• No results found

Die forensiese linguis en regspleging : ’n Ondersoek na handelsmerkdispute in Suid-Afrika

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "Die forensiese linguis en regspleging : ’n Ondersoek na handelsmerkdispute in Suid-Afrika"

Copied!
298
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

Die forensiese linguis en regspleging:

’n Ondersoek na handelsmerkdispute in

Suid-Afrika

E Viljoen-Massyn

orcid.org/0000-0001-8645-2451

Proefskrif voorgelê ter nakoming vir die graad

Philosophiae

Doctor in Algemene Taal- en Literatuurwetenskap

aan die

Noordwes-Universiteit

Promotor:

Prof. EF Kotzé

Medepromotor:

Dr. K van den Berg

Gradeplegtigheid: Oktober 2018

Studentenommer: 10801863

(2)
(3)

ERKENNINGS

Ek bedank graag die volgende persone vir hulle bydrae tot hierdie proefskrif:

 Prof. Ernst en Karien vir hulle waardevolle insette en geduldige begeleiding wat die studie tot op hierdie punt gekry het.

 Louis Esterhuizen vir sy deeglike taalversorging.

 Mnre. Gert van Deventer en Faan Wolvaardt, adv. Johan Bezuidenhout, profs. Wim Alberts en Hilton Hubbard, en dr. Penny Sanderson vir hul tyd, hulp en vriendelike bereidwilligheid om hul kennis te deel. Ek het groot waardering hiervoor.

 My ouer susters, Henriëtte en Carina; my swaers, Hugo (reeds Daarbo), Mario en Bertie; my susterskinders, Matthew, Emma en Robert; en my skoonmense, vir al hulle belangstelling, liefde en deel wees van my lewe. En veral my kleinsus, Roelien, vir die bemoediging wat sy altyd met soveel oorgawe gee.

 My man, Frans, vir sy onwrikbare ondersteuning en liefde.

 My ouers, Matty en Elma Viljoen, wat my geleer het waaroor die lewe werklik gaan.  My God, wat altyd voor my uitgaan en altyd agter my aankom.

(4)

INHOUDSOPGAWE HOOFSTUK 1: INLEIDING 1 1.1 Agtergrond en probleemstelling 1 1.2 Navorsingsvrae en -doelwitte 6 1.3 Metodologie 7 1.4 Afbakening 9 1.5 Sleutelbegrippe 10 1.6 Tipografiese konvensies 11

1.7 Uiteensetting van hoofstukke 11

1.8 Samevatting 13

HOOFSTUK 2: OORSIG VAN DIE FORENSIESE LINGUISTIEK 14

2.1 Inleiding 14

2.2 Omskrywing en omvang 14

2.3 Ontstaan en ontwikkeling 21

2.4 Die taak en waarde van die forensiese linguis as deskundige getuie 26

2.5 Samevatting 32

HOOFSTUK 3 – LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKE 34

3.1 Inleiding 34

3.2 Ontstaan en ontwikkeling van handelsmerke 34 3.3 Handelsmerke omskryf vanuit ʼn regsoogpunt 37

3.3.1 Omskrywing 38

3.3.1.1 Definisie 38

3.3.1.2 Registrasie van handelsmerke 41

3.3.1.3 Doel van geregistreerde handelsmerke 43 3.3.2 Die skep van ʼn handelsmerk 44

3.3.2.1 Generiese handelsmerke 47

3.3.2.2 Beskrywende handelsmerke 49

3.3.2.3 Veelseggende handelsmerke 51

3.3.2.4 Arbitrêre en denkbeeldige handelsmerke 52

3.3.2.5 Generisering 54

3.4 Taalkundige aspekte in handelsmerke 58 3.4.1 Handelsmerke as ʼn vorm van leksikale vernuwing 61

3.4.2 Handelsmerke as eiendom 69

3.4.3 Handelsmerke en gemarkeerdheid 79 3.5 Opsomming en gevolgtrekking 86

(5)

HOOFSTUK 4: LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKDISPUTE 90

4.1 Inleiding 90

4.2 Omskrywing van ʼn handelsmerkdispuut 91 4.3 Die aard van taalkundige bystand in handelsmerkdispute 95 4.3.1 Waarskynlikheid van verwarring 99 4.3.2 Intrinsieke onderskeidenheid 101 4.3.3 Handelsmerkverwatering en aanstootlike merke 103 4.4 Linguistiese ontleding in drie handelsmerkdispute in die buiteland 106

4.4.1 Die Woodroast-saak 106 4.4.1.1 Morfologie 107 4.4.1.2 Ortografie 112 4.4.1.3 Sintaksis 113 4.4.1.4 Uiteinde en gevolgtrekking 115 4.4.2 Die McDonald’s-saak 117 4.4.2.1 Semantiek 118 4.4.2.2 Uiteinde en gevolgtrekking 120 4.4.3 Die CarMax-saak 122

4.4.3.1 AutoMation vs AutoNation (USA) 123

4.4.3.2 The New Way to Buy Used Cars vs The Better Way to Buy a Car 127

4.4.3.3 Uiteinde en gevolgtrekking 129 4.4.4 Slotgedagtes 131 4.5 Samevatting 135 HOOFSTUK 5 – NAVORSINGSMETODOLOGIE 136 5.1 Inleiding 136 5.2 Navorsingsontwerp 136 5.3 Metodologie 138 5.3.1 Data-insameling 138 5.3.1.1 Sekondêre bronne 138 5.3.1.2 Primêre bronne 139 5.3.2 Navorsingsproses 142 5.3.2.1 Literatuuroorsig 142 5.3.2.2 Data-ontleding 143 5.4 Beperkinge 148 5.5 Samevatting 150

HOOFSTUK 6: DATA-ONTLEDING EN BEVINDINGE 152

6.1 Inleiding 152

(6)

6.2.1 Oculaze/Oculosan 154 6.2.1.1 Fonetiek 155 6.2.1.2 Grafies 156 6.2.1.3 Semanties 157 6.2.2 Evolve/Evolym 158 6.2.2.1 Ortografie 159 6.2.2.2 Fonetiek 160 6.2.2.3 Semantiek 161 6.2.3 Allergan/Allertac en Allergan/Allergin 163 6.2.3.1 Ortografie – Allergan/Allertac 163 6.2.3.2 Fonetiek – Allergan/Allergin 164 6.2.3.3 Morfologie – Allergan/Allergin 165 6.2.3.4 Semantiek – Allergan/Allertac 166 6.2.4 Addisionele verslae 167 6.2.5 Gevolgtrekking en samevatting 172 6.3 Sintese van die werkswyse in linguistiese ontledings in plaaslike en buitelandse

handelsmerkdispute 176 6.3.1 Ortografie 177 6.3.2 Fonetiek 179 6.3.3 Morfologie 181 6.3.4 Semantiek 184 6.3.5 Woordeboeke 187 6.3.6 Databasisse en meningsopnames 190 6.3.7 Samevatting 193

6.4 Linguistiese werktuie in Suid-Afrikaanse hofuitsprake van

handelsmerkdispute 194 6.4.1 Ortografie 196 6.4.2 Fonetiek 198 6.4.3 Morfologie 200 6.4.4 Semantiek 204 6.4.5 Aanvullende bronne 210 6.4.5.1 Woordeboeke 210 6.4.5.2 Databasisse en opnames 216

6.4.6 Hofuitsprake waarin linguiste se getuienis voorgekom het 217

6.4.6.1 First National Bank v Barclays Bank and another (2003) 217

6.4.6.2 Standard Bank v United Bank (1991) 220

(7)

6.4.7 Samevatting 224 6.5 Riglyne vir linguistiese ontleding in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute 226

6.6 Samevatting 234 HOOFSTUK 7: SLOT 236 7.1 Inleiding 236 7.2 Opsomming 236 7.3 Vernaamste bevindinge 245 7.4 Verdere navorsing 249 7.5 Slotwoord 251 OPSOMMING 253 SUMMARY 255 VERWYSINGS 257

BYLAE A: VOLLEDIGE DATASTEL VAN HOFUITSPRAKE 269 BYLAE B: HOFUITSPRAKE WAARIN LINGUISTIESE WERKTUIE VOORKOM

272 BYLAE C: OPSOMMING VAN HOFUITSPRAKE 274 BYLAE D: VRAELYS AAN MNR. F. WOLVAARDT 288

(8)

LYS VAN TABELLE

Tabel 3.1: Klassifikasie van handelsmerkonderskeidenheid 45 Tabel 3.2: Spektrum van strukturele en assosiatiewe gemarkeerdheid 82 Tabel 4.1: Sintaktiese gleuwe van spyskaarte 114 Tabel 4.2: Uittreksel uit sintaktiese ontleding van spyskaarte 114 Tabel 4.3: Sintaktiese ontleding van restaurantname in databasis 115 Tabel 4.4: Kategorieë in Shuy se databasis waarin Mc- gebruik word 119 Tabel 4.5: Foneme en ooreenkomstige fonetiese tekens in mededingende slagspreuke in die

CarMax-saak 128

Tabel 6.1: Moontlike uitsprake van Allergan en Allergin 164 Tabel 6.2: Opsomming van linguistiese ontledings van mededingende handelsmerke deur

Sanderson 168

Tabel 6.3: Woordeboeke wat in linguistiese ontledings geraadpleeg is 187 Tabel 6.4: Linguistiese werktuie in hofuitsprake in datastel 195 Tabel 6.5: Woordeboeke geraadpleeg in hofsake in datastel 211 Tabel 6.6: Riglyne vir ’n linguistiese ontleding in handelsmerkdispute 228

(9)

Law is, by definition, prescriptive and autocratically final, asserting that once a law is decided, everyone is subject to it. In contrast, linguistics is, by definition, descriptive and democratic, asserting that acceptable language behavior is determined by the way it is used by the people who use it. These two different guiding principles sometimes face each other, head-on, when language issues are debated in the legal setting. (Shuy, 2002:6)

(10)

HOOFSTUK 1: INLEIDING

1.1 Agtergrond en probleemstelling

Ons leef vandag in ʼn tyd waarin handelsmerke meer as net kentekens is wat een produk van ʼn ander onderskei. Handelsmerke het ikone geword, simbole van sosiale en kulturele waardes (Illsley, 2006:125), en is ekonomies meer werd as die produkte waarop hulle betrekking het. ʼn Handelsmerk is ʼn “stille verkoopsman” wat die begeerlikheid van die kommoditeit waarop dit verskyn, oordra; ʼn sneller wat in die kognisie van die verbruiker getrek word en die relevante produk in die persoon se gedagtes oproep (Hotta, s.a.:7; Illsley, 2006:121). Daarom word hoë koste aangegaan om ʼn handelsmerk se onderskeidenheid te vestig en te adverteer ten einde klandisiewaarde op te bou vir die merk en sodoende as ʼn sneller te laat funksioneer.

