• No results found

HOOFSTUK 6: DATA-ONTLEDING EN BEVINDINGE

6.2 Linguistiese ontledings in plaaslike handelsmerkdispute

6.2.3 Allergan/Allertac en Allergan/Allergin

In haar artikel gee Sanderson (2007a) nie ʼn aanloop tot die sake waarvoor linguistiese ontledings gedoen is nie. In die bronnelys van haar artikel word die twee verslae wat sy geskryf het, gelys, met die datums onderskeidelik 2003 en 2004. Tesame met Kotzé se saak, waarvoor hy sy ontleding in 2013 gedoen het, is dit ʼn aanduiding dat linguiste in Suid-Afrika nog in hierdie soort sake geraadpleeg word, alhoewel dit dalk nie meer so algemeen is nie, soos Wolvaardt (bylae D) beweer. Hieronder volg ʼn uiteensetting van haar bespreking van die ontledings wat sy ten opsigte van bogenoemde merke gedoen het. Daar word in elke geval aangedui watter twee merke vergelyk word.

6.2.3.1 Ortografie – Allergan/Allertac

Sanderson (2007a:139) sê dat Allergan en Allertac net met twee letters verskil, naamlik die derde laaste letter (g en t) en die laaste (n en c). Verder is die woorde identies. Die identiese gedeeltes van die woorde kom aan die begin van die woord voor, wat dit kognitiewe prominensie gee.

6.2.3.2 Fonetiek – Allergan/Allergin

Volgens Sanderson (2007a:140) bestaan albei woorde uit drie lettergrepe, en foneties is daar ten minste vier moontlike uitsprake van elk van die woorde, waarvan drie identies is. Tabel 6.1 bevat elke woord met sy moontlike uitspraak volgens IFA-simbole, tesame met voorbeelde van woorde wat fonetiese analogieë is van die moontlike uitsprake van die merke (Sanderson, 2007a:140). Sanderson noem spesifiek in haar artikel dat sy hierdie voorbeelde in haar verslag ingesluit het vir lesers wat nie met die IFA vertroud is nie.

Tabel 6.1: Moontlike uitsprake van Allergan en Allergin

Allergan Allergin

IFA-teken Voorbeeld IFA-teken Voorbeeld

[ˈӕləgӕn] “caravan” [ˈӕləʤən] “origin” [ˈӕləgən] “organ” [ˈӕləgən] “begin” [əˈlɜʤən] “allergic” [əˈlɜʤən] “allergic”

[əˈlɜgən] “allergic” en “organ” [əˈlɜgən] “allergic” en “begin”

Sanderson (2007a:140) beweer dat ʼn mens waarskynlik kan sê dat die meeste Engels- tweedetaalsprekers in Suid-Afrika geneig sal wees om die eerste lettergreep in albei merke, [ӕ], met [a] te vervang, aangesien die eerste spraakklank nie in ander Suid-Afrikaanse tale voorkom nie, buiten sekere Afrikaanse dialekte. Laasgenoemde punt is egter nie korrek nie, omrede die [ӕ] wel in alledaagse Standaardafrikaans voorkom, byvoorbeeld in woorde soos “werk”, “berg” en “ver”. Sy gaan verder deur te sê dat die uitspraak [ˈӕləʤən] waarskynlik onder Engels-eerstetaalsprekers sal voorkom omdat hulle vertroud behoort te wees (ten minste onbewustelik) met die Engelse fonologiese reël om ʼn g voor ʼn i te palataliseer, oftewel te versag. Daarteenoor sal die uitspraak [ˈӕləgən] dalk meer waarskynlik onder Afrikaanse of Afrikataalsprekers voorkom, omdat hierdie tale nie hierdie konvensie volg nie.

As [ˈӕləgӕn] teenoor [ˈӕləʤən] uitgespreek word, is daar volgens Sanderson (2007a:140) twee uit ses klanksegmente wat kontrasteer, naamlik die velêre eksplosief [ɡ] teenoor die alveopalatale affrikaat [ʤ]. So ook kontrasteer die laaste middellae voorvokaal [ӕ] met die middel- sentrale vokaal of schwa [ə] (Sanderson, 2007a:141). Daar is egter ʼn definitiewe moontlikheid dat hierdie twee woorde vir sommige sprekers identies sal klink, naamlik [ˈӕləgӕn], [əˈlɜʤən] of [əˈlɜgən]. Sy verwys na ʼn moontlike situasie waarin ʼn apteker wat

byvoorbeeld ʼn verbale versoek vir [ˈӕləgən] kry, kan twyfel watter een van die twee produkte verlang word.

6.2.3.3 Morfologie – Allergan/Allergin

Albei woorde bestaan uit dieselfde stam, allerg-, wat algemeen voorkom in woorde soos “allergy”, “allergic”, ens. (Sanderson, 2007a:141). Sanderson verwys na die definisie van “allergy” volgens die New Shorter Oxford English Dictionary (1993) as ʼn “hypersensitivity towards a particular foreign substance such as a type of food, pollen or microorganism”. Deur

allerg- te gebruik, impliseer albei merke ʼn verband met allergieë en allergiese reaksies, en is

hulle dus tot ʼn mate semanties koreferensieel. Die identiese stam of semantiese kern van die twee woorde verskyn ook in albei woorde aan die begin van die woord, wat daaraan prominensie verleen, aldus Sanderson.

