• No results found

DIE ROMEINSE OFFISIER AAN DIE VOET VAN DIE KRUIS

Die Matteus-evangelie verskil ten opsigte van die weergawe van die ooreenstemmende perikope in Markus en Lukas. In Mark. 15:39 en Luk. 23:47 is dit slegs die offisier wat bely.

36

Volgens Matteus kom die soldate saam met hulle offisier tot belydenis (Morris, 1992:725-726; Keener, 1999:687). Van Matt. 21-27 bevind die evangelie homself in die lydensnarratiewe, dus is dit toepaslik dat nie-Jode as groep bely. In die bedieningsnarratiewe was dit dikwels nie-Joodse enkelinge wat bely het (Matt. 8:5-13, 15:21-28). Wanneer die Romeinse soldate as groep bely, is dit net drie dae voor die opstanding. Dan word die deure van die Koninkryk wyd oopgemaak vir die nie-Jode. Soos wat die Koninkryk naderkom, so groei die getal van nie-Joodse belydenisstemme. In die afdeling wat volg word slegs die offisier genoem, maar daarmee word ook indirek na die soldate as groep verwys. Dit sal ook gesien word dat die belydenis van die nie-Joodse soldate ooreenstem met die belydenis van die dissipels as groep (Matt. 14:33) en die belydenis van Petrus (vgl. Matt. 27:54 en Matt. 16:16). Ook stem hulle vreesreaksie op die apokaliptiese openbaring van Matt. 27:51-53 ooreen met die reaksie van die dissipels as Jesus op die berg verheerlik word (vgl. Matt. 27:54 en Matt. 17:6).

Wanneer die kruisigingsgeskiedenis gelees word, val dit op hoe verskillend Jesus se titel as Seun van God in die monde van die Jode en die nie-Jode funksioneer (Keener, 1999:688; Van Bruggen, 1990:461). Die Jode vra dat Jesus gekruisig word as Hy bevestigend antwoord op die hoëpriester se vraag of Hy die Seun van God is (Matt. 26:63-66). Tydens die kruisiging gebruik die skare en die Joodse leiers die titel Seun van God as spotwoorde (Matt. 27:40,43). Die Romeinse offisier en die soldate saam met hom gebruik die titel heel anders. In hulle monde is dit ’n belydenis (Matt. 27:54). Die soldate was eers skuldig aan die marteling van Jesus, maar die openbaring van Matt. 27:51-53 bring hulle tot ander insigte (Keener, 1999:687). Dit is wrange ironie: Die evangelie gee geen aanduiding dat die Jode tot bekering kom nie. Hoewel die Romeinse offisier vroeër medepligtig was aan die dood van Jesus, openbaar die evangelie ’n skerp verskil tussen die Jode en nie-Jode. Matteus wys hoe misplaas die bespotting is (Van Bruggen, 1990:461).

’n Ondersoek van die Romeinse offisier aan die voet van die kruis bring aan die lig dat sy belydenis drie keer met die belydenis van die dissipels vergelyk kan word. Eerstens is die belydenis van die Romeinse offisier in lyn met die belydenis van die dissipels as Jesus op die water loop (Matt. 27:54, 14:33; Morris, 1992:725). Die dissipels kom tot belydenis deur die natuuropenbaring van Matt. 14:32-33. Die Romeinse offisier kom tot belydenis deur die openbaring wat deur Jesus se sterwe kom. Vir beide die dissipels en Romeinse offisier is Jesus waarlik (alethos) die Seun van God en dus is hulle seker van hulle belydenis (Morris, 1992:726). Matteus skets ’n kruis-etniese beeld van die kerk. Gegrondves in die belydenis van Jesus as Seun van God is daar geen onderskeid tussen Jood en nie-Jood nie.

37

belydenis van Petrus (Matt. 16:16; Keener, 1999:688). Die Romeinse soldate bely Jesus as die Seun van God (Matt. 27:54). In Matt. 16:16 bely Petrus Jesus as die Christus, die Seun van die lewende God. Jesus antwoord dan dat Petrus geseënd is omdat dit nie vlees en bloed is wat dit aan hom geopenbaar het nie, maar die Vader in die Hemel. As Petrus seën ontvang op sy belydenis, kan verwag word dat God dieselfde aan die nie-Jood sou gee. Vir Matteus verval die skeiding tussen Jood en nie-Jood. Die heidene deel ten volle in die voorregte van die Koninkryk van die hemel.

Derdens kan die belydenis van die Romeinse offisier aan die voet van die kruis ook vergelyk word met die verheerliking op die berg (Matt. 27:54, 17:5-6; Gundry, 1982:587). Wanneer Jesus op die berg verheerlik word, openbaar die Vader in die hemel Jesus as die Seun van God na Wie geluister moet word. Die dissipels reageer deur baie bang te word. Dit is soortgelyk aan die belydenis wat die Romeinse soldate aan die voet van die kruis sou uitspreek. Wanneer Jesus sterwe bewys die eskatologiese openbaring Hom as die Seun van God. Die nie-Joodse offisier en sy soldate saam met hom word baie bang en verklaar dat Jesus werklik die Seun van God is. Jesus se Godheid word aan Jood sowel as nie-Jood geopenbaar en beide partye staan verskrik voor die heerlikheid daarvan.

Harrington (1991:402-403) wys daarop dat die lydensnarratiewe die vervulling van Ps. 22 is en dat Jesus se dood dus gegrondves word in die Geskrifte. In die stryd met die sinagoge het beskuldigings dat Jesus die dood van ’n misdadiger gesterf het, dikwels opgeduik. Matteus wys daarop dat Jesus se dood volgens die Geskrifte is en so plaas hy geregtigheid aan die kant van die kerk. Verder wys hy op die moontlike verband tussen die belydenis van die Romeinse offisier en Ps. 22:28-30. Die Romeinse offisier het Jesus as die Seun van God bely. Volgens Ps. 22:28-30 sal “alle mense oor die hele wêreld” en “alle volke” die Here as Koning erken en hulleself bekeer (Harrington, 1991:403). So regverdig Matteus ook die multi- etniese samestelling van sy kerk vanuit die Skrif. Dit was van altyd af so bestem dat die nasies na God sou vra.

Die belydenis van die Romeinse soldate aan die voet van die kruis wys dus dat nie-Jode presies dieselfde openbaring ontvang as wat die Joodse dissipels vroeër ontvang het. Tydens die verheerliking op die berg word die verheerlikte Christus as die Seun van God geopenbaar. Die apokaliptiese gebeure tydens die kruisiging openbaar dieselfde aan die nie- Joodse soldate. God openbaar dus niks aan Jode wat Hy nie ook aan nie-Jode openbaar nie. As gevolg van die openbaring kom die nie-Joodse soldate tot dieselfde belydenis as waartoe die Joodse dissipels vroeër gekom het. So openbaar die evangelie dat die skeiding tussen Jood en nie-Jood verval.

38