• No results found

HOOFSTUK 4: LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKDISPUTE

4.4 Linguistiese ontleding in drie handelsmerkdispute in die buiteland

5.3.1 Data-insameling

5.3.2.2 Data-ontleding

Die volgende stap in die navorsingsproses het die empiriese gedeelte van die studie behels, naamlik om die primêre bronne, die linguistiese verslae van plaaslike linguiste en hofuitsprake van plaaslike handelsmerkdispute ontleed ten einde verdere lig te werp op die eerste navorsingsvraag, en dan uiteindelik op die tweede vraag wat uit die eerste

voortspruit. Hieronder volg ʼn bespreking van hoe ek te werk gegaan het om die twee datastelle te ontleed.

(a) Linguistiese verslae

Die doel van ʼn ontleding van hierdie datastel was om vas te stel hoe plaaslike linguiste te werk gaan by linguistiese ontledings in ʼn handelsmerkdispuut en of dit ooreenkom met, of verskil van, die werkswyse wat in buitelandse literatuur beskryf word. Die verslae is almal redelik kort (sien 5.3.1.2(a)) en reeds met die eerste deurlees was dit duidelik dat die plaaslike linguiste oor die algemeen dieselfde benadering volg as dié wat in die buitelandse literatuur beskryf is, naamlik om fonetiese, ortografiese, morfologiese, sintaktiese en semantiese aspekte van die mededingende merke in oorweging te bring. By nadere ondersoek het die grootste verskil geblyk te wees die feit dat die Suid-Afrikaanse ontledings altyd ʼn ortografiese, fonetiese en semantiese vergelyking verg, terwyl dit in buitelandse ontledings nie noodwendig die geval is nie. Die ooreenkomste tussen plaaslike en buitelandse benaderings was sodanig dat ʼn suksesvolle sintese nie net moontlik gelyk het nie, maar dat die gevolgtrekkings uit die literatuuroorsig van die drie buitelandse sake inderdaad ook op die Suid-Afrikaanse situasie van toepassing gemaak kon word.

Hierna is die verslae in meer besonderhede ondersoek. Deurgaans was my vertrekpunt die linguistiese werktuie en die toepassing daarvan. Daar is met ander woorde gekyk na watter werktuie toegepas is en presies hoe elke linguis die werktuig toegepas het, byvoorbeeld of hulle die aantal lettergrepe van elke merk ontleed; of hulle verskillende uitsprake aandui; of hulle die betekenis van afsonderlike morfeme vasstel, ens. Verder het ek besluit om die inhoud van die verslae te vergelyk met die Plascon-riglyne, ten einde te bepaal of die verslae hieraan voldoen, en daarom nie op grond hiervan as ongeldig of waardeloos beskou kan word nie.

Nie net het ek die agt addisionele verslae van Sanderson in ʼn tabel opgesom (tabel 6.2 in 6.2.4) nie, maar dit ook georganiseer met die werktuie as vertrekpunt. Die doel was om die opsomming te beperk tot die spesifieke aspekte van die werktuie wat sy toegepas het, byvoorbeeld vergelykings tussen aantal lettergrepe, beskrywing van die aard van uitspraak, ens. Met behulp van dié opsomming, tesame met my ondersoek van die verslae, is sekere gevolgtrekkings gemaak en belangrike punte geïdentifiseer (6.2.5) rakende die metodologie van die Suid-Afrikaanse linguiste waarvan verslae in die datastel opgeneem is.

Dit was ook belangrik om te kyk of al drie die werktuie wat in die literatuurstudie as noodsaaklik vir handelsmerkvergelyking in plaaslike dispute geïdentifiseer is, in die plaaslike linguiste se verslae verreken word. Op hierdie punt het ek ook opgemerk dat Sanderson die werktuig van die morfologie – wat nie pertinent volgens die Plascon-riglyne vereis word nie – ook deurgaans inspan. Ek het dus ondersoek ingestel na waarom sy dit doen, en gevind dat sy dit telkens as bydraend tot die semantiese werktuig benut.