Sy gaan voort deur te sê dat albei woorde ʼn afleidingsuffiks het, naamlik -an en -in (Sanderson, 2007a:141). Sy verwys na die Shorter Oxford English Dictionary on Historical

Principles (3 ed.1975) wat sê dat die suffiks -an op verskeie maniere in Engels gebruik word

om byvoorbeeld aan te dui dat ʼn persoon of dier van ʼn spesifieke plek (bv. “Martian”, “Roman”) of spesifieke stelsel (bv. “Republican”, “Anglican”) afkomstig is. In al hierdie gevalle word die suffiks as [ɪn] uitgespreek. Volgens die New Shorter OED word die suffiks -an min of meer arbitrêr gebruik om name van organiese verbindings te vorm, met voorbeelde soos Moxan, Dristan, Ditropan, Pollinosan en Cifran (Sanderson, 2007a:141).

Dieselfde geld egter vir die suffiks -in wat ook volgens die New Shorter OED gebruik word in chemie vir name van neutrale substansies. Voorbeelde hier is “insulin”, “maltodextrin”, “adrenalin” en “riboflavin” (Sanderson, 2007a:141). Sanderson (2007a:141-142) kom tot die gevolgtrekking dat albei die suffikse met die veld van chemie vereenselwig word en by die benoeming van chemiese substansies of verbindings gebruik word. Sy voer aan dat hierdie twee morfeme semantiese veralgemening ondergaan het, terwyl dit vroeër meer tegnies was en geleidelik in breër domeine in gebruik geneem is. Gevolglik het die oorspronklike tegniese sin verswak en daarom sê sy dat dit onwaarskynlik is dat die suffikse op sigself sterk genoeg is om verwarring te voorkom.

Soos in 4.3 aangetoon, meld die Plascon-riglyne nie pertinent dat ʼn morfologiese vergelyking tussen merke getref word nie. Sanderson (2007a:139) het wel morfologiese ontledings hier

gedoen wat sy as deel beskou van die betekenisaspek waarna die Plascon-riglyne verwys en dus volgens haar aanvullend tot ʼn semantiese ontleding benut kan word. Die werktuig van die morfologie kan die moontlike betekenisse van morfeme van semanties ondeursigtige merke blootlê, veral as die taalagtergrond van die gewone verbruiker in ag geneem word (Sanderson, 2007a:143).

6.2.3.4 Semantiek – Allergan/Allertac

Vir ʼn semantiese ontleding van Allertac het Sanderson (2007a:143) ʼn opname gedoen onder 11 respondente. (Sy het ook die opname gebruik om die uitspraak van Allertac te bepaal.) Die woord is in geskrewe vorm aan respondente gewys, waarna hulle gevra is om dit uit te spreek en te sê waarna hulle dink dit kan verwys as dit die naam van ʼn nuwe produk is. Drie respondente het gesê dat dit dalk met allergieë verband hou (“an allergic attack”, “an antihistamine”, “allergy tablets”), ses het geen idee gehad wat die woord kon beteken nie en twee het antwoorde gegee wat nie semanties met allergieë verband hou nie (“a snack bar”, “a pesticide”). Vanuit hierdie response blyk dit dat, ten spyte van die oënskynlik betekenislose morfeme waaruit Allertac bestaan, die woord ten minste in die gedagtes van sommige verbruikers kognitief semantiese skemas kan oproep wat met allergieë verband hou. As hierdie soort mentale assosiasie kan plaasvind wanneer Allertac in ʼn konteksvrye situasie gesien word, sal dit des te meer in ʼn plek soos ʼn apteek of hospitaal kan plaasvind (Sanderson, 2007a:144).

Sanderson (2007a) se ontleding het ook aan die Plascon-riglyne voldoen. Dit is (a) ten opsigte van voorkoms, klank en betekenis ontleed en (b) daar is verwys na die dominante kenmerk, idee of indruk wat ʼn impak op die gedagtes van die verbruiker kan maak, byvoorbeeld dat die eerste gedeelte van die merke allerg- kognitiewe prominensie het, en dat sommige verbruikers tog kan aflei waarop die produk dui. Sy het (c) verreken hoe die gewone verbruiker die merk in die mark kan aantref deur haarself na die mark te verplaas en te dink hoe ʼn moontlike situasie in ʼn apteek kan afspeel. Sy het (d) merke naas mekaar beskou, maar ook afsonderlik, deur ʼn merk in die geskrewe vorm aan respondente te wys en te vra om betekenis daaraan te heg. Sy het ook (e) na vier moontlike uitsprake van elke merk gekyk, met inagneming van die uitspraak van verskillende taalgroepe, en nie hoe die merke uitgespreek “behoort” te word nie.