• No results found

HOOFSTUK 3 – LITERATUUROORSIG: HANDELSMERKE

3.5 Opsomming en gevolgtrekking

In hierdie hoofstuk het ek gepoog om ʼn breë oorsig van die begrip van ʼn handelsmerk vanuit ʼn regsperspektief te gee, aangesien dit noodsaaklik is vir ʼn betekenisvolle toepassing van die linguistiek in die veld van handelsmerkdispute. Die doel van die hoofstuk was ook om vir die linguis aan te dui dat daar in forensiese werk soms ʼn verstelling in benadering moet wees om ʼn beduidende bydrae op die gebied te kan lewer. Verder het die hoofstuk ten doel gehad om dit onder die aandag van regsgeleerdes te bring watter eiesoortige bydrae die linguistiek kan lewer ten opsigte van kwessies wat wel in die hof beslis word, maar duidelike raakpunte met die linguistiek het.

Om hierdie doelwitte te bereik, is eerstens ʼn oorsig van die ontstaan en ontwikkeling van handelsmerke gegee. Ek het aangedui dat handelsmerke ontstaan het as kenteken om goedere of dienste van mededingers te onderskei en dat dit vandag nog die vernaamste funksie van ʼn handelsmerk vanuit ʼn regsperspektief is. Daarna is vlugtig na die ontwikkeling van ons huidige Handelsmerkwet verwys. Dit is dan ook hierdie wet, saam met gemenereg, wat handelsmerke in Suid-Afrika reguleer. Die Handelsmerkwet se definisie van ʼn “handelsmerk” en verdere omskrywings van die begrip is gegee. Dit het ook ʼn verwysing na die idee van ʼn handelsmerk as intellektuele eiendom ingesluit (wat later weer vanuit ʼn

taalkundige invalshoek ter sprake gekom het). Hierna is in breë trekke ʼn oorsig gegee van aspekte wat met die registrasie van handelsmerke verband hou, soos watter merke registreerbaar is, die klassifikasiestelsel vir spesifieke produkte en dienste, asook die proses. Voorts is die rede waarom registrasie van ʼn merk belangrik is vir merkeienaars beklemtoon.

In die daaropvolgende onderafdeling het ek beklemtoon hoe noodsaaklik die onderskeidende vermoë van ʼn merk is en hoe dit verband hou met die Abercrombie-spektrum van handelsmerkonderskeidenheid. Hierdie vier kategorieë, naamlik generiese, beskrywende, veelseggende, en arbitrêre en denkbeeldige merke, is bespreek, en daarna is die begrip van “generisering” verduidelik.

Die fokus het verskuif na handelsmerke vanuit ʼn linguistiese perspektief. Uiteenlopende linguistiese sieninge is voorgehou ten einde te toon watter insig die linguistiek tot die oplos van handelsmerkdispute kan bring, en watter toepassingsmoontlikhede daar vir die linguistiek op hierdie gebied is. Ek het kortliks verwys na die toepassingsmoontlikhede van taalhandelingsteorie, en daarna meer breedvoerig verwys na handelsmerke as ʼn vorm van leksikale vernuwing, asook ʼn linguistiese beskouing van “generisering”. ʼn Belangrike insig wat hier na vore gekom het, was die feit dat generisering in die linguistiese leksikon nie noodwendig beteken dat die merk sy status verloor het nie.

Daarna het ek die idee van taal as besitting bespreek, asook die implikasies daarvan, naamlik dat die eienaar die mag of reg het om sekere voorskrifte voor te hou van hoe sy merk gebruik behoort te word. Hierdie voorskrifte is bespreek met enkele punte van kritiek vanuit ʼn linguistiese siening. Dit het duidelik geblyk dat hierdie voorskrifte nóg normale taalontwikkeling en -verandering, nóg die algemene verbruiker se taalvermoëns in ag neem.

