• No results found

’n Leser van die Evangelie sal sien dat die Geskrifte dikwels verwerping deur Jode en belydenis deur nie-Jode geprofeteer het. Matt. 13:14-15 verwys na Jes. 6:9-10, en Matt. 15:8- 9 na Jes. 29:13. So gesien funksioneer die vervullingsitate sowel as aanklag as waarskuwing teen die Jode: As volk van God het die Jode die profesieë goed geken en was hulle veronderstel om te weet dat dit in Jesus vervul word. Tog kom hulle nie tot belydenis nie. Hulle word gewaarsku aangesien die Messias goddeloses sou oordeel (vgl. onder andere Jes. 47). Die vervullingsitate het ook ’n derde funksie: In die Matteus-gemeenskap se stryd met die Joodse sinagoge wys die sitate die Jode as die veroordeeldes uit. Jesus is immers die Messias van Israel, maar die Jode kom nie tot belydenis nie.

Dit moet gesê word dat die oorspronklike profesieë spesifiek aan Israel in die onmiddellike konteks van Jesaja gerig was. Tog maak Jesus dit van toepassing op sy Joodse tydgenote: Die goddeloosheid van die huidige geslag is in kontinuïteit met die van die voorgeslag. Vir die Jode wat juis gedink het “‘as ons in die dae van ons voorvaders gelewe het, sou ons nie medepligtig gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie’” (Matt.23:30),

43

moes dit ’n skok gewees het. Vervolgens ’n bespreking van Matt. 13:14-15 en Matt. 15:8-9 waarvolgens die Jode Jesus sou verwerp.

3.2.1 Matteus 13:14-15

In Matt. 13:14-15 is dit duidelik dat die Jode Jesus sou verwerp. Tog volg Jesus die vervullingsitaat op met ’n woordspeling waaruit Hy leer dat die dissipels en die wat soos hulle is wel glo. Jesus kontrasteer dus die volk wie se verstand afgestomp is met hulle wie se oë en ore bevoorreg is dat hulle sien en hoor.

Wanneer Jesus die doel van sy gelykenisse verduidelik, sê Hy met betrekking tot die menigtes dat die profesie van Jesaja in hulle vervul word. Hoewel Matteus nie die presiese woorde van Jesaja gebruik nie, is dit duidelik dat Jes. 6:9-10 hier in vervulling gaan. Die menigtes het hulle afgesluit van die openbaring van Jesus. Daarom glo hulle nie en sal hulle nie gesond gemaak word nie. Jesus het reeds in die bergrede die oog as die lamp vir die liggaam beskryf (Matt. 6:22). Oë wat toegemaak is en ore wat toegedruk is is dus tekens van ’n gebrek aan geloof. As gevolg van hulle ongeloof sal hulle nie tot bekering kom nie en sal hulle ook nie gesond gemaak word nie (v. 15). Deur die vervullingsitaat openbaar die evangelie dat menigtes soos hulle voorvaders is (vgl. France, 1989:217). Die menigtes het nie die geheimenisse van die Koninkryk ontvang nie en die klein bietjie wat hulle wel ken, sal ook van hulle weggeneem word. Hulle kan nie sien of hoor of verstaan nie. Daarom kan hulle nie bekeer en gered word nie.

’n Vergelyking tussen Matt. 13:9 en Matt. 13:16-17 veronderstel ’n verband tussen die gelykenis van die saaier en die doel van gelykenisse. In sy verklaring van die gelykenis van die saaier sê Jesus die Bose kom by elkeen wat die woord van die Koninkryk hoor maar dit nie verstaan nie en vat dan weg wat in sy hart gesaai is (Matt. 13:19). Die volk verstaan nie met hulle verstand nie (Matt. 13:13-15), dus sal die Bose dit wat by hulle gesaai is wegneem (Matt. 13:12, 19). By hulle is die saad op die pad, klipbanke en tussen die onkruid gesaai (Matt. 13:4, 5, 7).