Wanneer ʼn mededinger egter met dieselfde of soortgelyke merk vir dieselfde of ʼn soortgelyke produk wil handel dryf, word die klandisiewaarde van die totale handelsnaam, of “brand”, bedreig; ook wanneer die merk só bekend word dat die publiek nie meer besef dit is ʼn handelsmerk nie, want dan verloor die merk nie net sy reputasie, sy klandisiewaarde, sy beeld en alles wat met die totale handelsnaam gepaard gaan (Yen, 2012:29) nie, maar ook beskerming onder wetgewing. Hierdie situasies wil handelsmerkeienaars tot elke prys vermy, want wat ook al die uitkoms van ʼn handelsmerkdispuut is, daar is finansiële implikasies vir maatskappye en individuele merkeienaars aan albei kante (Sanderson, 2007a:132).

ʼn Tipiese handelsmerkgeskil in ʼn hof begin gewoonlik met twee partye wat aanspraak maak op die reg om sekere woorde of uitdrukkings te gebruik met die oogmerk dat een party die wetlike reg sal verkry om die woorde of uitdrukkings te gebruik, terwyl die ander een verbied sal word om dit te mag gebruik (Yen, 2012:17). Die klem is hier op “woorde of uitdrukkings”, want hofsake sentreer gereeld rondom die uitleg van woorde (Carney, 2015:2) en dit is by uitstek die geval in talle handelsmerkdispute wanneer die woorde waaruit twee mededingende merke bestaan, die spil van argumente vorm.

Wanneer die regsaspekte in ʼn handelsmerkdispuut beredeneer moet word, verlaat regsgeleerdes hulle op die Wet op Handelsmerke, 194 van 1993 (voortaan “die Handelsmerkwet”); inderdaad die relevante wetgewing wat geregistreerde handelsmerke in Suid-Afrika reguleer (Reimers & Van der Merwe, 2014:79). Hiermee saam word vorige gesaghebbende uitsprake, soos Plascon-Evans Paints Ltd v Van Riebeeck Paints (Pty) Ltd

(11)

(1984) (voortaan “die Plascon-saak”), as presedent benut ten opsigte van hoe wetgewing geïnterpreteer moet word (Carney, 2015:50; Sanderson, 2007a:136). Wanneer dit egter by die beredenering van linguistiese kwessies in handelsmerkdispute kom, blyk dit dat die benadering van regsgeleerdes nie altyd voldoende is nie.

Een benadering wat regsgeleerdes volg wanneer veral semantiese woordprobleme opgelos moet word, is om bloot ʼn woordeboek te raadpleeg; boonop is hierdie woordeboeke soms verouderd of selfs buitelandse woordeboeke. Dit blyk ook dat regsgeleerdes onder die wanindruk verkeer dat die sogenaamde “gewone” betekenis van woorde voor die hand liggend is en in woordeboeke opgesluit lê, sonder om vaagheid en meerduidigheid in ag te neem. Voorts gee woordeboeke nie noodwendig konnotasies weer nie, terwyl buitelandse woordeboeke misleidend en kultuurspesifiek kan wees (Carney, 2015:58, 63, 215, 223; Carney & Bergh, 2014:26). Alhoewel nuttig, is woordeboeke beperkte en onvolledige hulpbronne wat nie as ʼn eenduidige oplossing vir komplekse linguistiese kwessies in regsgedinge kan dien nie.

Tweedens maak regsgeleerdes ook staat op hul eie taalkennis in die hantering van semantiese kwessies wat in regsargumentasie beredeneer word (Carney, 2015:6). Ten spyte van sommige regsgeleerdes se grondige taalkennis, berus hul kernvaardigheid en -kennis uitsluitlik by die reg, en nie by die linguistiek nie (Carney, 2015:5). Daar is ook aanduidings dat jonger regslui se taalvaardighede al swakker word weens die afskaffing van regstaalkursusse aan universiteite (bv. Unisa en Universiteit Pretoria) en die feit dat regslui toenemend in Engels as addisionele taal praktiseer (Carney, 2015:3). Dit plaas vraagtekens agter die vermoë van talle regsgeleerdes om die taalkundige aspekte wat in handelsmerkdispute beredeneer moet word met die nodige kundigheid te hanteer.

Derdens is dit duidelik uit die literatuur (bv. Heymann, 2010) dat handelsmerkdoktrine nie die gewone verbruiker se taalvermoëns volledig in ag neem nie, en nie insig toon in kwessies van normale taalverandering met die verloop van tyd nie. Die gevolg is dat die hof bevindinge kan maak gegrond op wanopvattings rakende die gewone verbruiker se vermoë om een merk van ʼn ander te onderskei. Behalwe die feit dat maatskappye en individuele merkeienaars groot koste aangaan om klandisiewaarde ten opsigte van hul merke te vestig, is dit belangrik dat sekere woorde, frases of uitdrukkings nie verkeerdelik wetlike beskerming kry en as’t ware die eiendom van ʼn maatskappy of individu word nie.

(12)

Tesame met bogenoemde probleemareas, is daar wel aanduidings van ʼn behoefte onder regslui om ʼn betroubare manier te vind om die kern van verwarrende eendersheid in handelsmerkdispute op te klaar, asook die besef dat daar wel onsekerhede is wat nie net deur middel van regsargumente opgelos kan word nie (Wolvaardt, 2018a). Om by korrekte beslissings uit te kom, wil dit voorkom of die behoefte nie noodwendig addisionele bewyse is nie, maar eerder meer genuanseerde linguistiese interpretasies van bestaande bewyse (Heymann, 2010:1349).

Dit blyk egter dat Suid-Afrikaanse regsgeleerdes minder vrymoedigheid het om linguiste te raadpleeg as hul eweknieë in ander Westers-georiënteerde lande, soos die VSA en die VK, waar dié praktyk meer algemeen blyk te wees (Carney, 2015:6) en waar, veral in die VSA, die waarde van taalkundige deskundige getuienis raakgesien en as ʼn onontbeerlike bron vir die regstelsel beskou word (sien bv. Ainsworth, 2009:289 en Heymann, 2010). Alhoewel die raadpleeg van linguiste in die buiteland meer gereeld plaasvind as hier te lande, word meer betrokkenheid steeds bepleit in buitelandse literatuur en word verskeie redes aangevoer vir regsgeleerdes se versuim om linguiste te raadpleeg. Een rede kan toegeskryf word aan die feit dat regslui dikwels nie bewus is van hoe taalkundige beginsels die verskille of ooreenkomste tussen handelsmerke kan verklaar, of hul eie argumentasie kan ondersteun nie (Shuy, 2002:14). Verder word taalkennis dikwels as vanselfsprekende óf algemene kennis beskou (Hotta & Fujita, 2012:485) en word die bydrae wat die linguistiek by die hantering van taalkundige kwessies in handelsmerkdispute kan lewer, nie na waarde geag nie. Dit kan ook wees dat regslui nie altyd te vinde is vir oplossings vir regsprobleme wat van buite die regsveld aangebied word nie.

Linguistiek is egter juis ʼn meganisme waarmee die linguis hierdie “vanselfsprekende” taalkennis toeganklik kan maak vir ander (Hotta & Fujita, 2012:485). Die linguis het verskeie taalkundige metodes tot sy1 beskikking om verskeie taalgebruiksituasies op ʼn wetenskaplike

wyse te verklaar en uiteen te sit (Carney, 2015:5). Sommige van die subdomeine van die tradisionele teoretiese linguistiek, naamlik fonetiek/fonologie, morfologie en semantiek, leen hulle inderdaad uitstekend tot toepassing op handelsmerkdispute (Sanderson, 2007a:132). Die

1 Deurgaans in die dokument sluit verwysings na “hy/hom” ook “sy/haar” in, waar van toepassing. Ek gebruik

“hy” of “hom” bloot weens stilistiese redes om die omslagtige “hy/sy”-, “hom/haar”- en “sy/haar”-konstruksies te vermy.

(13)

soort kundigheid wat die linguis by handelsmerkdispute kan bied, is kennis van (a) fonetiek, om die mate te bepaal waarin mededingende handelsmerke dieselfde klink, (b) morfologie en sintaksis, wat lig kan werp op woorddele en sinstrukture in mededingende handelsmerke en slagspreuke, en (c) taalvariasie en -verandering met die verloop van tyd wat waardevolle inligting kan verskaf oor vorige en huidige gebruik van handelsmerke (Shuy, 2002:26).

