• No results found

Die voorrangsverklaring volgens die Kerkvaders

4.2 VERKLARINGSGESKIEDENIS VAN DIE WOORD ROTS WAAROP JESUS

4.2.1.1 Die voorrangsverklaring volgens die Kerkvaders

Wesselschmidt (2003:374) beskou apostoliese opvolging as ’n ontwikkeling wat gedurende die eerste sewe eeue plaasgevind het. Hy sê ook dat byna alle eksegeses wat Petrus as die rots huldig, die apostel se reis en apostoliese bediening in Rome as basis het, maar dat daar min konkrete bewyse is dat Petrus Rome ooit besoek het (2003:375). Cullmann (1962:165) skryf dat die vroeë verklarings die teks nie vír of téén Roomse voorrang gebruik nie. Luz (2005a:168) som die konsensusbeskouing van die sleutelmetafoor (Matt. 16:19) as

63

bewysteks van juridiese gesagsoordrag op as ’n latere herlesing van die Skrif wat gebaseer is op die ervaring van die Roomse kerkleiers. Sy eie navorsing oor verklarings van die teks in Middeleeuse kommentare lewer min verwysings op; hy noem dat Thomas Aquinas (Super Evangelium S. Matthaei Lectura) een van die min eksegete is wat daarvan melding maak (Luz, 2005a:168). Cullmann (1962:167) wys daarop dat die pousdom gedurende die Middeleeue wel Jesus se woorde aan Petrus as bewysteks vir die voorrangstradisie gebruik het, maar dan asof daar nie ander moontlikhede was nie.

Tog is dit steeds nodig om die kerkvaders wat daarvan melding maak te bestudeer. Wessel (2008:286-288) verduidelik hoe die idee van pouslike voorrang ontstaan het. Volgens haar het die idee van Pouslike voorrang sy oorsprong gehad as teenvoeter vir die leer van die Montaniste2 en die Gnostici3. Hierdie valse leer het twee vrae na vore gebring: Hoe moet die

Skrif verklaar word? En: Wie het die gesag om die Skrif te verklaar? Vir Tertullianus was daar nie ’n duidelik gedefinieerde Skrifverklaringsmetode nie en kon ketters dus ook daarop aanspraak maak dat hulle die Skrif reg verklaar. Om die leer van die Montaniste en Gnostici teen te staan en die gesag van Ortodokse verklaring te bevestig, het hy die apostoliese kerke met hulle setel in Rome as die ware Woordverklaarders beskou (De praescriptione haeraticorum,19, PL 2, 31 soos geïnterpreteer deur Wessel, 2008:286). Die eerste uitdrukking van die idee het egter reeds by Irenaeus onstaan. Die Gnostisisme het sy gemeenskap in Lyon binnegedring en die Adversus Haereses was ’n uitnemende weerlegging daarvan (soos geïnterpreteer deur Wessel, 2008:286). Hoewel Irenaeus nie die eerste was om die Ortodokse kerke as die enigste ware Skrifverklaarders te beskou nie, was hy die eerste om voor te stel dat die Ortodokse tradisie deur Petrus en Paulus aan die Roomse Kerk oorgedra is. Hy wou verseker dat die apostoliese tradisie suiwer voortgesit is en gevolglik het hy ’n teorie van apostoliese opvolging geformuleer.

2 Montanisme word met ekstatiese profesieë geassosieer. Die stigter was Montanus en hy het beweer

dat hy die mondstuk van God was. Eskatologies gesproke het hulle ook geglo dat die einde op hande is ná die bedeling waartydens hulle opgetree het. Priscilla, een van die stigters van die Montanisme, het beweer dat Christus aan haar geopenbaar het dat Jerusalem vanuit die hemel sou neerdaal by Pepuza en daarom is die dorp na Jerusalem hernoem. Hulle het ook gefokus op nuwe openbarings. Die Apostels het die Heilige Gees ontvang, maar hulle het die Parakleet ontvang – na aanleiding van Joh. 14-16. Volgens hulle het die Parakleet meer in Montanus geopenbaar as wat Christus in die evangelie geopenbaar het. Gevolglik kon hulle op bykomende openbarings aanspraak maak en beweer dat die nuwe openbarings die eerste oortref. Verder was God nie vir hulle ’n Drie-Eenheid nie, maar ’n enkele God in drie manifestasies. (Heine, 1992:898-902.)

3 Volgens die Gnostici het kennis verlossing gebring. Dit het loutering en onsterflikheid ingesluit en het

bestaan uit ’n raamwerk van filosofie, mitologie en astrologie. Na aanleiding van die Griekse filosofie dat God Homself van die die stoflike distansieer, het hulle geglo dat die siel ’n stukkie goddelikheid is wat in die menslike liggaam vasgevang is en dat ’n mens gered is as die siel van die liggaamlike besmetting verlos word. Gevolglik is die Tenak verwerp of geïgnoreer en die historiese feite van Jesus se bediening, dood en opstanding is minder belangrik geag. So is die realiteit van Christus se lyding verwerp en soms ook die inkarnasie. Die Skeppingsproses het as't ware per ongeluk gebeur en is as ’n fout beskou. Eties wou die Gnostici hulleself rein hou, maar in sommige gevalle het hulle ongekende bevredigingsbegeertes gehad. (Walls, 1965:473.)