Teenoor die menigtes wat hulle ore toegedruk en oë toegemaak het, en wat hulle dus van God afgewend het, staan die dissipels en ander soos hulle. As die dissipels se oë sien en hulle ore hoor, word die geheimenisse van die Koninkryk deur God aan hulle geopenbaar. Omdat hulle oog goed is, het hulle hele liggaam lig (Matt. 6:22). Hulle kom tot geloof. Hulle sal meer geheimenisse ontvang. Baie profete en gelowiges wou graag sien en hoor wat die dissipels sien en hoor. Die profete het geprofeteer van die Messias en die gelowiges het na sy koms uitgesien. Die dissipels sien die vervulling daarvan en hoor die woord wat Hy

44

verkondig. Daar is reeds verwys na die verband tussen die doel van gelykenisse (Matt. 13:10- 17) en die gelykenis van die saaier (Matt. 13:1-9). Die dissipels het ore wat kan hoor (Matt: 13:16-17) en daarom is hulle in staat om te verstaan wat Jesus in die gelykenis van die saaier leer (Matt. 13:9). Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy sal ’n oes lewer, soms honderdvoudig, soms sestigvoudig en soms dertigvoudig (Matt. 13:23).

3.2.2 Matt. 15:8-9

Waar Matt. 13:15 gehandel het oor die geestelike blindheid en doofheid van die volk, handel Matt. 15:8-9 oor die Jode se mensgemaakte uitleg van die wet. Omdat hulle die gebod van God verruil ter wille van die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte, ontneem hulle die woord van God sy gesag.

Die vervullingsitaat verwys na Jes. 29:13 wat lui dat die volk God eer met wat hulle sê, maar dat hulle harte ver van Hom af is. Hulle dien Hom soos mense dit wil hê en nie soos wat Hy wil nie. Wanneer die gebod van God verruil word vir mensgemaakte reëls, word God met die mond geëer maar die hart is ver van Hom af (Powery, 2003:147). Alhoewel die evangelie nie die presiese woorde van Jesaja gebruik nie, is dit duidelik dat dit in die skrifgeleerdes en Fariseërs in vervulling gaan. As die profesie juis in die Joodse leiers realiteit word, elimineer Jesus hulle vooropgestelde idee dat hulle nie soos hulle voorvaders is nie (Matt. 23:29-31), en teken ’n voortgaande ongehoorsaamheid van Israel van ouds.

Matt. 15:8-9 kom ooreen met die vraag oor die grootste gebod (Matt. 22:34-40). In Matt. 15:8 eer die volk God met hulle mond, maar hulle hart is ver van Hom af. Daarom help dit niks as hulle die leerstellings van mense as gebooie van God probeer voorhou nie. In die vraag oor die grootste gebod (Matt. 22:34-40), is liefde tot God met onder andere ’n mens se hele hart die grootste en eerste gebod, en naasteliefde die tweede wat daarmee gelykstaan. Die hele wet en profete is daarin saamgevat. As “hierdie volk” se hart “ver van My af” is, is Israel in stryd met die grootste gebod in die wet en dus die tenak in die geheel. Anders as Markus 12:28-34 laat Matt. 22:34-40 die antwoord van die skrifgeleerde weg. Volgens Markus antwoord die skrifgeleerde verstandig en daarom ag Jesus hom naby die Koninkryk. Volgens Matteus wou die skrifgeleerde Jesus eerder “met ’n vraag probeer vastrek” (Matt. 22:34; vgl. Davies & Allison, 2004:236). Omdat hulle die gebod van God vir mensgemaakte reëls verruil, het hulle nie liefde tot God of hulle naaste nie. Hulle ongehoorsaamheid veroorsaak dat hulle nie die Koninkryk van die hemel sal ingaan nie (vgl. Matt. 5:20).

45

wille van hulle oorgelewerde gebruike, sê Hy dat hulle die woord van God sy gesag ontneem (Matt. 15:3-6). As die Joodse leiers die Woord sy gesag ontneem, word die aard van hulle leer gekontrasteer met die lering van Jesus: In reaksie op die bergrede is die skare verbaas oor Jesus se onderrig, “want Hy het hulle geleer soos ’n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie” (Matt. 7:28-29a). Die gesag van die Woord word behou in die lering van Jesus en nie in die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie. Wanneer Jesus die apostels uitstuur, moet hulle die nasies leer om alles te onderhou wat Jesus beveel het (Matt. 28:20). Vir Matteus lê die gesagvolle uitleg van die Woord by die kerk en nie by die sinagoge nie.