Dit is op hierdie punt waar die forensiese linguistiek in die vorm van deskundige taalkundige insig ʼn oplossing aan regslui kan bied deur aan te toon hoe om moeilike taalprobleme op te los of om hul (regslui se) taalkundige argumentasie te bevestig (Carney, 2015:50). Die noue band tussen taal en die reg is al in talle bronne aangetoon en die forensiese linguistiek is by uitstek die gebied waar die wisselwerking tussen taal en regskwessies neerslag vind. Die forensiese linguistiek kan as hulpwetenskap in regspleging beskou word waarin die linguis poog om regskwessies wat met taal verband hou, op te los (Kotzé, 2014a; Leonard, 2005/2006). ʼn Forensies-linguistiese ondersoek behels dus die ontleding van taal soos dit in ʼn domein van die menslike lewe wat spesifiek met die reg verband hou, gebruik word (Olsson & Luchjenbroers, 2014:xvii).

Wat forensies-linguistiese ontledings in handelsmerkdispute betref, is daar al in die buiteland ʼn stewige tradisie gevestig. In 2002 het Roger Shuy met sy boek, Linguistic battles in

trademark disputes, ʼn dialoog tussen regslui en linguiste begin in ʼn stap wat beskryf word as

“a daunting task in attempting to bridge a chasm of understanding between two disciplines that work with similar material in sometimes radically different ways” (Westerhaus, 2003:296). Dit wil in die latere literatuur voorkom of hierdie dialoog in die buiteland reeds voortgesit is, terwyl dit in Suid-Afrika nog nie vaart gekry het nie.

Die forensiese linguistiek as ondersoekgebied is weliswaar nog nuut in Suid-Afrika, alhoewel daar al enkele studies in ander subvelde gedoen is, soos outeursidentifisering, naamlik Michell (2013) en Thiart (2014), en artikels die lig gesien het oor linguiste se betrokkenheid in outeursidentifiseringsake, byvoorbeeld Hubbard (1994; 1995) en Kotzé (2007; 2010). Terwyl die subveld van handelsmerkdispute in die buiteland meer aandag geniet, is dit egter nog nie naastenby voldoende vanuit ʼn forensies-linguistiese oogpunt in Suid-Afrika ondersoek nie. Sanderson (2007a) het wel met haar artikel Linguistic analysis of competing

trademarks die grondslag vir so ’n ondersoek gelê (alhoewel sy dit nie pertinent binne die

(14)

linguiste nie hierop voortgebou om dié subveld in Suid-Afrika verder te ontgin nie. Slegs een artikel wat meer as tien jaar gelede verskyn het, was nie genoeg om hierdie subveld die stukrag te gee wat dit verdien nie. Daarom is dit noodsaaklik om nie net op hierdie grondslag voort te bou, maar om dit ook uit te bou. (’n Kort oorsig van hierdie artikel verskyn in 2.3.)

Die feit dat daar dus nog so min navorsing oor hierdie spesifieke fokusgebied in Suid-Afrika gedoen is, kan een van die redes wees waarom regslui nie bewus is van die bydrae wat die linguistiek by die oplos van handelsmerkdispute kan maak nie, of onbewus is daarvan dat daar wel ʼn ondersoekgebied soos die forensiese linguistiek bestaan. Maar daar is nog ʼn probleem wat ook waarskynlik daartoe bydra dat hierdie fokusgebied onontgin is en dat regslui nie hiervan bewus is nie: Hoewel Suid-Afrikaanse linguiste wel soms in handelsmerkdispute geraadpleeg word, publiseer hulle nie artikels daaroor nie. Sanderson het byvoorbeeld al in ʼn aantal handelsmerk-dispuutsake taalkundige getuienis gelewer, maar slegs een artikel (soos hierbo genoem) daaroor gepubliseer (Carney, 2015:32). Alhoewel hierdie een artikel wel toon hoe die linguistiek ’n bydrae tot die oplos van handelsmerkdispute kan lewer, was dit maar een stem wat opgeklink het – en nie weens ’n gebrek aan linguiste se werksaamheid in die gebied nie. Carney (2015:32) sê dat hy van ten minste tien gerekende Suid-Afrikaanse linguiste bewus is wat deskundige getuienis aan howe gelewer het, maar wat nooit akademies hieroor verslag gelewer het nie. Ek is dit met Carney eens dat, sonder vrylik bekombare verslae, soos artikels in akademiese vaktydskrifte, dit nooit vir Suid-Afrikaanse regsgeleerdes moontlik sal wees om te besef wat die waarde van die linguistiek in veral handelsmerkdispute is nie (Carney, 2015:32). Ek wil so ver gaan as om te sê dat sommige linguiste sélf nie bewus is van die toepassingsmoontlikhede van die linguistiek in forensiese ondersoeke nie. Navorsing in die forensiese linguistiek is daarom ook nodig om hierdie gaping te oorkom.

Hierbo het ek aangedui dat die linguistiek ʼn waardevolle bydrae tot regspleging kan lewer en aanvullend gebruik kan word tot bestaande metodes wat reeds deur regslui benut word om linguistiese kwessies in handelsmerkdispute op te los. Daar is egter ʼn paar kwelpunte wat verhinder dat hierdie bydrae gelewer kan word. Uit hierdie kwelpunte is drie vername probleemstellings geïdentifiseer:

● Daar is feitlik geen navorsing in Suid-Afrika gedoen in die forensiese linguistiek oor die rol van taalkundige bystand in handelsmerkdispute nie.

(15)

nodige insig op te los.

● Daar blyk ʼn gaping te wees tussen die taalkundige behoeftes van regslui en linguiste se bewustheid van die moontlike bydrae wat hulle in regspleging (spesifiek handelsmerkdispute in hierdie geval) kan lewer, asook met betrekking tot regslui se bewustheid van die bydrae wat linguiste hierin kan lewer.

1.2 Navorsingsvrae en -doelwitte

Om op bogenoemde probleemstellings in te gaan, is eerstens ʼn oorkoepelende navorsingsvraag vir die studie geformuleer: Op watter wyse kan die forensiese linguis ʼn bydrae lewer tot die oplos van handelsmerkdispute in Suid-Afrika? As ʼn mens die linguis se werkswyse, of metodologie, kan beskryf, behoort dit insig vir sowel regsgeleerdes as linguiste te verskaf oor die aard van die bydrae wat die linguis ten opsigte van taalkundige kwessies in handelsmerkdispute kan lewer. Hieruit is twee meetbare navorsingsvrae geformuleer:

● Watter metodologie volg die forensiese linguis in ʼn linguistiese ontleding in ʼn handelsmerkdispuut?

● Is daar spesifieke riglyne wat geïdentifiseer kan word ten opsigte van hierdie metodologie en indien wel, wat behels hierdie riglyne?

Antwoorde op dié navorsingsvrae behoort die universele toepassingsmoontlikhede van die linguistiek, asook die belangrike rol van die forensiese linguis, by die oplos van handelsmerkdispute duidelik te maak. Hierdeur kan aangetoon word dat meer ingeligte oordele in ʼn handelsmerkdispuut moontlik is en dat regsargumentasie ten opsigte van taalkundige kwessies versterk kan word wanneer die hulp van linguiste ingeroep word. Indien spesifieke riglyne geïdentifiseer kan word, kan dit ook vir linguiste as stimulus dien om verdere toepassingsmoontlikhede van die linguistiek, spesifiek op die gebied van handelsmerkdispute, te ondersoek.

Op hierdie manier sal die studie bydra tot die korpus Suid-Afrikaanse navorsing oor taal en regspleging, en spesifiek tot die fokusgebied van handelsmerkdispute as onderdeel van die forensiese linguistiek. Hierin lê die waarde van die studie ook, naamlik om die gaping met betrekking tot navorsing in die forensiese linguistiek in Suid-Afrika aan te vul, én om as vertrekpunt te dien vir verdere navorsing in hierdie subveld in die forensiese linguistiek.

(16)

Hierdie studie het dus twee hoofdoelwitte:

(1) Om die metodologie van die forensiese linguis ten opsigte van linguistiese ontleding by Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute te ondersoek en te beskryf.

(2) Om moontlike riglyne ten opsigte van hierdie metodologie wat op die Suid-Afrikaanse situasie van toepassing gemaak kan word, te ondersoek en te beskryf.

Oorkoepelend beskou is my uiteindelike oogmerk met die studie om voort te bou op die grondslag wat Sanderson (2007a) gelê het en daarvan uit te bou, om sodoende die dialoog tussen regsgeleerdes en linguiste in Suid-Afrika vaart te gee. Verder beoog die studie om linguiste wat alreeds in hierdie subveld werksaam is, aan te moedig om in akademiese publikasies van hul werksaamhede verslag te doen ten einde die subveld uit te brei en te verstewig.

1.3 Metodologie

Om bogenoemde navorsingsvrae te beantwoord en die navorsingsdoelwitte te bereik, is die navorsingsontwerp van kwalitatiewe inhoudsanalise gekies. Volgens Mouton (2001:53, 166) word inhoudsanalise gebruik om verkennende en beskrywende navorsingsvrae te beantwoord, soos dit die geval is in my studie. In die eerste plek verken die onderhawige studie ʼn onontginde gebied in die Suid-Afrikaanse literatuur, naamlik linguistiese ontleding in handelsmerkdispute. Tweedens wil die studie die werkswyse, of meer spesifiek: die metodologie wat linguiste in hierdie linguistiese ontledings in handelsmerkdispute volg, toelig en beskryf.

Die soort data wat dus vir die studie benodig is, is tekstuele data. Vir die eerste navorsingsvraag word sekondêre bronne (vir ʼn literatuurstudie) en primêre bronne (werklike linguistiese verslae en hofuitsprake in handelsmerkdispute) benodig. Vir die tweede navorsingsvraag word afleidings en gevolgtrekkings uit ʼn sintese van die sekondêre en primêre bronne vereis. Die beantwoording van die eerste navorsingsvraag behels dus ook ʼn empiriese ondersoek omdat primêre bronne ontleed moet word.

