• No results found

HOOFSTUK 3 – LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKE

3.3 Handelsmerke omskryf vanuit ʼn regsoogpunt

3.3.2 Die skep van ʼn handelsmerk

3.3.2.1 Generiese handelsmerke

Butters en Westerhaus (2004:111) wys op die feit dat die term “generies,” soos dit met betrekking tot handelsmerke gebruik word, aan die regsveld ontleen is. “Generies” in die konteks van handelsmerkklassifisering dui op ʼn woord wat verwant is aan, of onderskeidend is van, ʼn hele groep of klas dinge. So is woorde soos “kola” en “gaskoeldrank” die generiese terme vir ʼn soort koeldrank, waar Pepsi-Cola of Coca-Cola die handelsmerke is wat na die soort koeldrank verwys (Butters & Westerhaus, 2004:111; Shuy, 2002:32). Breedweg identifiseer of benoem ʼn generiese term ʼn soort produk op sigself en kan dit nie gebruik word om die bron, naamlik die vervaardiger of die produsent, van die produk te identifiseer soos wat ʼn registreerbare handelsmerk veronderstel is om te doen nie (Butters, 2013:3435; Goliath, 2015:39). Generiese terme is daarom nie intrinsiek onderskeibaar nie, en sal dus nooit registreerbaar as handelsmerk wees nie.

Die regsbeskouing van “generies” verskil effens van dieselfde begrip in die linguistiese subdissiplines van sintaksis, semantiek en pragmatiek, wat verwys na die gebruik van enige naamwoord om in ʼn gegewe konteks na al die lede van ʼn spesifieke klas te verwys (Butters & Westerhaus, 2004:112). Crystal (2008) omskryf “generies,” as adjektief en naamwoord, as ʼn term wat in grammatiese en semantiese ontleding gebruik word vir ʼn leksikale stam of proposisie wat na ʼn hele klas van entiteite in plaas van individuele lede van die klas verwys. In die regsveld is sommige woorde, gewoonlik naamwoorde, intrinsiek generies, waar ander woorde dit nie is nie (Butters & Westerhaus, 2004:112). Die term “gaskoeldrank” sal byvoorbeeld nooit gebruik kan word as ʼn handelsmerk nie, terwyl dit binne ʼn linguistiese konteks as niegeneries gebruik kan word, byvoorbeeld in die sin “Hierdie gaskoeldrank is flou”. ʼn Handelsmerk soos Apple is ʼn interessante geval. Die woord “apple” sal byvoorbeeld nooit gebruik kan word om na appelprodukte te verwys nie, maar wanneer dit met betrekking tot programmatuur en elektroniese toestelle gebruik word, is dit aanvaarbaar omdat die verband tussen die woord “apple” en die produk arbitrêr is (sien 3.3.2.4 vir arbitrêre handelsmerke).

Terme wat volgens die reg dus as generies beskou word, kan nie op handelsmerkbeskerming aanspraak maak nie omdat sulke woorde in die openbare domein is en vir almal beskikbaar is

om te gebruik (Goliath, 2015:39). Generiese woorde funksioneer glad nie metafories nie, maar is leksikale eenhede wat gedefinieer kan word en op sigself betekenis het, teenoor eiename (onder andere handelsmerke), wat gedefinieer kan word slegs met betrekking tot hulle referensiële funksie (Heymann, 2010:1332). Generiese merke word dus as nie- registreerbaar beskou omdat daar geen manier vir mededingers sou wees om na hul eie produkte te verwys, sou iemand alleenreg tot die gebruik van hierdie soort merke bekom nie. Dit sal nie slegs tot verwarring onder kopers lei nie, maar ook die eienaar van die merk onregverdig bevoordeel (Butters, 2010:359). Hier te lande het die hof in Online Lottery Services (Pty) Ltd v National Lotteries Board (2009) bevind dat die woord “lotto” ten opsigte van speletjies-dienste bloot ʼn generiese term is om die tipe diens te beskryf en dat die bestaande registrasie daarvan in die Handelsmerkregister geskrap word (Reimers & Van der Merwe, 2014:108).

