• No results found

Die vraag oor die grootste gebod (Matt 22:34-40)

3.3 LYDENSWEEK (MATT 21:1-27:66)

3.3.1 Strydgesprekke (Matt 21:23-22:46)

3.3.1.4 Die vraag oor die grootste gebod (Matt 22:34-40)

Die Fariseërs hoor dat Jesus die Sadduseërs verkeerd bewys het en kom bymekaar. Vir Luz (2005b:75) betrek die openingsvers dus terselfdertyd die voorafgaande vraag van die Sadduseërs en die samekoms van die Fariseërs wat die tafel dek vir die vraag oor die grootste gebod. Hy beskou ook die woord “wet” (Matt. 22:35, 36, 40) as die woord wat die perikoop as ’n eenheid saambind.

51

Tydens die samekoms van die Fariseërs vra ’n wetgeleerde Jesus wat die grootste gebod in die wet is. Die verskil tussen Matteus en Markus se weergawe van die woorde van die wetgeleerde is reeds gemeld (Mark. 12:28-34; kyk 3.2.2): Volgens Markus het die wetgeleerde Jesus se antwoord beaam en Jesus reageer deur te sê dat hy nie ver van die Koninkryk van God is nie. Matteus laat egter sowel die antwoord van die wetgeleerde as Jesus se meegaande reaksie weg en skryf eksplisiet dat die wetgeleerde Jesus met die vraag probeer vastrek het (Matt. 22:35). Waar die wetgeleerde en Jesus in Markus met mekaar versoen, is Jesus en die Joodse leier in Matteus in stryd met mekaar (Davies & Allison, 2004:236).

’n Agtergrond van die rabbi's se wetseksegese is nodig: Volgens die Jode was daar 613 wette in die Pentateug, een vir elke letter van die tien gebooie. Van hierdie 613 wette is 248 gesien as bevel en 365 as verbod. Die wette is ook verdeel in meer belangrike en minder belangrike kategorieë en die meer belangrikes was meer bindend as die minder belangrikes. Die wetgeleerdes en rabbi's kon egter nie ooreenkom oor watter wette meer belangrik en watter wette minder belangrik is nie. Hulle benadering tot die wet het daartoe gelei dat hulle Jesus se lering as selfgemaak beskou het. (Luz, 2005b:81; MacArthur, 2005:1242.)

Die wetgeleerde het egter nie ’n oplossing vir die dispuut oor die 613 wette in die oog nie. Volgens Matt. 22:35 wou hy Jesus met sy vraag vastrek en as deel van die Fariseërs sit hy voort wat reeds in Matt. 22:15 begin is (Luz, 2005b:81). Sy doel is om die gesag van Jesus se lering voor die skare te ondermyn (Hauerwas, 2006:192). Hulle wou hê Jesus moes self sy lering as vals en eensydig inkrimineer (MacArthur, 2005:1242). Waarskynlik het die wetgeleerde verwag dat Jesus – strydig met wat in Matt. 5:17-20 staan – ’n deel van die wet nietig sou verklaar of dat Hy ’n deel van die wet sou kritiseer (Davies & Allison, 2004:239). As die Fariseërs self die wet in meer belangrike en minder belangrike kategorieë verdeel het, kan ’n eksegeet vra of hulle nie self skuldig was aan dit wat hulle gehoop het Jesus sou doen nie.

Jesus antwoord deur die bekende Shema van Israel aan te haal (Hauerwas, 2006:192). Deut. 6:4-5 lui: “‘Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’” Daardeur mag Jesus ook iets van die Fariseër se huigelary ontbloot: Deuteronomium was die boodskap van die wet en verbond. Die Jode het Deut. 6:4-9 as die kernvers van die boek Deuteronomium beskou (Hill & Walton, 2000:135). Dit is ook daagliks geresiteer (Luz, 2005b:82). Die Jode was dus daarvan bewus dat liefde tot God die grootste gebod in die wet is. Dit kan ook as ’n geloofsformulier van Judaïsme beskou word (Davies & Allison, 2004:236). As kundige het die wetgeleerde waarskynlik die Shema en meegaande

52 verklarings geken.

Jesus gee ook ’n tweede gebod. Hy haal Lev. 19:18 aan: Hulle moet hulle naaste liefhê soos hulleself. Die vraag is wie die naaste is wat hier bedoel word. Luz (2005b:83) skryf dat die Joodse tradisie slegs mede-Israeliete as die naaste beskou het. As die vreemdeling daarby ingesluit is, was dit slegs die vreemdeling in die land van Israel en in latere verklarings het slegs die bekeerling betrekking. Tog sê sowel hy as Davies en Allison (2004:243) dat Jesus die naasteliefdegebod uitbrei om alle mense in te sluit. Hulle verwys na Matt. 5:43-48 waar Lev. 19:18 so verklaar word dat dit ook liefde teenoor die vyand insluit. Luz verwys ook na Matt. 7:12 wat eksegete tereg die goue reël noem. Dit is as't ware ’n opsomming van die bergrede: “‘Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.’” Die goue reël is vir hom so geformuleer dat dit universeel van aard is. As God dus liefde teenoor die naaste vereis, vereis Hy dit teenoor die ganse mensdom.

Dit is reeds gesê dat die wetgeleerde Jesus met ’n vraag probeer vastrek het. Waarskynlik het hy gehoop Jesus sou ’n deel van die wet ongeldig maak en so sy lering in Matt. 5:17-20 sou inkrimineer (MacArthur, 2005:1242; Davies & Allison, 2004:239). Jesus antwoord egter so dat dit die wetgeleerde se eie sonde openbaar. Die Fariseërs het gedebatteer oor watter gebooie meer belangrik en watter minder belangrik is. As die “hele” wet en profete neerkom op liefde tot God en liefde tot die naaste, bly die hele wet geldig en is Jesus in ooreenstemming met sy leer in Matt. 5:17-20. As die tweede gebod met die eerste “gelyk staan” (22:39), wys Jesus hulle lering wat sommige gebooie minder belangrik ag, as dwaalleer uit.

Jesus het reeds in die gelykenisse van die twee seuns, die boere en die wingerd en die bruilof op die Fariseërs gesinspeel. Hulle het geweier om in God se wingerd te werk (Matt. 21:28-32), hulle sal die Seun doodmaak (Matt. 21:37-39) en hulle het ook die uitnodiging van die Vader verwerp (Matt. 22:5-6). Wanneer die priesterhoofde en die Fariseërs dit hoor, wil hulle Jesus gevange neem, maar doen dit nie omdat hulle bang was vir die skare (Matt. 21:45-46). Jesus se reaksie as hulle vra of hulle aan die keiser belasting moet betaal, karakteriseer hulle as huigelaars (Matt. 22:18). As Jesus die Shema as antwoord gee, ontbloot dit die wese van die Joodse leiers. As kenners van die wet was hulle deeglik daarvan bewus dat liefde tot God die grootste gebod is, maar hulle doen nie wat hulle verkondig nie.