• No results found

2.4. Die werke van Opslag

2.4.1. Portretstudies

Gutter se oeuvre sluit ʼn groot aantal portretwerke in; haar uitstalling Stand (2010) bestaan byvoorbeeld slegs uit portretwerke. Opslag toon Gutter se voorliefde vir portretwerke in verskillende benaderings.

Die afmetings van sommige van die portretwerke in Opslag is, soos in Stand, byna heroïies groot – digby twee meter hoog. Die persone wat uitgebeeld word se gesigte is so groot, en so prominent geplaas op die doek dat hulle ʼn byna konfronterende effek op die aanskouer het (mens kan byvoorbeeld dink aan die Amerikaanse superrealis Chuck Close [1940 – ] wat veral bekendheid verwerf het vir sy grootskaalse, frontale portretwerke). Die ervaring van mense se gesigte op hierdie skaal is vreemd; asof die wese van ʼn individu vergroot, uitgerek en meer akuut-beleefbaar gemaak word.

27

Kmdt G.L. Botha (2005 – Fig. 7) is ʼn voorbeeld van so ʼn groot werk. Hier is Gutter se

ekspressiewe kwashale en los verfaanwending prominent. Die persoonsobjek se gesig word in genoeg detail uitgebeeld om herkenbaar te wees, maar die skilderstyl se gebrek aan fotografiese detail is hoogs suggestief van aspekte van die karakter. Op die groot (190 cm x 180 cm) houtoppervlak is daar byvoorbeeld iets wat lyk soos ʼn skeur, wat bo-oor die man se gesig strek. Hoewel die man wat uitgebeeld word nie voorkom om spesifiek te poseer vir die werk nie, maar dalk eerder besig met sy daaglikse doen en late, ruk die skeur oor die oppervlak van die werk die kyker, en daarmee saam die kunswerk, tot stilstand. Vanuit hierdie waarneming groei daar ʼn ongemaklikheid rondom die werk. Die naam en die man in die werk verklap niks wat ongemak veroorsaak nie, maar die skeur op in die werk se skrille teenwoordigheid bring onrustigheid. Kennis van Opslag se onderwerp sal natuurlik begeleidend wees tot ʼn begrip van Gutter se verwysing deur die plasing van die skeur – die skeur is egter uniek tot hierdie werk, en kom nie as element in ander werke voor nie. Hoewel Gutter nie in enige van die skilderwerke in Opslag die grusame werklikheid van ʼn plaasaanval/moord uitbeeld nie suggereer haar skilderye die konstante ongemak van die invloed van lewensgevaarlike bedreiging op die psige van die wat daardeur geraak kan word.

28

In teenstelling tot die opvallend groot portrette in Opslag (asook Stand) is daar ook ʼn ander versameling portretstudies van Gutter genaamd Boer Souls (Boeresiele) (2008 – Fig.8). Waar die werk soos Kmdt G.L. Botha ʼn alleenstaande werk is wat ʼn enkelfiguur uitbeeld, stel Boer Souls ʼn verskeidenheid mense voor. Hierdie werk bestaan uit ʼn versameling van 46 klein olie op hout portretstudies wat elk 30 cm x 24 cm groot is.

Elke portret beeld ʼn enkele persoon se gesig uit. Hierdie persone wissel in ouderdom, van relatief jonk tot baie oud, mans en vroue. Die samebindende faktor tussen die werke is die feit dat elkeen van hierdie persone deel uitmaak van die boeregemeenskap, hoewel daar niks anders in die werke verskyn om die mense binne ʼn konteks te plaas as hul gesigte en die titel nie.

Hierdie gesigte word in Gutter se kenmerkende styl van energieke, besige en kragtige lyngebruik verbeeld. Kleure en lyne werk bo-oor en saam met mekaar om elke gesig te vorm. Hoewel sommige werke se lyngebruik meer ekspressief as ander is, is die gevoel van taktiele rykheid deurlopend teenwoordig.

By aanskouing van hierdie werke is dit onmiddelik duidelik dat die uitbeelding nie streef tot ʼn verheerlikte of geïdealiseerde uitbeelding van die betrokke modelle nie. Hierdie mense se siele word spreekwoordelik voorgelê vir aanskoue, soos die titel ook aandui. Die taktiele rykheid van Gutter se tegniek gee diepte aan die oppervlak van die werk, maar hierdie diepte - en selfs grofheid - word verder gevoer na die grofheid en plooierigheid, die harde doodgewoonheid, van die mense wat uitgebeeld is.

Die deinserigheid van die uitbeelding van sommiges se gesigte, in samehang met die titel wat verwys na siele, gee aan die werk ʼn gevoel van onvastheid, asof ʼn dromerige waarneming met vlietende detail en malende kwashale getoon word. Die karakters, of siele, van die mense word ten spyte van (of dalk juis as gevolg van) hierdie deinserige representasie oorgedra. Tog word die eienskappe van elke persoon eerder as deel van die groter kollektief uitgebeeld – hierdie gedagte mag iets sê oor die kunstenaar se ver-beeld-ing van boere as ʼn kollektief of gemeenskap.

Daar kan verder gestel word dat die portrette staan as opsomming van die groter boeregemeenskap, in hul witheid, geslag, ouderdom, en persoonlikheid wat verbeeld word. Die deinserige, dowwe voorstelling kan sinspeel op verskeie aspekte rakende die boeregemeenskap. Dit mag spreek van ʼn gedeelte van die Suid-Afrikaanse gemeenskap wat

29

besig is om te verdwyn, of te verander. Wat die spesifieke ervaring van die aanskouer van hierdie werke ookal mag wees, is dit duidelik dat Boer Souls tematies ooreenstem met die ander werke in Opslag wat ʼn gevoel van onsekerheid en verganklikheid oordra.

Na aanleiding van die bespreking van hierdie werke is dit duidelik dat verskeie benaderings tot portretskildering gebruik word om die idee van die bedreiging en onsekerheid van die boeregemeenskap aan die aanskouer van dié werke oor te dra. Gutter se portretwerke is natuurlik nie haar enigste werke wat hierdie idee tuisbring nie. Vervolgens sal sogenaamde genreskildering en stillewes voorgehou word om haar verdere uitbeelding van hierdie idees bloot te lê.