ʼn Mens sou egter kon argumenteer oor die kwessie of daar hoegenaamd iets soos “generiese handelsmerke” kan bestaan, aangesien dit nie geregistreer mag word nie. Soos Shuy (2011) egter noem, is die grense van handelsmerkkategorieë nie altyd duidelik afgebaken nie. Coca- Cola dien as interessante voorbeeld. Die term “Coca” in dié bekende handelsmerk is afgelei van die woord “cocaine”, wat aanvanklik een van die kernbestanddele van die koeldrank was. Na regte moet die handelsmerk dus as generies beskou word omdat “coca” en “cola” na entiteite op sigself verwys. Coca-Cola as handelsmerk het egter sekondêre betekenis verkry, met ander woorde die publiek vereenselwig Coca-Cola met die spesifieke gaskoeldrank en nie met die entiteite waarna die woorddele in die merk verwys nie (Butters & Westerhaus, 2004:114). (“Sekondêre betekenis” is ʼn belangrike regsbegrip, veral met betrekking tot beskrywende handelsmerke, en word in 3.3.2.2 verder toegelig.)

Deacon en Govender (2007:23) lewer verslag van ʼn saak wat op ʼn ironiese wyse by bogenoemde voorbeeld aansluit. In Coca-Cola Company v Gemini Rising het die verweerder die kenmerkende rooi en wit ontwerp van Coca-Cola gebruik, en die woord met “Enjoy Cocaine” vervang. Die regter het beslis dat daar ʼn sterk waarskynlikheid sou bestaan dat sommige klante van Coca-Cola afgeskrik sou wees deur die parodie, met gevolglike onmeetbare verlies aan die eiser.

Nog ʼn voorbeeld van hoe ʼn generiese term as handelsmerk in die praktyk kan funksioneer, is die woord “rooibos”. Hierdie woord kan streng gesproke nie as ʼn handelsmerk geregistreer

word nie aangesien dit ʼn generiese term is vir die tee wat van die rooibosplant gemaak word (Dean, 2013:7; Sanderson, 2007a:134). Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing mag die naam “rooibos” slegs gebruik word om te verwys na die droë produk, infusie of ekstrak wat 100% afkomstig is van Aspalathus linearis wat in die spesifieke geografiese gebied gekweek of wild geoes word (South Africa, 2013). In die VSA het ʼn maatskappy in Texas wel “rooibos” as ʼn handelsmerk vir kruietee geregistreer gekry, en groot bedrae bestee in ʼn poging om die merk teen ander Amerikaanse invoerders van rooibostee te beskerm. In 2005 het ʼn Amerikaanse hof beslis dat die handelsmerk ongeldig was aangesien dit generies en bloot beskrywend is (Sanderson, 2007a:134).

Daar is wel handelsmerke wat oorspronklik onderskeidend was. Dié lang lys van handelsmerke bevat produkte waarvan die name huishoudelik geword het, soos Bubble Wrap, Frisbee, Hula Hoop, Jacuzzi, Jet Ski, Memory Stick, Popsicle, Rollerblade, Super Glue, Super Heroes, Vaseline en Velcro. Hierdie handelsmerke word wel generies deur mense gebruik, maar kan nie deur hul mededingers gebruik word nie aangesien hulle steeds beskerming geniet. Handelsmerke wat egter hul beskerming verloor het weens algemene gebruik is onder meer die Engelse benamings “cat’s eye” (die liggies op snelweë), “dry ice”, “escalator”, “heroin”, “kerosene”, “laundromat”, “sellotape”, “trampoline” en “videotape” (Digital Synopsis, 2015). Hierdie verskynsel staan as generisering bekend en hou nou verband met denkbeeldige handelsmerke. In 3.3.2.5 word die begrip “generisering” volledig bespreek, nadat denkbeeldige handelsmerke in 3.3.2.4 onder die soeklig gekom het.

Handelsmerkdispute waarin die bepaling van die sterkte van ʼn merk (met ander woorde of dit generies/bloot beskrywend of inherent onderskeidend is) voorkom, en die rol wat die linguis hierin kan speel, word in 4.3.2 bespreek.