• No results found

In die lig van die verklaringsgeskiedenis van die rotsmetafoor (Matt. 16:18), is dit onwaarskynlik dat die woord rots na die persoon van Petrus verwys. Die geskrifte van die vroeë kerk het min verwysings na ’n voorrangsverklaring bevat. Ook was die oorspronklike vorm van die voorrangsverklaring beduidend anders as die vorm waarin Leo die Grote dit laat ontwikkel het. Dit wil voorkom asof die Roomse tradisie, ook tydens die Reformasie, nie gepoog het om die voorrangsbeginsel vanuit die Skrif te fundeer nie, maar eerder vanuit patristiese verklarings.

Anders as voorstanders van die voorrangsbeginsel, het Chrysostomos, Hieronimus, Bede, Origenes, Hillarius van Poitiers en Cyrillus van Aleksandrië óf Jesus as Messias óf die belydenis van Petrus as die rots van Matt. 16:18 beskou. Origenes kan by die groep ingesluit word sover dit sy geestelike verklaring aangaan. Augustinus het die voetspore getrap waarin die Reformatore later sou volg: Jesus is die Rots waarop die kerk gebou word, en Petrus staan op hierdie rots omdat “geen ander fondament gelê kan word as wat reeds gelê is nie”. Die Reformatore beskou Jesus Christus eenstemmig as die Rots waarop die kerk gebou word. Vir hulle is die Roomse pous slegs ’n leraar in die kerk van Rome en ’n medewerker. Hulle volg Augustinus in die opsig dat hulle nooit ’n skeiding maak tussen Jesus Christus as Rots en die belydenis van Petrus nie. Tans volg die Reformatoriese tradisie die patroon wat deur Augustinus en die Reformatore uiteengesit is.

Die verskil in betekenis tussen die woorde Petros en petra in Matt. 16:18 wys ook dat Petrus nie as die rotsfondament beskou kan word nie. Die woord petra verwys wel na ’n rotsfondament, maar die woord Petros verwys na ’n kleiner steen. Vanuit 1 Kor. 3:11 word dit duidelik dat Jesus as Christus die rotsfondament is en 1 Pet. 2:5 identifiseer die dissipel as

91

die kleiner steen. Tog veronderstel die woordspeling en ’n vergelyking met 1 Pet. 2:4-5 dat die twee nie van mekaar geskei kan word nie. In lyn met Augustinus en die Reformatore kan die rotsmetafoor dus soos volg verduidelik word: Jesus is die fondament waarop die kerk gebou word, maar Petrus word as gevolg van sy belydenis ’n kleiner steen in die kerk.

’n Sinoptiese vergelyking tussen die parallelle belydenistekste in Matteus, Markus en Lukas toon dat Matteus ’n verband trek tussen Jesus se titel as Christus, die rotsmetafoor en die woord ekklesia. Dit kan gesien word in die feit dat Jesus se titel as Christus ’n inclusio vorm rondom Jesus se reaksie, die parallelle formulering tussen die belydenis van Petrus en die rotsmetafoor en die inhoudelike verband tussen Jesus as Seun van die lewende God en die kerk wat oor die poorte van die doderyk triomfeer.

Die plek van die perikoop in Matt. 16:13-20:34 laat blyk dat die dissipels as kerk tot die belydenis kom wat die koms van die Koninkryk verlang. Omdat hulle Jesus bely, word hulle die nuwe volk wat die Koninkryk ontvang.

Die makro- en mikro-opbou van die teks laat blyk dat die belydenis van Petrus die kernvers van die perikoop is. Volgens die makro-opbou is beide retoriese vrae daarop gemik om die belydenis te ontlok terwyl die Saligspreking, rots- en sleutelmetafore en die stiltebevel uit die belydenis voortvloei. Op mikro-vlak is dit duidelik dat verskeie woorde of frases wat in die belydenis van Petrus voorkom, ook in die rotsmetafoor gevind kan word.

Eksegeties blyk dit dus dat die rotsmetafoor in Matt. 16:18 ’n kombinasie van Jesus as rotsfondament van die kerk en Petrus as lewende steen in die oog het. Jesus is die Rots waarop die kerk gebou word en Petrus word as gevolg van sy belydenis ’n lewende steen in die kerk wat God bou.

92

HOOFSTUK 5

DIE INSLUITING VAN DIE NIE-JODE BY DIE KERK

OP GROND VAN HULLE BELYDENIS VAN

JESUS AS DIE CHRISTUS

5.1 INLEIDING

Hierdie studie is begin met die vraag of nie-Jode by die kerk ingesluit word op grond van hulle belydenis van Jesus as Christus. Die konteks van die navorsing is soos volg geskets: Die Matteus-evangelie het sowel ’n Joods-spesifieke as ’n universele aard. Dit wil voorkom asof die nie-Jode dikwels tot belydenis van Jesus kom terwyl die meerderheid Jode Hom verwerp. Volgens Matt. 16:18 verwys Jesus na Homself as die Rotsfondament van die kerk, maar die mense wat Hom as Christus bely, word opgeneem as kleiner stene in die bouwerk van die kerk. Gevolglik word nie-Jode deel van die kerk op grond van hulle belydenis. Sommige navorsers betwyfel dit egter of die Matteus-evangelie so ’n positiewe perspektief op die nie-Jode het. As dit die geval is, sou dit ook hulle insluiting by die kerk beïnvloed. Daaruit het die volgende probleemvrae voortgekom:

• Kom nie-Jode tot belydenis van Jesus in die Matteus-evangelie? • Verwerp Jode Jesus as die Christus volgens die Matteus-evangelie?

• Wat is die betekenis van die woord rots waarop Jesus sy kerk volgens Matt. 16:18 bou? • Word nie-Jode by die kerk ingesluit op grond van hulle belydenis van Jesus as die

Christus?

Die belydenis van Jesus as Christus deur nie-Jode is in Hoofstuk 2 ondersoek. Die verwerping van Jesus as Christus deur die Jode is in Hoofstuk 3 ondersoek. In Hoofstuk 4 is die betekenis van die woord rots waarop Jesus sy kerk volgens Matt. 16:18 bou, bepaal. Aan die hand van ’n oorsig van die bevindinge in die vorige hoofstukke, word in hierdie hoofstuk

93

tot die gevolgtrekking gekom dat nie-Jode by die kerk ingesluit word op grond van hulle belydenis van Jesus as die Christus. Daar word ook aanbevelings vir verdere navorsingsmoontlikhede gemaak.