• No results found

Die voorrangsverklaring in kontemporêre eksegese

4.2 VERKLARINGSGESKIEDENIS VAN DIE WOORD ROTS WAAROP JESUS

4.2.1.3 Die voorrangsverklaring in kontemporêre eksegese

Sowel die Rooms Katolieke as die Grieks-Ortodokse tradisies beskou Petrus as die rots. Tog skryf Stylianopoulos (2004:2) dat die grootste gewig van Ortodokse eksegeses fokus op die getuienis van tradisie en nie die van die Skrif nie. Selfs moontlike bewystekste vir Pouslike voorrang word gewoonlik benader vanuit die verklarings van die kerkvaders: “The fact is that the question of the relationship between critical biblical scholarship and the patristic exegetical heritage is still unsettled in contemporary Orthodox theology.” (Stylianopoulos, 2004:2-3.) Vir Popescu (1999:107, 110-113) is die oorwegende Ortodokse standpunt in ooreenstemming met die van die meerderheid kerkvaders wat die belydenis van Petrus as die rots beskou het. Die geloof is die geloof van al die apostels en Christus is die hoogste rots. Maar tog word voorrang steeds oorgedra op die aartsbiskop van Rome. In teenstelling met Popescu skryf Stylianopoulos (2004:12) dat Ortodokse eksegete al meer begin om Petrus as die rots te beskou: “From the standpoint of critical scholarship, it can no longer be disputed that Jesus’ words to Peter as reported in Matt. 16:17-19 confer a special distinction on Peter as ‘rock’, the foundation on which Christ promised to build his church.” Hoewel Jesus sy vraag aan al die dissipels gestel het (Matt. 16:13), is Stylianopoulos van mening dat Jesus die woorde “su ei Petros” direk aan Petrus rig.

In ooreenstemming met die Rooms-Katolieke tradisie beskou Davies en Allison (1991:627) Petrus as die rots: “The most natural interpretation is that of Roman Catholic tradition: the rock is Peter.” France (2007:621) skryf dat die sin Petrus grammatikaal as die rots wil identifiseer. Die meeste Rooms-Katolieke eksegete vind die kombinasie van die manlike naam Petros met die vroulike selfstandige naamwoord petra problematies. Hoekom sou Matteus so ’n grammatikaal vreemde kombinasie tussen die manlike Petros en vroulike petra gebruik? Davies en Allison (1991:627) verklaar die verskynsel deur te sê dat die Aramese woord kepha, wat waarskynlik verband hou met beide Petros en petra, met verskillende nuanses gebruik is. In vertaling sou die manlike Petros ’n persoon veronderstel en die vroulike petra ’n eienskap van die persoon waarop gesinspeel word. France (2007:621) sluit

67

by Davies en Allison aan. Petros, soos dit verband hou met die Aramese Kepha, is nie in die antieke wêreld as persoonsnaam bekend nie en daarom het Jesus dit op Simon van toepassing gemaak met die letterlike betekenis in die oog: Hy is veronderstel om ’n ‘rots’ te wees. Die verband tussen Petros en petra word in 4.3.1 meer volledig bespreek. Voorlopig kan die teenargument gegee word dat Petros en petra moontlik nie dieselfde betekenisse het nie. Dan verwys Petros na ’n kleiner steen en petra na die rotsfondament. Die meeste eksegete is dit eens dat die dissipel se naam, as Petrus, betrekking het op sy karakter (Harrington, 1991:251). Die naam Petrus is dan ’n bynaam wat sy rol as fondamentrots voorafgegaan het.

Eksegete wat Petrus as die rots beskou, trek gewoonlik ’n verband tussen Petrus se woorde aan Jesus – “‘U is die Christus, die Seun van die lewende God’” (v. 16), en Jesus se woorde aan Petrus – “‘Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou.’” (v. 18.) Soos wat Petrus in vers 16 iets oor Jesus gesê het, so sê Jesus in vers 18 iets oor Petrus (vgl. Davies & Allison, 1991:627). Petrus het Jesus pas as Messias verklaar, en net so verklaar Jesus Simon as die rots (Davies & Allison, 1991:627; France, 2007:620). Die eksegete wat Christus of die belydenis van Petrus as die rots beskou, verwys ook na hierdie verband. Hulle standpunt word in 4.3.2 meer breedvoerig bespreek.

France (2007:620) skryf dat Messias ’n titel is wat ’n funksionele rol impliseer, en nou gee Jesus ook so ’n titel aan Petrus. Soos Davies en Allison (1991:624), beskou France dit in die lig van die Ou-Testamentiese hernaamgewing van Abraham, Sarai en Jakob. Die patriarge se nuwe name het ’n toekomstige rol aangedui, en so dui die dissipel se nuwe naam ook sy toekomstige rol aan. Vir France word hierdie rol in verse 18-19 uiteengesit. Davies en Allison sien ook nog twee ander ooreenkomste: In beide gevalle word die ontstaan van God se volk veronderstel, en in beide gevalle word daardie ontstaansproses met ’n bepaalde persoon geassosieer. Soos Davies en Allison, skryf ook Harrington (1991:251) dat die rotsmetafoor na Jesaja 51:1-2 teruggevoer kan word.

4.2.2 “Rots” as verwysende na Christus

Reeds kerkvaders soos Augustinus het Jesus as die Rots van Matt. 16:18 beskou (Sermons 76, 147, 149, 232, 270, 295, soos geïnterpreteer deur Cullmann, 1962:167). Luther het Augustinus in sy beskouing gevolg en dus is Jesus ook vir hom die Rots (Hendrix, 2004:41). Augustinus het egter nie ’n skeiding gemaak tussen Jesus as Rots en die belydenis van Petrus nie. Petrus staan op Jesus as Rots omdat geen ander fondament gelê kan word as wat reeds gelê is nie (1 Kor. 3:11, soos verklaar deur Luz, 2005a:170). Soos Augustinus het die Reformatore ook nie ’n skeiding gemaak tussen Jesus as Rots en die belydenis van

68

Petrus in hulle eksegese van Matt. 16:18 nie. As Petrus dan ’n rots in Matt. 16:18 is, is hy eerder ’n lewende steen in ’n geestelike huis as die rotsfondasie. Hy is dus ’n prototipe van almal wat Jesus as Christus sou bely (vgl. o.a. Calvyn, Institusie, Vol. 4, hfst. 6). Dit is ook die benadering wat in hierdie studie gevolg word. Die Christus- en belydenis word slegs om praktiese redes in die verklaringsgeskiedenis apart bestudeer.