• No results found

3.3 LYDENSWEEK (MATT 21:1-27:66)

3.3.2 Die weerede (Matt 23:13-36)

Gedurende die lydensweek woed die stryd tussen Jesus en die Joodse leiers feller as ooit. Hoewel die werklike hoogtepunt van die stryd in die verhoor en kruisiging van Jesus lê, vind die verbale debat sy hoogtepunt in die weerede. Sewe keer word ’n ellende-aankondiging oor die Joodse leiers gedoen. Jesus se woorde aan hulle is in skrille kontras met dié wat werklik gelukkig is in die saligsprekinge (Matt. 5:3-11). Die weerede ontbloot die Fariseërs as leiers wie se woorde en dade mekaar weerspreek. Hulle is verantwoordelik vir die bloedskuld van al die vromes dwarsdeur die verlossingsgeskiedenis van Israel heen. ’n Vergelyking tussen Matt. 23:29-36 en 27:25 toon dat Jesus se dood die hoogtepunt van onskuldige bloedvergieting is (vgl. 3.3.2).

Die weerede en profetiese rede (Matt. 24-25) word met mekaar verbind. In teenstelling met Markus laat Matteus die gawe van die arm weduwee weg sodat Jesus se vertrek vanaf die tempel (Matt. 24:1) in noue verbinding is met sy woorde dat “‘julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat (word)’” (Matt. 23:38-39; France, 1989:140; Schweizer, 1975:448). Die twee redes staan in ’n oorsaak-gevolg-verhouding tot mekaar. As die profetiese rede die gevolg is, is die weerede die oorsaak.

3.3.2.1 Die Fariseërs sluit die deur van die Koninkryk in die mense se gesig toe en gaan self nie in nie (Matt. 23:13-15)

Ellende wag op die Skrifgeleerdes en Fariseërs omdat hulle die deur van die Koninkryk in die mense se gesig toesluit. Hulle gaan self nie in nie en verhinder die mense wat wel wil ingaan. Hulle trek oor land en see rond om een bekeerling te maak en as hy dit word, maak hulle hom "twee maal so ryp vir die hel" as wat hulle self is (Matt. 23:15).

Hoe gebeur dit dat die Skrifgeleerdes en Fariseërs die deur van die Koninkryk in die mense se gesig toesluit? Garland (1979:126-129) beskou die wetsinterpretasie van die Joodse leiers as die oorsaak. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het die taak gehad om die wil van God aan mense bekend te maak. Deur die Geskrifte korrek te verklaar sou hulle die deur van Koninkryk vir die mense oopmaak. Tog het hulle as’t ware die wil van God en wet verduister deur hulle tradisies, voorbeelde en verdraaiende reëls. Hulle het die woord van God sy gesag

55

ontneem ter wille van hulle oorgelewerde gebruike (Matt. 15:7-9).

3.3.2.2 Die valse leer van die Joodse leiers ontbloot (Matt. 23:16-28)

Die eerste twee wee-uitsprake het geleer dat die valse lering van die skrifgleerdes en Fariseërs die Koninkryk vir hulleself sowel as die mense toesluit. Matt. 23:16-28 openbaar hoekom hulle leerstellings vals is.

In Matt. 23:16-22 lê Jesus die valse leerstelling van die skrifgeleerdes en Fariseërs, dat ’n eed bindend of nie bindend is deur die bewoording daarvan, bloot (Garland, 1979:132). Lieberman (1942:133-134) skryf dat Jesus in stryd is met ’n Fariseër-lering dat slegs ede wat die Goddelike naam of verwysings na God (byvoorbeeld sy troon) gebruik het, bindend was. Met hierdie valse leer het hulle nie die gebod van God gehoorsaam nie: God is betrokke by alle ede. ’n Eed wat by ’n mindere saak afgelê word is nie meer bindend as ’n eed wat by ’n meerdere saak afgelê word nie (Schweizer, 1975:433). Vir Jesus is daar geen onderskeid tussen bindende en nie-bindende ede nie; ’n verskil sou impliseer dat nie alle bewerings gelykmatig aan die waarheid onderworpe is nie (Davies & Allison, 1997:292; Garland, 1979:136). In byvoorbeeld hulle weiering om hulp aan hulle ouers te gee onder die voorwendsel dat hulle eerder ’n offergawe daarvan aan God maak (Matt. 15:1-9), is hulle strydig met die liefdesgebod (Matt. 22:34-40). As blinde leiers vir blindes is hulle die teenoorgestelde van Jesus wat geestelike blindheid genees (Luz, 2005b:119). Hulle het God probeer dien deur die leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou (Matt. 15:7-9). As gevolg van die dwaalleer wag ellende op hulle.

