• No results found

Christus as fondament volgens die Reformatore

4.2 VERKLARINGSGESKIEDENIS VAN DIE WOORD ROTS WAAROP JESUS

4.2.2.2 Christus as fondament volgens die Reformatore

Reeds die voorlopers van die Reformasie het Christus as hoof van die kerk verkondig: Grier (1965:7-8) gee ’n kort opsomming van John Wycliffe se sieninge: In De Ecclesia (1378) het Wycliffe die kerk as die totale som van die uitverkorenes beskou en as ’n persoon nie aan hierdie liggaam van Christus behoort het nie, is hy nie verlos nie. Hiervolgens was die pous nie noodwendig deel van die onsigbare kerk nie, maar wel van die Roomse kerk. In On the Power of the Pope (1379) val Wycliffe die pousdom skerp aan en ontken dat pouslike voorrang ’n Goddelike instelling is. Sy latere werke bevorder die afskaffing van die pouslike voorrang. Wycliffe beskou die pous as die Antichris omdat hy van mening was dat die pous se dade dié van Christus weerspreek.

Wycliffe het beduidende invloed gehad op die teologie van Johannes Hus, wat kort na hom opgetree het. Hus was die leraar van die Betlehem Kerk in Praag (Oakley, 1979:197). Hieronimus van Praag het in Oxford studeer waar hy die werke van Wycliffe gekopieer en teruggeneem het na sy tuisstad (Spinka, 1968:59). Spinka beskryf Hus se sieninge van die kerk soos volg: Volgens Hus het die kerk bestaan uit die strydende kerk, rustende kerk in die vagevuur en triomferende kerk. Die strydende kerk bestaan uit sowel die uitverkorenes as hulle wat vooraf gewaarsku is, maar slegs eersgenoemde is die ware kerk. Die ware kerk het Christus alleen as Hoof terwyl die kerk van die goddeloses die Satan as hoof het (Spinka, 1966:25; 1968:59). In Hus se belangrikste werk, De Ecclesia (1413), (wat gelyknamig is aan die werk van Wycliffe – ook getitel De Ecclesia, 1378) skryf hy uitgebreid oor die Hoofskap van Christus: Na aanleiding van die Griekse woord ekklesia is die kerk die vergadering van mense onder die regering van Christus. Elders herhaal hy dat die universele kerk Christus se mistieke liggaam is waarvan Hy alleen die Hoof is (Spinka, 1966:256). Die uitverkorenes sou in die oordeelsdag staande bly en gebind wees aan Christus as Hoof deur uitverkiesende genade (Spinka, 1966:258). Verder skryf hy ook dat die apostels hulleself nie as hoof van die kerk beskou het nie, maar as dienaars van Christus wat die ware Hoof is (Spinka, 1966:260). Die universele kerk het Christus nog altyd as Hoof gehad en dit sal tot in ewigheid so wees (Spinka, 1966:260).

Dit moet gesê word dat Wycliffe (1328-1384) en Hus (1369/71-1415)5 opgetree het voordat

die Reformasie in volle omvang uitgebreek het. Konsepte soos die vagevuur en mistieke liggaam van Christus sou nie in die Reformasie neerslag vind nie. Tog is ’n groot gedeelte van hulle werk Reformatories van aard. In hulle beskouing van Christus as Hoof van die Kerk het hulle die pad voorberei vir die Reformatore.

70

Luther se vroeë teologie is naas die Skrif die meeste deur Augustinus beïnvloed (Hendrix, 2004:41). Augustinus het Jesus as die Rots van Matt. 16:18 beskou (Sermons 76, 147, 149, 232, 270, 295) en Luther het Augustinus in sy beskouing gevolg (Cullmann, 1962:167). Dus is Jesus die Rots (Wider das Papsttum vom Teufel gestiftet, soos geïnterpreteer deur Cullmann, 1962:168). In die Smalcald-artikels (artikel 4) skryf hy dat die pous nie volgens die wet van God of die Woord die hoof van die hele Christendom is nie, omdat hierdie posisie slegs aan Jesus Christus behoort. Die pous is slegs die biskop en die pastoor van die kerk in Rome en dan op so ’n wyse dat hy nie ’n heerser is nie, maar ’n broer en kollega.

So is dit ook die geval met Calvyn (Commentaire, ad hoc) en Zwingli (Hauptschriften, Vol. II, p. 195, soos geïnterpreteer deur Cullmann, 1962:167-168). Vir Calvyn is die naam Petrus op beide Simon en ander gelowiges van toepassing omdat hulle gegrondves is op die geloof in Christus en saamgebind word in ’n geestelike huis waarby God teenwoordig is (Commentary on Matthew, Mark, Luke, Vol. 2:203). In sy Institusie (soos vertaal deur Duvenhage, 1967:417) skryf hy dat Jesus wel die woorde aan Petrus gerig het en hom die opdrag gegee om die skape te laat wei (Joh. 21:17), maar dat Petrus alle bedienaars die opdrag gee om die kudde op te pas (1 Pet. 5:2). Christus het dus niks meer aan Petrus gegee as wat aan ander bedienaars gegee is nie. Calvyn verwys ook na Ef. 2:20 en 1 Pet. 2:5 en kom tot ’n soortgelyke gevolgtrekking in sy kommentaar. Ef. 2:20 openbaar Jesus as die Hoeksteen van die gebou wat tot ’n heilige tempel verrys, “’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete”. In 1 Pet. 2:5 beskryf Petrus self gelowiges as lewende stene wat hulle moet laat opbou tot ’n geestelike huis. Verder skryf hy dat Petrus slegs een van die dissipels is, hulle gelyke en kollega maar nie hulle meester nie. Ook het Petrus Jesus bely as verteenwoordiger van die groep en op hierdie rots bou Christus sy kerk omdat Paulus in 1 Kor. 3:11 skryf dat geen ander fondament as Christus gelê kan word nie (Institusie, soos vertaal deur Duvenhage, 1967:418).

Vir Zwingli lê die bindings- en oopsluitingsmag van die sleutels in die verkondiging van Christus se dood (Sixty seven Articles: Analysis and Reasons for the concluding Statements, soos geïnterpreteer deur Gäbler, 1987:73). Die Christendom is ’n onsigbare entiteit wat nie deur die pous, biskoppe of Konsillies verteenwoordig kan word nie (Gäbler, 1987:74). Die ware spirituele kerk is verskuil in Christus (De Vera et Falsa Religio, soos geïnterpreteer deur Avis, 1981:5).

In sy apologie op die Augsburg-belydenis skryf Melanchthon dat Christus die hoof van die kerk is (artikel 7.5). Vir hom bestaan die kerk uit ware gelowiges en regverdiges wat oor die hele wêreld versprei is. Dit is die pilaar en grondslag van die waarheid (1 Tim. 3:15) omdat dit aan die suiwer evangelie vashou. Na aanleiding van 1 Kor. 3:11 is die suiwer evangelie

71

die fondament van die kerk, dit wil sê ware kennis van Christus en geloof (Artikel 7 no. 20).

Die verklaring van die Reformatore kan dus kort en bondig opgesom word (Cullmann, 1962:168): Die ware Rots van die Kerk is Jesus Christus.