• No results found

HOOFSTUK 6: DATA-ONTLEDING EN BEVINDINGE

6.2 Linguistiese ontledings in plaaslike handelsmerkdispute

6.2.2 Evolve/Evolym

Die volgende linguistiese ontleding is ontvang van prof. Ernst Kotzé, wat die ontleding in 2013 in opdrag van Ian Levitt Attorneys gedoen het. Anders as in Hubbard se geval, waar die verslag in die vorm van ʼn beëdigde verklaring was, is hierdie verslag in die vorm van ʼn brief aan Ian Levitt gerig. Kotzé het aan die einde van die brief sy akademiese posisie en institusionele verbintenis genoem.

Ian Levitt begin hul opdragbrief deur te sê wie hul kliënt is en ʼn kort beskrywing te gee van wat die kruks van die saak is. Hulle kliënt, Browns the Diamond Store (Pty) Ltd (in my bespreking voortaan “Browns”), is deur Yair Shimansky en My Light Holdings (Pty) Ltd (in my bespreking voortaan “Shimansky”) gedagvaar vir handelsmerkskending vir die gebruik van die merk Evolve wat volgens Shimansky soortgelyk aan hul eie merk Evolym is. Shimansky het beweer dat Evolve in só ʼn mate visueel en foneties soortgelyk aan Evolym is dat dit verwarring sal veroorsaak.

Ian Levitt het in hulle opdragbrief aan Kotzé die algemene riglyne vir die vergelyking van handelsmerke genoem soos dit in die Plascon-saak gegee is; sodoende ook ʼn beskrywing van wat “deceptive or confusing similarity” beteken, verwysende na die oorkoepelende beoordeling van die visuele, ouditiewe of konseptuele soortgelykheid van die merke. Hulle het ses riglyne uitgestippel wat ooreenkom met die vyf riglyne wat ek in 4.3 geïdentifiseer het. Die sesde riglyn was die definisie van die gewone verbruiker wat ek ook in 4.3 genoem het.

In die opdragbrief het Ian Levitt hul opinie omtrent die saak aan Kotzé gegee, naamlik dat die twee merke, Evolve en Evolym, nie soortgelyk op visuele, klank- of konseptuele vlak is nie en het self redes daarvoor aangevoer. Kotzé se opdrag was om sy opinie te gee of die merke volgens voorkoms, klank en betekenis soortgelyk is en of daar ʼn waarskynlikheid is dat die merke verwarrend soortgelyk is. Hierdie benadering stem ooreen met Wolvaardt (bylae D) se verduideliking dat wanneer ʼn linguis geraadpleeg word, die prokureur aan die linguis verduidelik watter saak uitgemaak moet word, op watter wyse die merke ontleed moet word en hoe die getuienis aangebied moet word.

In die opdrag aan Kotzé is ʼn kort ontleding gegee van die linguistiese beskouing op visuele vlak wat deur Shimansky ingedien is. Kotzé se ontleding is hoofsaaklik in antwoord op hierdie siening gedoen. Ek gee die ontleding hieronder in die volgorde wat Kotzé dit gedoen het, naamlik deur eerste te verwys na die bewerings wat Shimansky gemaak het, gevolg deur Kotzé se antwoord daarop. Ek gee ook Ian Levitt se eie opinie oor waarom die merke nie verwarrend eenders is nie. Op hierdie manier kan ek toon hoe ʼn linguistiese ontleding hulp verleen om regslui se taalkundige argumentasie te bevestig (soos in 2.4 genoem). Kotzé het nie spesifieke opskrifte in sy verslag gebruik nie. Ten einde die werktuie duidelik na vore te bring is die onderstaande bespreking onder gepaste opskrifte georganiseer.

6.2.2.1 Ortografie

Shimansky wys daarop dat albei merke uit ses letters bestaan. Die eerste vier letters is identies, en aangesien die eerste gedeelte van woorde kognitiewe prominensie geniet, aldus Shimansky, kan waarskynlikheid van verwarring alleen op grond hiervan tussen die twee woorde voorkom. Die vyfde letter van Evolve is die letter V, wat visueel soortgelyk is aan die sesde letter, Y, in Evolym. Die laaste letter van Evolve is weer ʼn E, wat soos ʼn M lyk as dit op sy sy gedraai word – M is ook die laaste letter van Evolym.

Ian Levitt gee toe dat daar wel op visuele vlak ʼn skraal ooreenkoms tussen die twee woorde is. Hulle sê egter dat die dominante kenmerk van albei hierdie woorde nie soseer die Evol- gedeelte nie, maar die eerste letter E en die laaste twee letters, ym en ve. Hulle beweer dat deur net die woorde op visuele vlak te lees, dit totaal verskillend is.