Om die navorsingsvrae op hierdie manier te beantwoord, vereis ʼn induktiewe benadering: data word ingesamel, bestudeer, ontleed en gesintetiseer om daaruit sekere patrone (in hierdie geval ʼn metodologie) te identifiseer en uiteindelik gevolgtrekkings te maak om tot ʼn insig rakende die verskynsel te kom. Die vertrekpunt is dus nie bepaalde hipoteses nie, maar eerder

(17)

die data wat uit die primêre en sekondêre bronne ingesamel word en waaruit ek bepaalde gevolgtrekkings en bevindinge gaan maak.

My navorsingsmetodologie behels dus ʼn uitgebreide literatuurstudie waarin ek die huidige benutting van linguistiese hulp by die oplos van handelsmerkdispute in buitelandse en plaaslike sake verken. Die literatuurstudie behels ook ʼn oorsig van hoe linguiste die begrip van ʼn “handelsmerk” benader. Ek hou ʼn aantal uiteenlopende linguistiese sieninge voor om te toon watter insigte die linguistiek by die oplos van handelsmerkdispute kan bring, en watter toepassingsmoontlikhede daar vir die linguistiek op hierdie gebied is bo en behalwe die subdomeine van die tradisionele teoretiese linguistiek soos in 1.1 genoem. So ’n ondersoek toon ook sekere wanopvattings vanuit die regsperspektief rakende die algemene verbruiker se taalvermoëns.

Die literatuurstudie word gevolg deur ʼn empiriese ondersoek van twee datastelle van primêre bronne, naamlik outentieke linguistiese verslae van ontledings in handelsmerkdispute, en ʼn datastel van hofuitsprake in handelsmerkdispute waarin linguistiese aspekte aan bod gekom het. Die eerste datastel bestaan uit tien verslae deur drie linguiste oor hul linguistiese ontledings vir Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute. Hier word drie volledige verslae bespreek om ’n ryker beskrywing van die linguis se rol in plaaslike handelsmerkdispute te gee as wat tans beskikbaar is. Die verslae word ook vergelyk met riglyne vir linguistiese ontleding, soos gegee in die Plascon-saak, om die bruikbaarheid daarvan te bepaal. Die tweede datastel bestaan uit 22 hofuitsprake waarin daar vergelykings ten opsigte van linguistiese aspekte getref is om handelsmerkskending al dan nie te bewys. So ’n ontleding van hofuitsprake is na my kennis nog nie in Suid-Afrika aangepak nie en is in die studie ingesluit om twee redes. Eerstens wil dit dieper insig bring in die toepassing van linguistiese argumentasie in handelsmerkdispute soos dit in plaaslike howe neerslag vind. Tweedens wil dit bepaal of daar enige evaluerende uitspraak oor die aard en/of gehalte van hierdie argumentasie gemaak kan word. Die uiteindelike riglyne wat ek in antwoord op my tweede navorsingsvraag geformuleer het, is gegrond op gevolgtrekkings uit my literatuurstudie en ʼn sintese van bevindinge uit die ontleding van die twee datastelle. Hierdie stel riglyne beoog ook om ’n ryker stel riglyne te wees as wat in Suid-Afrika beskikbaar mag wees.

(18)

1.4 Afbakening

Daar is drie punte wat ten opsigte van die omvang van die studie beklemtoon moet word. Die eerste punt is dat die studie geplaas is binne die forensiese linguistiek as onderafdeling van die toegepaste linguistiek. Daar is drie oorkoepelende bene van die forensiese linguistiek (wat in hoofstuk 2 bespreek word) waarvan die onderhawige studie spesifiek betrekking het op een, naamlik taal en regspleging. Die hooffokus in hierdie studie is om ondersoek in te stel na die bestaande regspraktyk by die oplos van handelsmerkdispute, en om te kyk hoe taalkundige hulp daar bystand kan verleen. Ek wil dit baie sterk beklemtoon dat hoewel hofuitsprake deel van my primêre bronne uitmaak en ek hierdie hofuitsprake gaan ontleed om te bepaal hoe daar met linguistiese aspekte in die vergelyking van mededingende merke omgegaan word, dit nie my doel is om op die regsaspekte van die uitsprake se beslissings in te gaan en daaroor ʼn opinie te lewer nie. Die fokus van die studie, soos in Carney (2015:10) se geval ook, is om op die gebied van linguistiek ʼn bydrae te lewer, en nie om tot die regskennis by te dra nie.

Die tweede punt behels die feit dat hierdie studie slegs fokus op taalverwante aspekte, naamlik ortografiese, fonetiese, morfologiese, sintaktiese, semantiese en pragmatiese faktore, wat die vergelyking van mededingende merke betref. Ek is bewus van die feit dat simbole en ikone deel van handelsmerke se logo’s en verpakking vorm, maar vir die doeleindes van die studie het ek nie die veld van die semiotiek betrek nie. Een van die redes is die feit dat die linguis nie altyd besonderhede van die handelsmerkontwerp en ander inligting soos teikenmark, ens., ontvang in ʼn opdrag van ʼn regsfirma nie (Sanderson, 2007a:147). Sanderson is van mening dat dit veiliger is om nie te veel addisionele besonderhede oor die relevante merke te hê nie, omdat dit die linguis as’t ware dwing om sy kommentaar tot streng taalkundige ontledings te beperk. Verder is daar self nie eenstemmigheid onder linguiste oor die grense van pragmatiese betekenis nie, en of dit konvensionele areas van die semiotiek insluit nie (Shuy, 2002:23). Tradisioneel is die semiotiek breedweg die studie van die kenmerke van tekensisteme, hetsy natuurlik of kunsmatig, en behels dit ʼn gesamentlike studie van die taalkundige, psigologiese, filosofiese en sosiologiese kenmerke van kommunikatiewe stelsels (Crystal, 2008:532). Die term “semiotiek” is later ook toegepas op die ontleding van menslike kommunikasiepatrone in alle sintuiglike modusse, naamlik ouditief, visueel, smaak, taktiel en olfaktories (Crystal, 2008:532). Myns insiens is die semiotiek ʼn breë veldgebied wat nie bloot die ontleding van kleur of lettertipe beteken nie en derhalwe ʼn bepaalde kundigheid verg om betekenisvol toegepas te word.

(19)

Die derde punt is die feit dat die studie slegs handelsmerke (soos ek dit in 1.5 omskryf) ondersoek, en nie domeinname nie. Domeinnaamdispute is ʼn omvattende veld op sy eie en val daarom buite die omvang van hierdie studie.

1.5 Sleutelbegrippe

In hierdie studie word die term “handelsmerk” gebruik om te verwys na die besondere merk/ teken op ʼn handelsartikel wat dit onderskei van soortgelyke artikels wat deur ander maatskappye vervaardig en bemark word (HAT, 2015). In ʼn handelsmerkdispuut is dit die hele handelsmerk met sy talige en nietalige aspekte (bv. kleur, logo, lettertipe) wat in gedrang kom, maar soos ek hierbo verduidelik het, fokus hierdie studie slegs op die talige aspekte. Die term “handelsmerk” soos van toepassing gemaak in hierdie studie word ook gebruik in die Afrikaanse weergawe van die Handelsmerkwet wat deur die staatspresident geteken is. In hierdie studie word “handelsmerk” en “merk” as sinonieme gebruik aangesien dit ook oor die algemeen so in die plaaslike en buitelandse literatuur gebruik word.

In hierdie studie word die term “linguistiek” in “forensiese linguistiek”, “linguistiese werktuie”, “linguis”, “linguistiese ontleding”, ens., gebruik as sinoniem vir “taalwetenskap”, naamlik wetenskap wat fokus op die bestudering van taal in die algemeen (HAT, 2015). Ek gebruik “linguistiek” teenoor “taalkunde”, wat betrekking het op die wetenskaplike studie van die sisteem van taal, en veral op tale afsonderlik (HAT, 2015). Dit is ook belangrik om te noem dat die forensiese linguistiek, en dan die toepassing van die linguistiese werktuie in hierdie studie, nie met ʼn spesifieke taal gemoeid is nie, maar met hoe die toepassing van linguistiese hulpmiddele op verskeie ondersoekgebiede in verskeie tale neerslag vind.

Soos hierbo genoem word die subdomeine van die tradisionele teoretiese linguistiek, naamlik fonetiek, fonologie, morfologie en semantiek, toegepas wanneer linguistiese ontledings in handelsmerkdispute gedoen word, hetsy deur linguiste of regslui. Ortografie, wat nie een van hierdie subdomeine is nie, word egter ook gebruik om vergelykings op visuele vlak te tref. Die term “linguistiese werktuie” word daarom gebruik om te verwys na die subdomeine plus ortografie, wat dan saam die vernaamste instrumente is waarmee die linguis ʼn ontleding in ʼn handelsmerkdispuut kan doen.

(20)

1.6 Tipografiese konvensies

In hierdie tesis word sekere tipografiese konvensies gevolg ter wille van leesbaarheid:

Handelsmerke word in vetdruk geskryf. In sommige literatuurbronne word handelsmerke volledig in HOOFLETTERS geskryf, maar myns insiens is dit belangrik om te onderskei, veral op ortografiese vlak, of ʼn merk in hoofletters of kleinletters in die mark verskyn. Die visuele lengte van die merke kan ook beter beoordeel word wanneer hulle nie volledig in hoofletters geskryf staan nie.