Laastens het ek die begrip van gemarkeerdheid bespreek soos dit op handelsmerk- onderskeidenheid toegepas is, en genoem dat daar ʼn moontlike ooreenkoms is tussen die graad van onderskeidenheid van ʼn handelsmerk en die kognitiewe inspanning wat nodig is om ʼn merk te eien. Daar is beklemtoon dat hierdie toepassing (soos gemaak deur Hotta en Fujita) ʼn belangrike empiriese bydrae lewer tot die versterking van die metodologie van die forensiese linguistiek.

Ten slotte het dit my opgeval dat talle insiggewende taalkundige toepassings op aspekte van handelsmerkdoktrine deur regsgeleerdes gedoen is. Heymann, wie se kritiek teen die voorskrifte van handelsmerkgebruik in 3.4.2 genoem is, en Roberts en Wilf na wie daar in 3.4 se inleiding verwys is, is almal Amerikaanse regsgeleerdes wat hulle tot linguistiese teorieë gewend het om oplossings te soek vir probleme wat by die interpretasie en toepassing van handelsmerkdoktrine en -wetgewing ontstaan. Ek is bewus daarvan dat die spesifieke toepassing of interpretasie van alle handelsmerk-begrippe dalk nie op presies dieselfde wyse in die VSA en Suid-Afrika geskied nie, en dat veral Roberts of Wilf se spesifieke taalkundige insigte nie noodwendig dieselfde nut in ʼn Suid-Afrikaanse konteks gaan hê nie. Die feit bly staan dat regsgeleerdes verbande tussen die linguistiek en handelsmerkdispute lê waarvan die regswese Suid-Afrika waarskynlik nog nie bewus is nie.

Ek het aan die begin van die hoofstuk genoem dat daar nie een klinkklare omskrywing van die begrip “handelsmerk” is, soos dit die geval vanuit ʼn regsperspektief is nie. In laasgenoemde perspektief dien die Handelsmerkwet as standaard-vertrekpunt om ʼn eenvormige definisie van die begrip vir regsgeleerdes voor te hou. Een gevolg van die manier hoe die Handelsmerkwet geformuleer is en die doktrine wat dit tot gevolg het, is die feit dat ʼn handelsmerk as eiendom of ʼn besitting beskou word, wat – soos ek aangedui het – ʼn problematiese metafoor vir linguiste is. Dit wil voorkom of linguistiese omskrywings van die begrip “handelsmerke”, soos ek ook in afdeling 3.4 aangedui het, as’t ware ʼn respons is op die manier waarop handelsmerke in algemene taalgebruik voorkom en die gewone verbruiker handelsmerke in alledaagse taalgebruik inkorporeer. Linguiste is minder gemoeid met die nosie dat merkeienaars se gebruiksreg van hul merk beskerm moet word en dat die merk ʼn aanduider van die bron van ʼn produk of diens is; hulle fokus eerder op die impak van wetgewing op taalgebruik. Forensiese linguiste sal natuurlik met nog ʼn skerper invalshoek na die begrip kyk. Aan die een kant sal hulle die feit erken dat wetgewing en ʼn regsdefinisie van ʼn handelsmerk nie buite rekening gelaat kan word nie; gesien in die lig van die interdissiplinêre aard van die forensiese linguistiek. Ook sal hulle die potensiaal vir konflik raaksien by die koppelvlak waar die regs- en linguistiese beskouing bymekaar kom. Aan die ander kant kan forensiese linguiste nie anders as om die impak van hierdie wetgewing en gevolglike doktrine op alledaagse taalgebruik in ag te neem nie, asook hoe Jan Publiek se gebruik van ʼn merk ʼn invloed kan hê op die merk se status. Vir die doel van die studie word ʼn definisie van ʼn handelsmerk soos volg geformuleer: ʼn woorddeel, woord of uitdrukking wat uniek ten opsigte van ʼn produk of diens gebruik moet word om op wetlike

beskerming te kan aanspraak maak en waarvan die gebruik die potensiaal het om die uniekheid te versterk of te verswak.

Hoofstuk 4 is die derde literatuuroorsig, en fokus op handelsmerkdispute wat teen die agtergrond van hoofstuk 3 beskou moet word.