Kotzé gee ook toe dat die twee merke met die eerste oogopslag soortgelyk in vorm is, maar maak ʼn belangrike punt dat soortgelykheid nie noodwendig tot verwarring lei nie. Hy noem

verder dat die merke weliswaar uit dieselfde aantal letters bestaan, maar dat ʼn identiese aantal letters op sigself nie ʼn kriterium vir soortgelykheid in vorm en uitspraak is nie. Hy gee die volgende lys van sesletterwoorde om sy punt te illustreer:

evince evilly evirate events Europe eunuch etymon

Dit is duidelik uit bogenoemde lys dat, al bestaan woorde uit dieselfde hoeveelheid letters, dit nie beteken dat hulle visueel dieselfde lengte het nie.

6.2.2.2 Fonetiek

Volgens Shimansky is die twee merke foneties ook verwarrend soortgelyk, veral weens die feit dat die eerste gedeelte van woorde dominant is en die moontlikheid bestaan dat die laaste gedeeltes van woorde onderbeklemtoon kan word. Shimansky voer aan dat in ʼn radio- advertensie of in ʼn gesprek tussen twee verbruikers die merke identies of amper identies kan klink.

Ian Levitt sê egter dat die uitspraak van die twee woorde op ʼn ouditiewe vlak totaal verskillend is. Hulle noem dat die klem op die eerste letters van die twee woorde verskillend is. Die laaste twee letters van Evolym, naamlik ym, bring ook ʼn totaal verskillende klem op daardie woord teweeg in vergelyking met Evolve.

In antwoord op Shimansky se bewering, sê Kotzé dat dit ʼn oorveralgemening is om te veronderstel dat die eerste gedeelte van ʼn woord dominant is. Hy verduidelik dat dominansie ten opsigte van woorde bepaal word deur die fonetiese en semantiese strukture van ʼn woord. Hy gee die volgende voorbeelde, naamlik inESCAPable, beLOVEd en beMOAN, waar die middelste of laaste gedeelte van die woord die mees opmerklike of dominante element ten opsigte van die spelling, uitspraak en betekenis vanuit die leser se oogpunt het.

Wat uitspraak betref, is Kotzé van mening dat die twee woorde juis baie verskillend op fonetiese vlak is. Hy wys eerstens daarop dat die klem in Evolve op die tweede sillabe val volgens woordeboeke soos Oxford English Dictionary en Merriam-Webster, wat die standaarduitspraak van woorde gee. In Evolym val die klem egter op die eerste sillabe. In die tweede plek lig Kotzé ook uit dat die fonologiese struktuur van die twee woorde beduidend verskil. Evolve is foneties tweelettergrepig, aangesien die e aan die einde nie uitgespreek word nie. Evolym is weer drielettergrepig, aangesien die laaste sillabe geslote is (en dus op ʼn konsonant eindig) en uitgespreek word. Kotzé het homself baie sterk hier uitgedruk en beweer dat die argument wat Shimansky ten opsigte van fonetiek gemaak het, nie steek hou wanneer ʼn wetenskaplike linguistiese ontleding daarvan gedoen word nie.

Soos Hubbard het hy die IFA se standaard fonetiese tekens gebruik, maar ook uitspraak weergegee deur middel van analogiese voorbeelde, soos [ɪˈvɒlv] (of ee-VOLV). Dit kan dalk die sinvolste manier wees: om aan die een kant die erkende IFA-transkripsies te gee wat aanvaarde praktyk in die taalkunde is, maar om ook in ag te neem dat die teikengehoor, naamlik regsgeleerdes, nie almal vertroud is met die IFA nie.

6.2.2.3 Semantiek

Ian Levitt het reeds in hul opdrag aan Kotzé daarop gewys dat Evolym “my love” omgekeerd is. Dit is iets wat Shimansky self te kenne gegee het (Muller, 2014). Ian Levitt gaan verder deur te sê dat die twee woorde nie konseptueel soortgelyk kan wees nie omdat Evolym geen betekenis het nie, buiten “my love” omgekeerd, waarteenoor “evolve” ʼn spesifieke betekenis het (nl. ‘om te verander’).

