• No results found

HOOFSTUK 3 – LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKE

3.2 Ontstaan en ontwikkeling van handelsmerke

Sommige bronne beweer dat die oorsprong van handelsmerke teruggevoer kan word na antieke tye toe ruilhandel begin plaasvind het (Hu, 2014:3). Ander skrywers sien reeds die voorloper van handelsmerke in rotstekeninge van diere met brandmerke op wat uit die Steen- en Bronstydperk in die suidweste van Europa dateer (Diamond, 1983:224). Terloops, die Engelse woord “brand” soos dit vandag in die reklamewêreld gebruik word is uit die Anglo- Saksiese werkwoord “to burn” afgelei (Diamond, 1983:223). Argeoloë meld ook dat pottebakkers reeds 3 500 jaar gelede tekens op hul kleipotte aangebring het om die bron daarvan te identifiseer (Shuy, 2002:28). Met die uitbreiding van handel na verafgeleë plekke

het die gebruik ontstaan om produkte te merk sodat kopers nuwe bestellings kon plaas van produkte waarvan die gehalte na wense was (Diamond, 1983:227). Fisiese merke of tekens het dus die manier geword om die maker van ʼn produk aan te dui en die gehalte van die produk te waarborg (Hu, 2014:3).

Die gebruik van handelsmerke om die bron van produkte te identifiseer het veral toegeneem gedurende die industriële revolusie toe produksiekapasiteit vermenigvuldig het. Meer produkte is vervaardig en dit het die behoefte laat ontstaan vir reklame om die publiek van die beskikbaarheid van die produkte bewus te maak (Diamond, 1983:237-238). Daar is derhalwe ʼn noue verband tussen die opkoms van reklame en die ontwikkeling van die handelsmerk (Drescher, 1992:322).

ʼn Handelsmerk is vandag steeds ʼn kenteken wat ten doel het om goedere of dienste van ander soortgelyke goedere of dienste van mededingers te onderskei – dit identifiseer die goedere of dienste van die eienaar van die merk en verleen aan hom die reg tot die eksklusiewe gebruik daarvan (Blignaut, 2015a; prokureur.co.za, 2018). Die “reg tot die eksklusiewe gebruik” van ʼn handelsmerk kom in werklikheid neer op die aanvaarding dat die betrokke woord of frase in ʼn sekere mate besit word. (Meer oor die nosie van woorde as besitting in 3.4.2.) Die idee dat woorde besit kan word, het eers in die 18de eeu posgevat, danksy die geleidelike formulering van kopie- en outeursregbegrippe, tesame met die verandering in die funksie van aanhalingstekens. Waar aanhalingstekens eers net belangrike openbare taal beklemtoon het, is dit nou gebruik om woorde af te baken wat nie oop is vir openbare gebruik nie, maar wat in privaat besit is (Finnegan, 2011:98; Hutton, 2010:639). Ook reeds vroeg in die 18de eeu, in 1709, is die Statute of Anne in Brittanje aangeneem waarvolgens outeurs se ekonomiese regte erken is; die eerste van sy soort ter wêreld (Hutton, 2010:639).

Die kwessie van eienaarskap van woorde en ander “nietasbare goedere” het in die 19de eeu van toenemende belang geword (Hutton, 2010:639). Mense het begin om handelsmerke as ʼn soort eiendom op sigself te beskou en die reg om regstappe teen die skending van ʼn handelsmerk te doen, het in die middel van die 19de eeu ontwikkel. Die handelaar moes egter kon bewys dat die merk wel sy goedere aandui, en dat hy vroeër op eienaarskap van die merk aanspraak gemaak het (Hu, 2014:3).