● Begrippe word in dubbelaanhalingstekens (“_”) gegee, en betekenis in enkelaanhalingstekens (‘_’) soos dit die gebruik is in die linguistiek.

● Morfeme en letters word kursief geskryf.

● Woorde uit ander tale, soos Engels, word in dubbelaanhalingstekens (“_”) geskryf.

Ek het die Harvard-verwysingstelsel gevolg, soos vereis deur die voorskrifte van die Noordwes-Universiteit en aan die hand van die NWU-verwysingsgids (2012). Volgens hierdie gids word hofsake wat in die teks verskyn, nie kursief geskryf nie.

1.7 Uiteensetting van hoofstukke

In hoofstuk 1 word die agtergrond van die studie geskets en die probleemstelling uitgestippel. Gegrond hierop word die navorsingsvrae en -doelwitte uiteengesit en die metodologie wat in die studie gevolg word, kortliks bespreek. Ten slotte word die studie geposisioneer en afgebaken en ʼn paar sleutelbegrippe uiteengesit.

Hoofstuk 2 bied ʼn omvattende literatuuroorsig van die forensiese linguistiek as ondersoek-gebied, met die hoofdoel om die waarde van die linguistiek by die oplos van taalkundige probleme in Suid-Afrika aan te dui; spesifiek met betrekking tot handelsmerkdispute. Hierdie hoofstuk verskaf eers ʼn omskrywing en afbakening van die gebied en gee dan ʼn kort uiteensetting van die ontstaan en ontwikkeling daarvan. In die laaste afdeling van die hoofstuk bespreek ek die taak en waarde van die linguis as deskundige getuie binne forensiese kontekste.

Hoofstuk 3 is die eerste van twee hoofstukke waarin ek die literatuurstudie van die begrippe “handelsmerk” en “handelsmerkdispuut” uiteensit. In hierdie hoofstuk kom eersgenoemde begrip aan bod. Ek beskryf die ontstaan en ontwikkeling van die begrip van ʼn “handelsmerk”

(21)

en verskaf dan ʼn omskrywing van die begrip vanuit ʼn Suid-Afrikaanse regsoogpunt. Hierna word ʼn uiteensetting gegee van handelsmerkkategorieë soos dit algemeen in handelsmerkdoktrine geklassifiseer word. In die laaste afdeling van die hoofstuk verskuif die fokus na die begrip soos dit vanuit ʼn linguistiese perspektief benader word.

In hoofstuk 4 word die literatuurstudie voortgesit, met ʼn fokusverskuiwing na die begrip “handelsmerkdispuut”. Ek verskaf ʼn omskrywing van “handelsmerkskending” soos dit in Suid-Afrikaanse handelsmerkwetgewing bepaal word. Hierna verskuif die klem na die rol wat die linguis in handelsmerkdispute kan speel en die aard van linguistiese bystand in hierdie soort sake. Ek bespreek breedvoerig drie buitelandse sake waarin linguistiese ontledings gedoen is om hierdie rol te demonstreer.

Hoofstuk 5 fokus op die navorsingsontwerp en -metodologie wat in die studie gevolg word. Ek verduidelik my keuse van navorsingsontwerp en sit dan die metodologie uiteen. Dit behels ʼn beskrywing van die sekondêre en primêre bronne wat in die studie geraadpleeg is, en hoe die bronne geïdentifiseer en ontleed is. Die hoofstuk word afgesluit deur die beperkinge van die metodologie uit te wys.

Hoofstuk 6 bevat die empiriese deel van die studie, naamlik die data-ontleding en bevindinge. Hierdie hoofstuk is in vier afdelings verdeel. In die eerste afdeling bespreek ek linguistiese verslae van plaaslike linguiste, gevolg deur die tweede afdeling waarin ʼn sintese gegee word van die gevolgtrekkings uit hierdie bespreking saam met die gevolgtrekkings wat in hoofstuk 4 uit die literatuuroorsig oor die buitelandse linguistiese ontledings gemaak is. In die derde afdeling van hoofstuk 6 sit ek die gebruik van die linguistiese werktuie in Suid-Afrikaanse hofuitsprake in my datastel uiteen. Die vierde afdeling verteenwoordig ʼn samevatting van al die voorafgaande in die vorm van die riglyne wat vir linguistiese ontleding in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute voorgehou word.

Hoofstuk 7 bevat ʼn opsomming van die studie waarin die oorkoepelende gevolgtrekkings en bevindinge bespreek word. Die studie word afgesluit deur na moontlike toekomstige navorsing te verwys.

(22)

1.8 Samevatting

In hierdie hoofstuk, die inleiding tot die tesis, word die agtergrond van die studie geskets en die beduidende kwelpunte uitgelig waarop die studie poog om antwoorde te bied. Drie probleemstellings is geformuleer waaruit daar twee navorsingsvrae en twee navorsings-doelwitte na vore gekom het. Daarna het ek kortliks die metodologie aangedui waarvolgens ek die studiedoelwitte wil bereik, gevolg deur ʼn afbakening van die omvang van studie. Sleutelbegrippe vir die studie is omskryf, waarna ʼn uiteensetting gegee is van hoe die hoofstukindeling van die studie daar uitsien.

(23)

HOOFSTUK 2: OORSIG VAN DIE FORENSIESE LINGUISTIEK

2.1 Inleiding

Die forensiese linguistiek is reeds ʼn goed gevestigde ondersoekgebied in die buiteland. In Suid-Afrika is dit egter nie die geval nie. Soos ek in hoofstuk 1 aangedui het, word linguiste nog nie hier ten volle in plaaslike forensiese kwessies benut nie. Om die waarde van die linguis by die oplos van taalkundige probleme in Suid-Afrika aan te dui, en spesifiek met betrekking tot handelsmerkdispute, gee hierdie hoofstuk ʼn oorsig van die forensiese linguistiek as ondersoekgebied. Ek verskaf ʼn omskrywing en afbakening van die gebied, en gee dan slegs ʼn kort uiteensetting van die ontstaan en ontwikkeling van die dissipline aangesien verskeie plaaslike outeurs dit reeds deeglik weergegee het (sien Carney, 2015; Kotzé, 2007; Michell, 2013; Thiart, 2014). In die laaste afdeling van die hoofstuk volg ʼn bespreking van die taak en waarde van die linguis as deskundige binne forensiese kontekste. Die hoofstuk sluit af met ʼn opsomming en gevolgtrekking. Die doel van hierdie hoofstuk is dan tweeledig: eerstens om die waarde van die forensiese linguistiek as ondersoekgebied te toon en tweedens om te toon hoe groot die leemte plaaslik betreffende navorsing in hierdie veld steeds is.

2.2 Omskrywing en omvang

Met my bestudering van die literatuur vir hierdie studie het drie aspekte duidelik na vore gekom ten opsigte van die definisies van die begrip “forensiese linguistiek”: (1) linguistiese ontleding, (2) die praktykgegronde en interdissiplinêre aard van hierdie ondersoekgebied, en (3) die noue verband wat die ondersoekgebied spesifiek met regspleging het. In 2.2 word daar verwys na definisies deur verskeie vername rolspelers in die veld van die forensiese linguistiek en daarvolgens lig ek dan telkens dié drie aspekte uit. Aangesien die drie aspekte so nou vervleg is, is dit nie moontlik om elkeen afsonderlik, of in volgorde, te bespreek nie. Die vraag rakende die “wetenskaplikheid” van die gebied kom ook aan bod, veral met betrekking tot die praktykgegronde aard van die gebied. Aan die einde van die afdeling formuleer ek ʼn oorkoepelende definisie vir die studie.

Die forensiese linguistiek, of forensiese taalwetenskap, word omskryf as ʼn praktykgegronde ondersoekgebied (Kotzé, 2012a; 2015) waarin taal, of woorde op sigself, as kritieke bewys in ʼn misdaad of siviele oortreding ontleed word (ILE, 2014). Kortom is die forensiese linguistiek die gebruik van taalkundige insig om feite of getuienis in ʼn geregshof te

(24)

ondersoek en te evalueer (Kotzé, 2012b). Weens hierdie praktiese aard van die ondersoekgebied kan die forensiese linguistiek tereg beskou word as ʼn toegepaste taalwetenskap wat volgens ʼn uiters praktiese benadering met konkrete probleme of data, eerder as met grondbeginsels, werk (Kotzé, 2012b; Olsson, 2008:3). Trouens, talle forensiese praktisyns (bv. Gibbons, 2011:234; Kotzé, 2015; Shuy, 2007:2; Tiersma, s.a.) sien die forensiese linguistiek as toegepaste linguistiek – of bloot net linguistiek – en beweer dat die term “forensiese linguistiek” slegs die inhoudsarea afbaken waarop die linguistiek as kundigheidsterrein toegepas word. Hulle beskou hulself nie as deskundiges in forensiese linguistiek nie, maar gewoon as akademici of toegepaste linguiste; mense wat kennis dra van die kernwerktuie van die linguistiek, naamlik fonetiek, fonologie, morfologie, sintaksis, semantiek, pragmatiek, diskoersanalise, taalverandering en taalvariasie – en dit in die veld van regspleging toepas (Shuy, 2002:8-9; Tiersma, s.a.). Hierdie siening stem ooreen met verskeie bronne wat beweer dat werklikheidsprobleme wat binne die regsveld voorkom, wel binne die bestek van die forensiese linguistiek val en met behulp van laasgenoemde opgelos kan word (sien bv. Chaski, 2006:508; Cornelius, 2015).