Kotzé se siening is dat enige leser wat Engels redelik onder die knie het, die woord “evolve” sal herken as ʼn algemene werkwoord en dit onmiddellik in die Wernicke-area van die brein met die fonetiese vorm [ɪˈvɒlv] (of ee-VOLV) sal vereenselwig. Die ortografiese vorm Evolym [ˈɛvəʊlɪm] (of EH-vo-lim) lyk nie soos enige Engelse woord nie, maar is eerder naby aan die eienaam Evelyn [ˈɛvələn] (of EH-vi-lin). Kotzé wys ook op die feit dat die gewone verbruiker wat die werkwoord “evolve” herken, ook behoort op te merk dat die woord in ʼn ongewone funksie gebruik word, naamlik as eienaam. Aan die ander kant sal die gewone verbruiker waarskynlik die woord “evolym” as vreemde woorde uit ʼn ander taal of kunsmatige woord sal beskou. Wat betekenis betref was Kotzé dus van mening dat die woord

Evolym ongetwyfeld van die woord Evolve onderskei kan word, én dat die waarskynlikheid van enige verwarring op semantiese en neuro-linguistiese gronde uiters skraal is.

Kotzé se oorkoepelende gevolgtrekking was dat ʼn linguistiese vergelyking van die twee merke op fonetiese, ortografiese en semantiese gronde getoon het dat die waarskynlikheid van verwarring uiters skraal is.

Soos Hubbard het Kotzé sy ontleding ook getrou aan die Plascon-riglyne gedoen: (a) die merke is vergelyk volgens betekenis, voorkoms en klank, en (b) dominante kenmerke is uitgelig, byvoorbeeld die feit dat die merk, Evolym, as vreemde of kunsmatige woord geëien behoort te word. Daar is telkemale (c) na die gewone verbruiker verwys; dus het Kotzé dit deurentyd in gedagte gehou. Die merke is (d) met mekaar vergelyk om sowel verskille as ooreenkomste aan te toon, maar ook hoe die gewone verbruiker die merk sal eien wanneer hy dit in isolasie sien, byvoorbeeld as hy die denkbeeldige merk Evolym teëkom. Kotzé het wel verwys na die standaard- uitspraak van “evolve”, maar dit was om te toon dat daar geen verwarring in die uitspraak van hierdie merk is nie en om sy punt te staaf dat die twee merke op fonetiese vlak verskil. Hy het dus nie ʼn ontleding gedoen om ʼn perfekte uitspraak te toon nie, maar (e) om in ag te neem hoe die gewone verbruiker die merke sal uitspreek.

In bogenoemde bespreking wou ek ook wys hoe ʼn linguistiese benadering die argument van die betrokke regsgeleerdes bevestig. Vir Ian Levitt se argument dat die twee merke op ortografiese vlak verskillend is, kon Kotzé belangrike ondersteuning, met voorbeelde, gee, naamlik dat soortgelykheid nie noodwendig tot verwarring lei nie en dat dieselfde aantal letters ook nie ʼn kriterium vir soortgelykheid in vorm en uitspraak is nie. Sodoende het hy ook op semantiese vlak ʼn ondersteunende argument gegee, naamlik dat die dominante deel van ʼn woord nie altyd aan die begin of einde voorkom nie. Die argument van die kognitiewe prominensie van die eerste gedeelte van ʼn woord hou dus nie altyd steek nie. Kotzé kon ook die beduidende verskille ten opsigte van die fonologiese struktuur verklaar. Ten opsigte van die semantiese vlak kon Kotzé verklaar waarom die verbruiker die twee woorde konseptueel sal kan onderskei, om sodoende Ian Levitt se bewering dat die twee merke nie konseptueel soortgelyk kan wees nie, te bevestig.

Ter afsluiting kan gesê word dat – anders as in die meeste ander gevalle waar ʼn linguis ʼn ontleding doen vir ʼn regsfirma en nie oor die uitslag van die hofsaak ingelig word nie – daar

ʼn paar verwysings in die media gevind is na die appèlsaak wat op bogenoemde saak (waarin Kotzé sy ontleding gedoen het) gevolg het. In Muller (2014) blyk dit dat hierdie saak eers ʼn draai in die Kaapse hooggeregshof gemaak het, waar Shimansky die saak verloor het, voordat hy appèl aangeteken het en die saak voor die hoogste hof van appèl gekom het. Laasgenoemde hof bevind dat die twee merke nie verwarrend soortgelyk is nie (Moore Attorneys, 2016 en Muller, 2014). Daar is wel aanvaar dat die merke op visuele vlak soortgelyk is, maar nie dat dit op fonetiese óf semantiese vlak verwarrend eenders is nie (Muller, 2014).

Sanderson (2016: persoonlike korrespondensie) het byvoorbeeld genoem dat sy nie ingelig is oor hoe die sake verloop het waarvoor sy haar ontledings gedoen het nie. Shuy (2002:149) noem ook dat hy in talle gevalle nooit weet wat die uitslag is van die sake waaraan hy deel gehad het nie. Hierdie stand van sake strem ongelukkig die ontwikkeling van die ondersoekgebied aangesien linguiste nie weet of hul verslae van nut was en waar om te verbeter nie.