• No results found

HOOFSTUK 4: LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKDISPUTE

4.3 Die aard van taalkundige bystand in handelsmerkdispute

4.3.1 Waarskynlikheid van verwarring

Die grondslag van die meeste sake waarin handelsmerkteenkanting en aantygings van handelsmerkskending en -aanklamping voorkom, is die kwessie of twee merke verwarrend eenders is (Reimers & Van der Merwe, 2014:146). In die datastel is daar 15 uit die 22 sake waar waarskynlikheid van verwarring ʼn vername geskilpunt was (sien bylae B); duidelik dui dit daarop dat dit die kern blyk te wees van die meerderheid handelsmerkdispute. Wanneer die twee mededingende merke identies is, is verwarring onder verbruikers onvermydelik, maar wanneer die merke nie identies is nie, moet die hof oorweeg of die merke soortgelyk genoeg is om verwarring te veroorsaak (Reimers & Van der Merwe, 2014:146). Soos in 4.2 genoem, word riglyne – soos wat dit byvoorbeeld in die Plascon-saak uiteengesit is – gesteun deur presedent-uitsprake wat gevolg was om die waarskynlikheid te bepaal.

Waarskynlikheid van verwarring behels in wese die kwessie of verbruikers verwar sal word oor die oorsprong en eienaarskap van ʼn produk of diens (Shuy, 2011). Met ander woorde: die verbruiker dink hy koop Miracle Whip wanneer hy in werklikheid Magic Whip koop. Verwarring oor die oorsprong van ʼn produk het twee moontlike gevolge vir die handelsmerkeienaar: (1) Wanneer ʼn identiese of soortgelyke, maar minderwaardige of bedenklike, produk met ʼn identiese of soortgelyke naam bemark word, kan die eienaar se reputasie skade ly. In die voorbeeld hierbo sal die verwarde koper van Magic Whip begin wonder waarom die smeer nie dieselfde smaak as voorheen nie (toe hy wel Miracle Whip gekoop het), en dalk ophou om die produk te koop. (2) Verbruikers kan op ʼn onbillike wyse gelok word na mededingers wat uit die eienaar se reklame en goeie reputasie kan munt slaan. ʼn Verbruiker kan dus Magic Whip koop weens die feit dat Miracle Whip die bekende naam vir sulke tipe slaaisous/mayonnaise is, en veronderstel dat die twee produkte verwant is (Butters, 2013:3433).

Sake waarin die waarskynlikheid van verwarring die kernkwessie is, behels gewoonlik die volgende situasie: Maatskappy A besit die eiendomsreg op ʼn gevestigde merk (die senior merk of senior gebruiker, bv. Miracle Whip); maatskappy B wil ʼn nuwe merk (die junior merk of junior gebruiker, Magic Whip) skep of in gebruik neem wat volgens maatskappy A

in só ʼn mate met húl merk ooreenkom dat die verbruiker die twee produkte gaan verwar en dat maatskappy A se onderneming gevolglik skade gaan ly (Butters, 2008:233). In Hollywood Curl (Pty) Ltd and another v Twins Products (Pty) Ltd (1989) (saak 13 in my datastel) het die hof bevind dat daar ʼn waarskynlikheid is dat verbruikers ʼn reeds bestaande reeks Hollywood-salonprodukte (bv. Hollywood 7 Day en Hollywood-Super-Scotts) met ʼn junior merk, Hollywood Curl-salonprodukte, sal verwar en sal dink dat laasgenoemde produk uit dieselfde Hollywood-reeks kom. (Vir ʼn volledige opsomming van die saak, sien bylae C.) Hier is byvoorbeeld merke ter sprake waarvan die eerste gedeelte identies is, naamlik “Hollywood”. Alhoewel die merke dus op die oog af identies mag lyk, is daar dan steeds ʼn waarskynlikheid van verwarring omdat die res van die merk nie identies is nie. Die feit dat die eerste gedeelte dus identies is, verleen aan die merke ʼn soortgelykheid of eendersheid wat tot verwarring kan lei.