In 1838 was ʼn hof die eerste keer gewillig om goederereg ten opsigte van ʼn handelsmerk te vind in die saak Millington v Fox (Hutton, 2010:639). In hierdie saak, wat voor ʼn Britse Kanselaryhof gedien het, het die verweerder ʼn merk, naamlik Crowley, gebruik met die veronderstelling dat dit generies was. Die hof het egter ʼn lewenslange interdik toegestaan ten gunste van die eiser (Bently, 2017:114). In 1865 het ʼn Kaliforniese Hooggeregshof in Derringer v Plate beslis dat ʼn handelsmerk wel eiendom is, dat die eienaar se reg met betrekking tot die handelsmerk soortgelyk is aan sy reg met betrekking tot die goedere waarmee die merk verband hou, en dat hy dieselfde beskerming onder die wet vir beide die merk en produk geniet (Dornis, 2017:92; Hutton, 2010:639). Die merk hier ter sprake was Derringer, Philadel vir pistole. Die verweerder het dieselfde merk vir soortgelyke pistole wat hy in San Francisco vervaardig het, gebruik (Dornis, 2017:92). Moderne intellektuele- goederereg het gestalte begin kry met die Bern Konvensie van 1886 waartydens ʼn internasionale stelsel van outeursregwetgewing tot stand gebring is (Hutton, 2010:639).

Hier te lande het openbare ontevredenheid rakende die vervalsing van kommoditeite die finale stukrag vir die registrasie van handelsmerke gegee. ʼn Stelsel is bepleit met behulp waarvan die publiek, maar veral ander handelaars, kon vasstel watter handelsmerke reeds in gebruik is en wie die eienaar is. Hierdie stelsel moes handelaars ook in staat stel om eienaarskap van hul merke te bewys sonder om die klandisiewaarde van die merk in elke saak van vermeende skending te bewys. In antwoord is wetgewing ingestel om ʼn handelsmerkregister te skep, naamlik die Wet op Handelsmerkregistrasie van 1875 (Martin, 2009:251).

Hierdie wet word beskou as die oorsprong van die handelsmerkwetgewing van voormalige kolonies wat later die Unie van Suid-Afrika gevorm het. Die Kaapkolonie het ʼn handelsmerkstatuut in 1877 aangeneem, die kolonie Natal in 1885, die Oranje-Vrystaat in 1893 en Transvaal in 1892. Hierdie statute is deur die Wet op Patente, Modelle, Handelsmerke en Outeursreg, Wet 9 van 1916, herroep, waarvan hoofstuk 3 aan handelsmerke gewy is en basies identies aan die Britse Handelsmerkwet van 1905 was. Die 1916-wet word beskou as die grondslag van moderne Suid-Afrikaanse handelsmerkwetgewing. Hoofstuk 3 van hierdie wet is deur die Handelsmerkwet 62 van 1963 herroep wat weer ʼn noue verbintenis met die 1938 Britse Handelsmerkwet getoon het (Dean, 1998:90-91).

ʼn Nuwe handelsmerkwet, die Suid-Afrikaanse Wet op Handelsmerke, Wet 194 van 1993, tree op 1 Mei 1995 in werking en herroep die 1963-wet grotendeels. Artikel 34(1) van die 1993-wet bied breër beskerming teen skending as die 1963-wet (Online Lottery Services (Pty) Ltd v National Lotteries Board and others, 2007:627). (Hierdie artikel is mees belangrik vir die doel van hierdie studie en word in 4.2 weergegee.) Die nuwe handelsmerkwet het ingrypende veranderinge aan handelsmerkwetgewing in die land aangebring en die omvang en uitgebreidheid van beskerming aan handelsmerkeienaars beduidend verbreed (Deacon & Govender, 2007:20).

Volgens Dean (1998:90) kom die Handelsmerkwet in ʼn groot mate met die Britse Handelsmerkwet van 1994 ooreen. Die bedoeling met die ontwerp van ons 1993-wet was om Suid-Afrikaanse handelsmerkwetgewing in ooreenstemming te bring met wêreldwye ontwikkeling op die gebied, veral met die Europese Gemeenskap, oftewel die Europese Unie, soos dit vandag bekend staan (Dean, 1998:91). Ons handelsmerkwetgewing reflekteer dus Suid-Afrika se lidmaatskap van die internasionale gemeenskap, asook ons erkenning van internasionale wetgewing (Deacon & Govender, 2007:20).

Teen die agtergrond van bogenoemde omskryf ek in die volgende afdeling die term “handelsmerk” vanuit ʼn regsoogpunt. ʼn Beskrywing vanuit ʼn linguistiese oogpunt volg in 3.4.