Ná die ontleding van die verslae het ek die bevindinge gesintetiseer met die bevindinge uit die literatuuroorsig van die drie buitelandse sake. My vertrekpunt was die werktuie wat in die Suid-Afrikaanse situasie vereis word, naamlik ortografie, fonetiek en semantiek. Ek het hierby die morfologie gevoeg, omdat dit in die ontleding van die Suid-Afrikaanse verslae beduidend ter aanvulling van die semantiek gevind is. My werkswyse hier was dus om ten opsigte van elke werktuig vas te stel hoe linguiste die werktuig by sowel buitelandse as plaaslike dispute, toegepas het. Ooreenkomste en verskille tussen die linguiste se toepassings is ook geïdentifiseer. In die sintese is al die toepassings van die werktuie aangedui, soos die linguiste dit gedoen het, nie net om so deeglik as moontlik te wees by die beskrywing van die metodologie van die linguiste nie, maar ook met die uiteindelike oog op die riglyne wat ek wou saamstel. Die sintese het ook verwysings ingesluit na die gebruik van woordeboeke, databasisse en meningsopnames, omdat dit in die literatuuroorsig as beduidende hulpbronne ter aanvulling van linguistiese ontledings geïdentifiseer is.

Op hierdie punt het ek die eerste navorsingsvraag, naamlik om die metodologie van die linguis in ʼn handelsmerkdispuut te beskryf, beantwoord. Dit was ook duidelik dat die linguistiese werktuie die kern van hierdie metodologie vorm.

(b) Hofuitsprake

Die doel van ʼn ontleding van hierdie datastel was om insig te kry in hoe die linguistiese werktuie in ʼn Suid-Afrikaanse handelsmerkdispuut benader word. Hierdeur wou ek seker maak dat die riglyne wat ek in antwoord op die tweede navorsingsvraag gaan saamstel, geskik sou wees vir toepassing in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute.

By die eerste deurlees van die 34 hofuitsprake in die datastel was dit duidelik dat nie al die sake op hierdie studie van toepassing sou wees nie. Alhoewel handelsmerkskending in al die sake ter sprake was, het die litigasie nie altyd ʼn vergelyking tussen die mededingende merke ten opsigte van linguistiese aspekte behels nie. In sommige sake was kopiereg of aanklamping die belangrikste kwessie. Van Deventer het ook genoem dat hy na woordeboekgebruik gekyk het in sy soektog na geskikte hofuitsprake. In sommige van die sake is woordeboeke dus geraadpleeg, maar om betekenisse van woorde wat op die litigasie van toepassing is, op te soek, en nie spesifiek die name van die handelsmerke ter sprake nie. Ek moes dus eers die datastel beperk tot slegs sake waarin linguistiese aspekte pertinent ter sprake gekom het ten opsigte van die mededingende merke. Uiteindelik is die datastel tot 22 hofuitsprake gereduseer. Vir ʼn volledige lys van die 34 sake, sien bylae A; vir die lys van 22 sake, sien bylae B. In bylae A word ook die redes gegee waarom die sake wat uitgelaat is, nie geskik was nie.

Die finale datastel het dus bestaan uit hofuitsprake waarin daar vergelykings ten opsigte van ortografiese, fonetiese, morfologiese en/of semantiese aspekte getref is om handelsmerkskending te bewys al dan nie. Aangesien die linguistiese werktuie volgens die sintese as die kernaspek van die linguiste se metodologie na vore gekom het, is besluit om die werktuie as vertrekpunt te gebruik by die ontleding van die hofuitsprake. Ek het die 22 sake dus deurgewerk en aantekeninge in tabelformaat gemaak onder die opskrifte van die vier werktuie (ortografie, fonetiek, morfologie en semantiek), asook opgeteken waar woordeboekgebruik, die gebruik van databasisse en meningsopnames voorgekom het. Dit was belangrik om hierdie taak eerste te doen ten einde te bepaal of daar genoeg materiaal beskikbaar is om insig te kry in die toepassing van die linguistiese werktuie in regspraak. Carney (2015:137) het ʼn soortgelyke aantal, naamlik 20 hofuitsprake, vir ontleding in sy studie geselekteer, maar dit wil nie sê dat die 22 sake genoeg materiaal in my geval sou oplewer nie. Ten spyte van die feit dat, soos Bezuidenhout (2015: persoonlike korrespondensie) dit stel, “die taalkundige aspekte eintlik deur die regsaspekte verswelg word”, het dit geblyk dat daar tog voldoende materiaal is om te volstaan by die aantal hofuitsprake.