ʼn Ander saak, waar daar ook pertinent na die Plascon-riglyne verwys is, is dié van National Brands Ltd v Blue Lion Manufacturing (Pty) Ltd (2001) (saak 17 in die datastel), waar die hof bevind het dat Romantic Dreams nie die geregistreerde merk Romany Creams skend nie; ten spyte van die eerste vyf en laaste vyf letters op ortografiese vlak wat identies is. Daar is bevind dat die klank en betekenis voldoende verskil en dat verwarring onwaarskynlik is, veral aangesien Romany Creams ʼn welbekende handelsmerk in Suid-Afrika is (Sanderson, 2007a:136). In hierdie geval bestaan die twee merke nie uit woorde wat identies is nie, maar wel gedeeltes van woorde wat op ortografiese vlak identies is.

ʼn Vertaalde handelsmerk of die vertaalde ekwivalent van ʼn handelsmerk kan ook skending tot gevolg hê (Sanderson, 2007a:136). In ʼn veeltalige land soos Suid-Afrika is die idee wat deur ʼn merk oorgedra word tersaaklik wanneer terme in verskillende tale met mekaar vergelyk word; veral waar een term die vertaling, of nabye vertaling, van die ander is (Mitton, 2011:32). Die woorde “De Gewel” is bv. registrasie geweier weens die bestaande registrasie van die handelsmerk White Gable vir dieselfde beskrywing van goedere. Die veronderstelling is dat enige woord in een taal wat deur ʼn groot aantal potensiële kopers as die vertaling van ʼn reeds geregistreerde handelsmerk herken sal word, geneig sal wees om verwarring te veroorsaak op grond daarvan dat hulle dieselfde idee oordra (Mitton, 2011:32). In so ʼn geval is daar dus geen gedeelte van die merke wat op die oog af identies is nie, maar blyk hulle konseptueel eenders genoeg of soortgelyk te wees dat ʼn waarskynlikheid van verwarring volgens die regter in hierdie saak moontlik sou wees.

In nog ʼn saak, ook plaaslik, het die hof bevind dat die titel van die reistydskrif, Wegbreek, inbreuk maak op die geregistreerde handelsmerk Getaway. Daar is bevind dat die merke in só ʼn mate ooreenkom dat dit tot verwarring of misleiding onder die veeltalige Suid- Afrikaanse verbruiker sou lei. Alle materiaal met die naam Wegbreek moes aan die uitgewers van Getaway oorhandig word vir vernietiging, die domeinnaam www.wegbreek.co.za moes gederegistreer word en die uitgewers van Wegbreek moes die regskoste dra. Die tydskrif het sy naam in 2005 na Weg verander, met ʼn Engelse weergawe getiteld Go (Media24 Bpk v Ramsay, Son & Parker (Edms) Bpk, 2006:3; Sanderson, 2007a:135-136). In 2006 het die uitgewers van Weg, Media24, die uitgewers van Getaway, Ramsay, Son & Parker, egter voor die hof gedaag omdat laasgenoemde ʼn Afrikaanse weergawe, naamlik Wegbreek, wou loods. Die hof het bevind dat daar genoegsame verskille tussen Weg en Wegbreek is dat kopers nie verwar of mislei sou word nie (Media24 v Ramsay, Son & Parker, 2006). (Hierdie saak is in my datastel ingesluit (saak 16), en daar was ʼn linguis betrokke. Vir ʼn bespreking van hierdie ontleding sien 6.4.6.3.)

Eendersheid kan dus verskeie vorme aanneem, naamlik merke wat op ortografiese vlak bestaan uit woorde wat identies is; merke waarvan gedeeltes van die woorde identies is en merke wat soortgelyke of identiese idees oordra. Boonop is die moontlikhede nie tot hierdie vorme beperk nie. In al hierdie opsigte kan die linguis ʼn aanvullende rol speel en dieper insig bring. Om ʼn deegliker begrip te kry van die aanvullende rol wat die linguis kan speel in sake waar verwarrende eendersheid die kernkwessie is, gee ek in 4.4.3 ʼn diepgaande bespreking van ʼn ontleding wat Shuy en Butters gedoen het. Op plaaslike front is daar drie sake wat ek in 6.1.1, 6.1.2 en 6.1.3 bespreek om die linguis se benadering en ontleding van verwarrende eendersheid te bespreek.

Dit het in 4.2 en 4.3 hierbo duidelik geblyk dat Suid-Afrikaanse linguiste hoofsaaklik geraadpleeg word ten opsigte van waarskynlikheid van verwarring. Linguiste kan egter ook ten opsigte van intrinsieke onderskeidenheid nuttige insette lewer. Ek bespreek hieronder die aard van sake waarin intrinsieke onderskeidenheid voorkom.