Dat daar ʼn noue band tussen taal en die reg bestaan, staan bo alle twyfel (Carney & Bergh, 2014:48). Die ondersoekgebied van die forensiese linguistiek word weliswaar as die koppelvlak van taal, misdaad en regspleging omskryf (Olsson, 2008:3). In dieselfde lig kan die gebied beskou word as ʼn hulpwetenskap in regspleging waarin die linguis poog om regskwessies wat met taal verband hou, op te los (Kotzé, 2014a; Leonard, 2005/2006). ʼn Forensies-linguistiese ondersoek behels dus die ontleding van taal soos dit in ʼn domein van die menslike lewe wat spesifiek met die reg verband hou, gebruik word (Olsson & Luchjenbroers, 2014:xvii). Samevattend kan gesê word dat die forensiese linguistiek die gebied is waar die wisselwerking tussen taal en regskwessies ondersoek word (Turell, 2010:212).

Dit is egter belangrik om Shuy (2002:10) se siening voor oë te hou, naamlik dat die linguis nie ʼn regskenner is nie, en dat regslui in sekere sake, byvoorbeeld handelsmerkdispute, juis ʼn kundige in ʼn ander veld, in hierdie geval die linguistiek, benodig. (Sien ook verdere bespreking van dié punt in 2.4.) Dit is veral belangrik vir die huidige studie wat ʼn taalgegronde ondersoek behels van verskynsels wat op die gebied van die reg voorkom. Hier word weer klem gelê, soos in hoofstuk 1, dat die studie vanuit die oogpunt van die

(25)

taalwetenskap benader word en nie poog om regsbeginsels of wetstoepassing in diepte te bespreek nie (Carney & Bergh, 2014:26).

Die interdissiplinêre strekking van die forensiese linguistiek omvat ook die sosiolinguistiek. Laasgenoemde is in die breë die studie van taal in die gemeenskap, en omdat regspleging juis ʼn gemeenskapsgerigte instelling en aktiwiteit is waarin taal ʼn sentrale funksie vervul (Kotzé, 2012b), is die noue verband tussen die forensiese linguistiek en regspleging nogeens duidelik.

Maar dit is juis die praktykgegronde aard van die ondersoekgebied, en die feit dat die woord “forensies” in die benaming voorkom, wat vrae laat ontstaan oor die wetenskaplikheid van dié gebied – en dalk ook een van die redes is waarom die gebied nog nie noemenswaardige groei in Suid-Afrika beleef het nie. Die woord “forensies” is bekend weens terminologie soos “forensiese patologie,” “forensiese sielkunde” en “forensiese rekeningkunde” wat almal as forensiese wetenskappe beskou word. Waar sommige outeurs die forensiese linguistiek as ʼn forensiese wetenskap beskryf (sien bv. Thiart, 2014:19), beskou ander dit eerder as ʼn toepassingsgebied van die linguistiek waarin taalkundige insigte vir forensiese doeleindes ingespan word (bv. Kotzé en Shuy, soos hierbo genoem). Met ander woorde, taalkundigheid word toegepas op ʼn probleem wat forensiese implikasies het (Kotzé, 2015), of soos Olsson (2008:3) dit stel: taalkundige kennis word toegepas in ʼn spesifieke sosiale konteks, naamlik die wetlike forum. Die woord “forensies” is juis afgelei van die Latynse adjektief, forensis, wat weer afgelei is van forum, wat verwys na die openbare verhoog waar regsake in antieke Rome beslis is (Kotzé, 2012b; South African Concise Oxford Dictionary, 2002). ʼn Forensies-linguistiese ondersoek het dus ten doel om in die regspraak ʼn rol te speel; daarom kan dié ondersoekgebied tereg as “forensiese” linguistiek beskryf word. Volgens hierdie benadering word die forensiese linguistiek dus nie as ʼn wetenskaplike studieveld op sy eie beskou nie, maar ʼn sambreeldissipline met vele fasette (Olsson & Luchjenbroers, 2014:xvii).

Die huiwering van talle outeurs om hierdie ondersoekgebied as ʼn forensiese wetenskap te klassifiseer, kan toegeskryf word aan die feit dat laasgenoemde term beelde oproep van eksakte, kwantitatiewe resultate wat met behulp van laboratoriumtegnieke verkry word, byvoorbeeld in die geval van DNS-ontleding. Praktisyns maan juis teen die sensasionalisme wat met die gebied gepaard kan gaan (Jordan, 2002:141) en die gebruik van byvoorbeeld die begrip “linguistiese vingerafdruk” wat veronderstel dat ʼn persoon se skryf- of praatstyl so uniek soos sy vingerafdruk is (Coulthard, 2004:1-2). Alhoewel kwantitatiewe tegnieke met

(26)

sukses in die forensiese linguistiek deur byvoorbeeld die Institute for Linguistic Evidence (ILE) aangewend word – en dit al telkens tot beduidende bevindinge in ondersoeke gelei het (in Suid-Afrika, bv. Hubbard, 1994; 1995; Kotzé, 2007) – word daar nog baie navorsing benodig om die streng wetenskaplikheid van metodes te toets aangesien sommige hiervan geen of min teoretiese en empiriese gronde het (Marquilhas & Cardoso, 2012; Olsson, 2008:45). Die metodologie wat al aangewend is om byvoorbeeld outeurskap toe te skryf, te vergelyk, te identifiseer en te profileer, word steeds aan streng evaluasie onderwerp (bv. Grieve, 2007; Juola, 2012; Rudman, 2012; Stamatatos, 2008). Dan is daar ook metodologie wat nie getoets kan word nie omdat dit gepatenteer of in die proses is om gepatenteer te word. Dit sluit twee modules in van dr. Carole Chaski se ALIAS-stelsel wat ontwerp is om identifisering en assessering op grond van linguistiese patrone te maak, asook Gavin de Becker se MOSAIC-program waarin verskeie soorte dreigemente, van geweld in die werksplek tot dreigemente teen regters, deur middel van rekenaarstelsels geassesseer word. Alhoewel hierdie metodes klaarblyklik groot vrugte afwerp, kan dit nie tot die verbetering van die veld bydra nie aangesien dit nie beskikbaar is vir verdere toetsing, verfyning of algemene metodologiese gebruik in die veldgebied nie (Gales, 2010:72-73).

ʼn Ander siening van die wetenskap is dat dit ook ʼn veld van aktiwiteit is waarin ons poog om betroubare en voorspelbare resultate te kry deur ʼn metodologie toe te pas en in dié opsig val die forensiese linguistiek wel binne die definisie van wetenskap (Olsson, 2008:26). Volgens hierdie beskouing skiet die forensiese linguistiek in geen opsig te kort nie omdat dié ondersoekgebied altyd met waarskynlikhede eerder as met absolute sekerhede werk (Marquilhas & Cardoso, 2012). Forensiese linguiste is ook deeglik bewus hiervan: Shuy (in Hitt, 2012) sê dat hy van geen forensiese linguis weet wat sal beweer dat hy die een regte antwoord het nie – dit is immers nie sy taak om die uiteindelike uitspraak van skuldig of onskuldig te lewer nie. Die wetenskap word selfs as ʼn hoogs onsekere onderneming beskryf – in teenstelling met die algemene opvatting – omdat dit met waarskynlikhede, en nie met sekerhede nie, te make het (Erzinçlioglu, 2012:29). Die “harde wetenskappe” word ook lank reeds nie as absoluut objektief beskou nie, maar in ʼn mindere of meerdere mate as ʼn interpretatiewe vorm van kennis (Ainsworth, 2006:656-7).

ʼn Interessante punt wat hierby aansluit, is die ingesteldheid ten opsigte van die Daubert-toets. In Amerikaanse howe word forensies-linguistiese bewyse dikwels nie in ag geneem nie, omdat dit nie die Daubert-toets slaag nie. Die Daubert-toets is die maatstaf wat in

(27)

Amerikaanse howe gebruik word om te bepaal of bewyse as geldig beskou kan word. Die kriteria van die toets is onder andere dat die tegniek wat gebruik is om die bewyse te verkry empiries getoets en weerlegbaar moet wees, dat die tegniek aan portuurbeoordeling en publikasie blootgestel moet wees, en dat die deskundige getuie die foutgrens van hierdie tegniek moet kan aandui (Thiart, 2014:48-49). Ainsworth (2006:656) is egter van mening dat die Daubert-toets totaal gegrond is op ʼn positivistiese siening van wetenskaplike onderneming en dat hierdie toets as struikelblok staan in die pad van waardevolle bewyse uit byvoorbeeld die sosiale en ander wetenskappe waar ʼn positivistiese siening nie gemaklik pas nie. Die soort waarheid wat deur die linguis gesoek word, verskil van dié wat byvoorbeeld deur ʼn molekulêre chemikus gesoek word (Ainsworth, 2006:656).

Forensies-linguistiese metodes kan as patroon-identifiserend beskou word, aangesien dit byvoorbeeld in outeursidentifisering gebruik word om te soek na linguistiese patrone wat tussen twee tekste ooreenkom of verskil. Die patroon-identifiserende dissiplines in die forensiese wetenskappe, soos vingerafdruk-, vuurwapen-, handskrif-, skoenafdruk-, mikroskopiese haar-, buiteband-, bytmerk- en bloedspatselontleding beskik nie oor ʼn stewig gevestigde wetenskaplike grondslag nie, alhoewel dit al vir ongeveer ʼn 100 jaar gereeld as bewyse in strafregtelike sake voorgehou word (Mnookin, Cole, Dror, Fisher, Houck, Inman, Kaye, Koehler, Langenburg, Risinger, Rudin, Siegel & Stoney, 2011:726). Soos egter hierbo genoem, is forensiese linguiste bewus van die beperkinge in hul metodes terwyl praktisyne van ander patroon-identifiserende dissiplines maklik aanspraak sal maak op ʼn foutmarge van nul vir byvoorbeeld die metodologie van latente vingerafdrukidentifisering, of maklik sal noem dat hulle tegnieke ʼn toepassing van wetenskaplike metodes is al is die metodes nog nooit aan streng toetsing onderwerp nie (Mnookin et al., 2011:735). Die werklike vraag is dus nie of ons met ʼn sogenaamde eksakte wetenskap te doen het nie, maar of die werk betroubaar en streng gedoen word volgens wetenskaplike metodes en beginsels wat menslike vooroordeel probeer voorkom (Harris, 2014). Soos Erzinçlioglu (2012:12) dit beskryf:

The practice of forensic science is not simply the application of a set of laboratory techniques; it is an attitude of mind, a tendency to think in a particular way. It is the acquisition of the habit of starting with a doubt, of being eager and willing to question the unquestioned. It is the cultivation of a suspicious mind.