ʼn Verdere stap was om te bepaal wat die kern van elke saak gevorm het, byvoorbeeld waarskynlikheid van verwarring, of intrinsieke onderskeidenheid van ʼn merk, en hoe die werktuie aangewend is om bepaalde argumente te ondersteun of te weerlê, ongeag wie die

argument aanvoer. Die hooffokus was deurgaans op die aanwending van die werktuie. Met ʼn opsomming van die werktuie in tabelformaat kon ek ook sien hoeveel werktuie in elke saak aangewend is.

Ek het aanvanklik gedink dat die gebruik van sagteware vir kwalitatiewe data-ontleding, soos Atlas.ti, met hierdie soort ontleding kan help, maar weens die feit dat die linguistiese aspekte wat in die hofuitsprake genoem word so ʼn klein gedeelte van die totale uitspraak uitmaak, was dit bloot vinniger om dit met die hand te identifiseer en te tabuleer. Omdat daar ook so min “temas” was om te kodifiseer (nl. die vier werktuie, woordeboekgebruik en databasisse/opnames) en die temas nie eers in elke hofuitspraak voorgekom het nie, was dit ook meer sinvol en makliker om die temas in tabelvorm aan te stip en so aantekeninge te maak.

Om dus te kon bepaal hoe die werktuie in handelsmerkdispute in Suid-Afrika aangewend word, het ek, soos in die geval van die verslae, gaan kyk watter aspekte spesifiek gebruik is, byvoorbeeld die vergelyking van lettergrepe, bepaling van betekenis van afsonderlike morfeme, verskillende uitsprake, ens. Vir die doeleindes van verslagdoening oor hierdie onderwerp is hierdie aspekte uitgelig met voorbeelde uit die hofuitsprake. Weereens is woordeboekgebruik, en die raadpleeg van databasisse en opnames in ag geneem en afsonderlik bespreek.

Soos in 5.3.1.2(b) genoem, is drie sake in die datastel geïdentifiseer waar linguistiese getuienis deur ʼn linguis pertinent genoem is. Dit was dus belangrik dat ek hierdie sake ook goed bestudeer om vas te stel hoe hierdie getuienis in die hof hanteer word. Hieruit kon ek ook sekere gevolgtrekkings maak wat bydra tot die beantwoording van die eerste navorsingsvraag.

Ten opsigte van die raadpleeg van Suid-Afrikaanse linguiste in handelsmerkdispute was daar egter steeds leemtes in die literatuurstudie, spesifiek oor die rol van die linguis in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute en die ontleding van die drie sake waar daar linguiste gebruik is. Ek was daarom genoodsaak om regsgeleerdes self te raadpleeg. Hierin was prof. Alberts en mnr. Wolvaardt (soos hierbo genoem) behulpsaam. Ek het ʼn vraelys van sewe oopeindevrae aan Wolvaardt gestuur wat hy beantwoord het en wat ek veral ter aanvulling van die literatuuroorsig gebruik het. Die vraelys verskyn in bylae D.

Dit was op hierdie stadium reeds duidelik dat daar wel riglyne geïdentifiseer kon word wat die tweede navorsingsvraag sou beantwoord. Die laaste stap in die navorsingsproses was dus om die sintese van die literatuuroorsig van linguistiese ontleding in buitelandse handelsmerkdispute enersyds, en die linguistiese verslae van plaaslike linguiste en die bevindinge uit die ontleding van die hofuitsprake andersyds, bymekaar te bring om hierdie riglyne spesifiek te identifiseer en uiteen te sit.

