• No results found

Jesus se oënskynlik onsimpatieke woorde teenoor die vrou

2.4 DIE KANAÄNITIESE VROU (MATT 15:21-28)

2.4.5 Jesus se oënskynlik onsimpatieke woorde teenoor die vrou

Die vrou het Jesus pas as Oorwinnaar oor Satan bely, dus is Jesus se oënskynlik harde woorde ’n raaisel. Matteus lê groot klem op Jesus se oënskynlike wegwysing van die vrou. Hy skryf dat Jesus eers stilgebly het (Matt. 15:23), toe vir die vrou gesê het dat Hy net na die verlore skape van die volk Israel gestuur is (Matt. 15:24) en dan dat dit nie mooi is om van die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie (Matt. 15:26). Soos Lee en Viljoen (2009:89) sê: “Each entreat has been ignored and rejected by Jesus. His responses gradually

31

become severer and more manifest. At first he did not answer a word. Then he declares that his ministry is limited only to the Israelites. Then he despises the woman by comparing her to a dog.”

Tog moet Jesus se woorde nie as ’n verwerping van die vrou verstaan word nie. In vers 21 het die evangelie immers reeds geleer dat Jesus na nie-Joodse gebied gegaan het en waarskynlik onder nie-Jode bedien het. Ook sou die kern van sy prediking dieselfde wees as in die woestyn van Galilea: “Bekeer julle, want die Koninkryk van die Hemel het naby gekom.” (vgl. Matt. 4:17.) Die koms van die Koninkryk roep mense tot geloof en bekering op, en dit is wat die vrou openbaar. Sy het Jesus as Here en die Seun van Dawid bely; sy verwag van Hom die verlossing uit die mag van Satan. As sy presies reageer soos wat Jesus wou gehad het, is ’n wegwysing moeilik verklaarbaar. Waarskynlik is die woorde eerder daarop gemik om ’n geloofsbelydenis by die vrou te ontlok. France (2007:591) skryf dat ’n goeie leermeester soms uitsprake maak wat sy leerder uitdaag sodat dié se insig getoets kan word. Lee en Viljoen (2009:92) skryf dat Jesus se woorde die geloof van die vrou toets. Hoe harder die woorde van Jesus, hoe groter is haar geloof. Dit is die eerste moontlike verklaring vir Jesus se oënskynlike wegwysing.

Daar is ook ’n tweede moontlike verklaring. Opmerklik val die perikoop binne ’n deel van die evangelie wat hoofsaaklik uitsprake teen die leer van die Jode bevat en ook gerig is op wonders (Matt. 15:1-20, 21-28, 29-39, 16:1-4, 5-12). As die omliggende Matteus-konteks die Joodse reinheidsleer verwerp (Matt. 15:1-20), ’n tweede versoek om ’n teken afwys (Matt. 16:1-4) en waarsku teen die suurdeeg van die Fariseërs en Skrifgeleerdes (Matt. 16:5-12), mag ’n eksegeet vra of Jesus se woorde nie ’n ander funksie het as om die vrou weg te wys nie. Waarskynlik wil Jesus die reinheid van nie-Jode beklemtoon.

Hoe beklemtoon Jesus se harde woorde die reinheid van nie-Jode? France (2007:591) skryf dat die tweede helfte van Matt. 15 (v. 29-28) die Messias van Israel toon as werkende onder nie-Jode, insluitend die deel van die kinders se brood met die honde (v. 32-38): “The whole of the second half of ch. 15 thus puts into practice the message of the first half, the relaxation of the Jewish “purity” culture which had hitherto kept Jew and Gentile apart.”

Hoofstuk 15 het dus die ware Israel, bestaande uit Jood en nie-Jood, in die oog. Daarom mag ’n eksegeet vra in watter lig Jesus se woorde – dat Hy net na die verlore skape van die volk Israel gestuur is (Matt. 15:24) en dat dit nie mooi is om die kinders se brood vir die hondjies te gooi nie (Matt. 15:26) – verstaan moet word. As France (2007:590-591) se siening van hoofstuk 15 gevolg word, is Jesus se harde woorde ’n praktiese demonstrasie van die skeiding tussen Jood en nie-Jood. As hoofstuk 15 die Joodse reinheidsleer verwerp,

32

weerspieël Jesus se woorde aan die vrou nie ’n negatiewe gesindheid teenoor haar nie. Dit is ’n metode om die geloofsvolharding van die vrou te demonstreer (vgl. Lee & Viljoen 2009:92) Hy sou immers wel die demoon uitdryf en so die skeidingsmuur tussen Jood en nie-Jood afbreek. Jesus het tog reeds gesê dat baie nie-Jode aan die Koninkryk van die hemel deel sou kry (Matt. 8:11; France 2007:590). Die evangelie nader die belydenis van Petrus en die meegaande ekklesiologie. As Jesus die bose gees uit die dogter van die Kanaänitiese vrou dryf, leer die evangelie dat die kerk van God universeel is. Die skeidingsmuur tussen Jood en nie-Jood verval.

Vir Lee en Viljoen (2009:92) bied die uiteindelike eksorsisme die sleutel om die perikoop mee te verstaan. In die lig daarvan verklaar hulle dat Jesus se wegwysing beskou behoort te word as ’n weerspieëling van die Fariseërs en Skrifgeleerdes se siening van reinheid soos wat dit in die voorafgaande perikoop afgewys word (Matt.15:1-20). Jesus tree op soos die Fariseërs en Skrifgeleerdes as Hy met die Kanaänitiese vrou praat. Die nie-Jode sou in die oë van Jode nie genade ontvang nie, en Jesus is oënskynlik in ooreenstemming daarmee. Die ooreenkoms is egter slegs oënskynlik, omdat Jesus ’n bepaalde doel met die woorde het – dit verwoord dus nie sy persoonlike beskouing van die vrou nie. Verder het Hy in die voorafgaande perikoop die reinheidsvoorskrifte van die Fariseërs en Skrifgeleerdes verwerp. Wat is sy werklike siening van die vrou dan en wat is die doel van Jesus se skynbaar harde woorde? Soos wat Jesus in Matt. 15:1-20 die tradisionele Joodse siening dat sekere soorte kos onrein is verwerp het, so verwerp Hy die Joodse siening dat nie-Jode onrein is as Hy die bose gees uitdryf. Vir Hom is alle mense rein. Die harde woorde funksioneer dan as ’n metode om hierdie boodskap oor te dra. Die harde woorde sou dit onmoontlik laat lyk vir ’n nie-Jood om hulp by Jesus te vra, maar die teendeel vind plaas wanneer Jesus wel die demoon uitdryf (Lee & Viljoen, 2009:94).