• No results found

Dit is dus so dat die meerderheid Jode Jesus as die Messias verwerp. Omdat hulle Jesus verwerp het, sal hulle die gevolge daarvan moet dra. Daar is reeds gesê dat die profetiese rede die gevolglike oordeel openbaar. Tog word die oordeel ook helder en duidelik in die gelykenis van die boere en die wingerd uiteengesit (Matt. 21:33-46).

Matt. 21:44 verwys na die klip wat die Joodse leiers sal vermorsel. Dit moet in konteks van Matt. 21:42 gelees word: Matt. 21:42 is ’n vervullingsitaat van Ps. 118:22 (MacArthur, 2005:1165; kyk ook 4.2.2 en 4.3.1). Ps. 118:22 het geprofeteer dat die klip wat deur die bouers afgekeur is die belangrikste klip in die gebou geword het. Vanuit Hand. 4:10-11 en 1 Pet. 2:4 is dit duidelik dat hierdie klip na Jesus verwys (MacArthur, 2005:1442; kyk ook 4.3.1). Gevolglik verwys die klip in Matt. 21:44 na Jesus: Hy vermorsel hulle wat nie tot belydenis van Hom kom nie.

Hierdie gelykenis verwys na die wyse waarop Israel en die Jode deur die geskiedenis heen die profete en uiteindelik ook die Seun van God as die Messias verwerp het. God het regdeur die geskiedenis sy profete na Israel gestuur, maar die profete is verwerp. Laastens word Jesus as die Seun gestuur, maar die Seun word doodgemaak. Omdat hulle die Seun doodgemaak het, sal die Grondbesitter die boere “‘’n vreeslike dood laat sterwe en die wingerd aan ander boere verhuur wat hom op die regte tyd sy deel van die oes sal gee’” (Matt. 21:41). Dit is ironies dat die priesterhoofde en familiehoofde self sê dat die slegte boere ’n vreeslike dood sal sterwe. Op hierdie manier veroordeel hulle hulleself.

Dit lyk asof die klipmetafoor in Matt. 21:44 die antitese is van die rotsmetafoor in Matt. 16:18. In Matt. 21:44 word Jesus ’n klip van oordeel vir dié mense wat Hom verwerp. Daarom kan aangeneem word dat die omgekeerde ook waar is: Jesus bring lewe en vryspraak vir die

59

mense wat tot belydenis van Hom kom. Dit word in Matt. 16:18 uiteengesit: Daarin verwys die woord petra waarskynlik na Jesus (vgl. 4.3.1). Die kerk wat op Hom gebou word triomfeer oor die poorte van die doderyk en dus vind die kerk die lewe in Christus (vgl. 4.3.2; Davies & Allison, 1991:621).

3.5 GEVOLGTREKKING

Die hoofstuk is begin met die vraag of die meerderheid Jode Jesus as die Messias verwerp. Sou hulle die Messias verwerp, word die Koninkryk van hulle af weggeneem (Matt. 21:43).

In die Matteus-evangelie word aangetoon dat dit dikwels die Jode is wat hulle eie Messias verwerp. Vervullingsitate soos Matt. 13:14-15 en Matt. 15:8-9 toon terugwysend aan dat die goddeloosheid van Israel van ouds ook die goddeloosheid van die huidige geslag – in die tyd van Jesus se lewe op aarde – is. So plaas die evangelie regverdiging aan die kant van die kerk en veroordeel die sinagoge. Die strydgesprekke kan telkens teruggevoer word na die gelykenisse van die twee seuns, die boere en die wingerd, en die bruilof (Matt. 21:23-22:14). Omdat hulle geweier het om onder Israel te werk, die Seun doodmaak en hulle rug draai op die uitnodiging na die bruilof, word die Koninkryk van hulle af weggeneem en aan ’n volk gegee wat die vrugte daarvan oplewer (Matt. 21:41). Die weerede ontmasker die Fariseërs as huigelaars. In hulle wetseksegese ontneem hulle die Woord van God sy gesag. Die verband tussen Matt. 23:35-36 en Matt. 27:25 wys uit dat die vergieting van die bloed van die vromes in Jesus se dood aan die kruis 'n hoogtepunt bereik. Daarom kom die straf op “‘die mense van vandag’” neer as hulle stad as puinhoop aan hulle oorgelaat word. Omdat hulle die Messias verwerp het, word die Koninkryk van die deel van die Joodse bevolking wat nie tot geloof gekom het nie weggeneem en word Jesus vir hulle ’n klip van oordeel. Jesus as oordeelsklip in Matt. 21:44 is die antitese van die Rots in Matt. 16:18 wat lewe aan die kerk gee.

