• No results found

Die gebruik van die woorde Petros en Petra in Matt 16:18

4.3 DIE BELYDENIS VAN PETRUS: EKSEGESE VAN MATT 16:13-20

4.3.1 Die gebruik van die woorde Petros en Petra in Matt 16:18

In Matt. 16:18 sê Jesus aan Petrus: “‘Ek sê vir jou: Jy is Petrus (Petros), en op hierdie rots (petra) sal Ek my kerk bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.’” Die woordspeling tussen Petros en petra val ’n leser dadelik op.

Die Hebreeuse woorde sûr en sela word vir die woord rots gebruik (Richards, 1985:537-538; Den Heyer & Schelling, 2000:387; Walker, 2000:1133; Ellis, 1996:1021-1022). Sûr veronderstel die groot, onbeweeglike rotsformasies wat die fondamente van berge is (Richards, 1985:537-538; Ellis, 1996:1022). Soos sûr verwys die Griekse woord petra na ’n massa rotsformasie wat stabiliteit en veiligheid kan simboliseer (Richards, 1985:537-538; Cullmann, 1968:95). Louw en Nida (1988a:23) definieer petra as ’n rotsbodem, kranse of berglyste. Daarteenoor verwys Petros na ’n kleiner klip soos die wat in ’n slingervel gesit word (Richards, 1985:537-538; Cullmann, 1968:95). As die dissipel dan Petros genoem word, is hy ’n kleiner klip uit die groter massa (Richards, 1985:538).

Sommige eksegete onderskei nie te streng tussen die betekenisse van Petros en petra nie. Dit is omdat die Aramese woord Kepha vir hulle agter beide woorde lê en die woorde as gevolg daarvan dikwels uitruilbaar gebruik word (Cullmann, 1968:95; Davies & Allison, 1991:627). Ander eksegete is weer ten gunste van ’n skeiding tussen die betekenisse (vgl. Gundry, 1982:334).

Waarskynlik kan die dissipel nie gelykgestel word aan die rotsfondament waarop die kerk gebou word nie. Eerstens maak die Nuwe Testament dit by verskeie geleenthede duidelik dat Jesus die fondament is waarop die kerk gebou word (1 Kor. 3:11; Hand. 4:10-11; 1 Pet. 2:7; vgl. MacArthur, 2005:1154).

Tweedens – indien Petros as ’n kleiner steen gedefinieer word, is ’n vergelyking tussen Matt. 16:18 en 1 Pet. 2:5 moontlik. In Matt. 16:18 sê Jesus: “su ei Petros, kai epi taute te petra oikodomeso mou ten ekklesian kai pulai adou ou katisgusousin.” 1 Pet. 2:5 beskryf gelowiges as lewende stene in ’n geestelike huis. Sou Matt. 16:18 en 1 Pet. 2:5 vergelykbaar wees, verwys Petros in Matt. 16:18 eerder na die dissipel as ’n lewende steen in ’n geestelike huis en nie na die rotsfondament nie.

Derdens – Jesus se lering is die grondliggende fondament vir die dissipels (Matt. 7:24-29) en in Matt. 16:18 funksioneer die dissipel as fondament net soos al die apostels en profete in Ef.

80

2:20-227 (Keener, 2009:427). Volgens 1 Kor. 3:11 het Paulus homself as ’n bouer beskou

wat ’n fondament lê. Binne die konteks van 1 Kor. 1-3 kan hierdie fondament gelykgestel word aan die woordverkondiging wat weer gebaseer is op Jesus Christus as ware fondament. Waarskynlik moet Apollos en Sefas ook beskou word as bouers wat die fondament lê (1 Kor. 1:12, 3:21). So gesien verwys die rotsfondament van Matt. 16:18 eerder na die Woord wat verkondig is. Die verkondigde Woord is gebaseer op Christus as ware fondament.

Vierdens wys Luz (2001:361-365) daarop dat Jesus niks aan die dissipel toesê wat Hy nie reeds voorheen op al sy dissipels van toepassing gemaak het nie: ’n Standpunt wat aan Petrus voorrang gee, veronderstel gewoonlik dat die dissipel nie as groepsverteenwoordiger bely het nie, maar as individu. In Matt.14:33 is dit egter al die dissipels wat Jesus as die Seun van God bely. Verder beskou ’n voorrangsdogma Matt. 16:17 as ’n spesiale openbaring aan Petrus alleen, maar volgens Matt. 11:27 openbaar die Seun die Vader aan al sy volgelinge. Luz wys voorts daarop dat ’n voorrangsbeskouing gewoonlik op die siening dat die sleutels van die Koninkryk aan Petrus as individu gegee word (Matt. 16:19), berus, maar dat Jesus volgens Matt. 18:18 die sleutels van die Koninkryk aan al die dissipels gee.