64

Leo die Grote het die voorrangsleerstelling ontwikkel tot die vorm daarvan waarmee die Reformatore later gekonfronteer is (vgl. Wessel, 2008:288). Volgens hom was Petrus teenwoordig in die persoon van die Roomse biskop. Christene moes die Roomse biskop se leer as gelyk aan dié van God beskou en glo dat Petrus in hom teenwoordig is. Omdat Petrus in sowel die pous as sy regsisteem teenwoordig was, is die bevele van Rome as universeel vertolk. (Wessel, 2008:288.)

Daar moet egter onderskei word tussen die beginstadiums van die opvolgingstradisie en die vorm waarin Leo die Grote dit laat ontwikkel het. Tertullianus en Irenaeus wou slegs die leer van die Montaniste en Gnostici teenstaan en daarom het hulle die Ortodokses as die ware Woordverklaarders beskou. Elders het Tertullianus al die gelowiges as die sleuteldraers beskou en ontken dat Matt.16:19 ’n bewys is dat gesag aan die pous oorgedra word: Dit wil voorkom asof biskop Callistus die voorrangsleer vir homself toegeëien het en Tertullianus tree met hom in debat (De Pudicitia 21 soos vertaal deur Cullmann, 1962:166): “‘What does all that have to do with the Church, and particularly with you, psychic one. According to the person of Peter that authority belongs to spiritual men.’” ’n Nadere ondersoek na Irenaeus se werke laat blyk dat hy die apostoliese leer wat van Christus ontvang is as die rots beskou (Hall, 2002:227-230; kyk ook 4.2.2).

Die eerste verwysings na die opvolgingstradisie word eers in geskrifte vanuit die derde eeu na Christus aangetref. Luz (2005a:168) skryf dat Biskop Stefanus (Cyprianus, Epistula 75.17) eksplisiet van Pouslike voorrang melding maak in die middel van die derde eeu, en dat dit reeds in die eerste helfte van die derde eeu kon bestaan het aangesien Tertullianus (De Pudicitia 21) en Origenes (Matthaeum 12.11) onderskeidelik polemieke daaroor gevoer het. Cullmann (1962:165-166) gee hierdie twee kerkvaders se sienings weer: Terwyl Tertullianus wel Petrus as die rots in Matt.16:18 beskou het, het hy terselfdertyd enige toepassing van Matt.16:19 op latere biskoppe verwerp. Tertullianus skryf in sy polemiek met biskop Callistus dat ’n oorgang van die sleutels om oop en toe te sluit op latere biskoppe die oorspronklike bedoeling van Jesus sou verdraai, aangesien Jesus die sleutels aan Petrus persoonlik toevertrou het (De Pudicitia 21). Origenes onderskei tussen die letterlike en die geestelike, en dan verwys die letterlike na Petrus as rots en die geestelike na almal wat soos Petrus word (Matthaeum 12.11). Anders gestel: Elkeen wat deur Goddelike openbaring tot belydenis kom, word vir Origenes soos Petrus, gevolglik is elke dissipel van Christus die rots waarop die kerk gebou word (soos vertaal deur Preston, 2007:238). Die beloftes wat aan Petrus gemaak is, is dus vir Origenes aan elke gelowige gemaak (Matthaeum).

Cullmann (1962:166-167) wys ook op die verskil tussen Tertullianus en Cyprianus. Soos Tertullianus het Cyprianus ook nie Matt.16:17-19 as bewys van die voorrang van die

65

Roomse biskop oor ander beskou nie, maar vir hom word die totale biskopdom by Jesus se woorde aan Petrus ingesluit. As Jesus dan slegs Petrus as rots aanspreek, is dit aanduidend van kerklike eenheid (De catholicae ecclesiae unitate, 4-5). Tog was Cyprianus ’n voorstander van apostoliese opvolging: Die biskoppe was Christus se verteenwoordigers in die kerk en het daarom dieselfde gesag as Christus uitgeoefen (Wesselschmidt, 2003:377).

Biskop Ignatius is vir die doel van die studie belangrik. Hy was reeds op ’n vroeë stadium in Antiogië werksaam4 (vgl. Williams, 1960:18), en waarskynlik het die Matteus-evangelie ongeveer 80-90 n.C. in dieselfde stad sy ontstaan gehad (Streeter, 1924:495-528). Vir Ignatius is dit geloof en dieselfde kerkorde wat ’n kerk Katoliek (universeel) maak (Williams, 1960:21-22). In sy brief aan die Smirniote is dit die teenwoordigheid van Christus wat die kerk Katoliek maak (Epistula Smirnaea). Dit is in ooreenstemming met Matt. 18:20. Van die gemeente het Ignatius wel verwag om die biskop te respekteer en die biskop moes oor alle gebeure in die gemeente toesig hou, maar hy het waarskynlik nie die voorrang van die Roomse Pous erken nie.