbare) heersende sosiale struktuur tydens die liminale fase. Struktuurloosheid en die meegaande onsigbaarheid van inisiante word binne die rituele proses duidelik wanneer daar gekyk word na hoe die inisiante geen status, eiendom, kentekens, sekulêre klere of rang het wat deur die heersende sosiale struktuur gevalideer word en wat hul van mekaar kan onderskei nie (Turner, 1994:96). Hierdie eienskappe van struktuurloosheid maak die inisiant tydelik amorf, onseker en ongedefinieerd. Hulle word as kollektief eerder as individue gesien. Ironies genoeg kan hier ook aangevoer word dat dit juis hierdie eienskappe is

die groter Europese situasie na die Tweede Wêreldoorlog. Hélène Cixous in haar bundel essays genaamd Stigmata.

Escaping Texts (1998) verwys in die essay “My Algeriance, in other words, to depart or not to arrive from Algeria”

(vertaal deur Eric Prenovitz) na haar Algeriese herkoms, haar omswerwinge as nie-“egte” Algeriër en die destabiliserende effek daarvan op haar sin vir identiteit. Beide tekste behandel die ervaring van die nuwe land op „n wyse wat as sprekend van die liminale beskou kan word. Simich et al. (2009:253) se antropologiese artikel ten opsigte van emigrante se ervarings is aansluitend by hierdie saak en word onder 5.9 van hierdie verhandeling behandel waar verwys word na die antropologiese ondersoek na liminaliteit in die eietydse akademiese omgewing.

88

wat die grondslag is vir potensiële groei en herdefiniëring sonder die beperkinge van gevestigde maniere van doen. Dit is omdat die liminale fase die fase van nuwe moontlikhede is.

Soos genoem, word inisiante tydens die rituele proses onttrek uit hul gestruktureerde posisie (wat onder andere hul identiteit en sosiale rolle behels). Hiermee saam word hulle ook gestroop van hul waardes, norme, sentimente en gebruike wat geassosieer word met hul voormalige posisie en toestand. Dit beteken ook dat hul ontneem word van hul vorige gewoontes en optrede. Hierdeur word hulle gedwing om op redelik ingrypende wyse na te dink oor hul gemeenskap, hul sosiale bestel en identiteit. Daarom kan die stelling gemaak word dat liminaliteit verder ook beskryf kan word as ʼn fase van oordenking (Turner, 1994:105; Bhabha, 1994b:69).

Uiteindelik, in die finale fase van die ritueel (die fase van herinkorporasie), na afloop van die liminale fase, keer die deelnemers of inisiante terug na die samelewing met ʼn sterker bewustheid van "hoe dinge werk", maar hul is ook weer onderhewig aan bepaalde instellings en wette (Turner, 1994:106). Die liminale proses bevorder vervolgens inisiante se (her)intergrasie by die samelewing waarbinne hul hierna moet leef en funksioneer.

In die lig van die besinning sover kan gestel word dat liminaliteit te make het met beweging tussen ruimtes. Binne ʼn postkoloniale konteks word voorgehou dat ruimte, as die plek van die individu of groep veral met betrekking tot liminale afsondering ʼn sentrale rol speel. ʼn Verdere afleiding wat gemaak word is dat plek en afsondering binne die liminale fase interafhanklike konsepte is – twee kante van dieselfde munt. Hierdeur word bedoel dat die plek van die inisiant of liminale persoon gekenmerk word aan eienskappe van afsondering. Verder veroorsaak afsondering dat ʼn spesifieke plek gesuggereer word waarbinne gevolglike liminale verandering aan die individu of groep plaasvind. Die liminale ervaring vorm dus die perspektief van die liminale persoonlikheid, en hierdie perspektief vorm dan die plek van liminaliteit. Dit blyk hieruit dat liminaliteit ook oorweeg moet word in terme van die identiteisvormende aspekte daarvan.