Vir hierdie sintese het ek weer ʼn tabelformaat gebruik en al die aspekte van die aanwending van die werktuie wat na vore gekom het, geïnkorporeer, tesame met begeleidende vrae wat die toepassing van hierdie aspekte rig waar addisionele toeligting nodig geblyk het. Die begeleidende vrae kom ook alles uit óf die literatuur óf my bevindinge uit die data-ontleding. Die aanvanklike plan was nie om begeleidende vrae in te sluit nie, maar dit het uit die literatuurstudie en veral die linguistiese verslae duidelik geword dat toeligting die riglyne sou verryk. Elke riglyn is nie noodwendig vanselfsprekend nie en vir die doel om die stel riglyne in die toekoms verder uit te brei, het ek besluit dat die begeleidende vrae ook as vertrekpunt hiervoor sou dien.

In hierdie afdeling is die metodologie vir die studie bespreek, spesifiek hoe die data ingesamel is en hoe die data ontleed is, met ander woorde, die proses wat gevolg is. Hieronder verwys ek na die beperkinge van die navorsingsontwerp en -metodologie.

5.4 Beperkinge

Volgens Mouton (2001:166) is een van die beperkinge van ʼn inhoudsanalise die feit dat die outentisiteit van databronne en verteenwoordigendheid van tekste die eksterne geldigheid van die bevindinge kan beperk. Soos reeds genoem is die linguistiese verslae wat as primêre bronne gebruik is, outentiek, want dit is eerstehands by die drie linguiste bekom. Die hofuitsprake is ook outentiek omdat dit uitsprake is van handelsmerkdispute wat werklik plaasgevind het. Carney (2015:65) wat 20 sake vir ontleding in sy studie geselekteer het, het genoem dat sy datastel nie noodwendig as volledig of verteenwoordigend van die ware stand van woordeboekgebruik in Suid-Afrikaanse howe beskou moet word nie. Ek wil hierby aansluit deur te sê dat die 22 hofuitsprake wat op die ou end my datastel uitgemaak het, ook nie as ʼn volledige voorstelling van die toepassing van linguistiese werktuie in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute beskou moet word nie.

Myns insiens is die datastel wel verteenwoordigend ten opsigte van die hof se benadering tot die vergelyking van mededingende merke wat linguistiese aspekte betref – en let wel: die hof se benadering en nie noodwendig die toepassing van linguistiese aspekte in so ʼn vergelyking nie.

Eksterne geldigheid dui in kwalitatiewe navorsing op die oordraagbaarheid van die bevindinge. Een van die groot uitdagings van die studie was steeds die skaarste aan plaaslike sekondêre en primêre bronne. Dit was egter te wagte weens die feit dat die toepassing van die forensiese linguistiek in Suid-Afrika nog grotendeels ʼn onontginde gebied is. Dit is dan ook een van die redes waarom hierdie studie spesifiek onderneem is. Die nadeel is egter dat die bevindinge slegs gegrond is op die weinig beskikbare bronne. Alhoewel ek tien outentieke linguistiese ontledings gehad het om mee te werk, was hulle van slegs drie linguiste. Weens die feit dat linguistiese ontledings in handelsmerkdispute in Suid-Afrika ʼn vergelyking van die drie kernwerktuie behels, kan die veronderstelling gemaak word dat alle linguiste se verslae soortgelyk sal wees. Ander linguiste se toepassing van die werktuie kan egter verskil en hoe meer linguiste wat sulke verslae skryf, hul werk kan publiseer, hoe deegliker kan die metodologie omskryf word. Die riglyne wat uiteindelik saamgestel is, is dus gegrond op die bevindinge wat uit die data tot my beskikking gemaak kon word.

Wat die data-soektog van die hofuitsprake betref, het dit nie moontlik gelyk om ʼn gespesifiseerde soektog te loods na sake waarin linguiste geraadpleeg is nie. Omdat daar nie altyd in hofuitsprake genoem word wanneer ʼn linguis geraadpleeg is nie, is die soeke na hofuitsprake om te bepaal of linguiste in handelsmerkdispute geraadpleeg word, nie die beste manier nie. Ek het dit probeer oorkom deur regspraktisyns te raadpleeg. Soos vroeër genoem, is daar in Suid-Afrika tot op hede slegs een artikel geskryf deur ʼn linguis oor haar linguistiese ontledings in ʼn handelsmerkdispuut. Alhoewel ek kon vasstel dat linguiste wel in Suid-Afrikaanse handelsmerkdispute geraadpleeg word, reeds so vroeg soos 1991, is dit nie goed gedokumenteer nie, en was verskeie aanvanklike pogings om regslui in hierdie verband te raadpleeg, nie suksesvol nie. Ek het wel later in die studie inligting van Wolvaardt en Alberts bekom in dié verband.