60

HOOFSTUK 4

DIE BETEKENIS VAN DIE WOORD ROTS WAAROP

JESUS SY KERK BOU VOLGENS MATTEUS 16:18

4.1 INLEIDING

Min teksverse in die Skrif het soveel debat ontlok soos Matt. 16:18. Davies en Allison (1991:623) merk op: “The verse is among the most controversial in all of Scripture. The literature it has generated is immense, and not a little of it rather polemical.” Die debat heers hoofsaaklik rondom die betekenis van die woord rots (Matt. 16:18).

Hierdie vers het gelei tot die Roomse leerstelling dat die pous die hoof van die kerk is1.

Cullmann (1962:166-168) gee ’n oorsig van die verklaringsgeskiedenis: Reeds die kerkvaders het nie eenstemmigheid oor die betekenis van die woord rots gehad nie. Volgens hom het Tertullianus (De Pudicitia 21) geskryf dat die woord rots na Petrus self verwys. Hy verwys ook na Augustinus wat onder die invloed van Ambrosius die woord eers as verwysend na Petrus beskou het, maar later sy siening gewysig het – dit is Christus self (Retractationes). Chrysostomos het volgens Cullmann die rotsmetafoor as die belydenis van Petrus beskou (Homilies on Matthew). Cullmann toon verder aan dat Reformatore soos Luther (Wider Das Papsttum vom Teufel gestiftet) en Zwingli (Hauptschriften, Vol. II. p. 195) in navolging van Augustinus Christus as die rots beskou het. Hy verwys ook na Calvyn (Commentaire) wat die rotsmetafoor as verwysend na sowel Christus as die belydenis van Petrus beskou het.

Die meer resente verklarings is steeds uiteenlopend. Eksegete soos Senior (1977:160-161), Davies en Allison (1991:627), Harrington (1991:251), Hare (1993:190) en France (2007:621) beskou Petrus steeds as die rots. Na aanleiding van Matt. 7:24 verklaar Gundry (1982:334)

1 Volgens hierdie leer is Petrus Christus se verteenwoordiger op aarde. Daarom kan hy leerstellings

maak wat saam met die Skrif en tradisie as derde bron van openbaring beskou moet word. Hy is in sy opvolgers teenwoordig en dus kan hulle ook nuwe leerstellings maak. Omdat die Pous in Rome gesetel is, het die Roomse Kerk gesag oor alle kerke in die wêreld (Wessel, 2008:286-288).

61

dit as die lering van Jesus. Van Bruggen (1990:308-313) en Morris (1992:423) beskou die rots nie as Petrus self nie, maar as hulle wat vanweë die Godgegewe openbaring tot belydenis van Jesus as die Christus kom. MacArthur (2005:1154) beskou Jesus as die Rots en die dissipel as ’n kleiner steen wat ’n waarheid soortgelyk aan (die eienskappe van) 'n rots gespreek het.

Die kernvraag is dus: Wie of wat is die rots waarop Jesus sy kerk bou? Daar blyk hoofsaaklik drie verklaringsmoontlikhede te wees:

1. Die dissipel Petrus,

2. die belydenis van Petrus of 3. Jesus as Christus self.

Daar bestaan ook die moontlikheid dat laasgenoemde twee gekombineer kan word: Jesus is die Rots waarop die kerk gebou word, maar Petrus word vanweë sy belydenis ’n kleiner steen in die kerk.

Die betekenis van die woord rots is bepalend vir die insluiting van nie-Jode by die kerk: Sou dit na Jesus self, die belydenis van Petrus of ’n kombinasie tussen die twee verwys, kan ’n eksegeet aflei dat die nie-Jood wat die dissipel in sy belydenis volg, deel sal word van die kerk. Die doel van hierdie hoofstuk is om die betekenis van die woord rots in Matt. 16:18 te bepaal. Eerstens sal ’n oorsig van die woord se verklaringsgeskiedenis gegee word. Tweedens sal die gebruik van die woorde Petros en petra in Matt. 16:18 ondersoek word. Derdens sal ’n vergelyking van die belydenis van Petrus volgens die Sinoptiese Evangelies gedoen word. Vierdens sal Matt. 16:13-20 eksegeties ondersoek word om die betekenis van die woord rots te bepaal.

4.2 VERKLARINGSGESKIEDENIS VAN DIE WOORD ROTS WAAROP JESUS