Ellende wag ook op hulle omdat hulle dit wat die swaarste volgens die wet weeg, nalaat. Hulle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid ontbreek (verse 23-24). Weer wys Jesus hoe hulle eksegese hulle aanspreeklik maak: In Matt. 5:20 het Hy gesê dat getrouheid aan die wet groter as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nodig is om die Koninkryk van die hemel binne te gaan, en in Matt. 22:37-40 het Hy verduidelik wat presies die dieper geregtigheid behels: Liefde tot God en jou naaste. Die Fariseërs het dus nie die Grootste gebod nagekom nie. Die punt van die vierde wee-uitspraak is die teenstrydigheid tussen die kleinste kruie wat vir die skrifgeleerdes en Fariseërs belangrik is en die ignorering van dit wat volgens die wet die belangrikste is (Luz, 2005b:122, 124). Al verbied Jesus nie die mindere nie, moet die mindere nooit die meerdere verduister nie (vgl. Davies & Allison, 1997:293). Die skrifgeleerdes en Fariseërs het nie net die swaarste gebooie geïgnoreer het nie, maar ook nie die bedoeling van die wet as manifestasie van God se wil herken nie (Garland, 1979:139). So is hulle blinde leiers wat die muggie uit die beker skep, maar die kameel insluk. Wyn is deur ’n sif of sygdoek gegooi

56

voordat dit gedrink is om dit te reinig van enige moontlike onrein element (Luz, 2005b:124). Beide die muggie en die kameel is as onrein beskou. Die leiers suiwer hulle wyn van die kleinste dinge wat onrein is, maar die grootste onreinheid ignoreer hulle (Davies & Allison, 1997:296; Luz, 2005b:124).

3.3.2.3 Veroordeling van die Fariseërs se wetsbeskouing (Matt. 23:26)

Die teks moet metafories verstaan word: In hul wetsonderhouding maak die Joodse leiers hulleself net aan die buitekant skoon; die innerlike word nie skoongemaak of gereinig nie, dus is hulle eintlik steeds vuil (Davies & Allison, 1997:296-297). As die innerlike skoongemaak word sal die uiterlike ook skoon wees (vgl. Matt. 15:10-20; Garland, 1979:143). Hulle wetsbeskouing veroorsaak dus dat hulle nie werklik rein is nie en daarom wag ellende op hulle. In kontras met hulle staan die wat rein van hart is en God sal sien (Matt. 5:8; MacArthur, 2005:1129).

Dit wil voorkom asof Jesus sy veroordelingsuitspraak intensiveer (Matt. 23:27-28). Uiterlike wetsonderhouding laat die Joodse leiers lyk soos witgeverfde grafte – van buite mooi, maar binne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid (v. 27). Die Jode het hulleself rein gehou deur lyke te vermy. As bewakers van die Torah het die skrifgeleerdes en Fariseërs grafte gemerk om sodoende te voorkom dat ’n persoon onwetend daaraan sou raak (Garland, 1979:157). Tog was dit steeds net uiterlike wetsonderhouding, dus is hulle steeds van binne dood.

Die hele blootlegging van die Fariseërs se valse leer word saamgevat as Jesus sê dat hulle van buite vir mense vroom lyk, maar van binne vol huigelary en minagting van die wet is (Matt. 23:28). As hulle sommige ede meer bindend ag as ander, is nie alle ede in gelyke mate aan die waarheid onderworpe nie en so ontneem hulle die woord van God sy gesag. As hulle tiendes van kruisement, anys en koljander gee maar geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid nalaat, reinig hulle hulleself van die kleinste ongeregtigheid maar maak hulle skuldig aan die grootste ongeregtigheid. Hulle is soos bekers wat van buite skoon lyk, maar van binne steeds vuil is. Hulle lyk van buite skoon, maar van binne is hulle dood (Matt. 23:27).