Een aspek wat die wetenskap en die reg onderskei, is juis bogenoemde kwessie – regspraak wil as staties en onveranderlik beskou word, terwyl die wetenskap dit nie altyd is nie. ʼn

(28)

Kernvertrekpunt van die wetenskap is dat gevolgtrekkings hersien moet kan word – en ʼn hersiening van wetenskaplike kennis kan ʼn uitspraak verander (TALE, 2016). Dit is ook so dat vir elke bewering oor ʼn forensiese bewys wat deur ʼn kenner gemaak word, daar ʼn ander kenner met dieselfde kwalifikasie of kundigheid is wat die teenoorgestelde kan beweer, met grondige bewyse (Shapiro, 2014). ʼn Voorbeeld hiervan is juis deur Shuy (2002:125-143) opgeteken. Hy en Butters, ook ʼn welbekende forensiese linguis, moes onderskeidelik in dieselfde handelsmerkdispuut ʼn linguistiese ontleding doen vir die twee opponerende partye. Daar was wel ʼn paar punte waar hulle deskundige opinies nie dieselfde was nie. (Meer hieroor in 4.3.3) Verder is dit ook so dat taalkundige getuienis van verskillende aard gelewer kan word wat nie noodwendig almal van ewe hoë gehalte is nie en dat nie alle linguiste die moontlikhede van taalkundige toepassing in handelsmerkdispute raaksien nie (sien 4.4.2.1 vir meer besonderhede).

Op grond van bogenoemde bespreking kan die forensiese linguistiek wel as ʼn forensiese wetenskap beskou word aangesien elke saak nuwe uitdagings bied en die gebied groei namate meer sake ondersoek word. Elke saak word oor ʼn unieke kam geskeer en metodes ontwikkel namate nuwe sake aangepak word. Daarom word forensies-linguistiese ondersoeke tans deur die toepassing van die linguistiek gekenmerk, en nie soseer deur die aanwending van ʼn eie teorie nie (Carney, 2015:14). Baie van die metodes wat deur die linguis as deskundige in die regsproses ontwikkel word, word inderdaad as baanbrekerswerk beskou (Coulthard & Johnson, 2010:603). Hierdie punt beklemtoon weer die praktykgegronde aard van dié ondersoekgebied.

Die forensiese linguistiek kan ook as ʼn volwaardige wetenskaplike ondersoekgebied beskou word aangesien verskeie internasionale verenigings in die lewe geroep is, byvoorbeeld die International Association of Forensic Linguistics (IAFL) en die International Association for Forensic Phonetics and Acoustics (IAFPA). ʼn Vaktydskrif, Forensic Linguistics, is in 1994 gestig en staan sedert 2003 as The International Journal of Speech, Language and Law bekend (Kotzé, 2012c). Kotzé verduidelik dat die naamsverandering dui op die uitbreiding van die ondersoekgebied van outeursidentifisering na al die terreine wat tans deel daarvan vorm.

Om ʼn beter begrip te kry van die interdissiplinêre en praktykgegronde aard van die forensiese linguistiek, is dit raadsaam om na die omvang van die ondersoekgebied te kyk. Waar die

(29)

forensiese linguistiek grotendeels met outeursidentifisering vereenselwig word, veral weens Chaski, Coulthard en Olsson se bydrae tot die gebied, sal dit hieronder duidelik word dat die ondersoekgebied veel wyer strek. Ons kry ʼn goeie oorsig van die omvang van die gebied in die IAFL se temas in hulle oproep vir referate vir hul 13de tweejaarlikse konferensie in 2017.

Die IAFL identifiseer vier vername temas, elk met onderskeie subtemas, asook ʼn kategorie met verwante subtemas. Die vier temas is: regsdiskoers, taalminderhede en die regstelsel, taalwetgewing, en taalgebaseerde bewyslewering en ondersoekende linguistiek.

Onder regsdiskoers ressorteer subtemas soos verstaanbaarheid van regsdokumente; hof-, polisie- en tronkdiskoers, en ondersoekende ondervraging; meertaligheidskwessies in regskontekste; onderhoude met kwesbare getuies in die regstelsel, en mag en die reg. Taalminderhede en die regstelsel behels taalbenadeling in die regstelsel, hofvertaling en -tolking en menseregtekwessies waar taalwetgewing na sake soos taalbeleid en -regte, beledigende taal en die linguis as deskundige getuie verwys.

Die temas van taalgebaseerde bewyslewering en ondersoekende linguistiek bevat die meeste subtemas, naamlik forensiese fonetiek, sprekeridentifisering en forensiese stilistiek; linguistiese bepaling van nasionaliteit; outeurskapsontleding en opsporing van plagiaat; handelsmerkdispute, verbruikersprodukwaarskuwings, misleiding en bedrog. Die verwante subtemas is forensiese rekenaarlinguistiek, kubermisdaad, aanlyn identiteite en interaktiewe multimodale kommunikasie, multimodale benaderings tot forensiese linguistiek, interkulturele bemiddeling en vergelykende regswetenskap (“comparative law”).

Volgens die temas hierbo ressorteer handelsmerkdispute onder die tema taalgebaseerde bewyslewering en ondersoekende linguistiek, alhoewel dit hoofsaaklik ʼn regskwessie is. Hierdeur word die besondere intieme verhouding tussen taal en die reg weereens beklemtoon in die studie – in die woorde van Kotzé (2014b): “taal is die lewensbloed van regspleging”.

Vir ʼn ander uiteensetting van die omvang van die vakgebied, kan Carney (2015:15-22) bestudeer word. Hy groepeer die gebruik van taal binne die regstelsel in die volgende kategorieë: taal en die reg, taal en die polisiëringsmagte, taal in die hof, taal en handelsmerke, outeur- en sprekeridentifikasie, en taal en betekenis. Belangrik vir die huidige studie is die kategorie van taal en handelsmerke wat weereens beklemtoon dat die forensiese linguistiek

(30)

wel beskou word as ʼn veld wat ʼn bydrae tot die oplossing van handelsmerkdispute te lewer het.

Uit bogenoemde is die skakeling tussen taal, misdaad en regspleging baie duidelik. Vir hierdie studie lê ek die volgende definisie vir die forensiese linguistiek voor: ʼn praktykgegronde ondersoekgebied waarin linguistiese ontleding gedoen word van taalgebruik wat regsimplikasies het.

In die onderstaande afdeling volg ʼn bespreking van die ontstaan en ontwikkeling van die forensiese linguistiek as ondersoekgebied.

2.3 Ontstaan en ontwikkeling

Die ontstaan van die forensiese linguistiek word oor die algemeen toegeskryf aan die publikasie van twee dokumente, die een getiteld Language and the law; the semantics of

forensic English deur Frederick A. Philbrick in 1949, en die ander getiteld The Evans statements: A case for forensic linguistics, deur Jan Svartvik in 1968 (Kotzé, 2012a:4).

Eersgenoemde handel oor die rol van semantiek in regstaal, spesifiek die invloed wat woorde op die reg en regsdenke kan uitoefen. “Forensic English” word hier bloot as sinoniem vir “regstaal” gebruik, maar dit was die eerste keer dat die woord “forensies” aan taal gekoppel is (Kotzé, 2012c).

In die tweede dokument lewer Svartvik verslag van ʼn linguistiese ondersoek na outeurskap vir forensiese doeleindes wat hy onderneem het (Coulthard, 2004:1). Hierdie ondersoek word dan ook as die eerste gedokumenteerde toepassing van die forensiese linguistiek beskou (Thiart, 2014:24). Svartvik toon in sy verslag aan hoe inkriminerende gedeeltes van ʼn stel van vier verwante verklarings, afgelê deur Timothy Evans wat op die moord van sy vrou en babadogtertjie aangekla is, op grammatiese vlak verskil het van die ander, onbetwiste gedeeltes van die verklarings (Coulthard, 2004:1). Die inkriminerende gedeeltes is na bewering deur polisiebeamptes aan Evans gedikteer. Volgens Svartvik was die taalgebruik in hierdie gedeeltes te formeel om aan ʼn analfabeet soos Evans toegeskryf te kon word (Thiart, 2014:25). Daar is inderdaad later vasgestel dat die moorde deur Evans se verhuurder gepleeg is (Coulthard, 2004:1) en Evans het kwytskelding ontvang; 16 jaar nadat hy in 1950 gehang is (Carradice, 2012). Hier kom die praktykgegronde aspek van die definisie van forensiese linguistiek weer na vore, naamlik dat Svartvik se verslag van ʼn werklike saak die grondslag

(31)

gelê het vir die nuwe ondersoekgebied van die forensiese linguistiek: gebore en ontwikkel in die praktyk.