Opsommend gestel, blyk dit dus eerder waarskynlik te wees dat die betekenisse van Petros en petra in Matt. 16:18 van mekaar onderskei moet word. Eerstens openbaar die Nuwe Testament baie duidelik dat Christus die rotsfondament is waarop die kerk gebou word. Petros as verwysende na die dissipel kan dus nie die rotsfondament as antesedent hê nie. Tweedens is ’n vergelyking tussen Matt. 16:18 en 1 Pet. 2:5 moontlik. As 1 Pet. 2:5 alle gelowiges as lewende stene in ’n geestelike huis beskryf, moet Petros in Matt. 16:18 eerder na ’n klip verwys. Derdens: Selfs al sou die letterlike betekenis van Petros gelyk gestel kan word aan petra en gevolglik ’n rotsfondament veronderstel, sou die figuurlike betekenis nie Petrus as rotsfondament impliseer nie. Volgens Ef. 2:20 is gelowiges ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en profete. Maar in die lig van 1 Kor. 2-3 (veral 3:10) wil dit eerder voorkom asof die Woord wat verkondig is die rotsfondament is. Hierdie Woord is dan gebaseer op Jesus as ware rotsfondament. Vierdens maak Luz dit duidelik dat Jesus niks aan Petrus toegesê het wat Hy nie voorheen reeds aan al die dissipels toegesê het nie. Waarskynlik moet Petros in Matt. 16:18 dus verstaan word as ’n klip. As Matt. 16:18 dan met 1 Pet. 2:5 vergelyk word, is die dissipel ’n lewende steen in die huis van God.

7 Ef. 2:20-22: Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en profete, ’n gebou

waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

81

Tog kan ’n bespreking van die woorde Petros en petra nie hier eindig nie. Petros verwys na ’n kleiner klip en gevolglik moet petra die rotsfondasie in die oog hê. Petros as kleiner steen impliseer die dissipel, maar die figuurlike antesedent van petra moet nog bepaal word.

Petra as rotsfondament verwys in Matt. 16:18 waarskynlik na Jesus as Christus. Die Nuwe Testament openbaar dat Hy die rotsfondament van die kerk is. Dit word duidelik as onder andere Hand. 4:11-12 en 1 Kor. 3:11 bestudeer word (MacArthur, 2005:1154). Volgens 1 Kor. 3:11 het Paulus die fondament gelê en ’n ander bou daarop. Tog kan daar nie ’n ander fondament gelê word as wat reeds gelê is nie. Daardie finale fondament is Christus. Die konteks van 1 Kor. 1-3 veronderstel dat die fondament wat Paulus gelê het die Woord is wat hy verkondig het. Die Woord is egter gebaseer op Christus as finale fondament.

Hand. 4:10-11 openbaar Jesus ook as die fondament waarop die kerk gebou word. Dit is ’n vervullingsitaat van Ps. 118:228. Ps. 118:22 lees dat die klip wat deur die bouers afgekeur is,

juis die belangrikste klip in die gebou geword het. Uit Hand. 4:10-11 is dit duidelik dat die klip na Jesus verwys. Dit is opmerklik dat Matt. 21:42 ook Ps. 118:22 aanhaal. As Jesus dan die belangrikste klip is volgens Ps. 118:22 en Hand. 4:10-11, is dit ook die geval met Matt. 21:42. Matt. 21:42 is betekenisvol omdat dit insig mag gee in die evangelis se algemene gebruik van die woord rots. Daar mag gewonder word of dit wel die geval is, aangesien Matt. 21:42 nie die woord petra gebruik nie maar wel die woord klip (lithos). Tog word lithos in Matt 21:42 beskryf as die belangrikste klip en dus kan die twee woorde sinoniem funksioneer.

Dit is dus duidelik dat die dissipel (Petros) na ’n lewende steen in ’n geestelike huis verwys terwyl petra as rotsfondament na Christus self verwys. Die twee woorde kan egter nie van mekaar geskei word nie, omdat die woordspel tussen Petros en petra ’n verband impliseer. Petrus self verduidelik hierdie verband in 1 Pet. 2:4-5: 1 Pet. 2:49 openbaar Jesus as die

lewende steen wat deur die mense afgekeur is maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 1 Pet. 2:510 beskryf gelowiges as lewende stene in ’n geestelike huis. So gesien wil dit

voorkom asof gelowiges lewende stene in ’n geestelike huis is wat gebou is op Christus as lewende fondament (vgl. MacArthur, 2005:1154). Waar 1 Pet. 2:4-5 die verband tussen Christus en gelowiges meer eksplisiet stel, word dit in Matt. 16:18 gereflekteer deur die woordspeling tussen Petros en petra: Die dissipel (Petros) is ’n kleiner steen wat gebou is op die rotsfondament (petra). Volgens die Nuwe Testament is Jesus as Christus hierdie

8 Ps. 118:22 lui: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou

geword.”

9 1 Pet. 2:4: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir

die ereplek uitverkies is.” Daar is ’n refleksie van Ps. 118:22 in 1 Pet. 2:4.

10 1 Pet. 2:5: “Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te

82 rotsfondament.

Opsommend kan dus gestel word dat die dissipel nie die rotsfondament is waarop die kerk gebou word in Matt. 16:18 nie omdat die woorde Petros en petra verskillende betekenisse het. Jesus wil waarskynlik in Matt. 16:18 aan Petrus dieselfde plek gee as wat aan al die gelowiges in 1 Pet. 2:5 gegee word: Die dissipel is ’n kleiner steen in ’n geestelike huis. Die woord petra verwys na die rotsfondament. Vanuit 1 Kor. 3:11 weet ons dat Christus die rotsfondament is. Tog veronderstel die woordspeling tussen Petros en petra dat die woorde wel met mekaar verband hou. Hierdie verband word dan in 1 Pet. 2:4-5 verduidelik: Christus is die ware, lewende rotsfondament waarop alle gelowiges as lewende stene gebou word.

4.3.2 Vergelyking van die belydenis van Petrus in die drie sinoptiese evangelies