’n Moontlike verband tussen die weerede en die instelling van die nagmaal moet nie uitgesluit word nie. Jesus verwys in die weerede twee maal na die wyn wat die Joodse leiers drink (Matt. 23:24-26). Die weerede word gelewer tydens die fees van die ongesuurde brode, en dus mag Jesus verwys na die wyn wat tydens die Paasmaaltyd gedrink is. So gesien is die Fariseërs se poging om hulle wyn te reinig (Matt. 23:24) ’n poging om die verbond te

57

onderhou. Dit is in teenstelling met die nagmaalsbeker. Tydens die instelling van die nagmaal is die wyn simbolies van Jesus se bloed wat die verbond beseël en wat vir baie vergiet word tot die vergewing van sondes (Matt. 26:28). Ware reinheid word nie verkry in die wetsbeskouing van die Fariseërs nie, maar deur die bloed van Jesus. In die Matteus- gemeenskap se stryd met die sinagoge kla die evangelie die Jode skerp aan.

3.3.2.4 Strafaankondiging en klag oor Jerusalem (Matt. 23:29-39)

Ellende wag vir die skrifgeleerdes en Fariseërs wat die grafte van die profete in stand hou en die gedenktekens van die vromes versier. Hulle sê dat as hulle in die dae van hulle voorvaders geleef het, hulle nie medepligtig sou gewees het aan die vergieting van die bloed van die profete nie. So erken hulle self dat hulle nakomelinge is van die wat die profete doodgemaak het. Hulle sal aangaan en “klaarmaak wat hulle voorvaders begin het” (Matt. 23:32).

Volgens Matt. 23:33-36 sal die bloedskuld vir al die vromes wat in die Ou Testament doodgemaak is, op die Joodse leiers van Jesus se tyd neerkom: “The scribes and Pharisees are to complete irrevocably the full measure of sins” (Garland, 1979:167). France (1989:140) skryf dat die sondes van die voorvaders die finale hoogtepunt bereik wanneer die Joodse leiers van Jesus se tyd sy boodskappers verwerp. Garland (1979:167-168) verwys met betrekking tot vers 32 na ’n Joodse lering wat ingehou het dat wanneer die sondes van nie- Jode ’n bepaalde hoogtepunt bereik, God sy lankmoedigheid sou terugtrek en oordeel sou bring. Vers 32 pas dit egter op Israel toe: “The point of inundation has not yet been reached by the murder of prophets in former generations, but it is left to this generation to complete the measure to overflowing.” Vers 35 het betrekking op die tydsverloop van die ganse Ou Testament: Die bloed van die profete wat ná Saggaria of die Ou Testamentiese Kanon verspil is of verspil sou word, sal ook van die huidige geslag geëis word, dus span die bloedskuld oor verlede en hede (Peels, 2001:597). Die klimaks van die bloedvergieting vind plaas in Jesus se kruisiging (Moffit, 2006:308). Dit lei daartoe dat Jesus die verwoesting van Jerusalem beklaag omdat oordeel nie langer uitgestel kan word nie (France, 1989:140).

Moffitt (2006:308) skryf dat Matt. 27 in drie opsigte na Matt. 23:35 verwys: Pilatus se vrou sê dat Jesus onskuldig is (Matt. 27:19) en so is Abel, wie se bloed vergiet is, ook onskuldig (Matt. 23:35). Pilatus se vrou het gesien dat Jesus se bloed vernietigende gevolge sou hê. Tweedens was Pilatus sy hande in onskuld. So distansieer hy homself van Jesus se dood (Matt. 27:24). Derdens sê die skare dat hulle en hulle kinders die bloedskuld vir Jesus se dood aanvaar (Matt. 27:25). Die bloedvergieting van die onskuldiges vind sy klimaks in die dood van Jesus. Jesus wou die kinders van Jerusalem bymekaarmaak soos wat ’n hen haar

58

kuikens bymekaar maak. Daarom is die profete na haar gestuur. Tog het Jerusalem die profete doodgemaak en uiteindelik ook die Seun (vgl. Matt. 21:37-39). Daarom word die stad as puinhoop aan hulle oorgelaat (Matt. 23:38).

Die Matteus-gemeenskap was in ’n stryd met die Joodse sinagoge gewikkel. Binne konteks van die vernietiging van Jerusalem in 70 v.C. is die weerede ’n pynlike blootlegging van die waarheid. Die skrifgeleerdes en Fariseërs was deur hulle wetseksegese van buite skoon, maar van binne steeds onrein. Hulle ongeregtigheid, en ook die van die voorgeslagte, vind sy hoogtepunt as Jesus se bloed onskuldig vergiet word. Daarom is die stad as puinhoop aan hulle oorgelaat in 70 n.C.