Ná daar bykans geen ontwikkeling in die veld was in die tydperk na Svartvik se verslag die lig gesien het (Coulthard, 2004:1) nie, het talle beduidende sake en gevalle wel die ondersoekgebied begin slyp. In die VSA is Ernesto Miranda in 1963 skuldig bevind aan gewapende roof. In 1966 is hy egter vrygespreek nadat hy geappelleer het omdat hy nie sy reg om te swyg of ʼn prokureur teenwoordig te mag hê, verstaan het nie. Hieruit het die Amerikaanse Miranda-regte van die individu met betrekking tot die ondervragingsproses gespruit (Olsson, 2008:5). In die Verenigde Koninkryk is ʼn postume kwytskelding in 1993 toegestaan aan Derek Bentley danksy ʼn beskrywende linguistiese ontleding deur Malcolm Coulthard, waarna verskeie ander sake gevolg het (Olsson, 2008:20). In Australië tree John Gibbons as deskundige getuie op in sake waarin polisiebeamptes daarvan beskuldig word dat hulle woorde in die mond van Aborigine-beskuldigdes gelê het. Die verband tussen linguistiek en sosiolinguistiek aan die een kant en regskwessies aan die ander was van groot belang in die 1980’s (Olsson, 2008:8). Sake wat in Duitsland voorrang geniet het, het gewissel van laster en persoonlikheidskending/naamskending tot outeurstoeskrywing (Olsson, 2008:10).

Die eerste sake wat in die forensiese linguistiek ondersoek is, het dus grotendeels met die ondervraging van getuies en aangeklaagdes se verklarings te make gehad. Van daar het die gebied uitgebrei na outeurskapsidentifisering in terrorismesake, produkkontamineringsake en verdagte sterftes, asook die interpretasie van wetlike en ander dokumente, selfs die ontleding van selfoonboodskappe (Olsson, 2008:10). Bekende sake is onder meer die sogenaamde Unabomber se skrywes, wat uiteindelik tot die identifisering van Ted Kascynski gelei het, en die losprysbriewe in die JonBenet Ramsey-geval wat tot op hede nie opgelos is nie (Jordan, 2002:141).

Wat handelsmerkdispute betref, is Roger Shuy bekend vir die rol wat hy as linguis al in talle sulke sake gespeel het. In die trae tydperk in die forensiese linguistiek ná Svartvik se verslag gepubliseer is, maak Coulthard (2004:1) spesiaal melding van Shuy wat toe reeds in die veld werksaam was. Shuy word oor die algemeen erken as “the dean of American forensic linguistics” en een van die medestigters van die veld wêreldwyd (Butters, 2015:127). Sy grootste bydrae lê in sy belang as deskundige getuie en as outeur van verskeie artikels en

(32)

boeke wat prakties geskryf is oor kwessies wat taal en regspleging behels (Butters, 2015:127). Ronald Butters is ʼn ander gerekende spesialis op die gebied van handelsmerke (Hitt, 2012). Linguistiese bydraes tot handelsmerkdispute word hoofsaaklik in Noord-Amerika en Australië gelewer, dog ook in Japan (Shuy, 2011), en linguiste word reeds vir ʼn geruime tyd en gereeld in sulke sake – en dikwels deur albei partye – gebruik (Ainsworth, 2006:662; Blake, 2014:2; Butters, 2007:508).

Alhoewel daar in die buiteland reeds twee dekades van gespesialiseerde navorsing en skryfwerk in die forensiese linguistiek gedoen is (Coulthard & Johnson, 2010:602), is daar tans nie enige merkwaardige groei in die ondersoekgebied in Suid-Afrika te bespeur nie (Thiart, 2014:30). Trouens, daar is ʼn beduidende tekort aan robuuste navorsing in die plaaslike konteks (Cornelius, 2015:241). So ook is daar tans karige bestekopnames van die stand van die ondersoekgebied in Suid-Afrika, moontlik weens linguiste se versuim om verslag te lewer van hul werksaamhede in dié verband (veral in regsvaktydskrifte) (Carney, 2015:7, 8). Die volgende gedeelte gee ʼn opsomming van die ontwikkeling van die forensiese linguistiek in Suid-Afrika.

Op eie bodem kom die eerste saak wat van forensies-linguistiese kundigheid gebruik gemaak het, in 1990 voor. Ernest Hilton Hubbard (1994; 1995) lewer deskundige getuienis in ʼn afpersingsaak waarin die beskuldigde daarvan verdink is dat hy afpersingsbriewe aan ʼn landswye kettingwinkel gestuur het met dreigemente om voedsel op die rakke te vergiftig en die pers in kennis te stel indien die winkel hom nie ʼn bedrag van R1,5 miljoen betaal nie. Die beskuldigde was ʼn eerstetaalspreker van Pools. Hubbard, ʼn professor in linguistiek van Unisa, kon aan die hand van ʼn fouteontleding van die verdagte briewe en onbetwiste opstelle wat deur die beskuldigde geskryf is, patrone identifiseer wat daarop dui dat die beskuldigde waarskynlik die skrywer van die afpersingsbriewe was. Alhoewel die fouteontleding op sigself nie voldoende getuienis vir skuldigbevinding opgelewer het nie, blyk dit dat die ontleding wel waarde gehad het in die uiteindelike skuldigbevinding van die oortreder (Hubbard, 1994:4; 1995:63; Kotzé, 2007:387).

Die volgende saak waarin outeursidentifisering gedoen is, was die sogenaamde Father Punch-saak wat eers heelwat later in 2004 gedien het. Ernst Kotzé (2007; 2012c) het linguistiese getuienis in hierdie crimen iniuria-saak gelewer. Hy is genader om ʼn vergelyking te tref tussen drie memoranda, geskryf deur ene Father Punch, en 11 anonieme memoranda wat

(33)

vermoedelik deur dieselfde outeur geskryf is. Die eerste stel is gerig op die Provinsiale Wetgewer van die Oos-Kaap en verskeie ander organisasies, en het lasterlike opmerkings en beskrywings van dade deur vooraanstaande lede van die Oos-Kaapse Wetgewer en die Nasionale Regering bevat (Kotzé, 2007:387). Die tweede stel is onder die publiek versprei en is in dieselfde trant as die eerste stel geskryf. Kotzé het met behulp van ʼn fouteontleding, asook stilometriese en stilistiese ontleding vasgestel dat die beskuldigde na alle waarskynlikheid wel die outeur van die 11 betwiste memoranda was. Die regter in die appèlsaak wat op die skuldigbevinding in die hooggeregshof gevolg het, het Kotzé se ontleding as deurslaggewend ten opsigte van die skuldigbevinding beskryf (Kotzé, 2007:398).

Oor die algemeen het die terrein van handelsmerkdispute nog min aandag in Suid-Afrika ontvang (Thiart, 2014:31). Dit blyk wel dat linguiste deur regslui vir getuienis/verslae geraadpleeg word (Carney, 2015:32), ook veral in handelsmerkdispute (Van Deventer, 2016), maar dit is nie goed gedokumenteer in die literatuur nie en word ook nie pertinent in hofuitsprake genoem nie. Sanderson (2007a) lewer in haar artikel, Linguistic analysis of

competing trademarks, verslag van ʼn paar handelsmerkdispute waarin sy onder andere as

linguis geraadpleeg is. Sy bespreek ook gedeeltes van linguistiese ontledings wat Hubbard (1993) in twee dispute gedoen het. Een van hierdie ontledings het ek persoonlik by Hubbard bekom. Verder het ek van Kotzé (2013) ʼn linguistiese verslag ontvang wat hy vir ʼn handelsmerkdispuut gelewer het. Een van Sanderson se ontledings, een van Hubbard se ontledings, en Kotzé se ontleding word in 6.1 volledig bespreek.

Sanderson (2007a) se bogenoemde artikel is stellig die vroegste akademiese literatuur oor die linguistiese ontleding van Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute, en het die grondslag vir verdere ondersoek gelê (soos in 1.1 genoem). Die artikel bevat ’n oorsig van die bydrae wat die linguistiek kan lewer by vergelykings tussen mededingende handelsmerke, deur ondersoek in te stel na die soort bewyse, metodes en hulpbronne wat linguiste kan aanwend om sodanige vergelykings te tref (p. 132). Sanderson (2007a) begin deur ’n “handelsmerk” te definieer, asook die belangrike regsbegrip wat op handelsmerkdispute van toepassing is, naamlik “onderskeibaarheid”, kortliks te bespreek, deurgaans toegelig met voorbeelde uit plaaslike hofuitsprake (pp. 133-136). Sy bespreek die beduidendste punte uit die Plascon-saak wat op linguistiese ontleding betrekking het, om sodoende aan te toon hoe leksikale soortgelykheid vanuit ’n regsperspektief beskou word (pp. 136-138). Daarna gee sy ’n

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

Therefore, we thought it might be fruitful to examine the recall accuracies of the stable phrases versus the recall accuracies of the non-stable phrases within each of the

Bij deelnemers die middels IBM getraind werden om twijfelachtige situaties positief te interpreteren werd verwacht dat zij na de training beter in staat zouden zijn om negatieve

These results indicate that these stimuli occurred significantly more often in the experimental group where these stimuli have been presented throughout the route to the test

However, these differences were not statistically significant, therefore, the hypothesis that children suffering from a multiple trauma have more impaired general executive function,

Onderzoeken naar de relatie tussen pornografie en seksuele (fysieke) agressie worden samengevat in verschillende meta-analysen en reviews (Allen et al. 1995a,b; Seto et al., 2001;

Een advertorial met een product waarmee consumenten laag betrokken zijn leidt tot meer kans op een expliciete merkherinnering en een traditionele advertentie met

H4: The moderating effect of Type A behavior on the relationship between (a) role ambiguity, (b) role conflict, (c) role overload, (d) job stress, and (e) resource inadequacy and

In dit onderzoek zal de volgende vraag centraal staan: Op welke manier worden, binnen instellingen voor jongeren met een licht verstandelijke beperking die onder toezicht zijn