Weens die verkennende aard van die studie het ek my laat lei deur gevolgtrekkings en bevindinge uit die literatuurstudie en is die empiriese gedeelte van die studie inderdaad ook

in ʼn sekere mate hierdeur gelei en uitgebrei. Ek was byvoorbeeld nie vóór die literatuurstudie bewus van die Plascon-riglyne nie en het dus aanvanklik nie beplan om die linguistiese verslae daarmee te vergelyk nie. ʼn Ander navorser kan moontlik ander gevolgtrekkings en bevindinge maak – of ander interpretasies van die literatuur gee – maar ek is oortuig dat enige navorser ook sal bevind dat die belangrikste voorwaardes vir ʼn betroubare linguistiese vergelyking van mededingende merke in ʼn Suid-Afrikaanse handelsmerkdispuut sal voldoen aan die Plascon-riglyne, tesame met die toepassing van die linguistiese werktuie van die ortografie, fonetiek en semantiek.

ʼn Uitdaging vir enige studie in hierdie ondersoekgebied in Suid-Afrika tans is die karige bestekopnames van die stand van die forensiese linguistiek hier ter lande; moontlik weens linguiste se versuim om hul bydraes vakkundig in veral regsvaktydskrifte op te teken. Soos reeds telkemale genoem, is die enigste beduidende navorsing wat hier gedoen is, in een artikel deur Sanderson gepubliseer. Selfs in buitelandse literatuur is daar ʼn tekort aan ʼn verskeidenheid diepgaande besprekings van linguiste self oor hul werkswyse in handelsmerkdispute. Om dié rede is Shuy (2002) se boek van soveel waarde in hierdie veld. Shuy se boek is egter nie foutloos en bo kritiek verhewe nie. Westerhaus (2003:295) voer aan dat Shuy in hierdie boek nie in sy benadering ag slaan op die feit dat handelsmerkwetgewing in hoofsaak dit voor oë het om die verbruiker te beskerm nie. Volgens haar het hy ook nie heeltemal daarin geslaag om sommige van die begripsgapings tussen regslui en linguiste te oorbrug nie. Wat sy wel noem, en waarom hierdie bron volgens die doeleindes van die studie ook as ʼn gesaghebbende basis beskou word, is die feit dat hy die eerste stap geneem het om dialoog tussen regslui en linguiste te bewerkstellig – ʼn stap wat Westerhaus (2003:296) as uiters nodig beskou en wat hopelik voortgesit word (soos genoem in 1.1).

5.5 Samevatting

In hierdie hoofstuk is ʼn uiteensetting gegee van die navorsingsontwerp en -metodologie wat in die studie gevolg is. Die keuse van ʼn navorsingsontwerp van ʼn kwalitatiewe inhoudsanalise is verduidelik, naamlik dat dit gebruik word om verkennende en beskrywende navorsingsvrae te beantwoord soos wat dit juis in hierdie studie die geval is. Verder is getoon dat die studie induktief van aard is en dat die vertrekpunt nie bepaalde hipoteses en die toetsing daarvan was nie, maar om bepaalde en betekenisvolle afleidings uit die data-ondersoek te maak.

Wat die navorsingsmetodologie betref is die proses van data-insameling van sowel die primêre as sekondêre bronne beskryf, asook die aard van die bronne. Daarna het die fokus verskuif na ʼn bespreking van hoe die bronne ontleed is. Die hoofstuk is afgesluit met ʼn bespreking van die beperkinge ten opsigte van die metodologie wat gevolg is.

In hoofstuk 6 volg ʼn uitgebreide uiteensetting van die data-ontleding en bevindinge wat antwoorde bied op die twee navorsingsvrae.